Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > LitNet Akademies > LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)

Afrikanerskap en taal by ’n paar Afrikaanse skrywers en ander intellektuele in die 1890’s


Jaap Steyn - 2010-06-30

 Opsomming 

Met verwysing na die Genootskap van Regte Afrikaanders se onderskeid tussen Afrikaners met Engelse, Hollandse en Afrikaanse harte onderskeidelik gee die outeur ’n oorsig van die houdings van ’n paar Afrikaanse skrywers en ander intellektuele teenoor Afrikanerskap en die keuse van ’n kultuurtaal. Die klem val op ’n paar NG predikante, pres. M.T. Steyn, pres. Paul Kruger, genl. J.B.M. Hertzog, “Onze Jan” Hofmeyr, S.J. du Toit, Marie Koopmans-De Wet, Gustav Preller, C.J. Langenhoven, J.D. Kestell, M.E.R. en D’Arbez. Dit blyk uit die ondersoek dat Afrikaner-identiteit aan die einde van die 19de eeu meer deur die geskiedenis en vereenselwiging met die volk bepaal is as deur taal. Hollandse koerante en boeke, en nie Afrikaanse publikasies nie, was in die 1890’s die vernaamste mondstuk van Afrikaner-nasionalisme. Dit blyk nogtans uit ego-dokumente uit die Tweede Vryheidsoorlog dat Die Afrikaanse Patriot ’n redelik sterk invloed moes uitgeoefen het op die skryftaalkeuse van burgers van die Vrystaat en Transvaal. Die onderwysbeleid van die owerheid het ’n groot invloed gehad op mense se keuse van ’n skryftaal, maar dit was moontlik om met ’n bietjie inspanning van Engels na Afrikaans oor te skakel. Vir sommige Afrikaners met ’n Afrikaanse gesindheid was Hollands ’n oorgangstaal na Afrikaans. Ná die oorlog het Afrikaner-nasionalisme in sterker mate ’n taalgeoriënteerde nasionalisme geword en ’n deurslaggewende rol gespeel om Afrikaanssprekendes teen verengelsing te bewaar. Ten slotte word met voorbeelde aangetoon hoe relevant hierdie kwessies tot vandag gebly het.

Abstract

A few Afrikaans authors and intellectuals on Afrikaner identity and language

With reference to the distinction made by the Genootskap van Regte Afrikaanders (Society of Real Afrikaners) between Afrikaners with English, Dutch and Afrikaans hearts respectively, the author provides an overview of the attitudes held by some Afrikaans writers and other intellectuals towards Afrikaner identity and Afrikaans as a cultural language. The emphasis is on a few Dutch Reformed ministers, Pres. M.T. Steyn, Pres. Paul Kruger, Gen. J.B.M. Hertzog, S.J. du Toit, Marie Koopmans-De Wet, Gustav Preller, C.J. Langenhoven, J.D. Kestell, M.E.R. and D’Arbez. The conclusion is that towards the end of the 19th century, Afrikaner identity was determined more by history and identification with the nation rather than by language. Dutch newspapers and books, not Afrikaans publications, were the foremost vehicles for Afrikaner nationalism in the 1890s. Nevertheless, it is evident from ego documents dating from the Anglo-Boer War (South African War) that Die Afrikaanse Patriot must have had a fairly strong influence on citizens of the Free State and Transvaal regarding the choice of a written language. The educational policy of the government also had a significant influence on the choice of a written language, but it was possible to switch from English to Afrikaans with little difficulty. For some Afrikaners with an Afrikaans outlook, Dutch was seen as a transitional language to Afrikaans. After the war, Afrikaner nationalism became more centred on language issues and played a crucial role in preventing the Anglicisation of Afrikaans speakers. Lastly, it is indicated how relevant these issues remain to this day.

 

1. Inleiding

’n Bekende uitspraak oor die taalhouding van Afrikaners in die 1870’s is ’n paar stellings in die manifes van die Genootskap van Regte Afrikaanders (GRA). “Daar is Afrikaanders met ENGELSE harte. En daar is Afrikaanders met HOLLANDSE harte. En dan is daar AFRIKAANDERS MET AFRIKAANSE HARTE. Die laaste noem ons REGTE AFRIKAANDERS, en die veral roep ons op om aan ons kant te kom staan.” Die oproep was om “nie te rus nie vóór dat ons taal in alle opsigte algemeen erkend is as die volkstaal van ons land” (Die Afrikaanse Patriot, 15 January 1876).

