Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Visueel | Visual > Artikels | Articles > Optelgoed bied blik op straatkinders se wêreld op Die Tiep

Optelgoed bied blik op straatkinders se wêreld op Die Tiep


Steyn du Toit - 2011-04-06
Untitled Document

Soos verskyn in Krit op 5 April 2011

“Kyk, daar is oom Kakkig! En Loppies en Ballas ook!” Die reaksie en opgewondenheid deur straatkinders van Die Tiep oor foto’s deur of van hulle geneem, laat mens net daar besef hoe belangrik die uitstalling Optelgoed is.

Die Tiep is ’n munisipale stortgrond net buite Oudtshoorn. Dit is egter ook al plek wat baie mense hulle huis kan noem. Optelgoed het begin posvat toe Judy Kellerman, wat hier in Oudtshoorn met straatkinders en gemarginaliseerde mense werk, en Hans van der Veen, ’n plaaslike fotograaf, ’n ambisieuse idee gehad het.

Hulle het 46 weggooibare kameras vir van die kinders en ander inwoners van Die Tiep gegee, hulle bietjie touwys gemaak, en hulle toe gevra om die vullishoop en sy mense te gaan afneem. 35 van die kameras is teruggebring en die resultate hang teen die muur  by die Prince Vincent-gebou.

Tydens Krit se besoek het van die kinders met wie Judy werk, by die uitstalling opgedaag. Rondom ’n oop koerant sit nege seuns rustig op die vloer en teken – een ’n mooi meisie, terwyl die ander weer in “fancy skrywe” probeer skryf. En die ander sierskrif. Hulle ouderdomme wissel van 10 tot 17. Die jongste, Pinnie, wys dadelik ’n foto met hom in uit: “Meneer, kyk, dit is ekke daai wat so teen die lorrie staan!” Pikkie kom al vandat hy gebore is, na die Tiep toe saam met sy ma. Sy is so drie jaar gelede oorlede (hy kan nie presies onthou nie), en sedertdien het hy maar daar aangebly. Sy storie weerspieël die meeste van die ander foto’s teen die mure – op die oog af meestal van laggende kinders – elkeen met ’n hartverskeurende storie. Judy ken hierdie stories beter as enigiemand anders, en vra die seuns reguit vrae oor wanneer hulle laas gom gesnuif het of gestort het. Maar die wedersydse respek is so duidelik soos daglig.


Ongelukkig kan dieselfde nie gesê word van party feesgangers nie. Tydens Krit se besoek het twee besoekers ingestap en onmiddellik hulle monde en neuse met hulle duur serpe toegemaak as gevolg van die “vieslike ruik” in die vertrek. Een kon dit nie langer uithou nie en het buite gaan wag. Haar vriendin het egter die reuk trotseer, afgehurk en vir die kinders gevra wie vir hulle gesê het hulle mag daar binne speel. Sy het nie die verband tussen die uitstalling en die seuns voor haar opgelet nie. Nadat sy toe wou weet of hulle ma’s nie vir hulle bad nie, is sy toe ook daar uit sonder om ’n enkele foto te sien. Volgens Judy is dit ’n gereelde gebeurtenis, en ’n houding baie gelyk aan die samelewing se siening teenoor die Tiep. “Weet jy, daar is nie eers water of sanitêre geriewe nie. Die omstandighede is haglik. Maar kyk net hoe ver kon ons al kom met ’n klein idee tot waar ons vandag hierdie bewusmakingsveldtog het.”



Lees meer oor die projek op hansvanderveen.wordpress.com. Die foto’s op die uitstalling  is ook te koop teen R500 elk. Al die fondse gaan aangewend word om ’n gebou op te knap waar kinders daagliks etes, toesig, en ondersteuning weg van die strate kan kry. Hulle klere sal selfs daar gewas kan word.

Optelgoed is daagliks by die Prins Vincent-gebou te sien.