Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Onderhoude | Interviews > Afrikaans > Louis Krüger gesels met Chris van der Merwe uit Rotterdam

Louis Krüger gesels met Chris van der Merwe uit Rotterdam


Chris van der Merwe - 2011-05-24
Untitled Document

Louis, ek wil begin met ’n vraag wat baie mense seker al vir jou gevra het: Hoe het dit gebeur dat jy in Nederland gekom het?

Ja Chris, baie mense het al dié vraag gestel. Ek was klaar met my studies in Stellenbosch, maar ek en my vrou Quelene het nooit daaraan gedink om na Europa, of na Nederland spesifiek, te gaan nie. Ek het prof Nico Smith destyds baie goed geken, en hy het ’n vriend in Nederland gehad – Joop Lensink – wat hom gevra het of een van sy teologiestudente dalk daarin sou belangstel om na Nederland te kom – hulle het ’n tekort aan predikante gehad. En toe het ons die kans aangegryp. Uiteindelik is dit maar een van daardie misterieuse, ongrypbare dinge – jy voel dit is die pad van jou lewe, hier moet ek wees. En ek voel nog steeds, hier moet ek wees. Ek geniet my werk baie, maar jy mis Suid-Afrika natuurlik – dis ’n baie ingrypende ding om buite jou land te gaan woon – en ek gaan elke jaar wel een of twee keer terug na Suid-Afrika. Maar uiteindelik weet ek hier is die plek waar ek moet wees, en dit is goed so, en verder dink ek nie daaroor nie.

Vind jy dit stimulerend om tussen twee wêrelde te lewe, Nederland en Suid-Afrika, of sal dit makliker vir jou skryfwerk wees om volledig aan een wêreld verbonde te wees? En daarmee saam het ek gewonder: jy skryf nie oor Nederland nie, jy skryf óf oor Ierland óf oor Afrika. Ek wil jou uitvra oor die verhouding tussen Nederland en Suid-Afrika en wat dit vir jou skryfwerk beteken.

Ja, die kwessie van twee wêrelde … Ek dink altyd dit is die verrykendste iets wat jy in jou lewe kan hê as jy deel van die “derde wêreld” (hoewel Suid Afrika ’n kombinasie is van eerste en derde wêreld) asook ’n deel van die eerste wêreld in jou kan opneem en in albei dié wêrelde kan woon; want die wêrelde waarin jy woon, woon ook eintlik in jou. As ek vanuit die Nederlandse of Europese perspektief kyk, bring dit ’n baie duideliker beeld na vore wat in Suid-Afrika afspeel – naamlik dat hierdie twee wêrelde, die eerste en die derde wêreld, langs mekaar in een land bestaan, wat fassinerend is. Ons is eintlik in ’n baie goeie posisie om antwoorde te gee op wat een van die grootste probleme van hierdie tyd is: die skreiende verskille wat rykdom en armoede betref tussen die eerste en die derde wêreld.

Ek het nog nooit eintlik ’n behoefte gehad om oor Nederland of Europa te skryf nie. Dis ’n versadigde wêreld, daar gebeur min en mense hou hulleself met oppervlakkige dinge besig. Ek dink verder dat die wêreld waaroor jy eintlik skryf en wat jy goed en suiwer waarneem, maar die een is waarin jy grootgeword het. As kind kan jy suiwer waarneem, maar dan vervaag dit. Ek het my kinderjare in Upington langs die Oranjerivier deurgebring, en dit is nog steeds die landskap wat my fassineer. Die wêreld van arm mense boei my baie meer as die wêreld van rykdom, van mense wat hulle met baie oppervlakkige dinge besig hou. Tussen die armes leer jy die lewe ken soos wat dit regtig is.

Jou boeke verskyn in twee tale. Wie vertaal jou werk, en verder, is die ontvangs en die reaksie in Nederland en Suid-Afrika verskillend?

