Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Onderhoude | Interviews > Afrikaans > Nataniël oor sy eerste DVD, Lady Gaga, en boerewors

Nataniël oor sy eerste DVD, Lady Gaga, en boerewors


Nataniël, Steyn du Toit - 2011-06-03

Sedert sy solo-debuut in die laat tagtigs het Nataniël al 14 CD’s, 11 boeke en meer as 55 verhoogproduksies agter die rug. Tussendeur is daar ook kostuums, tydskrifrubrieke, kombuisware, boerewors, en vele meer! Steyn du Toit het bietjie met hom gesels oor al sy ysters in die vuur, asook sy nuwe show saam met Charl du Plessis eersdaags by Joburg Promusica.

Jy het so pas jou eerste live DVD uitgereik. Hoekom het dit so lank gevat en hoe sou jy Cathedral in een sin beskryf?

Ek wou nooit ’n live DVD doen nie – in Suid-Afrika is dit gewoonlik van ’n lae gehalte en hoogs onvleiend. Maar ek het gevoel Cathedral sal goed verfilm en dat die vertoning self van ’n hoë standaard was. Cathedral is ’n mengsel van stories en musiek met ’n uitstekende geselskap en uitstekende beligting.

Jy is bekend vir ’n hele paar dinge in Suid Afrika – van musikant tot ontwerper – maar hoe dink jy sien en definieer die gemiddelde Suid-Afrikaner jou?

As die ou wat boerewors adverteer! Daar is nie ’n mens wat my nie voorkeer en praat oor die Checkers-advertensies nie! Ek sou hoop dat mense my sien as ’n goeie sanger.

Hoekom is dit vir jou so belangrik om liefdadigheidswerk te doen en so te sê iets "terug te gee"?

Kinders is totaal magteloos. Indien hulle nie versorg word en liefde en leiding ontvang nie, is hulle verlore. Dit is verskriklik wat in ons land met kinders gebeur. Deesdae word human trafficking ook ’n al hoe groter probleem. Deel van my pogings is ook as gevolg van slaaploosheid – ek kan van die goed wat ek al gesien het, nie uit my gedagtes kry nie. 

Jy en Charl du Plessis is eersdaags te sien by Joburg Promusica. Julle werk nou al vir meer as ’n dekade saam en was al in meer as 1 000 shows saam. Hoe sou jy julle verhouding beskryf? Hoekom "kliek" julle so goed saam op die verhoog?

Charl is een van die min musikante op aarde wat totaal bewus is wat om hom gebeur, van die klank tot die beligting tot probleme in die foyer tot stukkende sitplekke tot mense wat sms tydens ’n vertoning tot die bui van die kunstenaar(s) saam met hom. Hy is tegnies ongelooflik goed en verstaan alle aspekte van die bedryf, soos besigheid, reklame, ens. En sy ouers het hom grootgemaak met baie goeie maniere!

Wat kan ons van hierdie vertonings verwag in terme van musiek? Meestal ouer of nuwer stukke?

Ek het onlangs heelwat nuwe "covers" uit die sestiger en sewentigerjare ontdek wat ek wil sing, asook nuwe materiaal wat ek tans skryf. Dis ’n groot aanpassing elke jaar om ná die Emperors-produksie skielik weer kleiner vertonings te doen of meer "unplugged" te werk.

Jou kostuums is natuurlik amper performers op hul eie. Wat trek jy hierdie keer aan en wat was jou inspirasie?

Ek weet nog glad nie wat ek aantrek nie, dis te lank voor die tyd, maar daar hang heelwat nuwe skeppings in my garderobe!

Wat dink jy van Lady Gaga?

Interessant. Sy is ’n baie beter sangeres as wat mense besef. Baie mooi stem. Die sirkusklere is nou maar haar ding, maar ek wag dag sy ouer word en oor meer as net jong onderwerpe sing en skryf. 

 

Nataniël is 10 and 11 Junie om 20:00, en 12 Junie om 15:00 by Joburg Promusica te sien. Vir meer inligting, besoek www.promusica.co.za.