Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Boekartikels | Articles on books > Afrikaans

Hou Asbesmiddag sy kritici op hulle plek?


Etienne Britz - 2008-03-03

'n Ongunstige resensie van 'n boek is dikwels pynlik om te skryf. Die resensent maak die skrywer teen wil en dank seer en hy knou sy boek. Hy is verplig om te sê as hy nie van 'n boek hou nie, en waarom nie, want hy het die verantwoordelikheid aanvaar om lesers oor die boek in te lig en hulle van eerlike advies te bedien. 'n Resensent het selfs die taak om 'n swak skrywer plat te slaan indien dit nodig is om hom van sy literêre ambisies te red. En hy mag 'n insinking in die werk van 'n gevestigde, suksesvolle skrywer meedoënloos uitwys.

Twee teëwigte hou die resensent egter op sy plek. Die een is die boek self. Die resensent loop die risiko dat hy 'n boek onderskat of verkeerd verstaan, iets wat vir groot professionele verleentheid kan sorg. Die tweede teëwig is sy portuurgroep, ander kritici wat dalk nie met hom saamstem nie. Soos die boek self, is 'n ongunstige resensie – en natuurlik ook 'n gunstige een – 'n tameletjie wat aan hom laat eet.

Dit was met groot respek vir die manmoedigheid van alle goeie resensente dat ek onlangs 'n hap gewaag het in die rigting van Willie Burger en Johann Rossouw. Hulle hou nie van Etienne van Heerden se nuwe roman Asbesmiddag nie. My polemiese artikel is gepubliseer in By (Beeld se Saterdag-bylae). Hierin probeer ek aantoon dat Burger en Rossouw die roman verkeerd lees. My bydrae word hier onder herhaal, met dank en erkenning aan By.

Asbesmiddag is 'n komplekse roman met gewaagde eksperimente wat die leser se ontvanklikheid toets. Die gevaarlikste eksperiment is waarskynlik die dun draad tussen werklikheid en fiksie waarop Van Heerden loop. Sy hoofkarakter, Sebastiaan Graaff, lyk so sterk op sy skepper dat ek die opmerking van iemand ontvang het dat Van Heerden op 'n persoonlike “ego trip” is in dié roman, en dat hy dinge aanvang soos om te “kla oor sy universiteitswerk sonder om iets te rep oor die vet salaris wat hy daarvoor ontvang”. In my ervaring van kritiek op romans het ek nog nie sulke vreemde aanklagte gehoor teen 'n persoon wat nie in 'n roman optree nie. Dis duidelik uit die opmerking dat Asbesmiddag 'n taai tameletjie vir sommige lesers is.

Hoe Van Heerden se spel met die werklikheid en met herkenbare inwoners van Stellenbosch presies literêr beoordeel moet word, is iets wat ek moeilik kan peil. Dié aangeleentheid is ryp vir verdere debat.

Binne die ryk “amount and diversity of materials integrated” in Asbesmiddag het ek onder meer baie gehou van Van Heerden se herskrywing van die plaas-tema. Die middeljarige skrywer Graaff en sy bloedjong nooientjie, Me Barbed Wire, besoek 'n plaas in die Oos-Kaap wat net sowel Toorberg kon gewees het. Van Heerden is nog altyd gefassineer deur die Boereplaas, destyds 'n Afrikaanse familieryk onder die bewind van Pa, maar vandag onderhewig aan ontstellende omvorming. Ek is bekoor deur die manier waarop Van Heerden die tema van kommodifisering uitspeel in sy uitbeelding van 'n ou erfplaas in die Karoo wat omskep is in 'n speelpark vir toeriste.

Hierdie soort leesgenot het gemaak dat ek 'n appeltjie wou skil met Burger en Rossouw, met die hoop dat hulle my dit nie kwalik sal neem nie, maar as gesonde portuurkritiek sal verwelkom.


Etienne Britz


Johann Rossouw en Willie Burger lees Asbesmiddag verkeerd

Artikel deur Etienne Britz in By, bylae tot Beeld, Saterdag 9 Februarie 2008


Twee kritiese artikels oor Etienne van Heerden se Asbesmiddag wat in November in Beeld verskyn het, laat myns insiens onreg geskied aan hierdie nuwe roman. Ek verwys na Johann Rossouw se rubriek Glasoog 191 (Beeld 24/11/2007) en Willie Burger se resensie “Nie ’n bevredigende leeservaring nie” (Beeld 26/11/2007).