Die GRA, met ds. S.J. du Toit as leier, was aanvanklik een van die aktiefste taalorganisasies in die geskiedenis van Suid-Afrika. Met min geld het die paar lede ’n sukses gemaak van die eerste Afrikaanse koerant, Die Afrikaanse Patriot, en later ’n tydskrif, Ons Klyntji. Hulle het verskeie Afrikaanse boeke uitgegee, en tot 1895 81 000 eksemplare gedruk. Die GRA het begin met die standaardisering van Afrikaans. Die lede het ’n Afrikaanse skool opgerig en met die druk en verspreiding van petisies die beweging gesteun om Hollands as parlementêre taal in die Kaapkolonie te erken. Op inisiatief van Du Toit het ’n politieke party, die Afrikanerbond, in 1879 in die Kaapkolonie tot stand gekom wat hom ook vir taalregte beywer het.

Die paar suksesse het nie genoeg indruk gemaak om die vordering van Engels onder Afrikaners te stuit nie. Engels was in die laaste kwart van die 19de eeu die kultuurtaal van baie intellektuele Afrikaners, selfs diegene met ’n sterk gevoel van Afrikanerskap. Sommige ander het gebruik gemaak van Hollands, en die Hollandse beweging was oënskynlik lewendig. Dit het gelyk asof die Afrikaanse beweging om verskeie redes agteruitgaan.

Hermann Giliomee (2004:179) beweer tereg dat Du Toit met sy bedrywighede sedert die stigting van die GRA Afrikaans ten nouste aan die identiteit van die Afrikaners gekoppel het. Maar hierdie koppeling het langsaam geskied, en in die 1890’s is Afrikanerskap dikwels deur middel van Engels en Hollands bevorder.

Dit is die bedoeling van die outeur om in dié artikel ’n oorsig te gee van die houdings van ’n paar Afrikaanse skrywers en ander intellektuele teenoor Afrikanerskap en Afrikaans in die 1890’s. Agtereenvolgens word gelet op Afrikaners met Engelse, Hollandse en Afrikaanse harte. Ten slotte word aangetoon hoe aktueel sommige van hierdie kwessies tot in ons tyd gebly het. Afrikaner word hier in sy huidige betekenis gebruik, en sluit dus nie Suid-Afrikaans-gebore Engelssprekendes in soos dikwels in die 19de en vroeë 20ste eeu die geval was nie, terwyl die woord skrywers die beoefenaars van alle soorte skryfwerk, ook die joernalistiek, dek. Die benaming Hollands word so gehou; dit is tot in die 19de eeu selfs in Nederland as benaming vir Nederlands gebruik (Van der Sijs 2004:102–3), en was in die 1890’s die algemene naam in Suid-Afrika.

2. Afrikaners met “Engelse harte”

Daar was teen die einde van die 19de eeu goeie rede vir Engelssprekendes om optimisties oor die toekoms van Engels te voel. Die verengelsing van Afrikaners in die Kaapkolonie, wat aanvanklik Brits-gedrewe was, het mettertyd ongedwonge en vrywillig geskied, sodat Giliomee (2004) dit behandel in ’n hoofstuk met die veelseggende titel “Koningin Victoria se Afrikaners”. Geesdriftig is herhaaldelik ’n juigkreet vir koningin Victoria aangehef toe die Afrikanerbond in 1883 op ’n kongres met die Zuid-Afrikaansche Boeren Beschermings Vereniging van “Onze Jan” Hofmeyr saamgesmelt het (Giliomee 2004:184). In die nuwe Afrikanerbond is die taalregte naderhand al hoe meer op die agtergrond geskuif. Die Patriot het opgemerk dat die bond darem te Engelsgesind geword het. Die Kaapse Afrikaners was trots daarop om deel van koningin Victoria se glorieryke “Empaaier” te wees (Giliomee 2004:185). Die aanvanklike gedwonge proses word in besonderhede beskryf deur Giliomee en ouer historici soos J. du P. Scholtz (1965) en G.D. Scholtz (1970, 1974 en 1977).

Die GRA se “Afrikaners met Engelse harte” is van toepassing op verskeie soorte Afrikaners. ’n Mens sou kon onderskei tussen, aan die een kant, dié met ’n anti-Afrikaanse gesindheid, en aan die ander kant dié wat Engels geskryf het omdat hulle nie anders kon nie. Tussen dié twee uiterstes was daar ’n hele spektrum gesindhede en vermoëns.

Tot die duidelik anti-Afrikaanse groep kan ’n mens hoofregter J.H. de Villiers reken. In 1874 het hy die hoop uitgespreek dat die kennis van Engels so algemeen sal word dat daar nie meer tolke nodig sal wees nie (Scholtz 1974:250). In 1877 het hy hom teen die Afrikaanse taalbeweging uitgespreek en gesê dat Afrikaners liewer hul energie moes gebruik om “the rich and glorious language”, Engels, toe te eien “which is ready to our hands as a literary language of the first rank” (Scholtz 1974:278).

