Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans

30 nagte in Amsterdam: Vernuftig én verbeeldingryk


Thys Human - 2008-12-03

Titel:30 nagte in Amsterdam
Skrywer: Etienne van Heerden
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624047070
Publikasiedatum: Oktober 2008
Aantal bladsye: 352

Klik hier en koop 30 nagte in Amsterdam nou by Kalahari.net!

 

I

Verbasend kort op die hakke van Asbesmiddag (2007), wat vanjaar met die M-Net Literêre Prys bekroon is, volg Etienne van Heerden se agtste vollengte-roman, 30 dae in Amsterdam (2008) – ’n oorrompelende, gewaagde boek met ’n meesleurende vaart en talle verrassende verhaalwendings. Dié roman, wat deur Van Heerden aan sy vrou en twee dogters opgedra word, is boonop besónder aantreklik uitgegee.

 

II

In ’n resensie van ’n roman soos dié bestaan daar altyd die gevaar dat ’n resensent té veel geheime kan verklap. Dus beperk ek my tot die volgende (redelik oorsigtelike) verhaalopsomming: Henk de Melker is ’n museumassistent in Somerset-Oos en die skrywer van dertien dun monografieë waarin hy die lewe van “onmerkwaardige mense” (13) opteken. Hy is besig met navorsing vir ’n beoogde monografie oor Cornelius van Gogh, die minder bekende broer van Vincent en Theo, wat as jong man tydens die goudstormloop aan die einde van die 19de eeu na Suid-Afrika gekom het: “Hy was onopvallend genoeg, inderdaad onbekend genoeg, om onder die spits punt van Henk se vulpen te kom lê. Monografie nommer veertien (…): Die onmerkwaardige broer: Die lewe van Cornelius van Gogh” (14).

Henk se onopwindende bestaan word ontwrig wanneer hy onverwags ’n brief van ’n Nederlandse advokaat – ene Grotius – ontvang wat hom inlig dat sy lankverdwene tante, Susan (Zan) Sophia de Melker, haar huis in Amsterdam aan hom nagelaat het. Van Tante Zan het Henk al byna heeltemal vergeet: ’n eksentrieke vrou wat as politieke aktivis en later as aktrise epileptiese aanvalle gekry en ’n voorkeur vir vreemde vriende soos die “Hollywoodman” Cecil Dimaggio en die straatmusikant Manuel D’Oliveira gehad het.

Henk reis dus na Nederland om sy erfporsie op te eis en op die koop toe navorsing oor Cornelius van Gogh te doen. Na aanleiding van Tante Zan se testament moet hy uiteindelik besluit of hy permanent na Nederland wil emigreer of nie. Tydens sy maand lange verblyf in ’n woonstel op die Spui word hy ingesuig in die maalstroom van die Amsterdamse gragtegordel met sy sakkerollers, prostitute en straatmusikante.

Hierdie geografiese reis loop parallel aan ’n psigologiese of innerlike reis van selfontdekking en selfopenbaring: ’n konfrontasie met die jare wat Henk as jong seun saam met sy OumaOlivier en Tante Zan in Somersetstraat op Graaff-Reinet deurgebring het, asook ’n konfrontasie met sy (idiosinkratiese) familiegeskiedenis, wat onlosmaaklik verknoop is met die geskiedenis van die wit Afrikaner in Suid-Afrika en Afrika.

Henk gaan dus Amsterdam toe nie soseer om die lewe van sy tante te gaan konfronteer nie, maar om homself te konfronteer. Tydens die dertig nagte wat Henk in Amsterdam deurbring, word sy besadigde lewe onherroeplik verander.

 

III

Wat vorm en inhoud betref, verskil 30 nagte in Amsterdam opvallend van sy voorganger. In Asbesmiddag word die konvensionele verwagtings ten opsigte van ’n roman (en veral ’n Van Heerden-roman) uitgedaag. Die skrywer verwys self daarna as ’n “selfmoordroman”, aangesien die leser se verwagting van ’n intrige-gedrewe verhaal doelbewus deur sogenaamde processes of rupture ondermyn word en dit uiteindelik die hoofkarakter-skrywer is wat die slegste daarvan afkom. (’n Afgetakelde man wat op selfondersoekende en selfondermynende wyse besig is om homself bloot te lê, vorm ook die onderwerp van Van Heerden se roman In stede van die liefde (2005).)