Die eerste paar romans, die jeugromans Son op die water en Donkerboskind,is deur Riet de Jong vertaal, en ook Gevaarlike land – sy is ’n baie goeie vertaler. Maar Herinneringe aan Agnes en Wederkoms het ek self vertaal. Ek skryf altyd eers in Afrikaans – dis maar die een taal waarin ’n mens wil skryf – so die Nederlandse boeke wat ek skryf, is oorspronklik Afrikaanse romans. Wederkoms het ek eers in Afrikaans geskryf, en toe het hulle my gevra om dit as Boekeweekgeskenk te gebruik; maar toe blyk die boek uiteindelik wat die Nederlanders noem te “pittig” te wees, te konfronterend. Gelukkig wou die uitgewer dit tóg nog publiseer, en het ek die Nederlandse weergawe geskryf. Die eerste weergawe was nie so goed nie, want daar was nog baie dinge waaraan gewerk moes word, daarom het ek dit in Afrikaans verwerk en herskryf – daar is baie in die Afrikaanse weergawe wat nie in die Nederlandse is nie. Op grond hiervan het ’n tweede uitgawe in Nederlands verskyn. Dis ’n baie interessante proses, die vertaalproses, maar as ek skryf, skryf ek maar in Afrikaans.

Die ontvangs hier en in Suid-Afrika is vergelykbaar: die boeke maak nie groot opslae nie, hulle is nie bestsellers nie, maar ek dink die Nederlandse uitgewer is redelik tevrede, en ek is tevrede; ek mag seker nie kla nie. Die resensies is ook min of meer dieselfde – heel positief; ook daaroor mag ek nie kla nie.

Jy het in jou YouTube onderhoud gepraat van “rewriting”, om te herskryf. Wat is vir jou die verhouding tussen inspirasie en perspirasie? Wederkoms dra jy op “aan Hom wat ons liefhet en inspireer”; maar ek dink daar was ook heelwat perspirasie by die skryf van die boek. Is daar oomblikke van inspirasie? En daar is sekerlik ook oomblikke van perspirasie?

Wederkoms is ’n baie goeie voorbeeld. Ons was destyds met vakansie, op die eiland Elba. En een aand het die hele verhaal as ’t ware na my toe gekom, maar natuurlik in ruwe vorm. Dit was ’n oomblik van inspirasie waar dinge skielik gebeur; dit borrel in jou op. En dan begin die hele moeisame proses van skryf en herskryf en herskryf. Herskryf is óók ’n kreatiewe proses: “Writing is the art of rewriting.” Kyk, jy hoor jou karakters praat, jy sien hulle vaagweg beweeg, maar jy moet hulle nog beter leer ken en leer watter kant toe die verhaal beweeg. Elke keer as jy die verhaal herskryf, verstaan jy hom beter. Veral met Wederkoms het dit baie lank geneem voordat ek self besef het waaroor die verhaal gaan en wat die betekenis daarvan is. En dis maar goed as jy aan die einde by dié punt kom; soos TS Eliot dit so aangrypend gestel het:

We shall not cease from exploration
And the end of our exploring
Will be to arrive where we started
And know the place for the first time.

Maar jy moet hard werk. Gelukkig raak jy half verslaaf aan jou eie romanfigure en romanwêreld. As jy klaar is, dan is daar altyd ’n soort depressie of gemis. Met Wederkoms was dit vir my fantasties om met die Afrikaanse weergawe te begin en weer in daardie wêreld te kon inbeweeg. Dit dan wat die verhouding tussen perspirasie en inspirasie betref. Natuurlik, sonder inspirasie is daar absoluut niks nie. DJ Opperman het destyds ’n baie mooi beeld in sy letterkundige laboratorium gebruik: hy het gesê as ’n berin ’n doodgebore welpie het, kan sy hom sy lek en lek, maar hy sal nie tot lewe kom nie. So ook, as daar nie lewe in jou roman is nie, kan jy timmer en skaaf soos jy wil, hy bly maar dood.