Ook in sommige NG pastorieë (darem nie almal nie) was daar sprake van dié soort gesindheid. Die Groote Kerk se predikant, ds. A.I. Steytler, was volgens die latere taalstryder J.H.H. de Waal (1939:41) pro-Hollands en heftig anti-Afrikaans, maar sy huistaal was byna uitsluitlik Engels.

Aan die ander kant was daar heelparty Afrikaners wat as gevolg van die Kaapse onderwysbeleid hul onderrig aan openbare skole deur medium van Engels ontvang het. Hollands was in die Kaapkolonie dikwels nie eers ’n skoolvak nie, en Afrikaans was nog nie ’n aanvaarde of erkende skryftaal nie. Engels was vir sommige Afrikaners doodgewoon die maklikste en natuurlikste uitdrukkingsmiddel.

Só het die briefwisseling tussen die twee grootste na-oorlogse politieke taalstryders en hul vroue in die republikeinse Vrystaat in Engels geskied. Die twee was pres. M.T. Steyn en genl. J.B.M. Hertzog. Hulle het in 1908 daarvoor gesorg dat Hollands (wat volgens afspraak onder die taalstryders Afrikaans en Nederlands ingesluit het) een van die offisiële tale van die Unie van Suid-Afrika sou word.

Die grootste diskrepansie tussen ideaal en werklikheid was miskien te vinde by die Vrystaatse president. Reeds terwyl Steyn regter was, was hy lid van die vereniging vir die bevordering van die Hollandse taal- en letterkunde. Hy was van mening dat Hollands as taal van die Afrikaner gehandhaaf moes word (Van Schoor 2009:89).

Ná die Jameson-inval van 1895–96 in die Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal) van pres. Paul Kruger het die Vrystaat, waar Steyn president geword het, maatreëls teen verengelsing verskerp. Hy het offisiële korrespondensie met Natal en die Kaapkolonie in Hollands pleks van Engels gevoer. Staatsdepartemente soos dié van telegrafie, poswese en spoorweë is noukeurig dopgehou, en by aanstellings is voorkeur aan Afrikaners gegee. Kort voor die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog is ’n wetsontwerp aangeneem wat aan Hollands ’n groter plek in die Vrystaatse onderwys sou gee (Malan 1982:264 e.v.).

Maar soos Van Schoor (2009:89) aantoon, het Steyn en sy vrou Tibbie Engels met mekaar gepraat en in dié taal briewe aan mekaar geskryf. Sy was van Skotse afkoms en haar skoolopleiding was uitsluitend in Engels. Hollands het sy nooit behoorlik leer praat of skryf nie. Dit het besoekers aan die presidensie opgeval dat Engels die hele huishouding oorheers, en dat net pres. Steyn met sy kinders Afrikaans gepraat het. Van Schoor, wat beslis nie oorkrities teenoor Steyn is nie, meen die vraag bly staan waarom Steyn in die republikeinse tyd “nie by Tibbie daarop aangedring het om haar in Afrikaans te bekwaam en Hollands te leer skryf nie” (2009:89).

Ook Hertzog het met sy vrou in Engels gekorrespondeer, omdat sy aan ’n meisieskool gestudeer het waar sy slegs Engels as skryftaal bemeester het. In sy biografie van Hertzog sê Van den Heever (1944:195) dat ’n mens verbaas staan oor die rapporte, briewe en telegramme wat in die Tweede Vryheidsoorlog van Boerekant in Engels opgestel is, en ook dat dit bevreemdend is om te sien wie almal in Engels aan Hertzog geskryf het.

Tussen die twee uiterstes was daar Afrikaners wat, soos hulle dit gesien het, hulle vir die beswil van die jeug vir onderwys deur middel van Engels beywer het. In Transvaal, waar Hollands die offisiële skooltaal was, was sommige “progressiewe”, veral predikante van die NG Kerk en ander geleerde Kapenaars, gekant teen die oorheersende plek van Hollands in die onderwys. Hulle het hulle vir meer Engels beywer. Dit was vir hulle nie onnasionaal om vir die kinders ’n beter bestaan te probeer verkry deur ’n groter komponent Engels op skool nie. Hul gevoel was dat Afrikaners ewe min Engelse kon word deur Engels te leer as wat die Hollanders wat in Holland graag Frans leer, daardeur Franse kon word (Zietsman 1982:300). Onder dié predikante “met ’n Kaapse vorming” was H.S. Bosman van Pretoria, P.G.J. Meiring van Johannesburg, A.P. Burger van Middelburg en J.J. Strasheim van Klerksdorp (Zietsman 1992:14).

