Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Feeste | Festivals > Artikels | Features > Eerste Festival voor het Afrikaans in Amsterdam: Samevatting en menings

Eerste Festival voor het Afrikaans in Amsterdam: Samevatting en menings


Carina van der Walt - 2011-06-30
Untitled Document

Na drie aflewerings van liriese sfeerbeskrywings oor die eerste Afrikaanse fees in Amsterdam (17 tot 19 Junie) is dit tyd vir ’n terugblik. ’n Tikkie Nederlandse nugterheid sal van my kant af op hierdie stadium nie onvanpas wees nie. Ek vleg dit deur al die lowende indrukke soos Eugène Marais sy gedig “Skoppensboer”begin met: “’n Druppel gal is in die soetste wyn …”

Vir die openingsaand was die Klein Saal van die Trope-teater te klein. Die Groot Saal het gelukkig later daarvoor gekompenseer, al was die akoestiek in die portaal ’n ramp. Dit was veral duidelik met die informele taalvasvrae – waarvan die inhoud trouens ook nie altyd korrek was nie. Hier het die kultuurverskil tussen Suid-Afrikaners en Nederlanders hard gepraat. Van die Suid-Afrikaners het nie daarvan gehou nie. Te onordelik.

“Wat ’n fees! Goed georganiseer, wonderlike lokale en ’n wyd uiteenlopende klomp kunstenaars en geselsers. Uiteindelik vir ons wat in Europa, en veral in Pole, bly, weer kans om goeie wyn te drink. Jammer die boekverkope het gesluit voor die laaste aand se gehoor uit was. Ons Poolse studente het dit gate uit geniet, en hulle Facebook-bladsye was geil. Vir my was die kans om weer van die ander ‘weglê-hoenders’ te sien, die lekkerste. En daardie kanniedood Kramer ...” – Fanie Olivier, Poznan, Pole.

Genoeg boeke, maar te min CD’s was beskikbaar. Of die CD’s het te laat gekom om werklik effektief verkoop te kon word.

Die omgang tussen die meeste kunstenaars, skrywers en gewone publiek was egter spontaan. Let op: “die meeste”, want ook Afrikaans het sy divas en karnavalprinse.

  “Ek het ook hierdie ongelooflike man ontmoet. Hy het al die pad van Berlyn af gekom na die fees toe. Toe ek vra hoe hy by die fees uitgekom het verduidelik hy: ‘Ek is ‘n leerling van Afrikaans.’ Ek was verstom en nog effens onseker wat dit beteken. Soos die naweek aangaan, vind ek toe die res van die storie uit. As jong Duitse seun het hy twee Afrikaanse kinders in sy klas gehad wat nie ‘n woord Duits kon praat nie. Dit het ‘n saadjie geplant en ‘n paar jaar later het hy begin om Afrikaans te ondersoek en na te vors. Hy het homself leer Afrikaans praat, Afrikaanse geskiedenis en boeke gelees en musiek gekoop. Hy het oor die 20 Afrikaanse DVD’s. Hy is in Duitsland gebore, maar hy voel asof hy in die verkeerde taal gebore is. Hy voel sy hart is Afrikaans. My hart is Afrikaans. Dankie aan die Festival voor het Afrikaans. Joris, net één woord het ek vir jou: ‘WEER’!!” – Helena/Piet Theron uit Londen, Groot-Brittanje.

Die kostafel in die een hoek was te klein om almal te voed. Van die melktert en ander Suid-Afrikaanse lekkernye het ek min gesien. En al was ek bly vir die uitkoms van ’n pakkie biltong, was dit (en ook die koffie, tee en sap teen 2,50 euro) buitensporig duur.

“Ja, we waren die dagen ‘nie in Amsterdam nie’, maar in Stellenbosch, in Kaapstad, in Pretoria of zomaar op een marktje ergens langs de weg waar biltong te koop waren. Of op een boekenmarkt uit een droom waar je op elke hoek wel je boek of cd kon laten signeren door kroniekschrijvers, dichters, kunstenaars of zelfs die ‘verkleurmannetjie’ met die gouden stem … Het hield niet op! Boven in het gebouw ook nog een adembenemende explosie van kleuren en gedachten op canvas waar je zomaar met een glaasje La Motte kon struinen en in alle rust bekijken … Inmiddels ben ik de trotse bezitter van de ANNA met de intentie om volgende keer wel ‘net in Afrikaans te kommunikeer’, want wat mij betreft zijn we met z’n allen een geweldige festival rijker, nee?” – X-iomara Gonzales, Amsterdam, Nederland.

’n Klok aan die einde van die pouses sou nuttig gewees het om almal betyds in die saal te kry vir die volgende vertoning. ’n Mikrofoon sou ook gehelp het. By ’n groot deel van die publiek het die kuns en films (wat in sysale vertoon is) ongemerk verby gegaan. Dieselfde mikrofoon sou ook gebruik kon gewees het om die talle veranderings op die Sondagoggend-progam aan te kondig.

“Wij hebben zeer genoten van het programma afgelopen zaterdag. Jammer was dat sommige sprekers de microfoon verkeerd gebruikten, zodat voor ons veel verloren ging van het Afrikaans. Een hoogtepunt vond ik het optreden van de taalhoogleraar over de ontwikkeling van de taal. Enige tegenvaller was ...  Wat een herrie en weinig Afrikaans in presentatie. Al met al een geweldig geslaagd festival met verrassend veel belangstelling.” – Klaas Rijpma, NZAV, Kaapstad.

