Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Onderhoude | Interviews > Afrikaans > LitNet Akademies-onderhoud: Braam Roux in gesprek met Machteld Strydom oor die rangordebepaling van akademiese tydskrifte

LitNet Akademies-onderhoud: Braam Roux in gesprek met Machteld Strydom oor die rangordebepaling van akademiese tydskrifte


Machteld Strydom - 2011-06-29

Braam Roux gesels met Machteld Strydom oor haar artikel “’n Bydrae tot die rangordebepaling van akademiese tydskrifte”, wat onlangs in LitNet Akademies verskyn het.

Hoe hou die rangordening van tydskrifte met die beoefening van goeie wetenskap verband? Met ander woorde, in watter mate strook die doelstellings van wetenskaplikes en navorsers in die veld met dit waaroor dit in u artikel gaan?

Die praktiese waarde en wenslikheid van die rangordening van tydskrifte kan en behoort bevraagteken te word. (’n Navorser mag wonder in watter tydskrif sy artikel die grootste blootstelling aan eweknieë kry; ’n befondsingsinstelling wil onderskei tussen “goeie” en “minder goeie” tydskrifte.) Die werklikheid is dat ’n rangordening van tydskrifte (in die gestalte van die joernaal-impakfaktor van ISI Thomson Reuters) reeds deur vele rolspelers gebruik word. My artikel gee geen waarde-uitspraak oor die wenslikheid al dan nie van rangordening nie, maar poog bloot om die kru benadering wat tans algemeen gebruik word, te vervang met ’n metode wat prakties is, maar die menslike oordeel beter benader.

U beweer dat daar ’n groot behoefte aan ’n objektiewe rangordening van tydskrifte bestaan. Wie ondervind hierdie behoefte? Waarom behoort buitewetenskaplike oorwegings en die behoeftes van instansies wat indirek by wetenskapsbeoefening betrokke is, by so ’n behoeftepeiling verreken/geïgnoreer te word?

Dit is weer eens slegs ’n weerspieëling van die huidige werklikheid. Die joernaal-impakfaktor van ISI Thomson Reuters en verskeie ander maatstawwe word op verskeie maniere deur verskeie rolspelers gebruik. Die algoritme wat ek ontwikkel, het ten doel om van die tekortkominge van die bestaande maatstawwe uit te skakel, en stel ’n maatstaf voor wat nader is aan dít wat eweknieë-oordeel sou gee. (Hierdie maatstaf is ’n poging om die invloed van ’n artikel te bepaal. Hoe wyer die tydskrif gelees word en hoe meer aansien die tydskrif het, hoe groter is die invloed wat ’n artikel kan uitoefen.)

U soek ’n objektiewe maatstaf om gehalte van akademiese tydskrifte te bepaal en vergelyk. Wat presies behels objektiwiteit? Word “objektiewe maatstaf” nie verkeerd gelyk gestel aan “standaard- en eenduidige maatstaf” nie? Is daar iets soos gehalte wat dieselfde in alle kontekste is en wat altyd met een en dieselfde maatstaf bepaal kan word?

Alhoewel dit baie gaaf sou wees indien ons gehalte op ’n objektiewe manier kon meet, is u reg: dit kan nie. In die artikel stel ek dit duidelik dat invloed nie met gehalte verwar moet word nie en dat die maatstaf slegs die invloed van ’n tydskrif meet: “Hierdie projek moet nie gesien word as ’n poging om gehalte of waarde te meet nie maar slegs die invloed wat ’n publikasie op die spesifieke navorsingsveld gehad het.’’

U is in die kol met die gebruik van die woord objektief. Dit sou waarskynlik beter gewees het om van ’n “eenduidige” (of selfs “meganiese”) maatstaf te praat. Ek wou egter beklemtoon dat persoonlike menings nie ’n direkte rol in die bepaling van die rangordening speel nie, en het dus objektief in sy nietegniese sin gebruik.

Hoe versoen u u vertrekpunt dat die mens onmagtig en die masjien almagtig is, dat die masjien onder andere al is wat kan vergoed vir die mens se onvermoë om behoorlik te oordeel, met die feit van u eie menswees en wat u in u artikel veronderstel en doen ten opsigte van u goeie oordeel? Kortom, is daar nie in u artikel ’n handelingskontradiksie ingebou nie?