Een van die predikante wat hom vir Engels as onderwysmedium beywer het, was ds. H.L. Neethling, NG moderator in Transvaal en korrespondent van De Zuid-Afrikaan. De Waal was as onderwyser op Utrecht (destyds deel van die ZAR) tuis in die NG pastorie, en deel mee dat die huistaal Engels was. Elke Sondagaand is ook ’n Engelse diens gehou, hoewel die dorp ’n Engelse kerk gehad het (De Waal 1939:36). Patrioties was die pastoriepaar wel: ná die Tweede Vryheidsoorlog was mev. E. Neethling (gebore Murray) die skrywer van Should we forget?, vertaal as Mag ons vergeet? Dit bevat geskiedenisse van die ontberings van Boervroue in die Britse konsentrasiekampe.

Baie Afrikaners het die verengelsing deur die onderwys gretig aanvaar. Die Kaapse onderwyswet van 1865 het bepaal dat onderwys alleenlik in Engels moet geskied. Maar in die meisieskole het Engels mettertyd sonder dwang die leerlinge se voorkeurtaal geword. “Vanaf gedwonge Engels en strafbare moedertaal het ons meisies gekom tot gewillige en gladde hantering van Engels in die skool, op straat en onder mekaar,” konkludeer M.E.R. (1972:36).

In ’n klassieke beskrywing van die verloop van taalverskuiwing skryf sy dat die volgende stap dan was dat die meisies, wanneer hulle trou, die ou huistaal wat hulle nog met hul eie ouers moes praat, nie met die kinders gepraat het nie. Hulle het nie na gewoonte die kinders na vaders- en moederskant laat heet nie, maar “fancy names” gegee en oneindige plesier daaraan gehad (M.E.R. 1972:36). Dit het met een van die skryfster se susters, Lettie Tomlinson, gebeur – sy het ná haar huwelik Engels as huistaal aangeneem en aan haar kinders Engelse name gegee.

Alles wat M.E.R. en haar Afrikaanse medestudente op skool en aan die South African College (voorloper van die Universiteit van Kaapstad) geleer het, het die agting vir die Engelse kultuur en tradisies by hulle aangekweek. “Ons het Engels gepraat, Engelse briewe aan mekaar geskryf; en ons was gelukkig daarmee.” Al haar medestudente en vriende was Engelssprekend en Engelsdenkend. “Van kleins af het duisend drukkinge dit op my ingestempel dat wat Engels is, goed is; wat Afrikaans is, minder goed; ek het geleer glo aan British fairplay, British justice, British honour, the English gentleman – en ek het dit ook alles eerlik en goedertrou geglo” (Steyn 2004:15; M.E.R. 1972:92).

Wat ’n keerpunt in haar lewe gebring het, was die Jameson-inval. “Dit het soos ’n weerligskeurslag gewys waarheen ons gelei word – tot ontkenning van ons eie aard en wese, en om dit te vervang deur ’n namaaksel van die aard en wese van ’n ander volk; om iets vals en nutteloos te word. Verskrik, maar nog behoue, het ons die tyd van dwaasheid oorleef” (Steyn 2004:15).

Ondanks haar sterk Afrikanerskap het Engels voorlopig haar skryftaal gebly. Sy, haar suster Annie en hul patriotiese broer Frits (al drie in Transvaal) het in Engels aan mekaar en hul familie bly skryf. Frits, wat in die Tweede Vryheidsoorlog ’n bittereinder was, het in Engels met sy susters gekorrespondeer, maar sy oorlogsdagboek in Hollands gehou (Steyn 2004:61-4).

’n Tydgenoot van M.E.R. was die toekomstige skrywer en taalstryder C.J. Langenhoven. Hy was later baie sensitief oor ’n toespraak wat hy as eerstejaar aan die Victoria College (voorloper van die Universiteit van Stellenbosch) voor ’n debatsvereniging gelewer het. Hy was anti-Hollands en pro-Engels, en het opgemerk: “For intellectual training Africander Dutch offers no scope, for it has no literature and a very poor vocabulary.” Kannemeyer (1995:133-6) bespreek die stuk indringend en wys daarop dat Langenhoven voorkeur aan Afrikaans bo Hollands gegee het omdat eersgenoemde volgens hom ’n eenvoudiger grammatika het as laasgenoemde.

