Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Onderhoude | Interviews > Afrikaans > Roepman: Maggie Marx gesels met John-Henry Opperman

Roepman: Maggie Marx gesels met John-Henry Opperman


Maggie van Eeden - 2011-05-13

Beskryf die Roepman-ervaring. Hoe het alles begin?

Ek het Roepman jare terug op toer gelees. Ek het agter op ’n bakkie gelê ná optredes in die Oos-Kaap. Dit het vreeslik gereën en ek het ’n gaar matras met ons drummer gedeel. Dit was ’n aaklige trip, maar ek was in die hemel weens die magiese boek. Ek het die hele boek gelees agter op die bakkie en toe ons by Grasmere rond aankom, was ek klaar daarmee. Ek was só meegevoer dat ek daar en dan my notaboek uitgehaal het en vir Jan van Tonder (wie ek nie geken het nie) ’n brief geskryf het. Ek het hom eintlik maar net bedank vir die mooi storie. Na ’n paar maande het ek hom by KKNK ontmoet saam met gemeenskaplike vriende. Op daardie stadium het hulle reeds gesels oor die filmregte en nadat ons gekuier het, het hy vir die uiteindelike vervaardigers gesê ek herinner hom aan Joon. Dit is ’n ongelooflik toevallige en gelukkige verhaal, maar as jy daardie tyd vir my gesê het ek gaan die rol van die skeel roepman Joon speel, sou ek vir jou gelag het.

Het jy enigsins navorsing gedoen om die rol goed te kan vertolk?

Ek het met treinoperateurs gesels oor roepmanne en die alledaagse lewe op die spoorweë, maar ek het meer introspeksie gedoen na die verskille en ooreenkomste tussen my en Joon. Joon is ’n baie berekende man, ek nie. Tyd reguleer sy bestaan. Tyd is vir my iets heel anders. As jy ’n musikant is, is jou instrument ’n kitaar of ’n klavier. As jy ’n akteur is, is jou instrument jou ervarings, jou lyf en jou persepsie. Daar is ooreenkomste tussen my en die karakter en dit was lekker om hierdie wêreld te verken.

Wat van die hele proses was vir jou moeilik/uitdagend?
 
Ek het al my lyf akteur gehou in musiekblyspele en toneelstukke, maar nog nooit voor ’n kamera nie. Anders as met die verhoog is filmwerk baie tegnies en die ruimte vir foute bestaan feitlik nie. Dít was vir my ’n vreesaanjaende ervaring, maar uiters bevredigend.

Hoe was dit om saam met legendes soos Paul Ehlers en Lida Botha te werk?

’n Ongelooflike voorreg. Lida kan in een oomblik boeke spreek met haar gesig sonder om ’n woord te sê. Paul het ons almal baie gemaklik laat voel en was nooit voorskriftelik oor wat hy wou hê nie. Daar was ruimte om te kon “wees”, en dit was ’n groot aansporing.

Hoe stem die roman en die film ooreen?

Die film is ’n aanpassing. Enigiemand wat die taak aanvaar om ’n boek tot ’n film aan te pas, het nie al sy of haar varkies op hok nie. Dit is ’n gróót werk en dit vat letterlik jare om dit reg te doen. Jy moet ’n lem in iemand anders se kreatiwe werk inlê en dit beteken dat sommige elemente verlore sal gaan. Sallas, Piet en Jan het baie goeie werk gedoen. Die kruks is die kruks, alhoewel dit met ’n paar karakters en temas uitgedun is. Enigiemand wat Roepman gelees het en daarvan gehou het, sal nie teleurgesteld wees met die film nie.

Wat het jy in die verfilmingsproses geleer?

Ek het geleer dat om ’n akteur te wees ’n nimmereindigende geveg met jouself is. Ek sien myself nie as ’n akteur nie – ek was nooit formeel opgelei om een te wees nie en dit sal nie regverdig wees teenoor mense soos Rika Sennett, Deon Lotz, Andrew Thompson, Paul Lückhoff (en baie ander wat aan Roepman gewerk het), om dit te doen nie.

Waar is Roepman verfilm?

In ’n huis in Linden vir die interieure werk; by ’n kerk in die Moot, Pretoria; by Rovos Rail se stasie in Pretoria en ’n spoorwegkamp in Springs wat tot gedenkwaardigheid verklaar is en dus nie aanbouings mog kry nie; en in Durban. Dit is in die winter geskiet en die grasperke van agt huise is geverf, aangesien die verhaal in Durban afspeel.

Die lokprent maak mens behoorlik nuuskierig en lyk dit asof Roepman kan meeding met van die beste internasionale films. Wat maak Roepman vernuwend binne die Suid-Afrikaanse konteks?

Die globale persepsie van die wit-swart-konteks van die dag word ietwat onderstebo gekeer, aangesien Roepman vir ’n slag fokus op die deernis en wedersydse respek wat bestaan het tussen verskillende rasse van die dag. Roepman is nie ’n sprokie nie en ek dink die bogenoemde, vervleg met die tydperk se beheptheid met reëls en regulasies, word briljant gebalanseer sodat die leser (kyker) ’n eerlike voorstelling kan ervaar.

Kan mense jou nou as sanger/akteur beskryf (ten spyte van een van jou steelings hier bo)? Of was Roepman ’n “one night only”?

Die dag as ék weet wat ek is, sal ek julle laat weet. :) Ek sal dit graag meer wil doen. Ek geniet dit solank dit ’n boodskap het en mense kan aanraak. Dalk is ek ’n boodskapper?

Wat gebeur aan die Klopjag-front van sake? Kan aanhangers binnekort nog ’n CD verwag?

Ja, ons word volgende jaar tien jaar oud en werk tans aan nuwe materiaal. Dit is vir ons almal nog steeds lekker om rond te ry en vir mense te speel. Ons is beste vriende en daarom kon Klopjag nog nooit faal nie. Ons is nou ouer en ons huisves nie meer die populêre persepsies en illusies wat met band-wees saamgaan nie. Ons is ’n band. Ons doen wat ons doen en jy kan luister as jy wil …