Met ander woorde, daar moet egte karakters wees wat ’n eie lewe in jou psige lei. Ek het sewe jaar met Wederkoms geloop en altyd was dit weer daar en het dit na my teruggekom – en dit is vir my ’n baie goeie teken.

Dis vir my verstommend hoe goed jou Afrikaans is, terwyl jy buite Suid-Afrika woon. Stilisties is jou verhale uitstekend. Hoe hou jy jou Afrikaans by?

Wel, ek is mal oor Afrikaans, ek praat dit tuis, ek praat dit so dikwels as wat ek kan, en ek dink in Afrikaans. Dis vir my baie belangrik om my Afrikaans so goed as moontlik te hou. Afrikaans is ’n wonderlike taal, dus is dit in Suid-Afrika vir my verbasend dat Afrikaanssprekendes so terughoudend is, dat hulle liewers eers Engels met mense praat. Ek doen dit nie; ek praat altyd eers Afrikaans. As die ander persoon dit nie kan verstaan nie, is dit in die haak, dan slaan ek oor na Engels. Maar dis doodnormaal dat ’n Afrikaanssprekende Afrikaans praat totdat hy iemand kry wat nie Afrikaans kan verstaan of kan praat nie. Ek is baie lief vir die taal en dis vir my ’n baie mooi taal; dis die enigste taal waarin ek regtig tuis voel.

Al jou boeke is vir my interessant, maar wat Wederkoms betref, het jy darem werklik karakters geskep wat by ’n mens bly. Jannes en Myrte en Greta – dis mense wat voor jou lewe. Ek wil jou ’n vraag vra wat miskien vervelig is: Is die karakters gebaseer op mense wat jy ken, of hoe het jy by hulle uitgekom? Hoe verloop die proses van karakterisering by jou?

Dit het te make met die wêreld waar ek tuis voel en waarmee ek my assosieer – dis die wêreld van arm mense. Ek dink Greta sê op ’n keer vir Jannes: as jy arm is, staan dit op jou gesig geskryf. Dit is die mense wat my baie diep raak en met wie ek my kan identifiseer. Ek dink omtrent alles in Wederkoms is in ’n sekere sin outobiografies – nie dat dit werklik met my gebeur het nie, maar dit is soos jy inhoud en uitdrukking gee aan die dinge wat jy waarneem, wat jy hoor, wat jy ervaar; dit is gebaseer op die mense wat jy rondom jou sien. Sommige van die mense is baie na aan my, dis mense wat ek self geken het; maar daar is ook sommige karakters wat as ’t ware hulleself vorm. Ek dink karakterisering is ’n uitkristalliseringsproses van wat jy ervaar het, wat jy teëkom in die loop van die jare.

Ek wil bietjie praat oor oorkoepelende temas, temas wat ’n mens keer op keer in jou werk vind. Die tema wat my baie opval, is die tema van geweld – baie keer die gewelddadige vader in sy huisgesin – maar dan kry jy ook, in Gevaarlike land byvoorbeeld, die “vader van die volk” wat daardie selfde soort figuur is, en die vernietigende effek wat daardie soort vader op die samelewing het; waarskynlik is daar ’n verband tussen geweld in die samelewing en geweld in die huis. Wat tragies is, is dat daar dikwels ’n haat-liefde-verhouding tussen die vader en die seun is, dat die seun in die voetspore volg van die vader wat hy haat. Hiermee hou ook die kwessie van “manlike identiteit” verband – sommige mense dink manlike identiteit behels hardheid, meedoënloosheid en aggressiwiteit.