Veral een gevallestudie toon hoe moeilik dit was om Afrikanerskap dadelik met Afrikaans te koppel, veral waar die betrokkene uit ’n taalgemengde huwelik kom. John Daniel Kestell, wat teen die einde van sy lewe bekend gestaan het as “Vader Kestell”, was, met sy eie woorde, “half Engels, half Afrikaans” (Van Schoor 1992:53). Sy pa, Charles Kestell, was Engelssprekend, die seun van ’n Britse setlaarsgesin. Sy moeder (wat oorlede is voordat hy vier jaar oud was) en stiefmoeder was albei Voortrekkerdogters, en dus Afrikaans. Kestell se pa het altyd met sy kinders Engels gepraat, maar met Kestell se ma en stiefma Afrikaans. Die kinders was dus van jongs af volkome tweetalig (Van Schoor 1992:16). Afrikaans was ook J.D. Kestell se godsdienstaal. Hy skryf dat hy die eerste keer die liefde van God in sy moedertaal leer ken het. Die godsdiens het hom ook vertroud gemaak met Hollands – die taal van die Statebybel, die huisgodsdiens, die dienste en die Sondagskool in die NG Kerk. Kestell se pa was Wesleyaans, maar het voor sy seun se geboorte na die NG Kerk oorgegaan.

Die kerk het Kestell in aanraking gebring met Voortrekkers en ander mense uit die Voortrekkertyd. Die dienste is soms gelei deur ds. Daniel Lindley, wat toe sendeling onder die Zoeloes was, en ook Erasmus Smit, die eerste sendeling van die Voortrekkers. Daar was nog mense wat Bloukrans, Moordspruit en Italeni deurgemaak het. Kestell het Sarel Cilliers leer ken in sy pa se huis en later op sy plaas Doornkloof in die Vrystaat. Uit verskeie van sy boeke blyk sy kennis van die Voortrekkers (Van Schoor 1992:17).

Daar was ’n private skool in die Geloftekerk en die ouers het dit aan die gang gehou, maar die onderrig was geheel en al deur middel van Engels. Die predikant, ds. Dammes Huet, van geboorte ’n Nederlander, was in beheer van die skool, maar hy was nie oor die onderrigmedium begaan nie. Die hoërskole het Hollands nie as vak gehad nie. ’n Afrikaanse kind het Afrikaans glad nie in die skool of op straat gepraat nie, slegs by die huis (Van Schoor 1992:19–20).

Kestell se pa was ’n transportryer en die gesin was brandarm. Voor hy vyftien was, moes hy die skool verlaat en gaan werk. In 1871 is hy en sy pa na die diamantveld. Hulle het nie veel verdien nie, maar genoeg om die jong Kestell in die Kaap verder te laat leer. Hy is na die Stellenbosch Gymnasium, een van ’n paar uitstekende skole wat ’n bolwerk van Engelse kulturele invloed was (Giliomee 2004:163). Engels was ook die enigste onderrigtaal by die Victoria College. Sy dagboek het hy in Engels gehou en hy en sy pa het in dié taal gekorrespondeer (Van Schoor 1992:26). By die kweekskool was die voertale Engels en Hollands.

Kestell en sy skool- en kollegemaat en latere boesemvriend Abraham Kriel was baie lief vir die Engelse letterkunde, en het saam al Shakespeare se werke, op sy gedigte na, gelees. Maar sy eerste pennevrug was tog ’n gedig, ’n swaarmoedige vers, getitel “Death”. Dis in 1877 onder ’n skuilnaam in die Cape Monthly Magazine geplaas (Van Schoor 1992:37).

Die taalstrewe van die GRA en Die Afrikaanse Patriot het Kestell nog glad nie geraak nie. Tog het hy in daardie Engelse dae “bewustelik ’n Afrikanerpatriot” geword “al was ek in ’n Engelse taalbaadjie geklee” (Van Schoor 1992:38). Hy het dit toegeskryf aan die feit dat sy ma en stiefma Afrikaners was, en hy in Pietermaritzburg, en op togte deur die Vrystaat, op die diamantveld, en op Stellenbosch baie Afrikaners leer ken het. ’n Belangrike faktor was sy kennis van die opofferinge en stryd van die Voortrekkers in Natal. Dit was vir hom ontstellend om agter te kom hoe min sy medestudente van daardie geskiedenis weet. Hy het gevoel dat hy iets moes doen om hulle te laat besef hoeveel Afrikaners opgeoffer het om die land bewoonbaar te maak (Van Schoor 1992:38).

Verskeie gebeurtenisse het sy “patriotiese hartsnare” geroer en hom bewus gemaak “van die bloedbande met ons verontregte Voortrekkernasate wat niks anders begeer het as om in vrede en vryheid in hul eie, onafhanklike republieke te woon en te werk nie” (Van Schoor 1992:39). Onder dié gebeurtenisse was die Britse anneksasie van Basoetoland (1869), die Vrystaatse diamantveld (1871) en Transvaal (1877), en die oorlog wat Engeland in 1879 op die Zoeloes afgedwing het. Baie Afrikaners was ook oor laasgenoemde verontwaardig. Kestell se sterk gevoel daaroor het hom ’n versdrama laat skryf wat nooit gepubliseer is nie: Before and after the affair at Isandhlwana.

