Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Briewe | Letters > SêNet

Etienne van Heerden se Asbesmiddag, wat gaan ek en jy vir Afrikaans doen?


Pierre van Niekerk - 2008-01-08

Soos vele ander het ek ook Asbesmiddag gelees en omdat hier ander is wat gesê het hul wil graag dit krit, sal ek nie my eiertjie in die kommentaarnes wil lê nie. Ek sou tog wil enkele van die aanhalings wat vir my baie mooi was, wou aanhaal …

Twee wat uitstaan is op p 107 waar Van Heerden in die voorlaaste paragraaf ‘n wonderlike beeldende beskrywing van die liefde gee, waar hy sê:

“die liefde is ook ‘n soort lugballon. As jy die blaasvlam wegneem, gaan jy hoogte verloor. As jy nie jou ballon anker voordat jy hom begin gas gee nie, gaan hy vroegtydig losruk. En as jy die windrigting en -sterkte nie na behore skat nie, gaan hy jou wegdryf, onbeheerbaar ver. Jy sal nie kan neerstryk nie, jy is gedoem tot ‘n bestaan van winde”.

Onbeskryflik mooi gestel … onbeskryflike menswaarhede, beskryflik waar van die liefde, behalwe dat mens dit weet en tog, hoeveelkeer in die wete van wat jy weet, faal.

Die tweede beskrywing wat vir my uitstaan is op p 221, waar Van Heerden dit so stel: "Die wit Engelse … het die kuns van onsigbaarheid geleer…

En dan na enkele sinne, eindig die paragraaf so…

“Vertoon is vir die Engelse vulgêr. Vertoon is vir die Afrikaner noodsaaklik- dis een van ons grootste foute”.

Kan iemand een van die Afrikaner se fundamentele swakhede beter opsom? Hoeveel keer hoor ons nie die “manne”, die “Boere” is kwaad nie … en elke keer na so luid verklaring, gebeur wat? ... omdat, omdat ons verleer het om onsigbaar te baklei …

Die boek, as ek mag sal ek later nog kommentaar wil lewer, is een van frustrasie met Afrikaans, Afrikaanse skrywers, Afrikaanse denke waar Van Heerden vir my eerder sy eie “sieleensaamheid” projekteer deur karakters in kort gebede van wanhoop. Van Heerden is moedeloos soms oor vele fasette van verval van die Afrikaanse samelewing … en hy is volgens my reg, want ons Afrikaanse denke en skrywes is besig om te verrot. Hartseer om te noem, in putte van banaliteite.

Afrikaans se stand kerf duidelik aan Van Heerden se siel soos wat mens met jou ou Joseph Rogers biltongnate sny … dis net dat die Afrikaanse biltong se smaak deesdae van cheap kruie gemaak word, dit kruie nie meer die gees en siel van die Afrikaanse nie, ons kruie nie in ons musiek die woorde van die Afrikaanse kuns nie, nie in ons skrywes op openbare forums nie.

Die feit dat Van Heerden ‘n verhaal probeer vertel is vir my irrelevant, Asbesmiddag is baie dieper, dis nie die verhaal of die karakters wat in die verhaal deurkom nie. Van Heerden se karakters, anders dan homself, mislei die leser wat ‘n spanningslyn of storielyn soek, want dit is nie die onderliggende boodskap nie. Van Heerden protesteer, hy haal sy eie rebelse aard op ‘n mooi manier uit in karakters waar hy sy frustrasie oor Afrikaans in vele fasette beskrywe.

In die gesig van die karakters kerf van Heerden sy “Afrikaanse frustrasie” ‘n totempaal uit, met beelde oor die Afrikaanse taalstryd, soms rig die totem se punt ‘n gebed na die hemele oor Afrikaans, “ vanwaar sal ons hulp vandaan kom?”.

Asbesmiddig is ‘n gebed, ‘n Afrikaanse Totempaal van arende en buffels en leeus wat as beelde van die verlede dien waarna Van Heerden hunker.

Kyk ons ander ook op na die Afrikaanse totempaal van hunkering? Brand dit ons ander ook? Is dit nie ook onguur in ons gemoed nie … veral as mens die skooluitslae so bitter bekyk nie en sien wat moedertaalonderrig vir kinders beteken nie? Word Van Heerden 2008 se eerste stem as "woestynprofeet" wat Afrikaans weer onder ons almal wil aandag wil bring?

Ek sluit af: Van Heerden vra volgens my dat almal hier in beelde en in woorde, op papier, Afrikaans in ons skole, in ons kerke, in ons skrywes weer ‘n keer in 2008 so sal besig dat ons moedertaal, ons kuns, musiek en kultuur sal groei, dat ons almal Afrikaans ons verantwoordelikheid tot die verhoging van ons menswees sal maak, Afrikaans in al sy vorme sal uitbou …

Kom ons hoor wat Van Heerden weer vra en, ons vra mekaar, wat gaan ons elkeen individueel die jaar doen vir Afrikaans, in ons Afrikaanse menswees, in ons skrywes onder andere aan LitNet?

Pierre van Niekerk