Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Feeste | Festivals > Artikels | Features > Eerste Festival voor het Afrikaans in Amsterdam: “Daar happen soms iets …” (Dag 3)

Eerste Festival voor het Afrikaans in Amsterdam: “Daar happen soms iets …” (Dag 3)


Carina van der Walt - 2011-06-24

Met hierdie woorde van digter Marius Titus lei Karen Meiring haar spreekbeurt in. Sy woorde vat die sfeer en die boodskap van die fees treffend saam. Dit is 19 Junie, die derde dag van die Afrikaanse fees in Amsterdam. Sondagoggend. Die Nederlanders word onverhoeds betrap. Hulle is taalbeskouings, sosiale kritiek en statistiek nie so vroeg op die nugter maag gewoond nie. Dis ’n dag waarop hulle normaalweg nie eers ’n koerant kan koop nie.

D'Low maak sy Amsterdamse gehoor wakker. Hulle moet saam met hom kom speel op die verhoog.

Louise van Wingerden en haar toneelmaat Gideon van Eeden trek elfuur weg met die toneelstuk Afrikaans is nie vir sissies nie. Terwyl Van Wingerden die gehoor laat gril met die poppie uit Pretoria-Oos se taalgebruik, deklameer Van Eeden in Engels. Sy rede?

“Jy kan die geskiedenis nie losmaak van die taal nie.”

Hy speel ook ’n Nederlander wat na Afrikaans verwys as “een kindertaaltje, een snoeptaaltje, een kneutertaaltje. Leuk, hé?”

In die toneelstuk Dit sal die dag wees lewer Calvin Nqcaku en Themba Ndimande as Fatty en Boesman sosiale kritiek. Dis alles baie humoristies. En baie waar. Hulle is bekommerd oor waar die geld van die belastingbetaler heen gaan. Die minister van finansies, Pravin Gordhan, loop deur. Ander Suid-Afrikaanse probleme wat soos ’n warrelwind tussen hulle rommel deurtrek, is kindermishandeling, MIV, kondoomgebruik, kriminaliteit en die effek wat dit tans op toerisme het. Hulle weet genoeg om globaal die vergrype van Jacob Zuma en Bill Clinton met mekaar te verbind. Dis jammer dat mense toe nog “uitslapen” en dit misloop. “Daar happen soms iets ...”

Karen Meiring kom aan die beurt met statistiek en “name-dropping” vir kykNET, MK en KOOWEE. Met ’n woord van waardering verwys sy na die opkomende filmbedryf in Suid-Afrika. Dis begin Augustus kykNET se eerste poging om ’n Nasionale Afrikaanse Filmfees van stapel te stuur: gelyklopend in Durban, Bloemfontein, Kaapstad, Johannesburg en Pretoria. MK is bekend, maar dis die pogings tot veeltaligheid op die kanaal KOOWEE, wat die gehoor so bietjie laat regop sit. Dieselfde animasiestories is in Afrikaans, Zoeloe en binnekort ook in Tswana beskikbaar. Met ’n druk van ’n knoppie op die afstandbediening kan jy kies. Dis hierdie tipe dinge wat mens al meer en meer wil sien.

Teen namiddag is die groot saal aansienlik voller. D’Low tree op. Hy word ook as Spykers met sy onderstebo taal bekend gestel. Die vorige aand op pad hotel toe het hy my vergas op ’n stukkie rap en my mening daaroor gevra. Hy het nogal geïntimideer gevoel deur die ander kunstenaars. Rap is vinnig. Met ’n vreemde uitspraak vir ’n half Nederlandse gehoor ...? Ek weet darem nie. Ek het probeer raad gee: “Kry een van jou rap-tekste op papier en laat dit vir die gehoor uitgedeel word.”

Agteraf was dit glashelder dat my raad totaal en al oorbodig was. “Daar happen soms iets/ ennek sienit./ Ek skryffit dan neer, ennek miennit.”

D’Low slaan die gehoor se voete onder hulle uit. Nee, hy slaan nie. Hy tel hulle met sy stem, sy ritme, sy danspasse en sy sjarme op en sit hulle netjies op hulle plek. Waar hulle hoort. Vir my ook. Hoe arrogant was ek. Die man het soveel natuurlike talent! Waar ander verhoogkunstenaars aan die einde dankie sê, doen D’Low dit aan die begin. Een vir een noem hy die name van die oorwerkte organiseerders. Die gehoor moet saam met hom sing en hande klap. Hy help die bietjie stroewe gehoor om te ontspan. Ek weet te min van fusion, R&B, kwaito en funk om presies te verwoord wat hy doen, maar hy doen dit goed. Hy rap nouliks.

Dit is die interaktiefste vertoning van die hele fees. ’n Afrikaanse en Nederlandse egpaar moet saam kom passies trap op die verhoog. Michael le Cordeur se kinders tuis gaan bitterlik jaloers wees as hulle hoor pa en ma het saam met hulle held gedans. Hooforganiseerder Joris Cornelissen en sy gesin kom aan die beurt. Sy twee meisiekinders weet van soepel truuks op die dansvloer. Mooi Nederlandse meisies en jong ouens word uitgenooi om saam te kom dans. ’n Nederlandse egpaar wat dertig jaar getroud is, moet mekaar op die verhoog kom vashou.

“De hoogtepunt van het feest voor ons allebei,” vertel die meneer pouse.

’n Hoogtepunt was dit vir seker. En ’n baie aangename ontdekking. Na hierdie visserseun uit Mitchells Plein wil ek weer en weer gaan luister. Sommer gou ook.

Die dubbelkonsert van die aand met Amanda Strydom en David Kramer het nog voorgelê, maar ek was al gelukkig. Die groot saal loop die Sondagaand heeltemal vol. Dis die hoogtepunt van die fees. Strydom bring hulde aan haar vriende Koos du Plessis met “Skielik is jy vry” en aan Johannes Kerkorrel met “Ek het gedroom”. Sy en haar pianiste Janine Neethling se satire op die Briel-susters uit die 1930’s is skreeusnaaks.

“Goddank vir ontwikkeling,” sê sy.

Maar - gaan iemand tagtig jaar van nou af nie dalk dieselfde tipe parodie op “Slippers van satyn” doen nie?

Dis lekker herkenbaar en aards as David Kramer met sy rooi skoene op die verhoog stap om die allereerste fees vir Afrikaans in Nederland af te sluit.

“Goede avond, goeienaand, yes!”

Die verhoog word ’n dorre woestyn met die pragtigste foto’s van ’n windpomp, ’n klipmuur, ’n skaap se half vergane skelet … Dis sulke dinge wat die Karoo-klonge en die Hoëveldse manne in die gehoor laat sluk. Kramer sing sy hart uit. So tussendeur maak hy ’n grappie: “Hier reent dit so baie, jy kan net die glas by die venster uithou. Waar ons vandaan kom, wag ons ’n jaar vir so ’n glas water.”

Kramer dóén iets met Afrikaans. Hy “ontginnit en bedryfit” in Titus se woorde.

Dit was ’n fees der feeste! As Karen Meiring se syfers reg is, is dit nommer 301 op die lys. Nommer één oor die driehonderdmerk is vir Nederkaans in Amsterdam. Kan die weglê-hoenders hiér ambassadeurs vir Afrikaans wees? “Daar happen soms iets …”