Die hoofkarakter van Asbesmiddag, Sebastiaan Graaff, is ’n romanskrywer en professor in skeppende skryfwerk aan ’n Kaapse universiteit. Hy is besig met navorsing vir ’n nuwe roman, waarin die asbesmagnaat wat hy soms in Giuseppe se haarsalon raakloop, ’n prominente rol speel. Sebastiaan is middeljarig en ontnugter deur die burokratisering van die universiteit waaraan hy verbonde is; skepties oor sy rol en bydrae as skrywer in ’n tyd waarin die boek deur die beeld (televisie en film), die maatskappy (veral grootskaalse kommersialisering en globalisering) en die tegnologie (soos die internet) bedreig word.

Op metafiksionele wyse worstel hy dus met die eise wat skryfwerk aan ’n kreatiewe persoon stel, asook die posisie wat die skrywer en letterkunde in ’n verbruikers- en toenemend polities-korrekte samelewing inneem. Miskien juis vanweë hierdie selfrefleksiewe en filosofiese ingesteldheid het nie alle lesers ewe entoesiasties op dié roman reageer nie. Asbesmiddag was byvoorbeeld die fokus van ’n koerantpolemiek waarin ’n resensent van die suide twee (minder opgewonde) resensente van die noorde daarvan beskuldig het dat hulle die roman “verkeerd gelees” het.

Anders as Asbesmiddag is 30 nagte in Amsterdam ’n intrige-gedrewe roman waarin verskeie motiewe uit Van Heerden se vorige romans eggo:

  1. die tema van rassespanning wat reeds sedert Matoli (1978) ’n kerngegewe is
  2. die wisselende vertelperspektief wat die gebeure uit verskillende hoeke belig (soos in veral Toorberg (1986) en Die stoetmeester (1993) die geval was)
  3. die deurmekaarloop van gedagte-inhoude wat aan die hand van bewussynstroomtegniek geopenbaar word
  4. die motief van skuld, waarvan die oorsprong gedeeltelik na die voorgeslagte teruggevoer kan word – op individuele vlak in Matoli ontgin en op kollektiewe vlak in Toorberg en Die stoetmeester
  5. ’n identiteitsoeke soos in Om te awol (1984) en In stede van die liefde
  6. ’n postmodernistiese kunsgreep, soos reeds in die titelverhaal van My Kubaan (1983), waardeur daar in die teks metatekstueel besin word oor die skryfproses
  7. ’n deurtastende (terug)blik gerig op die (dikwels agtergelate) plaasmilieu wat in feitlik elke vorige Van Heerden-roman, maar veral ook die digbundels Obiter dictum (1981) en Die laaste kreef (1987), figureer
  8. ’n skerpsinnige (en hier besonder vermaaklike) besinning oor die aard en die betekenis van die geskiedenis. Soos in Die gas in rondawel Wilhelmina (1995) word “die intieme verbintenis tussen die Afrikaanse kultuur en ’n nahuiwerende stuk Nederlandse erfenis” (Erasmus, 1999:698) ook in 30 nagte in Amsterdam aan die orde gebring.

Susan (Zan/Xan) de Melker het voorlopers in Seun, die “effens naïewe aktivis” in Casspirs en Campari’s (1991: ix), en Fabian se tante Geertruida, ’n eksentrieke ou dame wat in Die gas in rondawel Wilhelmina en Kikoejoe (1996) meestal in Londen of Amsterdam woon en ’n leefwyse volg wat in die sestigerjare in die Afrikaanse gemeenskap ondenkbaar was.

Zan se minnaar, Carl Wehmeyer, herinner onwillekeurig aan Siener Wehmeyer, die deemoedige en “alsiende” verteller in Die stoetmeester, terwyl Henk de Melker, soos Ingi Friedländer in Die swye van Mario Salviati (2000), museumassistent is; anders as die bekende romansier Sebastiaan Graaff (Asbesmiddag) is hy egter die skrywer van dun monografieë oor onopvallende randfigure.

