Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Feeste | Festivals > Artikels | Features > Eerste Festival voor het Afrikaans in Amsterdam: Hemel is ’n kring van heuningwoorde (Dag 1)

Eerste Festival voor het Afrikaans in Amsterdam: Hemel is ’n kring van heuningwoorde (Dag 1)


Carina van der Walt - 2011-06-21
Untitled Document


Die saal vir die opening van die eerste Afrikaanse fees in Amsterdam was te klein. Op Vrydagaand 17 Junie het die ingangsportaal van die Koninklike Instituut vir die Trope gegons. Bekendes en minder bekendes het mekaar om die nek geval. Die atmosfeer was gelaai. Energie was in die lug. Dis ’n energie wat die Nederlanders beny. Dit trek hulle aan soos ’n blom ’n heuningby. Die resultaat van hierdie bevrugting was die Afrikaanse woord in al sy verrassende geure en kleure.

Ek trek my dapperste skoene aan en beur deur die menigte op ons ghoeroe, Breyten Breytenbach, af met my vrae.

Tussen mond, hand, papier en mikrofoon skep Breyten Breytenbach ’n veilige binnekoms vir ons eie kanniedood-musikant: David Kramer met sy bekfluitjie en kitaar!


U is bekend vir u liefde-haat-verhouding met Afrikaans. Hoe voel u vanaand?

Wonderlik, wonderlik, maar met ’n tikkie weemoed.

Waarom weemoed?

Alles gaat stuk. Hulle gaan dit nie vir Afrikaans doen nie.

’n Druppeltjie gal … Maar Breytenbach se oë glinster ondeund. Só het ek hom min gesien.

In sy verwelkomingswoord roep die Nederlandse organiseerder, Joris Cornelissen, Amanda Strydom uit tot die ambassadeur vir Afrikaans. Hy vertel kortliks as agtergrond van sy persoonlike motivering. Dit is opvallend dat die keuse van kunstenaars vir die aand versigtig gedoen is. Met die uitsondering van David Kramer is Amanda Strydom, Breyten Breytenbach en Gert Vlok Nel ou bekendes vir die Nederlandse publiek. Ook Chris Chameleon maak gereeld hier ’n draai, terwyl lesers Etienne van Heerden en EKM Dido ken. Hoeveel verrassings gaan hierdie fees oplewer?

Amanda Strydom open op haar gebruiklike teatrale manier die verhoog met “Boord van woorde”:

Sy plant haar woorde in die grond
Sy lei dit nat met trane
Sy hang haar woorde in die wind
Gooi haar woorde na die son
Strooi haar woorde oor die see.

… En dan flirt sy so bietjie met die Nederlanders in die gehoor:

“Ek hou van kaas en bitterballe. Ek is verlief op Nederland. Is Nederland verlief op my?”

Deur die refrein van “My kamer”eggo Totius se woorde:

Die wêreld is my woning nie
Totius sou verstaan
Ek reis al meer na binne
tot dit tyd word om te gaan.

Dit was die eerste van ’n reeks verwysings wat die aand opgeroep het. Die agtergronddoek is herkenbaar Breytenbach se werk: Elisabeth Eybers in ’n terugblik op haarself.

Daarna stap BB, die baie-name-man van die Afrikaanse digkuns, op die verhoog. In Nederlands sou hulle sy “uitstraling” beskryf het as dié van ’n gedistingeerde heer. Met sy lemmetjiegroen Madiba-baadjie en sandale by sy langbroek is hy so on-Afrikaans as kan kom. Maar sy Boelandse bry en aardse Afrikaanse woorde laat mense se tone omkrul van lekkerkry. Onder begeleiding van kitaarspeler Schalk Joubert lees Breytenbach voor.Die tekste word ook vir die publiek geprojekteer. Met die begeleiding van “die oene-gedig”word ’n bietjie van Joubert se styl tydens sy Laurinda Hofmeyr-periode hoorbaar.

Die eerste reaksie van baie Suid-Afrikaners toe David Kramer op die verhoog kom, was: Waar is sy rooi skoene dan? Breytenbach stap nie af nie. Met “die dans van die klippe”gebeur dit. BETOWERING. Dít waarvoor die fynproewers na so ’n fees toe kom. Breytenbach lig sy linkerbeen saam met Kramer in ’n uitgelate Kramer-danspas en daar laat waai die twee. Neethling op die vleuelklavier en Joubert agter sy kitaar val spontaan by hulle in.

Wannie Carstens beskryf hierdie oomblik tydens pouse as: “’n historiese oomblik vir Afrikaans”.

Hy was nie die enigste nie.

Na pouse sing en speel David Kramer die verhoog aan die brand. Die Nederlanders is oorrompel. Nog nooit het hulle gehoor van Ratelgat in “Die bruin rivier”nie. Iets eggo uit my permanente geheue. Sag maar verseker. Die woorde van Eugène Marais:

O, Diep Rivier, O Donker Stroom,
Hoe lank het ek gewag, hoe lank gedroom,
Die lem van liefde wroegend in my hart?

Met Kramer se hartverskeurende “Botteltjie blou”blaf en tjank JM Coetzee se wegloperhonde in my ore. Ek is nie seker hoekom nie, maar ek huil. Die gehoor trek weg en sing “Bokkie”saam met Kramer. Dit is dié liedjie wat twaalf jaar gelê en wag het dat studente van Pretoria hom moes ontdek. Nou sing en stamp en klap die gehoor uit pure vreugde saam met Kramer.

En dan kom die besadigde digter in die persoon van Gert Vlok Nel weer aan die beurt. Hy neem sy gehoor op ’n  “road trip” deur die Groot Karoo. Jy skakel oor na outomaties. Op die agtergrond is ’n foto van hierdie dorre halfwoestynstreek. Dis ’n bewussynstroom. ’n Aaneenskakeling van woorde en klanke. Die Nederlanders prys hom hiervoor. Gert Vlok Nel het Beaufort-Wes op die wêreldkaart van kultuur gesit. Soms het ’n digter nie woorddiarree nodig om sy stem te verewig nie. Wanneer sy gehoor diep onder hipnose is, stop Vlok Nel en sit sy kitaar neer. Hy dra die laaste woorde voor uit “Goegie en Rita en Jakkie se laaste beautiful woorde”:

… maar in die begin was die woord & die woord was by
Beaufort-Wes & die woord was Beaufort-Wes & die woord was beautiful.

Onbewus van mekaar se keuses het Strydom en Nel hierdie eerste fees vir Afrikaans ingelei binne ’n pragtige, afgeronde kring van woorde …

Naskrif: Breytenbach tydens die saamkuier na afloop van die verrigtinge: “Dis ’n k*k vraag daai. Jy kan nie so iets vir my vra nie! Dis so goed jy vra: Bestaan die hemel?”