Willie Burger het veral kritiek op die intellektuele besinnings van die hoofkarakter, Sebastiaan Graaff. Graaff is ʼn middeljarige romanskrywer en professor in die skeppende skryfkunde. Weens sy probleme as skrywer en dosent laat hy hom telkens uit oor die skryfkuns, oor die hedendaagse universiteitswese, en oor ander sake wat hom raak.

Volgens Burger kom sommige van Graaff se menings reëlreg uit Etienne van Heerden se rubriek in Beeld. “In Asbesmiddag word nie werklik iets ontdek wat nie in besinnende stukke of in artikels (deur die skrywer self of deur ander) reeds bedink is nie,” skryf Burger. Vir hom mis Asbesmiddag die magiese realisme van Van Heerden se beste romans en bevat dit te veel besinnings wat “die denke nie suksesvol grensoorskrydend voer nie”.

Ek verskil van Burger oor die rol van Graaff se uitsprake en aanhalings. Dis hoogs aanvegbaar dat sy besinnings “losstaande brokke (is) wat nie in die geheel van die roman geïntegreer word nie.” Burger oordryf myns insiens ook die aandeel van die besinnings. Desmond Painter se handleiding oor Asbesmiddag in Desember se Boeke-Insig bied ʼn veel gebalanseerder oorsig oor wat alles in dié roman ontdek kan word.

Johann Rossouw se Glasoog 191 faal dié keer, myns insiens, as rubriek wat poog om helder na dinge te kyk. Dalk te wyte aan sy filosofiese eerder as letterkundige oriëntasie?

Rossouw identifiseer die fiktiewe Sebastiaan Graaff naamlik in alle erns met Etienne van Heerden, die werklike skrywer van die roman. ʼn Uitspraak van Graaff op bladsy 176 word byvoorbeeld direk aan Van Heerden toegedig.

Die fiktiewe/werklike skrywer in Asbesmiddag is, volgens Rossouw, 'n verdediger van die postmodernisme. Hy (die fiktiewe/werklike skrywer) kom met ʼn “rasionalisering vir 'n allerkragtige, outonome individu wat gegewe die doodsheid en afstandelikheid van die werklikheid soos 'n god alles wil nuut maak”.

Hoe kom Rossouw by hierdie vreemde siening uit, anders as deur ʼn verkeerde opvatting van hoe die fiktiewe skrywer, Graaff, se uitsprake verstaan moet word? Asbesmiddag handel immers oor ʼn middeljarige, verbygestreefde skrywer wat nie as ʼn “vernuwende god” eindig nie, maar juis ten gronde gaan, met besinnings en al!

Aan die slot word die sirenes van ambulanse en polisievoertuie onderweg na ʼn moordtoneel gehoor. Graaff staan in die middel van die hele penarie, sy doppie finaal geklink, sy teks bespat en doodgevee met bloed. Vir iemand wat obsessioneel afhanklik is van sy skryfkuns ("niks anders beteken iets nie"), is dit 'n totale ontreddering. Selfs 'n reddende aanhaling wil Graaff nie te binne skiet nie. Dis asof ook Rossouw op dié droewige toneel afsnel om Graaff/Van Heerden 'n ekstra skop oor sy literêr-filosofiese dwalinge te gee!

Die probleem by sowel Burger as Rossouw is dat hulle die spesiale konteks waarin Graaff se besinnings geplaas word, nie behoorlik verdiskonteer nie. Dié konteks is 'n tragikomiese, oedipale poging om 'n wraakroman te skryf. Die skrywer/professor wat op die wyse van Oedipus probeer afreken met die bekendste “vader” onder Stellenbosch se geldadel, bevind hom in 'n krisis van middeljarigheid, literêr-skeppende verouderdheid en akademiese “burnout”. Gevolglik moet ons soms lag en soms huil oor wat hy sê en doen in die verhaal. Humor, ironie en selfspot heers waar Rossouw en Burger diep denke soek.

Selfs indien Graaff as outobiografiese figuur beskou word, kan sy besinnings nie as die draers van die werklike skrywer se waardes en idees gelees word nie. Die skrywer speel in so ʼn geval ʼn spel met homself, ook ʼn spel met sy bekende uitsprake. Die aard van dié spel bepaal hoe die besinnings in die roman gesien moet word.

