Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Feeste | Festivals > Artikels | Features > KKNK 2011 – ’n fees van uiterstes

KKNK 2011 – ’n fees van uiterstes


Steyn du Toit - 2011-04-13
Untitled Document

’n werk uit Hannalie Taute se uitstalling, "Skeidingsangs"

Aan die een kant is die KKNK basies ’n reuse-biertent. Of ’n worsmasjien. Die een doef-doef-kloon na die ander met dieselfde stywe jeans en highlights se sang word orals waar jy gaan, by jou ore af geforseer. En na aanleiding van gehore wat hulself flou hande klap hiervoor, begin mens ook maar wonder wat die toekoms vir Afrikaanse “kultuur” inhou. “Praat Afrikaans of hou jou bek!” is ’n goeie voorbeeld van hoekom ons nie juis die mees open-minded kultuur in die wêreld is nie. Uit ’n fees met meer as 30 toneelproduksies was daar nog steeds ’n gebitch oor die feit dat minder as vyf van hulle Engels was.

Maar aan die ander kant is daar hope voorbeelde weggesteek regoor Oudtshoorn wat wys dit is nog nie te laat vir die fees (en ons) nie. Ons moet net bietjie minder skynheilig wees. As jy kan lag elke keer as Casper de Vries iemand se ma vloek, dan kan jy ook maar byvoorbeeld deur die hele vertoning van Die Kortstondige Raklewe Van Anastasia W sit. Ja, hulle vloek daarin en jy gaan dalk borste op die verhoog sien, maar wat is die punt daarvan om voor die einde uit te loop? Van die grootste keffers buite die lokaal het nie eers vir 30 minute in die teater gesit nie.

’n Hele paar ander voorbeelde van hierdie tendens kan uitgelig word. Spyt, deur Ingrid Winterbach, is nog een. Ek vermoed as mense actually geweet het (soos wat hulle vir jou die naam van Rudi se nuwe “liefling” binne sekondes kan sê) wie Ingrid Winterbach of Marlene van Niekerk was, sou hulle dalk hierdie skrywers vertrou het tot aan die einde toe. Maar soos verwag, was weer eens die stukke waarin storielyne rondom poepe draai, die topverkopers. Dis jammer dat dit nie produksies soos Lot, Drome Van Jou, London Road, Howzit My Bra! of Klaasvakie was nie.

’n Aspek van die fees wat egter in die kol was, was die visuele kunste. Die kurator, Johan Myburg, het sterk gefokus op die tema van broosheid. Helena Hugo, 2011 se feeskunstenaar, het ons land se werkersklas in unieke pastelwerke vasgevang. Haar klem val op die sosiale en ekonomiese voordele van “om te kan werk” en sy waarsku dat ons mooi na hierdie mense moet omsien.

Christiaan Diedericks het weer ’n wêreld van ’n mengsel tussen amper Lou Reed se Walk On the Wild Side en George Orwell se 1984 voorgestel. Sy Beautiful World was van die hoogtepunte op uitstalling by die Prince Vincent-gebou.

En dan was daar Hannalie Taute met Skeidingsangs. Wanneer jy die vertrek met haar werk binnestap, vind jy ’n toneel op die oog af vanuit ’n bisarre slasher-film, met misvormde speelgoed, beendere en naaimasjiene toegespin in wol, en selfs ’n videokasset van Rosemary’s Baby wat uitgerafel is en rondom ’n babapop gespin is. Die onderskrif lees: “Parental Guidence is Advised.” Hierdie ironiese kykie na moederskap is een van die deurlopende temas van Hannalie se uitstalling – haar unieke uitkyk op ma-wees.

Die res van die sewe dae in die Karoo was gevul met asemrowende opelugkonserte deur David Kramer, woordspelings deur Philip de Vos, kitaarklanke deur die legendariese Louis Mhlanga, en ’n uiters begaafde blinde pianis, Ster.

Die week was ook egter propvol Bulls-rugbytruie, Steve Hofmeyr wat met sy nuwe stuk die dorp vol ry en galbraak net waar hy kom, asook te veel slimmes wat slegs die fees kritiseer op feesdebatverhoë in pleks van om iets daadwerkliks te probeer doen. Die feesdireksie sal dalk ’n plan moet begin maak oor wie presies hulle teikenmark is, want hulle is besig om ’n fees van uiterstes te word.