Dit wil lyk asof die magies-realistiese sfeer van romans soos Toorberg, Die stoetmeester en Die swye van Mario Salviati veral in die laaste twee romans plek gemaak het vir ’n meer sobere, dog tegelykertyd ook ironiese en humoristiese, aanslag. 30 nagte in Amsterdam is ’n roman deur ’n skrywer wat homself en sy stof beslis nie te ernstig opneem nie.

 

IV

30 nagte in Amsterdam het my nie net aan Van Heerden se vorige romans herinner nie, maar ook intertekstuele verbande met ander Afrikaanse romans in gedagte geroep.

Dit is ’n roman wat, soos Toorberg en Kikoejoe, aansluiting toon by die speurverhaal en dus ook by belangrike voorbeelde van dié genre in Afrikaans: Etienne Leroux se Een vir Azazel (1964), Anna M Louw se Kroniek van Perdepoort (1975), André P Brink se Houd-den-bek (1982) en selfs Die boek van toeval en toeverlaat (2007) deur Ingrid Winterbach, hoewel laasgenoemde roman ’n “bedrieglike” speurverhaal is. (By ’n herlees van die roman val dit ’n mens op hoevéél leidrade in die eerste paar hoofstukke in verband met latere gebeure en verwikkelinge verskaf word!)

Die verhaal van ’n bejaarde vrou wat sterwend is en haar lewe in oënskou neem, herinner sterk aan Karel Schoeman se Hierdie lewe (1993) en Marlene van Niekerk se Agaat (2004), hoewel Van Heerden allermins skatpligtig te werk gaan! Die sintaktiese en semantiese “deurmekaarloop” van bewussynsinhoude roep onder meer Dolf van Niekerk se Die son struikel (1967) en Willem Anker se Siegfried (2007) in gedagte.

Zan de Melker is egter ’n ingeligte en belese verteller wie se indrukke in die eerste persoon weergegee word. Siegfried Kilian, die veiligheidspolisieman wat Tante Zan in Amsterdam opspoor en onder kruisverhoor neem, het my aan die hoofkarakter in Brink se drama Die jogger herinner, terwyl die nimfomaniese Tante Zan my laat dink het aan die wulpse tant Nonnie in Hennie Aucamp se ’n Bruidsbed vir tant Nonnie (1970): sy “wat driftig en onboetvaardig geleef het, altyd geëis het, selde gegee het”; vir wie dit nooit “te warm” was nie; en wat tussen al die mans wat sy geken het, tog haar hart aan één opgehang het.

Soos Estienne Barbier in Inteendeel (1993) en Kupido Kakkerlak in Bidsprinkaan (2005)beskik Tante Zan oor die “malligheid” om los te breek van die samelewing se norme en beskouings en die moed het om “inteendeel” te sê.

 

V

30 nagte in Amsterdam word gestruktureer rondom enkele binêre opposisies, waarvan die twee landkaarte voorin die roman – een van die Oos-Kaap en een van Amsterdam se gragtegordel – reeds ’n aanduiding is: die warm, droë, stil Karoo teenoor die koel, nat Amsterdam met sy rumoerige naglewe; die besadigde Henk de Melker teenoor sy andersdenkende Tante Zan, MaOlivier se wilde, onvoorspelbare dogter:

Die ene met die skurwe hakskene soos ’n volstruiskuiken die eendag-boyfriends met bakkies die stroompie het lankal opgedroog. Oujongnooi, te kens vir die plaaskombuis te louter vir die kerk te bontstaan vir die konsert te betjonks vir die skoolbasaar of Vrouelandbou. Zan die kafferboetie, wat met al die meide en al wat tuinjong is op straat geselsies maak en nooit vir die witmense wil vertel waaroor hulle gesels nie. Sy so begaan oor die mense met stoflap of graaf in die hand, sy maak volgens gerugte ook ogies vir die posbode. Zan die ondiskrete ou juffer die old maid die sourpuss. (62)

Daar is altesaam 58 hoofstukke wat afwisselend uit die volgende perspektiewe aangebied word:

  • ’n beskrywing van Henk se reis na en verblyf in Amsterdam in die hede, aangebied deur ’n eksterne verteller
  • ’n verwoording van Henk se herinneringe aan die verlede, ook aangebied deur ’n eksterne verteller
  • die verbatim-weergawe van Tante Zan se bewussynsinhoude uit die verlede, aangebied in die eerste persoon.