Die rol van dié besinnings word geïllustreer deur die spel in Asbesmiddag met wat Willie Burger die “selfingenomenheid” van die skrywer-figuur noem.

Graaff klink aanvanklik taamlik selfingenome. Maar dit is 'n wankelbare selfingenomenheid, 'n verwondbaarheid. Hy word onttakel in die verhaal. Aan die slot is hy ook as besinnende agent geruïneer.

'n Goeie voorbeeld van sy intellektuele onttakeling sien ons in sy dialoë met sy bloedjong nooi, Me Barbed Wire. Graaff meen hy het “’n goudaar raak geboor, ’n jong meisie wat van ou mans hou”. Maar dié grafiese romanskryfster uit die skool van die “batterysuur-realisme” speel wreed. Sy spot genadeloos met haar middeljarige kêrel se verouderde besinnings.

Johann Rossouw kan met reg ontsteld voel oor Me Barbed Wire se onverskilligheid teenoor die wêreld buite haarself (en buite haar kuns). Want sy maak sadisties misbruik, as kunstenaar, van gruwelike tonele uit die werklike lewe. Hy mág reageer, want Van Heerden se storiewêreld is vol morele prikkels.

Rossouw kan egter nie vir Etienne van Heerden tot verantwoording roep oor Me Barbed Wire se amorele idees nie, net so min as wat hy hom verantwoordelik kan hou vir die fiktiewe skrywer Graaff se uitlatings. Van Heerden stel Graaff voor as 'n middeljarige skrywer wat met 'n sekere onbeholpenheid probeer bybly by 'n sexy jong skryfster soos Me Barbed Wire, en wat hom sodoende inlaat by die eksesse van ʼn nuwe skryfkultus. Rossouw moet sy morele afkeer inrig volgens hierdie opset.

Laat ons terugkeer na die “selfingenomenheid” waarmee Sebastiaan Graaff aanvanklik sy menings lug, iets wat selfs uit sy besinnings en aanhalings blyk, sy vertoon van belesenheid en wysheid. Hierdie ydelheid word egter bewustelik uitgebeeld deur Van Heerden. Dit is deel van sy voorstelling van Graaff se laaste hoë vlug voor sy val.

Graaff is sterk bewus van sy roem en van mooi dinge wat die kritici al oor sy werk geskryf het. Hy soek ruimtes op waar hy as skeppende kunstenaar aan sy “skaarsheidswaarde” kan werk. Die reklametogte by die verskyning van sy boeke is vermoeiend, maar hy hou nogtans daarvan wanneer “alle oë na hom draai”. Dit is dan wanneer hy sy vader se vernederinge in die sirkus-arena vergoed.

Graaff hou glad nie van die haarkapper Guiseppe se opmerking dat hy dalk afgunstig voel op die skatryk magnaat (die “Doktor”) wat dieselfde haarsalon besoek nie: “Eenvoudige mense soos hy (Giuseppe) vind mense soos ek dikwels pretensieus. En dalk ís ek. Maar ek voel nogtans dat hy nou te ver gegaan het.” Dieselfde gevoel van spesiale sosiale status veroorsaak dat Graaff van sy “kamers” op Stellenbosch praat.

Graaff kyk na sosiale tipes vanuit 'n kritiese en geamuseerde hoogte. Sy hooghartigheid maak egter dat hy mense soms verkeerd opsom – vergelyk sy mistastinge oor Giuseppe. Sy satiriese perspektief word dus ook onttakel in die verhaal.

Sy grootste ydelheid is sy vereenselwiging en kragmeting met die Anton Rupert-agtige “Doktor”, die beroemde miljardêr van Stellenbosch. “Nes ek, dink hy, is die Doktor ook die knoper van verhaaltoue; ’n intrigant. Hy vleg storielyne. Ook hy het karakters sy gemoed sien instap en hulle gegryp om sy groot verhaal op die doek van die wêreld te skrywe.”

Die verwondbare “selfingenomenheid” van Graaff word voorgestel as die produk van 'n kompleks oorgehou uit sy kinderdae. Wat hy doen, insluitende sy skryfkuns, hou verband met die vergelding van sy pa se mislukkings. Soos Graaff dit self stel: sy skryfkuns is “’n terrein van selfsug en neurose; dis ’n ballonvaart.”