“Joris Cornelissen verdien groot lof en dank vir sy uitstekende inisiatief om ’n Afrikaanse fees in Amsterdam te organiseer. … Die program was sterk … Die musieksterre was veral indrukwekkend … Daar was ook toneel en rap - ’n baie mooi verskeidenheid. Dit is wel jammer dat die Nederlandse media nie soveel belang gestel het in die fees soos ’n mens graag sou wou sien nie. … Daar was op dieselfde naweek ook minstens drie groot ander feeste ... Natuurlik was daar klein haakplekkies binne en buite die organiseerders se beheer, soos Riku Lätti en Ronelda Kamfer wat uiteindelik verhinder is om te kom en die program wat gevolglik aangepas moes word.” – Dorothea van Zyl, Woordfees, Stellenbosch.

“Die Festival voor het Afrikaans in Amsterdam was inderdaad ’n feestelike geleentheid; daar was ’n wonderlike atmosfeer, en dit was gewoon lékker om die entoesiasme vir ons Afrikaanse skrywers, musiek, toneel en die gesprekke by die fees te beleef. … Op die Saterdag het mense toegesak op die boeketafel en teen die einde van die dag was twee derdes van die boeke reeds verkoop. As uitgewer was dit vir my heerlik om met boekliefhebbers oor Afrikaanse boeke te gesels – en ek was verstom dat ongeveer die helfte van die gretige kopers Nederlanders was. Mag dit die eerste van vele Afrikaanse feeste in Amsterdam wees!” – Marga Collings, NB-Uitgewers, Kaapstad.

“Soos ’n familie-reünie, kompleet met die gunsteling-niggie van weleer, oorvloed eet-, mooi-, luister- en storiegoed … David was legendaries. Die res van ons plesierig. “Het hoort erbij. Gaan wij weer doen, toch?” – Alek Beyers.

"Het festival voor Afrikaans was voor mij, als eigenlijke buitenstaander, een compleet nieuwe ervaring. Het verbaasde mij wederom hoe open men kan staan voor elkaar, en alles deelt. Een dag vol openbaringen over een cultuur en taal die in eerste instantie zoveel lijkt op die van jezelf. Ik vond het prachtig, leerzaam, spannend en toch ook rustgevend. Een dag vol mooie herinneringen alom." – Nikki van Alst.

“Boerewors, viskoekies, melktert … ja, het was er allemaal. Misschien de volgende keer iets meer ruimte aan de eet-hoek geven, want in de pauzes was het soms dringen en als je niet op tijd was, dan was het uitverkocht. Maar dat is dus eigenlijk ook weer een compliment aan de kok. ... Een lang weekend heb ik mij laten onderdompelen in het Afrikaans en alles wat daarmee te maken heeft. Ik heb thuis van zondag op maandag weinig kunnen slapen, want mijn hoofd zat vol met al mijn ervaringen. Fantastische ervaringen, waarvan ik geen seconde had willen missen!” – Joke Smid.  

Die Suid-Afrikaanse organisasiespan onder Joris Cornelissen kloksgewys van bo links: Rachelle Greeff-Conradie, Carina Claassens, Sarita Frigugliette-de Vaal en Anette Badenhorst.

Die span Suid-Afrikaanse organiseerders saam met Joris Cornelissen het baie, baie hard gewerk. Alle eer aan die jonge dames Rachelle Greeff-Conradie (kommunikasie), Carina Claassens (ontwerp en advertensie), Sarita Frigulietti (toneel) en Anette Badenhorst (letterkunde en poësie). Die kunstenaars is dankbaar.

“Festival voor het Afrikaans is voorwaar ’n nodige nuwe brug wat tussen Afrikaans en Nederlands as taal gebou is. Dit was ’n goed-georganiseerde inisiatief en sal hopelik ’n instelling word. Nie net vir Afrikaanse mense in Europa nie, maar ook vir die Afrikaanse kunstenaars wat die geleentheid kry om voor ’n wêreldgehoor op te tree.” – Niël Rademan, sanger.

“Dit was ’n groot sukses. Ek het nog nooit so ’n mooi fees beleef nie. Die feit dat dit in Afrikaans was, is ’n nog groter seëning. Ek was veral bly om te sien dat die mense van Amsterdam nie uitgeloop het gedurende my optrede nie … Dit was iets wat ek vir altyd in my hart sal onthou. Dankie vir julle skrywers wat die publiek van ons kunstenaars bewus maak.” – D'Low, sanger.

My bietjie aangeleerde Nederlandse nugterheid was ’n angel sonder steek. Dis die dankbaarheid en deernis van ’n taalman vir alle weglê-hoenders wat hulle taal en hulle mense kom opsoek, wat die laaste sê het:

“My oorweldigende emosie tydens die fees was een van dankbaarheid: dankbaarheid vir ’n taal soos Afrikaans, maar ook dankbaarheid vir Afrikaanse kunstenaars. Wat is ’n taal sonder skrywers, digters en sangers? Hulle hou vir ons ’n spieël van ons wonderlike Afrikaans voor. Opregte dank, dus, aan Joris en sy span wat alles vir die spieël se plasing gereël het en dankie aan almal wat in die spieël kom kyk het en die spieël geborg het. Die jong mense wat van Engeland, Duitsland en Nederland na die fees gekom het, het my met deernis gevul.” – Willem Botha, WAT.