Maar veral die lydelike verset van die Transvalers voor die Eerste Vryheidsoorlog het die Kapenaars aangegryp, en Kestell ’n historiese roman in Engels laat skryf. Die redakteur van Het Zuid-Afrikaansche Tijdschrift het die manuskrip in Hollands vertaal, en dit in 1879 onder die skuilnaam Africanus Jr. geplaas met die titel Slagtersnek. Een verhaal uit het grensleven van 1815. Dit het in 1880 as boek by D.F. du Toit & Co. verskyn.

Kestell het dieselfde tema gebruik om in Engels ’n tragedie op die Shakespeare-patroon in vyf bedrywe te skryf (The struggle for freedom or the Rebellion of Slagters Nek), maar hy kon geen uitgewer kry nie en het dit self in Londen uitgegee onder die skuilnaam Leinad (Daniel omgekeerd) – £25 vir 500 eksemplare. Maar hy kon nie veel van die hand sit nie. ’n Groot deel van die oplaag het hy later in sy skoonpa se tuin begrawe (Van Schoor 1992:40)!

In hierdie eerste fase van sy skrywersloopbaan was Kestell dus veral Afrikaner – maar een wat vanweë die omstandighede nog nie Afrikaans as skryftaal beheers het nie. Hy het tot in die 1890’s vier belangrike manuskripte in Engels klaargemaak, naamlik ’n Bybelse drama oor Saul, ’n Bybelse roman oor Simson, nog ’n roman, Two brothers, en The pioneers. Nie een daarvan is egter gepubliseer nie.

Maar stap vir stap het hy nader gekom aan die GRA-ideaal van ’n Afrikaner met ’n Afrikaanse hart. Ten eerste het hy in 1882 getrou met Truida Hofmeyr, lid van die Afrikaner-gesinde en taalbewuste Hofmeyr-familie. “Onze Jan” was ’n broerskind van sy skoonpa, prof. N.J. Hofmeyr, een van Kestell se teologie-professore op Stellenbosch. Een van Hofmeyr se seuns was J.H. Hofmeyr, eerste redakteur van Ons Land, en ’n ander was Nico, predikant, joernalis en skrywer en ’n voorstander van Afrikaans as skryftaal, hoewel hy die Patriot nie goedgesind was nie.

Ten tweede is Kestell beroep na ’n gemeente waarin hy met die sterk patriotiese Vrystaatse Afrikaners kon kennis maak. In 1882 is hy as hulpleraar na Dutoitspan, en ’n jaar of wat later na die buurgemeente Kimberley. Dit is in daardie gemeente dat hy kon kennis maak met mense wat tot met die anneksasie van Griekwaland-Wes Vrystaters was, soos Anthonie van Niekerk en Hermanus Steyn, ’n belese en taalbewuste boer wat die Afrikaanse taalbeweging gesteun het.

Sulke mense het weer die gees van die Voortrekkers in hom wakker gemaak. Dit het ook geen politieke of emosionele breuk met sy pa gebring toe hy en sy vrou besef het dat hulle nooit iets anders as Afrikaners kon wees nie. Al was sy pa Engels-georiënteerd, al het hy Kestell ywerig met die Engelse taal en letterkunde vertroud gemaak en steeds Engels met hom gepraat, het hy nie in die Britse koloniale politiek belang gestel of iets daaroor gesê nie (Van Schoor 1992:53).

Kestell wou onder sy eie mense bly en het vir ’n beroep na die Presbiteriaanse kerk bedank. In sy eie gemeente het hy van die Christelike Jongeliedevereniging gebruik gemaak om die jongmense se kennis van die verlede op te skerp. Só het hy in 1892 ’n aantal lesings oor die Voortrekkers gehou. Die lesings is in 1893 in boekvorm uitgegee onder die titel De Voortrekkers. (Dit is in 1920 in Afrikaans uitgegee.) Dit het alles voortgekom uit ’n sterk Afrikaner-gevoel wat deur die Eerste Vryheidsoorlog gewek is.

Omdat Kestell gemeen het dat die Engelssprekendes nie genoeg kennis van die landsgeskiedenis het nie, het hy ’n manuskrip, The Voortrekkers, aan Onze Jan Hofmeyr gestuur, om dit uit te gee as boek of as vervolgreeks in The Cape Monthly Magazine. Die manuskrip is egter afgekeur. Ná al sy mislukte pogings om iets in Engels gepubliseer te kry, het hy besluit om afskeid te neem van Engels vir sy letterkundige werk (Van Schoor 1992:65). Wat daartoe bygedra het, was ’n brief van sy swaer Nico Hofmeyr. Hy het aan Kestell geskryf dat dit nie sy taak is om die Engelssprekendes oor die Voortrekkers in te lig nie, maar om vir Afrikaners in hul eie taal daaroor te skryf, omdat daar haas niks in Hollands oor die Trekkers was nie.