Naas Henk se maand lange verblyf in Amsterdam begin daar dus mettertyd ’n “tweede lewe”, ’n “onbekende verlede”, in die roman uitgroei.

 

VI

As kind is Henkie enersyds geweldig nuuskierig en avontuurlustig – Tante Zan vergelyk hom onder andere met die ontdekkingsreisiger David Livingstone, die Everest-klimmer Edmund Hillary en die veldheer Napoleon. Andersyds is hy besonder versigtig, sistematies en georganiseerd. Wanneer Tante Zan een van sy ekspedisies na die agtertuin betrag, merk sy op:

Ek kyk hoe hy kniel op die twee stukkies skoenbokskarton wat hy uitgeknip het en waarop staan Linkerknie en Regterknie. Nee, hierdie bepaalde navorser gaan nie swig voor die tropiese siekte die ingewandskoors die maagkoors die gevaarlike ewenaardinge nie, nee, kyk, hy’t als by hom, ook ’n olielampie bestand teen bose geeste. (132)

Ná haar epileptiese aanval tydens die skool se prysuitdeling probeer Henk sy “skrikmaaktante” bedags ten alle koste vermy. Saans soek hy haar kamer egter nuuskierig op:

Jy onthou dalk nie, Grootman, maar as almal slaap en Somerstraat is tjoepstil dan kom jy gesluip na my kamer. Met jou vingerpuntjie oor die verbode wang van ou Xan. Jy met jou asempie oor my gesig. Jy kom geheimpies daar by my bed en met jou vergrootglasie fynkam jy my gesig ná my toeval, onthou jy?(406)

Met ’n seun wat aan depressie ly en ’n dogter wat vallende siekte het, vestig MaOlivier haar en die familie se hoop op haar kleinseun, Henkie:

MaOlivier plak haar koeverte styf toe en neem verlief met my (Zan) en my ou traanbroer (Henk Snr.). Nee wat, sy’t haar lankal versoen met ons mankemente van die gees en sy weet dis net ’n kwessie van tyd. Sy vestig nou haar hoop op skrander Henkie, daai dan’s-hy-hier-hiert-dan’s-hy-daar-hiert-seuntjie wie se ogies niks mis nie. Dáár is die familie se hoop. (167)

Afgesien daarvan dat Henkie geskiedenis gaan studeer op Stellenbosch en ’n inwoner word van Dagbreek, “waar hy as Sekretaris van die Huiskomitee dien” (290), slaag hy egter nie daarin om aan hierdie hoë verwagtinge te voldoen nie. Hy is só bang dat hy dalk sy tante se afwykende gene geërf het dat hy konstant met die vrees vir ’n onverwagse epileptiese aanval leef:

Hy’t geweet wat wag uiteindelik op mense met sy gene, mense wat hul kreatiwiteit nie kan beheer nie. Die De Melkers was daarvoor bekend. Gekheid. Die malhuis. Grand mal. Die Skuimbol. (121)

Dit is juis hierdie “dinge in sy bloed en sy kinderjare van gek opgejaagdheid wat hom sy bande met die verlede laat afsny en ’n eenvoudige, omsigtige lewe as museumassistent op ’n klein dorpie laat kies het” (24). Henk spits dus al sy aandag toe op navorsing vir sy monografieë en die skryf daarvan:

Hy is niks meer as ’n klerk van die verlede nie, ’n optekenaar. Selfs ’n klerk uit die verlede. Hy’s geen grootkop-historikus wat as dirigent die orkes van die verlede kan lei nie. Die groot gebaar laat hy aan ander oor. (190)

(Geen wonder nie dat Tante Zan by geleentheid wonder: “Waar’s my Henkie my woeligheid my sprankel my ogie, waar’s my klein ontdekkingsreisiger?”)

