Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Feeste | Festivals > Artikels | Features > In gesprek met Denise Jannah: Oor jazz en getoonsette gedigte

In gesprek met Denise Jannah: Oor jazz en getoonsette gedigte


Carina van der Walt - 2011-06-23
Untitled Document


Carina van der Walt en Denise Jannah glip vinnig weg vir ’n geselsie.


Na haar optrede val ek en Denise Jannah mekaar opgewonde in die rede. Sy gloei nog van al die energie. Ons babbel in Nederkaans en ons verstaan mekaar perfek. Sy begin met ’n aankondiging:

Dit was die eerste keer dat ek “Op Blouberg se strand”gesing het. En “Lisa se klavier”was ook die eerste keer.

Werklik?

En “Muskietejag”. En “Die towenares”.

Ja, dié gedig ken ek nie.

Ja, ek óók nie, maar jy vind alles wat jy nodig het. Of ten minste, jy vind iets op die moment wat dit vir jou nodig is.

U het op die verhoog aangekondig dat u deur Laurika Rauch kennis gemaak het met Afrikaans. Waar en wanneer was dit?

Ek was vir die eerste keer in Suid-Afrika in 1999 en toe weer in 2001. Dit was vir ’n spesiale projek in Stellenbosch: Ons Kruispaaie. Ek was saam met Stef Bos en Frank Boeijen. Ons was die drie Hollanders in die projek. Die ander mense was Laurika Rauch, Taliep Petersen, David Kramer, Koos Kombuis en die kitaarspeler Ray Phiri. Ek en Laurika was die enigste meisies tussen die mans. Ons was dadelik vriende. Dit was ’n baie mooi projek. Ons het twee weke saam geskryf en gekomponeer. Dit is afgesluit met twee konserte in Oude Libertas.

Dit was ’n goeie beginpunt!

Ja, absoluut. En toe ek dáár was, kry ek ’n telefoonoproep van my bestuurder hiér met ’n versoek of ek vir die literatuurfees Winternachten vier gedigte wil toonset vir Januarie 2002. So het dit begin. Ek het toe ’n ander begeleier gehad. Op daardie stadium het ek nog nooit so iets gedoen nie, maar ek het gedink: nouja, ’n nuwe uitdaging (weet je wel?). Goed. 

Ja-ja, en toe?

Dit het vir my ’n hele nuwe wêreld oopgemaak. Ook spiritueel, want dit gaan baie diep. ’n Mens gaan baie anders om met gedigte. Dit is van iemand ánders; uit die hart van iemand ánders; en dan gaan jy dit sommer aanraak. ’n Mens moet baie versigtig wees. Dan bid ek en ek steek wierook aan. Ek steek kerse aan. Gewoon omdat … Ek wil niks verkeerds doen nie. Ek wil nie iets stukkend (kapot) maak nie. Dit moet rein bly. Ek moet dienaar wees. Ek moenie ’n gedig vat en dít en dít en dít doen nie. Die gedig moet in wese bly wat hy is.

U het dit baie goed reggekry. Hoe sou u u stem beskryf?

Ek is ’n kontra-alt. Ek sê elke dag dankie vir my stem. My stem is baie soepel en ek is baie gelukkig daarmee. My stem is sterk. Ek hoop dat ek nog lank kan bly sing.

Is u in staat om Suid-Afrikaanse jazz ná vier besoeke te herken?

Dit weet ek nie. As ek jazz hoor is dit (gewoon) jazz, ondanks al die verskillende invloede. Waarom sou ek dit moet herken? Miskien die tipiese manier waarop die kitaar bespeel word? Miskien is dit die tokkelklanke? En dan dink ek aan Willy Molalla in Johannesburg. Ek het hier in Carré saam met Suid-Afrikaanse jazz-musikante gesing vir Mandela. Dit was toe hy die Four Freedom Award in 2002 gekry het. (Geweldig!) Die atmosfeer omdat hy hier was, was onbeskryflik.   

Ek gesels graag met u, omdat dit vir my soos ’n deurbraak voel: jazz plus Afrikaans plus Surinaamse Afrikaans plus poësie.

Weet u, as ek met poësie besig is, dink ek nie spesifiek aan jazz nie. Elke aparte gedig bepaal vir my waarnatoe ek met hom moet gaan. In my getoonsette gedigte het ek partykeer ’n stukkie blues. ’n Ander gedig word weer ’n bolero. “Wys my die plek” het ’n ligte hip-hop-klank. ’n Volgende gedig word miskien ’n bossanova. Die gedig bepaal die soort musiek. As ek ’n gedig lees, dan … Ek bedoel: in elke gedig lê al ’n ritme en dit bepaal alles. Ek begin sonder musiek. Ek vat ’n gedig en lees dit. En dan gaan ek sing-lees. As die gedig my ráák, dan kom die melodie.

Is dit die voorwaarde, dat ’n gedig u moet raak?

Ja-ja. Ek bedoel, ek kry soveel digbundels present! Dis vir my ’n soort teken. (Doe dat toch maar weer.) En as ek by ’n spesifieke gedig iets vóél, dan kan ek iets daarmee doen. Maar ek moenie daaroor nadink nie. Dan sit ek liewers die gedig neer. As daar met ’n volgende deurlees ’n melodie in my opkom, neem ek dit vinnig op my selfoon op. Anders is dit weg! (Foetsje!) En dan gaan ek die akkoorde opskryf wat ek daarby in my kop hoor.

’n Laaste opmerking?

Ek werk deur my ore en my hart.

Beter kon ek Denise Jannah nie bekendstel nie. Sela.