Tekenend van die dilemma van die Kaapse Afrikaners was hierdie pleidooi in Engels; Hofmeyr was, soos Kestell, ’n oudleerling van die Stellenbosch Gymnasium. In Engels het hy gepleit dat Kestell nie Engels moet skryf nie, maar Afrikaans. Hy het gesê Engels word elke dag sterker. Hollands het geen kans onder die Afrikaners nie, want min van hulle kan dit praat. Hollands kan Engels nie keer nie; dis ’n verlore saak. Maar die Afrikaanse taal het ’n kans om stand te hou teen die magtige Engels. Dit kom natuurlik, dis in werklikheid ons moedertaal. Nico Hofmeyr het gesê: “Oh! my brother – I cannot deny it – the despised Afrikaans language is taking hold of my heart” (Van Schoor 1992:66–7).

Maar dit was makliker gesê as gedaan, want toe die twee saam ’n roman aanpak, was dit in Hollands. Die gesamentlike historiese roman was getitel De Voortrekkers of het dagboek van Izak van der Merwe. Dis die verhaal van ’n denkbeeldige Voortrekker; die historiese feite is egter korrek weergegee.

Hulle was dus in beginsel, of volgens gesindheid, Afrikaners met Afrikaanse harte, maar in die praktyk nog Afrikaners met Hollandse harte. Kestell se Hollandse hart is gesterk toe een van sy leermeesters uit Stellenbosch, prof. J.I. Marais, hom in ’n brief in Engels Hollandse bydraes vra vir Het Gereformeerde Maandblad, waarvan hy en ds. C.F.J. Muller die redakteurs was. Dis vreemd dat Marais nie in Hollands geskryf het nie, want dit was ’n voertaal aan die skool Tot Nut van ‘t Algemeen en daarna “Het Witte Huis” van dr. A.N.E. Changuion, waar hy skool gegaan het.

Marais het Kestell aangemoedig om Hollands te skryf, want dan sou hy moontlik ’n uitgewer in Nederland kon vind. Kestell was wel bietjie ergerlik omdat die professor kritiek gehad het op die dialoog in sy eerste verhaal, “Willem Landman”. Hy wou die karakters laat leef deur hulle Afrikaans te laat praat, maar Marais wou nie die “plat” Afrikaans hê nie. Omdat Kestell sy verhale in die blad wou plaas, het hy maar die professor se raad gevolg (Van Schoor 1992:69). Hy het die verhale in 1898 in boekvorm uitgegee by HAUM onder die titel Uit het Afrikaansche Boerenleven, en daarmee kon hy darem ’n paar pond verdien. Later is dit in Afrikaans uitgegee as Moderrivier. In 1899 het nog ’n boek van hom verskyn, Johanna Cloete en ander verhalen.

Om saam te vat: in die 1890’s moes Engels wel ’n aantal Afrikaners afstaan aan Hollands en Afrikaans, maar tog het dit met Engels so goed gegaan dat die skryfster Olive Schreiner in 1896 kon voorspel: “In fifty years, fight and struggle against it as we wish, there will be no Boer in South Africa speaking the Taal, save as a curiosity: only the great English-speaking South African people. This movement cannot be hindered, it cannot be stayed, it is inevitable” (aangehaal deur Worrall 1976:203).

3. Afrikaners met “Hollandse harte”

Kestell en Nico Hofmeyr het in die 1890’s dus Hollands gekies Op die oog af het dit goed gegaan met die Hollandse beweging. Akademies-geskoolde Afrikaners wat nie Engels geskryf het nie, het Hollands gebruik.

Die beste voorbeeld is miskien S.J. du Toit, leier van die Afrikaanse beweging. Die meeste van sy boeke was in Hollands. Uit die lys titels wat die GRA en D.F. du Toit & Co. tot omstreeks 1895 uitgegee het (Du Toit 1909:173-6), blyk dit dat Du Toit 26 titels in Hollands en vier in Afrikaans gelewer het. In samewerking met ander skrywers was ses publikasies in Hollands en agt in Afrikaans. Du Toit se Bybelvertalings is nie hierby ingereken nie. D.F. du Toit & Co. het volgens dié lys meer eksemplare in Hollands gedruk as in Afrikaans: 93 650 teenoor 81 000.

Huigen (2006:6) haal aan uit ’n verslag van Du Toit se reis na Rhodesië (Zimbabwe) en merk op dat dit geen “tussentaal” is tussen Europese Nederlands en Afrikaans nie, maar “goeie 19de-eeuse Nederlands, met hier en daar tipies (Suid-) Afrikaanse woorde en uitdrukkings”.

