![]() |
![]() |
Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012) This is the LitNet archive (2006–2012) |
![]() |
||
![]() |
2011-06-23 Human & Rousseau nooi Afrikaanse debuut- of vroeë kortverhaalskrywers uit om hul ongepubliseerde verhale in te skryf vir die Nuwe Stories-kortverhaalwedstryd. Bibi Slippers het met uitgewer Janita Holtzhausen gesels oor die kompetisie, en die oplewing in die kortverhaal-genre. Wat was die impetus agter die besluit om die Nuwe Stories-kompetisie van stapel te stuur, en voorsien julle dat dit ‘n instelling sal word, soos die Nuwe Stemme-reeks vir die digkuns? Ons wil jongmense aanmoedig om in Afrikaans te skryf en hulle die kans gee om hul werk in boekvorm te publiseer. Ons hoop om die wedstryd ’n instelling te maak, maar dit sal natuurlik afhang van die sukses van hierdie eerste poging.
Ons wil juis ’n jonger generasie skrywers aanmoedig om in Afrikaans te skryf en hulle bewus maak van die Afrikaanse boekewêreld. Die bundel sal uiteraard kwessies aanspreek wat jongmense raak, maar dit behoort ook diegene te interesseer wat belangstel in nuwe Afrikaanse talent. Die stories wat voorgelê word, moet oor die tema “Die eerste keer” handel. Wat het julle laat besluit om ‘n tema voor te skryf? Word daar van skrywers verwag om die tema nou toe te pas, of kan dit redelik wyd geïnterpreteer word? ’n Tema bring fokus en samehang aan ’n bundel soos dié. Maar ons wil beslis nie skrywers aan bande lê nie; ons wil hulle eerder uitdaag. Hoe vermy mens die clichés met ’n tema soos dié? Wys ons. Dit wil voorkom of daar tans wêreldwyd hernude belangstelling in die kortverhaal as genre is, en ek sien ook in Suid-Afrika verskyn daar tans ‘n groot klomp bloemlesings. Dink jy hierdie oplewing hang saam met vernuwing van ‘n aard? En verwag julle om tekens van vernuwing te sien in die inskrywings wat julle ontvang? Dit is moontlik dat die oplewing van die kortverhaal saamhang met die veranderende wyse waarop inligting deesdae oorgedra word. Op die internet word inligting dikwels in korter eenhede aangebied, wat lesers dalk meer ontvanklik maak vir korter werke en skrywers se manier van dink en skryf beïnvloed. Ons hoop beslis dat ’n jonger generasie skrywers wat in hierdie veranderende omgewing grootgeword het, vernuwende werk sal voortbring. Afrikaans het natuurlik ‘n besonder ryk tradisie wanneer dit by kortkuns kom. Is dit belangrik dat Nuwe Stories-skrywers bewus is van die bestaande tradisie en voorgangers? Watter skrywers se werk sou jy aanbeveel as “voorgeskrewe”/essensiële leesstof vir voornemende kortverhaalskrywers? Dit is absoluut noodsaaklik dat voornemende skrywers soveel moontlik lees. Hoe kan jy iets nuuts aanbied as jy nie weet wat jou voorgangers of tydgenote geskryf het nie? Jy kan nie skryf as jy nie lees nie. Begin dalk by Die Afrikaanse Kortverhaalboek. Dit behoort jou ’n oorsig te gee van die Afrikaanse kortverhaal. Jy kan ook by internasionale meesters soos Anton Chekov, Jorge Luis Borges, Raymond Carver, Annie Proulx en Alice Munro gaan leer. Terwyl ons nou oor bekende kortverhaalskrywers praat: Is daar ‘n wenresep vir ‘n suksesvolle kortverhaal? Kan jy vir voornemende skrywers enige brokkies raad gee wat hulle sal help om beter kortverhaalskrywers te wees? Ek dink nie daar is noodwendig ’n wenresep vir ’n kortverhaal nie; inteendeel, gerekende kortverhaalskrywers verbreek gereeld met groot welslae die tradisionele riglyne vir die skryf van ’n goeie kortverhaal. Maar as beginner kan jy dalk tog die volgende in gedagte hou wanneer jy ’n kortverhaal probeer skryf:
Is daar algemene foute wat aspirantskrywers maak wanneer hulle kortverhale skryf? Wat is die mees algemene tekortkominge van manuskripte wat aan julle voorgelê word vir publikasie?
Waarna sal julle op soek wees wanneer die verhale gekeur word; met ander woorde, wat sal die kenmerke van ‘n “suksesvolle” verhaal wees? En wat is jou persoonlike voorkeure in terme van ‘n wenverhaal? Ons sal soek na ’n boeiende vertelstyl, oortuigende karakters, ’n goeie aanvoeling vir dialoog, ’n oorspronklike perspektief, akkurate milieuskildering – al die elemente wat gewoonlik in ’n goeie verhaal voorkom. Ek sou hoop dat die wenverhaal ’n vernuwende blik sal werp op menswees en Afrikaanswees in Suid-Afrika. Die generasie onder dertig het in die nuwe Suid-Afrika grootgeword en hul perspektief moet noodwendig van dié van vorige generasies verskil. Met watter kwessies word hulle daagliks gekonfronteer en hoe reageer hulle daarop? Gaan lees Welma Odendaal se verhale en kyk hoe sy deur die uitbeelding van alledaagse gebeure die onderliggende stryd van die menslike bestaan ontbloot. Vertel my asseblief meer oor die werkswinkels wat vir suksesvolle inskrywings beplan word. Wie sal die werkswinkels aanbied en watter formaat sal dit aanneem? Die werkswinkels sal deur Suzette Kotze-Myburgh en Jeanette Ferreira aangebied word. Beide het vroeër by uitgewershuise gewerk en is al jare lank betrokke by skrywersbegeleiding en die redigering van Afrikaanse fiksie. Meer inligting oor die formaat van die werkswinkels sal op ’n latere stadium bekend gemaak word. As iemand reeds ouer is as die ouderdomsperk vir hierdie spesifieke kompetisie, is daar ander geleenthede om hulle werk in bloemlesings te laat opneem? Ongelukkig bestaan bloemlesings meestal uit die werk van skrywers wat reeds erkenning verwerf het. Ouer debuutskrywers kan egter steeds bundels kortverhale aan ons voorlê. Indien hulle nog nie genoeg verhale het om ’n bundel saam te stel nie, kan hul altyd oorweeg om hul werk aan LitNet of publikasies soos Tydskrif vir Letterkunde voor te lê.
|