Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Onderhoude | Interviews > Afrikaans > Elma Smit – die wenner van Lady Rugga – oor rugby, haar prys, en vrouens in hierdie bedryf

Elma Smit – die wenner van Lady Rugga – oor rugby, haar prys, en vrouens in hierdie bedryf


Steyn du Toit - 2011-06-15
Untitled Document

SuperSport het onlangs hul eerste vroulike rugby aanbieder aangestel. Elma Smit van Linden is uit 15 finaliste gekies om saam met die Springbokke Nieu-Seeland toe te gaan later vanjaar vir die Wêreldrugbybeker-toernooi. Steyn du Toit het met haar gesels oor rugby, haar prys, en vrouens in hierdie bedryf.

Wat presies is Lady Rugga?

’n Kompetisie geloods deur SuperSport in die soeke na ’n vroulike rugbyliefhebber om veldaanbiederswerk by rugbywedstryde te doen. Die eerste amptelike opdrag is om verslag te doen vanuit Nieu-Seeland by die 2011 Wêreldrugbybeker in September en Oktober.

Hoe het die hele proses gewerk? Daar is agt oudisierondes landswyd gehou waarvoor deelnemers ’n voorgeskrewe skakel wat op SuperSport se webtuiste beskikbaar was, moes kon voordra. Benewens die voorbereide deel was daar dan ook – volgens die beoordelaars se diskresie – ’n addisionele onvoorbereide scenario waarvoor jy daar en dan ’n ad lib-skakel moes doen, met geen kans om voor te berei nie. 

Hoekom het jy besluit om in te skryf?

Ek is mal oor die uitdaging van lewende TV-uitsendings, maar ek het tot dusver net in TV-ateljees gewerk, waar daar wel meer as genoeg kan verkeerd gaan, maar dis nog steeds ’n redelik beheerde omgewing. ’n Lewende uitsending van ’n rugbywedstryd (uiteraard onvoorspelbaar) wat die aanbieder langs ’n rugbyveld plaas in ’n verre land, moet een van die mees uitdagende en vervullende geleenthede wees wat aanbiederswerk aanbetref! Ek is ’n groot rugby-ondersteuner, maar omdat rugby-aanbiederswerk tot dusver meestal deur voormalige spelers gedoen is, het ek nooit eens daarvan gedroom dat ek so ’n ongelooflike geleentheid sou kon kry nie. Toe die kompetisie aangekondig is, was dit eenvoudig ’n geleentheid wat ek nie kon laat verbygaan nie.

Hoeveel het jy voor die tyd van rugby geweet ?

Ek sien myself as die gemiddelde rugby-ondersteuner: ek geniet die rugbykykerskultuur van braai en samesyn net soveel as wat ek my asem ophou en hoendervleis kry as dinge baie goed of sleg gaan met my span op die veld! Ek het joernalistiek geswot en as deel van my voorliefde vir nuus en aktualiteit figureer rugby as een van die nuuswaardigste sportsoorte (en toevallig my gunsteling), so ek het nog altyd op hoogte gebly van rugbynuus. Ek het uit die aard van die saak nog nooit self rugby gespeel nie, so ek sal nooit daai tipe insig hê nie, maar hulle was ook nie op soek na ’n kenner nie. Die punt is dat jy genoeg van die wedstryd en die sport moet weet om die regte vrae te kan vra, en ek't altyd baie vrae, want ek's ’n geweldige nuuskierige persoon!

Gareth Cliff het op sy radioprogram genoem dat vrouens nie sulke tipe voorkeur moet kry nie, en soos mans hulself moet opwerk in sulke geleenthede in. Wat is jou reaksie hierop?

Die mees prominente mense wat hulle tot dusver uitgespreek het oor die feit dat daar ’n kompetisie gehou is in die soeke na ’n vroulike rugby-aanbieder is, snaaks genoeg, mans. Ek het nog nie een vrou teëgekom (tot dusver) wat gekla het oor die feit dat SuperSport ’n realiteitsprogram geloods het in die soeke na ’n vroulikeaanbieder nie, want watter vrou sal nee dankie sê vir so ’n geleentheid? 

Die realiteit is dat mense dikwels onderskat hoeveel Suid-Afrikaanse vrouens rugby kyk, en SuperSport het besef daar is plek vir ’n vroulike gesig in sy span. Aangesien vroulike rugbyspanne nie soveel publieke aanhang geniet soos die Springbokke nie, was dit nie so eenvoudig soos om ’n voormalige Springbok te soek met aanbiederstalent nie. Hulle moes ’n alternatiewe benadering volg, en hoe beter as om vir gemiddelde vroulike rugby-ondersteuners van regoor die land te sê: kom doen jou bes, dalk is jy presies wat SuperSport nodig het! 

Hulle het nie net ’n casting call gehou en ’n paar ervare aanbieders genooi en op grond daarvan ’n aanstelling gemaak nie, maar ervare aanbieders is ook die geleentheid gegee om hulleself te meet aan die rou talent daar buite en vir iemand soos ek (wat reeds ervaring het, maar op ’n ander gebied) die kans gegee om te bewys (deur aan die uitdagings van Lady Rugga deel te neem) dat daar meer aan my is as die musiek-aanbiederswerk wat ek tot dusver gedoen het. Ek moes bewys dat ek nie net die nodige rugbykennis het nie, maar dit kan inspan om interessante vrae te vra en ’n warm aanbiederstyl onder druk kan inspan om die nodige inligting oor te dra. 

Terloops, daar was een redelik ervare aanbieder wat al vantevore vir SuperSport gewerk het wat dit nié tot in die top 15 finaliste gemaak het nie, so ervaring was ook geensins ’n waarborg nie.

Wat sluit jou prys alles in?

Die geleentheid om vir SuperSport te werk en agter die Bokke aan Nieu-Seeland toe te gaan vir die hele Wêreldbeker!

Ek verneem jy het ’n baie hegte band met die ander deelnemers gevorm – so agter die skerms hoef dinge nie altyd ’n catfight te wees nie?

Nee, glad nie! Ons was almal geweldig uiteenlopende mense wat almal verskillende vlakke van uitsaai-ervaring, rugbykennis en rou talent gehad het. Ons is ook redelik vroeg reeds aangemoedig om soveel van ons eie unieke persoonlikheid te wys in ons uitdagings, so daar was geen uitdruklike kompetisie nie, want ons kon dit aan niks meet nie. Ek dink die meeste van die finaliste gaan nog ver kom in hierdie bedryf – elkeen van ons het so baie gegroei en geleer uit die uitdaging. Ek dink hierdie program het vir ’n paar van die vrouens veral die nodige selfvertroue gegee om nou net nog harder te werk vir ’n geleentheid om nog aanbiederswerk te doen!

Hoe voel dit om te weet dat mense soos Naas Botha, Elana Afrika, Darren Scott en Ashley Hayden jou persoonlik gekies het?

Dit was die mees intimiderende deel van die program Saterdagaand. Jy sou dink dis die duisende mense wat dit gekyk het wat ’n mens senuweeagtig sal maak, maar die feit dat vier mense vir wie ek so baie respek het, daar gesit het en die uiteindelike besluit geneem het in my guns was eers erg intimiderend en later geweldig onwerklik!

Behalwe Lady Rugga, waarmee is jy nog tans besig?

Ek bied Studio1 aan, elke Donderdagaand op MK, en ek bied die vroegoggend-naweekprogram (4-7 vm) aan op 5FM.