Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Feeste | Festivals > Artikels | Features > Purgatorio lewer uitstekende regie en toneelspel by die Grahamstad Kunstefees

Purgatorio lewer uitstekende regie en toneelspel by die Grahamstad Kunstefees


Emma Kotze - 2011-07-06
Untitled Document

Purgatorio
Regisseur: Clare Stopford
Skrywer: Ariel Dorfman
Beligting en vervaardiging: Patrick Curtis
Verhoogbestuur: Anri Schoeman
Rolverdeling: Dawid Minnaar , Terry Norton
Looptyd: 80 minute

 

 

 

Byna geen negatiewe kommentaar kan oor die regie of die toneelspel van hierdie werk gelewer word nie. Ons kon ook nie anders verwag van dié produksie op die fees se hoofprogram nie. Die twee gesogte hoofakteurs, Dawid Minnaar en Terry Norton, sowel as die welbekende Clare Stopford as regisseur, sorg vir ’n besonder suksesvolle produksie.

As geheel moet ons egter sê dat die produksie aansluit by die titel, met dié dat dit voel asof dit besonder stadig, indien enigsins, beweeg. Hierdie kritiek kan egter nie voor die deur van die akteurs of die regisseur gelê word nie, maar moet liewer aan die teks gerig word. Dit het later vir ons gevoel asof ons self in “purgatory” verkeer, wat moontlik die doel was van Ariel Dorfman, die skrywer.

Die verhaal gaan oor ’n man en ’n vrou, ook die name van die karakters (“a man” en “a woman”), wat ná hul dood in “purgatory” verkeer. Die teks maak gebruik van die Griekse mite van Medea en Julian. Die tema van hoe ’n mens aangaan as iemand iets ondenkbaars aan jou gedoen het, word aangespreek. Die moontlikheid, al dan nie, om uit die verwoestende siklus van haat en wraak te breek wat dikwels gepaard gaan met verraad, word veral ondersoek. Die verhaal is baie universeel en spreek ongetwyfeld ook tot hedendaagse gebeure, al is dit op die duisend jaar oue mite gebaseer.

Ten spyte van die stadig bewegende aard van die produksie kan dit steeds hoogs aanbeveel word, al is dit net om die werk van hierdie legendes te bewonder. Beide Minnaar en Norton laat die gehoor toe om volwaardig te deel in die karakters se emosionele reis en wroeging. Dit is ’n hartverskeurende lewering van die twee karakters se krisisse en lewens.  Die produksie maak van die sewende tot die dertigste Julie 2011 ’n draai by die Baxter-teater in Kaapstad en moet beslis nie misgeloop word nie. 

 

Klik op die skakels om nog resensies van teaterstukke by die Grahamstad Nasionale Kunstefees te lees: