Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012) This is the LitNet archive (2006–2012) |
|||||
|
Carina Stander - 2008-11-04 Laat my dink aan daardie dag in matriek toe ek die koevert sommer langs die poskantoor oopgeskeur en in die Isuzu gesit en lees het. Regdeur, van "Geagte" tot by "Die uwe" sonder om asem te skep. Want sien, dit was 'n groot oomblik toe ek lees dat ek gekeur is om Beeldende Kuns by Tuks te swot. Kuns was nie 'n skoolvak op die platteland nie. Ek't gedog Picasso en Pierneef is tydgenote en dat Ekspressionisme iets met borspompe te make het. Het sulke mik-en-druk kiekies van my kunswerke geneem en in 'n bruin A5 koevert voorgelê - g'n niks gewis van blinkleer-portefeuljes met vergrotings en getikte titels nie. Foei. In my honneursjaar het ek eenmaal die dosent gevra waarom hulle besluit het om die kind in die wit rok 'n kans te gee. "Want jy was soos klei," het sy gesê. Om 'n e-pos te kry wat vertel dat agt van my gedigte vir Groot Verseboek gekeur is, voel soos daardie dag in matriek. Al is ek (tussen Opperman, Breytenbach en die meeste ander) net 'n eerstejaar met 'n eerstelingbundel, is ek nou in die geselskap van die Groot Geeste. Ore gespits, potloodskerpmaker en papier in die hand. Hierdie uitgawe van Groot Verseboek verskil taamlik van al sy voorgangers: dit bestaan uit drie aparte dele, dis verpak in blik-vorm, en dit het 'n meer kontemporêre omslag-ontwerp. Wat dink jy van die nuwe visuele aanslag en ontwerp? Fab! Daar word deesdae baie gepraat van 'n "oplewing" in die Afrikaanse poësie. Dink jy dit is inderdaad so? Dink jy Afrikaanse poësie het 'n helder toekoms? En het poësie nog 'n plek in vandag se Afrikaanse kultuur? Ek raai die toekoms van enige taal se poësie hang daarvan af of digters (gevestig en nuut) hulself wil laat hoor. Inklusief. Nie vir 'n eksklusiewe gehoor nie. Dit maak my opgewonde wanneer poësie 'n lêplek nie net in lesinglokale en biblioteke kry nie, maar ook in kroeë en café's, wynkelders en kerke, voorhuise en agterplase. In die Bosveld het daar tagtig mense by die vrystelling van my bundel opgedaag. Die gasheer het geroep: "Boere, wanneer laas kon julle sewentig verse vir 'n R100 koop?" Nouja wragtag, as ek - onervare en onbekend - die volle oplaag van my debuut met 'n klompie voorlesings kon verkwansel, dan kan Jan Rap en sy kat dit ook regkry. Die atmosfeer is reg daarvoor. Noem 'n paar van jou gunsteling klassieke Afrikaanse verse wat al in Groot Verseboek opgeneem is. Hoekom is hulle jou gunstelinge? Van my helderste herinneringe as kind is waar my ma se matrikulante Duitse gedigte voordra en die praatkoor "Raka" van Van Wyk Louw opvoer. Ek was so vier jaar oud en kon nog nie lees nie, maar het probeer om die woorde van Marais se "Dans van die reën" en "Mabalêl" te onthou. Wanneer niemand kyk nie, het ek dié gedigte (vol verdraaiings) voor die badkamerspieël opgesê. Hierdie verse het waarskynlik my siening van die Afrikaanse digkuns en Afrika gevorm - 'n eksotiese, geheimsinnige, gevaarlike plek. Op elf het ek begin om in die middae na skool met Opperman se Groot Verseboek en 'n gehawende HAT te sit en lyste te maak van woorde wat vir my mooi is. Ek het my blou BMX al om die huis getrap terwyl ek "bit-ter-bes-sie-dag-breek-bit-ter-bes-sie-son" sing. 'n Verlange sonder naam. Ek onthou nog hoe die slot van Leipoldt se "koperkapel" my geskok het (die reën was toe al die tyd bloed, mensebloed!). En al het "Rietfontein" van Du Plessis my bang gemaak, het ek dit oor en oor gelees. As tiener het "Christ of the burnt men" van Cussons my aan die hart gegryp. Ook die pynlike slotreëls ("die bene roserooi") van Van Heerden se "Droom". De Lange se "Aardlief" en Fryer se "Oulaas" het my laat tjank oor al die kere wat ek nog sou afskeid neem. Gedigte - meer as gesprekke of koerante - het my polities bewus gemaak tot op die punt dat selfs 'n hoërskoolkind dit nie kan ignoreer nie. Veral Spies se "'n Paternoster vir Suid-Afrika" en "Herinneringe van die teruggekeerde soldaat" van Weideman was suiwer revolusie. Dan is daar gedigte wat sag in my kom lê het, soos Eybers se "Maria". Met die verskyning van Brink se Groot Verseboek 2000 het ek "God die digter" van Cloete en Stockenström se klipverse vir die eerste keer raakgelees. Opperman se "Vincent van Gogh" het uit die bladsye gespring. Ek het die skreeusnaakse vers van Letoit ontdek waar die vlieë hom nie meer groet nie en kennis gemaak met Bezuidenhout se dorpsmeisies van dertien wat vir die boere tee skink, Grobler se mooie grootjie wat soos 'n god kon liefhê en met Hambidge se minnaresse. Vir 'n verrassende slot had ek nog altyd groot bewondering, soos die eenhoring wat uit die niet verskyn in "Oupa Marais" of die vrou wat straataf loop terwyl haar hare vlam in Joubert se gedig, of Bouwer se "Koue oorlog" waar 'n stalaktiet van ys van die son tot op die aarde hang. Hoe pragtig is die kind wat die son se kokosmelk drink in De Bruyn se gedig! "i sagte reën het agtermiddag" van Nel laat my elke keer woordeloos. Vir my is van die mooiste liefdesverse in Groot Verseboek 2000 sekerlik Olivier se "lieflingbruinoogvolborsmooilyfmens", Myburg se "Lied van die bruidegom" en Pieterse se fantastiese Bloubaard-verse. By die gekanoniseerde Krog vind ek "kerkdiens op Elim 1989" en "skryfode" absoluut briljant. Maar Breytenbach beweeg my steeds soos geen ander nie. Hy dig vir die oog. Kan poësie-lesers uitsien na nuwe werk uit jou pen in die nabye toekoms? Waaraan werk jy tans? Die sewentig verse van my tweede digbundel, woud van nege en negentig vlerke, verskyn middel 2009 by Tafelberg. Dit is vol woude, moerasse en erotiek, vulkane en vloede, berge, swangerskap, vreemdsoortige diere, engele en die Goddelike. Dit speel weer in Afrika af, maar ook in Peru, Brasilië, Skotland en Hawaii. Verder werk ek aan 'n versameling kortverhale en skaaf aan 'n roman. Ek skryf steeds artikels (meestal oor reis en medekunstenaars) vir 'n hand vol tydskrifte. Kuns het my ook baie besig gehou vanjaar met uitstallings by die Breytenbach Sentrum in Wellington en op George. Dié 33 skilderye en houtbeelde is visuele uitbeeldings van my gedigte - 'n spel tussen die natuur en bonatuurlike.
|