My vertrekpunt is juis dat menslike oordeel beter is as die meganiese maatstawwe wat tans in gebruik is. ’n Rekenaar kan nie dink of besluite neem nie. ’n Algoritme is ’n stel instruksies wat die rekenaar slaafs moet navolg. Die rekenaar het egter die voordeel dat dit vinnig met groot hoeveelhede data kan werk, en nie moeg word nie. Ek probeer om die dienskneg (rekenaar) se antwoorde nader aan die meester (die mens) s’n te bring.

U sien navorsers se oordeel oor die gehalte van tydskrifte as intuïtief en wat die rekenaar lewer as objektief. Wat bedoel u met intuïtief? Strook dit met die gewone gebruik van intuïsie: weet/oordeel sonder gronde/redes het nie ’n plek nie? Kan u voorstel hoegenaamd deur intuïsie gesteun word? As u binne ’n konteks waar dit om kennis gaan, praat van “hulle (mense) voel”, dink u daar is nog ’n plek vir kennis/oordeel/redeneer/denke in wetenskaplikes se spreke oor die gehalte, impak, invloed, waarde van wetenskaplike publikasies?

Met intuïsie bedoel ek die insig wat volg op nadenke (nader aan die Latynse stam as aan die gewone gebruik). Rasionele intuïsie, oorwoë mening of doxa (soos Plato dit gebruik het) sou dalk minder ruimte vir misverstaan gelaat het.

Verwysing is ’n ekstra ten opsigte van kennisvermeerdering, maar verwysings vorm die basis van die rangordening van publikasies. Wat sal die langtermynuitwerking van die soort benadering wat u met u bydrae verder uitbou, op oorspronklikheid en vernuwing in die wetenskappe wees? Dink u verder dis aanvaarbaar dat globalisering op dié wyse op navorsers afgedwing word? Watter plek beklee verwysings na verwysings in wetenskaplike debatvoering?

Terwyl u opmerking oor die gebruik van verwysings (dat dit ’n “ekstra” is) wel waar is, is dit ook so dat werklike baanbrekerswerk in die praktyk baie verwysings ontvang. Natuurlik is daar uitsonderings – navorsers wat hul tyd regtig voor is, se werk word dikwels eers jare later aangehaal.

Ek wil herhaal dat die gebruik van berekende maatstawwe ’n pragmatiese benadering tot ’n ontsaglik moeilike probleem is. Enige samevattende statistiek kan per definisie nie die volle verhaal vertel nie. Tog kan statistiek, as dit reg gebruik word, ons help om sin te maak van komplekse situasies.

Of die vervanging van ’n kru maatstaf deur een wat dalk effens beter presteer op die lang duur ’n effek op die (noodwendige) globalisering van navorsing sal hê, is nie iets waaroor ek kommentaar kan of wil lewer nie.

Die geesteswetenskappe, sosiale wetenskappe, humaniora is oral onder druk. Hierdie druk kom deels uit sienings rakende “objektiwiteit”, “meting” en so meer, sake wat verband hou met wat u in u artikel bespreek. Hoe sien u die toekoms van hierdie wetenskappe as die benadering wat u duidelik aanvaar en probeer uitbou, die aanvaarde benadering tot “gehalte” word?

Die maatstaf meet slegs die invloed van gepubliseerde navorsing op ander gepubliseerde navorsing (en nie gehalte van die navorsing nie). Ek het geen twyfel dat die geestes- en verwante wetenskappe sal voortbestaan nie. Die grootste gevaar is dat ’n dekonstruksie van binne mag geskied – soos die Alan Sokal-parodie mooi illustreer.

U gee nie aandag aan kritiese punte in u uiteensetting nie. Is daar literatuur in u veld beskikbaar wat krities staan teenoor projekte soos hierdie van u?

Daar bestaan baie kritiek oor die gebruik van die bestaande maatstawwe soos die joernaal-impakfaktor van ISI Thomson Reuters. Dit is juis as gevolg van die probleme en kritiek dat daar gesoek word na ’n maatstaf wat nader aan menslike oordeel kom.