Ironies genoeg, vanoggend op die BBC het ek gehoor van ’n groep skoolseuns in Suid-Afrika wat ’n meisie verkrag het, dit op ’n video opgeneem het en die video in die skool rondgestuur het, en dat selfs die onderwysers daarna gekyk het. Dan skrik jy absoluut, dan besef jy watter vernietigende rol geweld en verkragting in Suid-Afrika speel. Ek het in ’n Basis oorkant die grens en in Skerpskutter daaroor geskryf; maar dit was veral in Herinneringe aan Agnes dat ek die endemiese aard van geweld kon uitwerk. En dit terwyl ons so ’n fantastiese land het waar almal liefdevol en in vrede met mekaar kan omgaan. Dit is eintlik die groot “slang”, die groot vergiftiging in ons samelewing, en jy tel hierdie dinge op in jou onderbewuste. Die tema waarin jy belangstel, letterkunde as reaksie op trauma, is vir my baie sinvol. Dit wat jou oorweldig, wat jy amper nie kan verwerk nie, word die tema van jou verhaal.

Die ander ding wat my net soveel soos geweld interesseer, is die uitbuiting van gewone klein mense deur die groot magte; die absolute gewetenloosheid van die geldmagte en ander maghebbers. Van belang vir my is die stryd teen domheid, teen die kwade. Dit bly ’n bron van verwondering dat mense so dom kan wees en so om die bos gelei word. George Orwell het al gesê dat dit baie moeilik vir die mens is om te sien wat reg voor sy neus gebeur. As jy kyk na die politiek en hoe mense met mekaar omgaan, en hoe ons almal bedrieg en gemanipuleer en uitgebuit word, dan is dit vir my die groot temas: geweld, uitbuiting en domheid, en al die dinge wat daarmee saamgaan.

’n Mens sou seker ’n saak daarvoor kon uitmaak dat domheid ’n vorm van die kwade is.

Soos jy weet, stel ek belang in trauma, en as ’n mens na Wederkoms kyk, is die trauma daarin so prominent, dis byna ’n skoolvoorbeeld van die uitwerking van trauma: die gewelddadige vader, die geweld wat van geslag tot geslag oorgedra word, die kollektiewe skuld, die neiging om te ontken wat te pynlik is – al daardie dinge. Wat my interesseer in jou werk, is dat daar naas die noodlotsgang van geslag tot geslag die ingryping van genade is. Naas die siklus van geweld en wraak is daar ook die bevryding van vergifnis. Dus wou ek graag jou siening hoor, miskien vanuit jou religieuse opvattinge, van die inwerking van genade en vergifnis op die siklus van geweld en trauma.

’n Geslote wêreldbeeld is totaal uitsigloos, totaal tot ondergang gedoem. Die enigste vorm van beskawing waarvoor ek hoop het, is ’n Christelike beskawing van vergewing en diensbaarheid en geregtigheid. As ’n mens buite-om daardie geloof, buite daardie bevrydende genade … as jy daarsonder na die wêreld kyk, dan het jy absoluut geen uitsig, geen hoop, geen toekoms nie. So dis meer as net ’n religieuse ervaring, dis ’n wêreldbeeld, en daarsonder het jy net uitsigloosheid en verganklikheid, met die dood wat uiteindelik die laaste woord spreek. Soos ’n Franse filosoof gesê het, die lewe is dan ’n nuttelose passie. Die religieuse perspektief bring ’n deurbreking van so ’n uitsigloosheid. Selfs dít bied egter nie ’n literêre oplossing nie; maar dit bring ’n finale positiewe noot, die besef dat ons deel is van ’n groter geheel, en die groter geheel staan in die teken van liefde, goedheid, barmhartigheid, suiwerheid. Dit is vir my interessant dat jy in die Bergrede die uitspraak kry: “Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe.” Die werklikheid leer oënskynlik anders, maar as jy daaroor nadink, besef jy tog dis nie die geweldenaars en moordenaars wat die laaste woord spreek nie – hulle word self in hul geweld vasgevang; dis die sagmoediges wat die aarde bewaar van vernietiging en aan wie die aarde uiteindelik behoort.