Die filosofiese, literêr-teoretiese en kultuurkritiese besinnings van die skrywer-figuur word dus uitgebeeld as 'n verlengstuk, 'n mondstuk, van 'n neurotiese en egoïstiese dromer. Burger verwag dat dié besinnings “grensoorskrydend” moet wees en Rossouw wil hê hulle moet die postmodernisme bestry. Maar hulle het eerder die karakter van spane waarmee die arme Sebastiaan Graaff in sy middeljare probeer roei.

Die onstewigheid of “dunheid” van Graaff beteken nie dat ons alles wat hy beweer, of aanhaal, onwaar of onbelangrik hoef te vind nie. Allerlei faktore sit agter sy uitlatings: sy psigiese geskiedenis as emosioneel-beskadigde kind uit die Oos-Kaap, sy professionele en sosiaal-kulturele onbehae, en die denkskole en debatte van die tyd waaruit hy stam.

Soms verkondig Graaff dinge wat ons ernstig kan glo. Soms praat hy met die vlot tong van die senior skrywer en leermeester. Soms sê hy iets waaroor 'n mens wonder.

'n Voorbeeld uit Asbesmiddag: Baie universiteitsdosente sal met Graaff saamstem dat kennis gekommodifiseer word aan die hedendaagse universiteite. Graaff slyp 'n persoonlike byltjie wanneer hy sy werkgewer aanvat. Maar talle lesers sal nogtans voel dat hy hier “die eerlike waarheid” praat.

By geleentheid verwys Graaff egter na die kwasi- of semiwaarhede wat hy aan sy studente in die skryfkunde voorhou. Hy waarsku hulle byvoorbeeld om verhaalfigure nooit op 'n polities inkorrekte manier te benoem nie. En hy moedig hulle aan om hul drifte en drange te laat botvier in hul skryfeksperimente: “Gaan Verder! Beskaam jouself! Bevuil jouself!”

Glo Van Heerden doodernstig in hierdie advies? Of is hy besig om te spot met Graaff se mode-navolging en met die clichés van die skryfskole wat deesdae oral by universiteite opspring?

Kortom, Willie Burger en Johann Rossouw kan kies waarvan hulle hou wanneer hulle Graaff se besinnings lees. Die res moet hulle verdiskonteer deur die onttakelingsgeskiedenis in die oog te hou en deur op die ironiese en humoristiese effekte te let.

Baie van Graaff se opmerkings kenmerk hom as deel van die wit Stellenbosse elite: die ouer, blanke mans wat kla oor die veranderende tye wat hul geliefde enklave bedreig. Sy teoretiese besinnings en aanhalings weerspieël die intellektuele diskoerse van die tyd waaruit hy as student en dosent stam.

As letterkundige hou hy van die Nederlandse Tagtigers, iets waarmee ek my byna persoonlik ingeskryf voel in Asbesmiddag, as Stellenbosse dosent wat jare lank oor die Tagtigers klas gegee het. Sy lyfspreuk as skrywer vind sterk aansluiting by die negentiende-eeuse Romantiek, al kom dit uit die mond van Plato: “For a poet is a light and winged thing, and holy, and never able to compose until he has become inspired, and is beside himself, and reason is no longer in him.”

Graaff voel ook 'n sekere liefde vir die dekadentisme wat terugreik na die laat negentiende-eeuse letterkunde. Me Barbed Wire noem haar kêrel onder meer “Professor Moan and Groan on the Literature of Exhaustion”.

Die eksistensialisme (“Hell is other people”) vorm deel van Graaff se aanbod van besinnings. Vandaar voel hy simpatie vir die Outsider-figuur. Ook die debat oor die politieke pligte van die literatuur, wat sedert die sewentigerjare in Suid-Afrika woed, vorm deel van sy bagasie. Selfs die Russiese Formalisme loer om die hoek.

Graaff se besinnings is dus in 'n hoë mate 'n produk van sy geyktheid, sy verbondenheid aan die vaders van die verlede. Hy sê dit self in die roman. Daarom kan sy gedagtes nie altyd so “grensoorskrydend” wees as wat Willie Burger hulle wil hê nie.

Uit die geheel van historiese spore in Graaff se intellek kies Johann Rossouw die verwysings na die postmodernisme om 'n filosofiese argument met die werklike skrywer, Etienne van Heerden, aan te knoop. Volgens my is dit verkeerd om hierdie komplekse roman só te lees.