Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Feeste | Festivals > Artikels | Features > Eerste Festival voor het Afrikaans in Amsterdam: Heuning vloei, stroop verstop (Dag 2)

Eerste Festival voor het Afrikaans in Amsterdam: Heuning vloei, stroop verstop (Dag 2)


Carina van der Walt - 2011-06-22
Untitled Document


Op dag twee van die Afrikaanse fees in Amsterdam loop mens jou vas in ’n vreemde kontrepsie. Dis ’n soort sleepwa sonder ’n wa, maar met ’n skootrekenaar wat Boerneef-gedigte op die sypaadjie skryf. Ongelooflik! Op die imposante trappe wag Theater van de Verloren Tijd die gaste in met voordragte uit die Afrikaanse en Nederlandse poësie. Dit is ’n dag met hoogtepunte vol warm heuning, ’n laagtepunt of twee, soos taai stroop, en tussendeur ’n druppeltjie nugter gal.


Fanie Olivier, Ena Jansen en Breyten Breytenbach praat oor
die ontstaansgeskiedenis van Afrikaans.


Ena Jansen lei die gesprek tussen Fanie Olivier en Breyten Breytenbach oor die verhouding van Afrikaans met Nederlands in sy ontstaansgeskiedenis. Die gehoor sak so bietjie terug in hulle stoele ná die intense begin van die vorige aand.

Breytenbach verwys na die fenomeen van die weglê-hoenders. Dis nou almal wat buite Suid-Afrika hulle heil gaan soek het. Hy noem as hoogtepunte Komrij se De Afrikaanse poëzie in 1000 en enige gedichten en die onlangse uitreiking van die woordeboek ANNA. Olivier wys daarop dat Nederland in die 1970’s ’n opwindender wêreld vir Afrikaanssprekendes was as Engeland.

Die Surinaams-Nederlandse Jazz-sangeres
wat ook Afrikaans sing:
Denise Jannah

Die verrassing van die dag neem egter die vorm aan van ’n jazz-sangeres in ’n goue gewaad. Haar naam is Denise Jannah en sy word begelei deur die kitaarspeler Wolf Martini. Hoe sy hulle voorstel, pas perfek by die kulturele tweeslag van hierdie fees. Sy is ’n Surinaamse Nederlander en hy is ’n Duitse Nederlander. Albei is dus weglê-hoenders! Maar sy loop selfs verder weg in hierdie konsert, want sy sing Afrikaans. Afrikaanse poësie.

Met “Die towenares” van Eugène Marais word mens dadelik bewus van haar goue stem. Dit vloei soos warm heuning by jou ore in en in jou keel af. Dit maak ’n warm gevoel in jou maag. Met verbaasde oë gee jy ekstra aandag aan haar Surinaams-Afrikaanse uitspraak met die beklemtoning op die r­- en
-klanke in woorde soos mond en grond. C Louis Leipoldt se “Wys my die plek waar ons eens gestaan het” en AD Keet se “Muskietejag” kom verby.

By elke gedig gebruik sy musiek wat daarby pas. Jazz-klanke, maar ook blues en chansons. Die Afrikaanse “Moenie weggaan nie” van Jacques Brel is onoortreflik! Sy bedank Bernard Odendaal in sy afwesigheid vir sy vertaling. “Voor een dag van morgen” van Hans Andreus bekoor die Nederlanders. Sy is jare gelede deur Laurika Rauch bekend gestel aan Afrikaans. Na sewe besoeke aan Suid-Afrika wéét sy waarvan sy sing met “Op Blouberg se strand”. Met haar uitvoering van “Lisa se klavier” van Koos Kombuis begin ek spontaan improviseer: ek het ’n vriendin by die see, as die son sak skel sy die berg in vuur en vlam …

Met ’n oorverdowende encore is sy ’n bietjie onverhoeds betrap, maar dan wys sy éérs haar vaardigheid. Sy improviseer ’n afskeidsgroet tussen Surinaams, Afrikaans en Nederlands en sing: “Ek moet nou gaan, ek weet nou regtig nie meer wat om te sing, ek groet …” Op hierdie punt was dag twee van die fees alreeds die moeite werd.

Wannie Carstens wens Michael le Cordeur geluk met sy uitstekende lesing.

Michael le Cordeur is direk daarna aan die beurt. Hy voorspel dat hy as taalkundige waarskynlik nie in staat sal wees om so ’n hartlike encore te kry nie, maar tog het hy naby daaraan gekom! Hy verwys na al die variante van Afrikaans wat nog altyd so misgekyk is. Die rol van Afrikaans in die Moslem-gemeenskap is ’n verrassing. Hoeveel mense het geweet van hulle Koplesboek en die belangrike lied “Rosa”? Kaaps-Afrikaans, Karoo-Afrikaans, Namakwa-Afrikaans, Griekwa-Afrikaans, Oranjerivier-Afrikaans, Tsotsi-Afrikaans. So vat Le Cordeur sy gehoor talig op die pad na die noorde.

Dit is opvallend dat ’n passievolle taalkundige soos Le Cordeur poëties kan reageer op ’n vraag, terwyl ’n digter analities en op die woord af kan reageer op dieselfde vraag. Ek stel hierdie vraag aan Le Cordeur en Breytenbach.

Afrikaans het al so baie negatiewe benamings gehad, soos “kombuistaal” en “taal van die onderdrukker”. Watter gedagtes roep die woord “kaalvoettaal” by u op?

Le Cordeur:

’n Welkomtaal
’n Taal wat mense akkommodeer
’n Taal wat mense geleenthede bied
’n Taal wat vir mense deure oopmaak (ens).

Breytenbach:

My vrou, wat nie Suid-Afrikaans is nie, sê sy kan onmiddellik Afrikaner-kindertjies herken omdat hulle kaalvoet loop – tot op ’n laat stadium. Hulle is geklee in skooluniforms en skooltassies, maar loop kaalvoet. So, dis nie dat hulle ouers dit nie kan bekostig nie. Dis duidelik ’n keuse.

Niël Rademan stel hom hierna aan die publiek voor as “Die Woordenaar”. Hy begin met ’n tango. Dramaties. Diep stem. Met ’n sensuele sleep van ’n das oor sy voorarm en ’n rooi blom wat hy na die gehoor toe gooi, voer hy dinge, wat baie betref, net té ver. Ek sien hoe skarrel sommige Nederlanders verlig deur toe vir pouse. ’n Paar het al vooraf die saal verlaat.

Die boekvoorlesings lewer ook nie iets op wat mens “opwindend” kan noem nie, maar dit hoort seker by so ’n fees. Die uiteenlopende voordragstyle val wel op. Chris Chameleon is sy verwagte self. Tog verstom ek my telkens aan sy klokhelder sopraanstem. Die virtuositeit van sy mondklanke uit die BOO!-dae herinner my aan ’n vriend wat besig is met ’n baie belowende voëlprojek …

In sy geheel verkies ek om aan die aandoenlike heuningstem van Denise Jannah te dink. Dat ek ook op ’n stadium my ore moes gaan uitspoel om van die stroop ontslae te raak, verkies ek om te vergeet.