Ek merk in jou werk twee wêrelde wat mekaar aanraak: die aardse en verganklike, en die tydlose en die hemelse. By baie van jou romans is dit eers in die oomblik dat die karakters sterwe dat hulle ’n ewigheidsperspektief kry. Maar in Wederkoms is die leser die hele tyd bewus daarvan, onder andere met die rivier wat deur die dorp vloei: jy besef dat daar meer is as die aardse en die tydelike. Dit moet moeilik wees as jy in ’n verhaal, waarin die gebeure noodwendig bepaal moet word deur tyd en ruimte, wil skryf oor dinge wat eindeloos is. Ervaar jy dit as ’n probleem? Ek merk op dat jy in Wederkoms in ’n groter mate gebuik gemaak het van simbole waarin die aardse en die ewige saamval.

Toe ek daardie oomblik van inspirasie gehad het met die ontstaan van Wederkoms, het ek onmiddellik besef dit speel af teen die agtergrond van die wederkoms van Jesus. Dis nie net móéilik om daaroor te skryf nie, dis totaal onmoontlik. Ek het geweet hier saal jy ’n perd op wat jy baie moeilik sal kan ry. Jy weet in elk geval jy het te make met ’n probleem wat jy nooit volkome sal kan oplos nie, maar dit is wat skryf uitdagend en die moeite werd maak. Die belangrikste ding in die lewe is om die sigbare aan die onsigbare te verbind, om deur die sigbare dinge tot die onsigbare te kom. ’n Wêreldbeskouing wat net op die sigbare en die materiële dinge gerig is, is onbeskryflik armoedig.

As ek ’n bietjie kan afdwaal: ek het probleme met ’n evolusionistiese siening van die wêreld. Niemand kan die verskynsel van evolusie ontken nie, maar wat my pla, is dat mense evolusionisties dink, dat hulle uitgaan van ’n geslote wêreldbeeld wat die oorsprong van die wêreld in die wêreld self soek. Die gestruktureerdheid van die werklikheid, die vele wetmatighede, toon die onhoudbaarheid van hierdie siening. Met die vraag na die ontstaan en betekenis van die menslike lewe moet jy altyd weer by die onsigbare dinge uitkom.

Jy is ’n dominee en ’n skrywer. Is daar soms spanning tussen die twee “beroepe”? Die dominee moet preek, hy moet sy argumente duidelik oordra, terwyl die skrywer nie mag preek nie – sy verhaal moet subtiel wees, dis ’n verhaal wat hom dalk in ’n rigting lei waarvan die dominee nie hou nie. Hoe sluit jou lewe as skrywer en as dominee by mekaar aan?

Ek probeer die twee so ver moontlik uitmekaar hou. Skryf maak ’n mens minder gelukkig as wat die meeste mense dink, maar tog kan ek ook nie daarsonder lewe nie. Aan die ander kant geniet ek baie, baie my beroep. Dit het groot voordele, ook vir my as skrywer, omdat jy altyd besig is met die menslike psige en met onsigbare dinge en met die groot misterieuse vrae van die lewe. Dit bly baie bevredigend om met al twee die dinge besig te bly, dus sou ek nooit wil kies tussen die twee nie. Op verskillende maniere gee hulle sin aan jou lewe.

Dit wil vir my voorkom of daar in Nederland (soos in Suid-Afrika) op die oomblik ’n oplewing van belangstelling in religieuse en spirituele dinge is – ’n oplewing wat egter nie saamgaan met ’n opbloei in die Kerk nie. Hoe sien jy die stand van die godsdiens en van die Kerk in Nederland?