’n Brief uit Amsterdam waarin hy meegedeel word dat hy die “erfgenaam-van-eerste-instansie” van sy tante se boedel is en dat sy haar Amsterdamse woning in Amstelstraat aan hom bemaak het, verteenwoordig ’n keerpunt in Henk se lewe. Hy besef dat hy die afgelope dekade of twee alle herinneringe aan sy tante doelbewus probeer onderdruk het:

[W]anneer sy snags in sy gedagtes opkom waar hy alleen in sy huisie lê en die Karoowind die takke teen die sink skuur, druk hy die gedagtes weg na waar hulle hoort: die vergetelheid. Hy staan op en gaan drink ’n slaappil. Hy sal nie toelaat dat daardie jare weer by sy kop inbondel nie; hy’t als nou netjies bymekaar hier op Somerset-Oos. Dis verby, vir altyd. Hy het dit van hom afgeskud. (12)

Maar wanneer die vliegtuig ’n paar dae later sak deur die plate mis wat oor Schipol hang, voel dit vir Henk “hy val die verlede in … hy wat die swaartekrag die afgelope dekades vermy en lig probeer lewe het, val vry” (39).

Die bepalings van Tante Zan se testament is eenvoudig, maar redelik voorskriftelik: “Jy kan die erfporsie kry, maar dan moet jy jou vorige lewe prysgee en hier in my woning in Amsterdam kom woon” (119). Aanvanklik veronderstel Henk dat só ’n skuif slegs ’n geografiese verplanting impliseer, iets wat vanweë die “diktatuur van misdaad” in Suid-Afrika ’n al hoe belowender opsie blyk te wees. Hy besef egter mettertyd dat dit eerder ’n radikale verandering van ingesteldheid en perspektief aan sy kant gaan vereis:

Dis veral Tante Zan en haar manier van kyk na die wêreld wat hom vir die eerste keer in sy volwasse lewe helder voor die oog staan: hy kan soos sy wees. Een klein verstelling, en hy’s die opvolger van sy eksentrieke tante. (211)

In Amsterdam word Henk dus tot “nadenke” (271) gestem in verband met sy familiegeskiedenis (“… daardie deurmekaargeklitste, ondertrouerige, weerbarstige spul mense in Afrika wat Henk se mense was” (24)), maar tegelyk ook die geskiedenis van die wit Afrikaner in Suid-Afrika en Afrika:

Dis in sy familie geen geheim dat die De Melkers ’n genepoel onder beleg het nie. Te veel is opgegaar; ’n koloniale geskiedenis soos hulle s’n het honderde jare nodig om te bedaar, om bedees en selfversekerd te raak. (209)

Dié geskiedenis, dink hy,

is ’n grand mal-aanval. Dis ’n reeks stuipe. Skuimbolle en daarna die massering van geskokte ledemate, die trooswoorde van patriotisme. Dit kan dekades duur, hierdie droom. Tot die volgende agteroorbuig van die verwoede rug, die greep van stuipe, die vallende siekte. (215)

Hoewel Henk hom op Somerset-Oos probeer verweer “teen die uitvlugte van sy brein” (243), begin dinge opeens in Amsterdam verander:

[S]edert sy aankoms op Schipol gister, is dit asof iets in hom losgaan. Asof hy skielik dinge sien wat hy nie normaalweg sien nie: elektrisiteit slaan uit oorhoofse drade uit. Hy verlang na ’n vrou. Begeerte, so lank onderdruk, is weer in hom. (123)

Dit val hom op dat hy al hoe meer soos sy Tante Zan begin optree:

Hy is onrustig. Hy kan nie ophou dwaal nie. Dis iets wat met hom aan die gebeur is. Sy sintuie is opgeskerp. Hy hoor en sien soos nog nooit tevore nie. (187)

Wanneer hy oor Cornelius van Gogh se lewe begin droom en fantaseer, dink hy:

Jy kan, Henk, hierdie verhaal oor die broers neem en daarmee hardloop en jy kan iets skep wat jou dun monografieë ver oortref. Jy kan dalk, uiteindelik, historikus van format word. Iemand wat besef dat jy uit gister se arbitrêre insidente sin kan maak, storie kan skep, móét skep – anders bly dit by verbeeldinglose oorskrywery, ’n paar dun boekies in enkele mense se hande. (95)

Uiteindelik stel tante Zan se onthullings Henk in staat om sy navorsingsonderwerp (maar ook sy skryftaak) in ’n nuwe lig te sien:

Skielik, onwaarskynlik, met ’n soort onmoontlike noodwendigheid, staan Cor van Gogh op OumaOlivier se voorstoep. En ek sien hom, só lyk hy! Mense kan maar ophou wonder – hier is Cor. Ek sien hom. Ek. Dis sý klere, sý rooi baard, die roesvlekke op die voorarms, onder die rooi haartjies. Hy staan daar soos ’n boemelaar met sy slaapgoed opgerol onder sy arm. Maar toe hy die rol op die eetkamertafel voor die huismense oopmaak, is dit ’n doek uit die wonderhand van die gestorwe broer Vincent. (312)

Hy word iets van die “driekoppige kunstenaar waarna Grotius verwys het – die busker, die bedelaar en die sakeroller” (191). Net soos wat Henk aan die einde van die roman vir Tante Zan “help” om iets wat sy verloor het, terug te vind, help sý hom om weer met die bronne van sy inspirasie en verwondering in aanraking te kom:

Dit was voor ek leer wantrou het, dink Henk; ek kon hul verhale myne maak, ek kon dit eet soos brood. Hul gelieg en hul spoggerighede, hul grootpraat en verdriet. Dis eers later dat ek suinig geraak het. Dat ek begin skrywe het soos harmansdrup. Die tirannie van datums. Die benoud, die wurg. Die voetnote. (313)

As meesteres van vermomming (en watter belangrike motief is vermomming en identiteitsverandering nie in hierdie roman nie?) help Tante Zan vir Henk as’t ware om hom as skrywer in iemand anders se skoene te plaas. Daarom dink hy:

Ek sal hom nou kan skryf. Noudat alles op losse voet is en niks meer seker is nie, nou sal ek die sprong na die verbeelding kan maak. (348)

In hierdie opsig kan Tante Zan dus, naas talle ánder interpretasie-moontlikhede, ook as beliggaming van die muse gesien word, en is dit veelseggend dat Henk aan die einde van die roman juis met dié “figuur van inspirasie” dans. Die roman wat die leser hier lees, word dus ’n voorbeeld van die tipe verhaal wat Henkie sou kon skryf as hy sy verbeelding vrye teuels gee.

 

VII

Uit bostaande bespreking blyk dit dus duidelik dat daar in 30 dae in Amsterdam onder meer besin word oor kunstenaarskap, die rol van die verbeelding, die proses van herinnering, die vloeibaarheid van identiteit en die ingewikkelde meganika van bestaan en behoort. Henk se begeerte om sy klere af te werp en in ’n graf te spring sodat hy hom kan “skoonwas van wie hy is en al die verskrikkinge wat hy beërwe het” (283), dui daarop dat gedagtes rondom skuld en veral koloniale en erfskuld in die roman sentraal staan (kyk byvoorbeeld hoeveel bekentenisse daar in die roman gemaak word).

Genadiglik verval 30 nagte in Amsterdam nooit in eensydige Afropessimisme óf voorspelbare politieke korrektheid nie. Aan die een kant is dit ’n roman oor verset: veral Tante Zan se liggaamlike en ideologiese verset teen die stipsiende Afrikanernasionalisme en versmorende Calvinisme van haar tyd, onder meer beliggaam deur haar ma, broers en veral die dokter en die dominee wat, soos in die geval van soveel ander Afrikaanse romans, skreeusnaaks maar besonder stereotiep uitgebeeld word:

