Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Visueel | Visual > Artikels | Articles > Hannalie Taute oor haar kuns, blogging, en ma-wees

Hannalie Taute oor haar kuns, blogging, en ma-wees


Steyn du Toit - 2011-05-19
Untitled Document

Hou op skree, Mammie

Hannalie Taute se visuele-kunste-uitstalling Skeidingsangs het groot opslae by vanjaar se KKNK gemaak. Soos ’n wafferse spinnekopwyfie wat na paring die mannetjie toespin, so ook het sy als toegedraai wat vir haar spesiaal is, en waarvan sy sukkel om afskeid te neem, in lap, wol, gare of tou. Maar stilsit is nie iets wat hierdie ma van twee ken nie! Tussendeur huisvrou, kunstenaar en ma wees het sy ook onlangs ’n blog begin en het vir Steyn du Toit bietjie meer daaroor vertel.

Jy het pas klaar gemaak met jou solo-uitstalling by KKNK. Hoe was jou algehele ervaring van die fees? 

Die fees was aangenaam. Dit was lekker om verskeie mense se reaksies teenoor my werk te sien en hoor – veral die kinders s’n. By ’n kunstefees voel ek ook meer betrokke as tydens ’n uitstalling in ’n galery.

Het jy baie werk verkoop?

Sewe altesaam, maar ek het ook teruggekom met talle waardevolle kontakte en terugvoering.

Waaraan werk jy tans?

Behalwe vir wasgoed was, stofsuig en doeke omruil is ek tans besig met my blog, asook ’n blog vir my man se keramiek-studio. Die blog dien as ’n webtuiste vir my kunswerke, asook ’n kreatiewe uitlaatklep – iets wat ek kan doen terwyl ek borsvoed!

Saans werk ek aan nuwe werke wat handel rondom die tema “object permanence”. Ek is baie opgewonde hieroor en is ook besig om ’n voorlegging in te dien by ’n galery in Kaapstad vir ’n toekomstige uitstalling daar.

Baggage


Is dit belangrik vir kunstenaars om "tech savvy" te wees of kyk galerye goed genoeg na julle?

Ek kom uit ’n era van tikmasjiene en poskantore, maar deesdae is dit goed om ’n bietjie “tech savvy” te wees – dit is onder andere ’n manier om galerye te bereik, aangesien ek nie in ’n stad woon nie.

Kan mense jou kuns deur jou blog koop?

Mense is welkom om my deur die blog te kontak en dan kan ons dit van daar af neem.


Wat is die blog-adres?

www.hannalietaute.wordpress.com.