Materiële welvaart is altyd sleg vir die geestelike lewe; dit is ook die geval in Nederland. Maar Nederland is darem nie aan die heidens word nie. Elke Sondag is daar meer mense in die kerke as langs die sokkervelde. ’n Belangrike gebeurtenis in die onlangse verlede was die eenwording van die Gereformeerde, Hervormde en Lutherse Kerke in Nederland – saam vorm hulle nou die Protestantse Kerken in Nederland. Ná eeue van onverkwiklike, on-Christelike kerkskeuringe in Nederland het daar uiteindelik ’n wonderwerk van eenwording gebeur. ’n Ander voorbeeld: binnekort kom meer as 40 000 jong Christene vir ’n week in Rotterdam bymekaar vir ’n groot Taizé-byeenkoms. Deur die dag, en ook elke aand, kom hulle byeen vir Christelike samesyn in die Taizé-tradisie. Sulke dinge gee ’n mens hoop vir die toekoms.

Harry Mulisch het in die sestigerjare, toe daar ’n hewige polemiek rondom die Kerk was, gevra waarom die mense hulle so druk maak oor die Kerk – binne dertig jaar is die Kerk dood. Wel, Mulisch is so pas oorlede, en die Kerk lewe nog. Miskien moes meneer Mulisch maar ’n bietjie beskeidener en minder voortvarend gewees het met sy uitsprake.

In Nederland, en ook buite Nederland, is daar heelwat spanning tussen die Christendom en Islam. Is die Christelike Kerke in Nederland betrokke by ’n dialoog met die Islam?

Daar is ’n duidelike beweging na regs in die Nederlandse samelewing – groter ondersteuning vir die party van Geert Wilders; ’n harder toon teen mense wat “van buite” gekom het. Nederland, wat ’n tradisie gehad het van verdraagsaamheid en openheid, het op hierdie gebied heelwat terrein verloor. Die Islam is ’n baie klein minderheid in Nederland, dus is die vrees vir die Islamitiese “bedreiging” baie irrasioneel. Dis maar meer die politici soos Wilders wat met politieke skinderpraatjies die mense ophits teen Islam, buitelanders en die sogenaamde “illegalen”. Die Christelike Kerke in Nederland is steeds, soos in die verlede, besig om gesprek te voer met die Islam, en ook met ander godsdienste.

Aan watter ander skrywers voel jy jou verwant? Die Afrikaanse skrywer wat, soos jy, ook worstel met die sigbaar maak van die onsigbare, is Karel Schoeman – is hy iemand aan wie jy jou verwant voel?

Schoeman is ’n skitterende skrywer. Maar die groot voorbeeld vir al die Suid-Afrikaanse skrywers is natuurlik JM Coetzee. Ek hou ook baie van wat Etienne van Heerden skryf. Mahala van Chris Barnard het destyds ’n groot indruk op my gemaak; van Hennie Aucamp het ek baie geleer, veral stilisties; ook van Elsa Joubert se werk hou ek baie. Hulle was almal deel van my groeiproses. ’n Mens kan nie anders as om beïnvloed te word deur wat jy lees nie – maar jy moet waak teen te veel beïnvloeding.

Die laaste vraag: Waarmee is jy nou besig? Hulle sê ’n mens praat nie oor beskuit in die oond nie, maar hét jy dalk beskuit in die oond?

Die beskuit waaroor ek wil praat, is die een wat al uit die oond is. Ek is nou besig met ’n verhaal wat vir my absoluut fassinerend is: dit gaan oor ’n vrouefiguur Thecla wat volgens oorlewering saam met Paulus gewerk het; ek het in ’n apokriewe boek op haar afgekom. Haar verhaal bevat alles waaroor ek graag wil skryf – sy is een van die eerste Christelike martelare; sy het die moed gehad om teen die groot magte in opstand te kom. Ek is byna klaar met die verhaal; dit sal volgende jaar in Nederland verskyn. Maar daar bestaan nog wel ’n stigma teen Bybelse en Bybels-apokriewe karakters.

My vrae is nou verby. Is daar enigiets wat jy nog wil byvoeg of saamvat, enigiets wat jy wil sê?

Die tema van trauma en literatuur is uiters sinvol, en ek wens jou baie sukses daarmee.