Sondag na Sondag: Dominee, die vlermuis. MaOlivier, die bejaarde mannekyn in pêrels. Ekself, gesangeboekdraer vir MaOlivier, halwe tree en twee note agter. Ek, die Satansoog. Die Marxis. Nimfomaan. Kittelaarkoningin. Elke diaken is deel van die sameswering. Elke ouderling ’n slappiel. Die tandbederf die aambeie die skilfers die jig die bloedarmoede, die swam tussen die tone, die vratte die moesies die aangepakte lewer. Kyk hoe sit hulle daar! Die dermborrels die halitose die gatvlieë die gatkruipers die gattelas. O julle skynheilige bliksems maak daai binnekamer oop dat ons sien wat aangaan! Gooi die voordeure van julle huise oop, julle stigtelike lafaards julle vroetelaars en knoeiers. Julle gemaskerde wonders prokureurs en dokters en eerstespanspelers uithalers voorste boere. Julle. (49)

Aan die ander kant is dit ook ’n parodie van verset, ’n satiriese blik op die versetstryd tydens die apartheidsera: “Die sogenaamde Sobukwe sel, so het dit later geblyk, is nooit deur enige leierskap gesanksioneer nie. Vanwaar Cecil Dimaggio gekom het en wat sy werklike naam was, het niemand ooit geweet nie. Hy’t mense, u tante inkluis, op sleeptou geneem in ’n soort parodie van die Stryd, daaroor is geen twyfel nie” (373), sê Grotius by geleentheid aan Henk. Binne hierdie satiriese konteks maak die eienaardige opdragte wat die “swanky” Cecil Dimaggio vir Tante Zan gee (en wat sy met groot erns bejeën en tot die letter uitvoer), meer sin:

Draai nooit jou rug op die see nie.
Moet nooit omkyk na ’n lyk nie.
Elke bevel is wet.
Groet kamerade met die linkerhand, sodat jou regterhand los is ingeval hy intussen teen jou gedraai het.
God is dood.
Lewe die revolusie.
Sterf die werker, sterf ons.
Vroueoperateurs moet vals snorre dra, want die proletariat verstaan die krag van die vrou nie.
Pis windkant. Dit hou die jakkalse van jou spoor af. (33)

 

VIII

30 nagte in Amsterdamis ’n roman waarby ’n wye leserspubliek aanklank behoort te vind (aartspreutses en dié wat maklik aanstoot neem, moet egter miskien maar verbyhou!). Enersyds is dit ’n spannende roman wat jou aan die raai hou, andersyds ’n ryk en veelduidige werk wat verskillende interpretasiemoontlikhede aktiveer en waarin daar op aangrypende wyse besin word oor die brose grens tussen liefde en wreedheid, tussen die salwende en die weersinswekkende.

In ’n toespraak ten tyde van die oorhandiging van die Afrikaans Onbeperk-toekenning aan Marlene van Niekerk bring Ingrid Winterbach (2008:75) Van Niekerk se werk met dié van James Joyce in verband:

Nie soseer in toon of aanslag of gemoeidheid nie, maar in die bewerking van taal. Die op-die-voorgrond-stel van taal. Taalvindingrykheid en taalverruiming. Die volgehoue diggeweefde taligheid … wat soos by Joyce geen gaping vir die leser bied om by die agterdeur uit te glip en onder die draad deur te kruip nie.

Hierdie opmerking sou ook op 30 nagte in Amsterdam van toepassing gemaak kon word. Van Heerden se taalgebruik is louter vreugde – ek het lank laas uit ’n roman soveel genot geput as uit dié dele waarin Tante Zan aan die woord is. Hopelik kan dié roman ’n steeds groterwordende SMS-generasie opnuut onder die indruk van Afrikaans se idiomatiese kleurrykheid bring.

30 nagte in Amsterdam is ’n roman wat ek moeilik kon, of wou, neersit!

 

Verwysings

Aucamp, H. 1970. ’n Bruidsbed vir tant Nonnie. Kaapstad: Tafelberg.

Erasmus, Mabel. 1999. Etienne van Heerden (1954–). In HP van Coller (red), Perspektief & Profiel II. Pretoria: JL Van Schaik: 679–99.

Winterbach, Ingrid. 2008. ’n Verbeelding van oorvloed & ontsetting. BRAVO!, Lente: 74–6.