Du Toit was redakteur van Het Dagblad, wat van 15 Julie 1896 tot 30 September 1898 in Kaapstad verskyn het (waaroor later meer). Hy het al in 1891 die plan gekry om ’n Hollandse dagblad uit te gee, en het gemeen dat De Zuid-Afrikaan en die Patriot moes verenig. Daarvoor was "Onze Jan" Hofmeyr nie te vinde nie (D.A. Scholtz 1975:211).

Kaapse nie-akademies-geskoolde Afrikaners het Afrikaans gebruik, maar slegs vir briewe aan en gedigte in die Patriot en Ons Klyntji. De Waal was in 1893 en 1894 agtien maande lank klerk by die ysterwaresaak De Waal & Co., wat hoofsaaklik boere en handelaars op die platteland as klante gehad het. Hy het die meeste briewe gehanteer, “en kan getuig dat ’n brief skoon in Afrikaans iets uiters seldsaams was. Nie een uit ’n duisend was daarin opgestel nie. Boere sowel as winkeliers – of hulle nou lesers van die Patriot was of nie – het almal, waar hulle nie Engels gebruik het nie, hul beste beentjie in Nederlands voorgesit” (De Waal 1939:31).

Terwyl De Waal in Engeland in die regte gestudeer het, het hy aan ’n paar Suid-Afrikaanse vriende in Afrikaans geskryf. Die antwoorde wat hy gekry het, was in Engels. Ook aan Onze Jan het hy in 1896 ’n brief gerig, maar dié het in Hollands gereageer. De Waal se pa het in Hollands geantwoord hy stel voor dat hy maar liewers in Hollands skryf. Daar is ’n “bakleislag” tussen die Patriot-taal en Hollands, en hulle – “ik bedoel de Hofmeijr-kring” – hou nie van die Patriot-taal nie. Maar, voeg hy onbekrompe by: “Verkiest u liefst het Afrikaansch, doen dan maar zooals u best denkt” (De Waal 1939:49–50).

De Waal meen wel dis aan Afrikaans te danke dat Hofmeyr die koerant Ons Land opgerig het. Die redakteur van De Zuid-Afrikaan, dr. J.W.G. van Oordt, vader van die skrywer D’Arbez, het “bo die koppe van sy lesers” geskryf en hy was ook nie goed genoeg bekend met die Afrikaners nie. De Waal vertel: “Onse Jan het dit al lank gewaar, maar het nie geweet hoe om van die liewe ou heer ontslae te raak nie”, totdat hy eindelik (begin 1892) oorgegaan het tot die stigting van ’n ander blad, Ons Land, met sy neef, J.H. Hofmeyr, gewese predikant van Uitenhage en J.D. Kestell se swaer, as redakteur. “Dié se Hoog-Hollands was genoeg naby die Hollandse standaardtaal.”

Die “arme, in die steek gelate Zuid-Afrikaan het dadelik begin kwyn”. Ná twee jaar is dit in Ons Land opgeneem, of soos dit gestel is, “verenig”. Sy volle naam was De Zuid-Afrikaan verenigd met Ons Land, met Ons Land in die grootste letters op die mashoof. “In alle geval, van sy stywe Nederlands was die Afrikaner-leser ontslae, en ’n stap ter tegemoetkoming van Afrikaans was geskied” (1939:38–9).

Hofmeyr was geen vyand van Afrikaans nie, maar die GRA het hy teengestaan. Hy het gemeen dat die beweging tot verbrokkeling van kragte en mislukking van die taalstryd sou lei. Bowendien het S.J. du Toit se invloed afgeneem vanweë skinderstories, sy onbeheerste kritiek op die kerk en sy afwesigheid uit die Kolonie nadat hy in 1882 as die nuwe superintendent van onderwys in Transvaal aangestel is. Daar het hy ’n paar politieke flaters begaan en in 1890 na die Paarl teruggekeer as vyand van Transvaal en sy president, Paul Kruger. Dit alles het gevolge vir die Afrikaanse beweging gehad.

Die Afrikaner-nasionale beweging in Kaapland het ’n pro-Hollandse karakter gekry. Dit het saamgehang met die toenemende belangrikheid van Stellenbosch vir die taalstryd. Dié dorp het volgens Muller (1990:34–5) die Paarl en Wellington teen die einde van die 19de eeu as opvoedkundige sentrum verbygesteek. In 1859 is die kweekskool van die NG Kerk daar gestig en het (weliswaar in Engels) die aanvullende hoër onderwys vinnig ontwikkel. Uit die Stellenbosch Gymnasium het die Arts Department gegroei, wat in 1881 die Stellenbosch College en in 1887 die Victoria College geword het. Vooraanstaande Afrikaners het hul kinders daarheen gestuur. Die Paarlse taalbeweging het nie onder die geleerdes en studente van Stellenbosch posgevat nie.

Die Zuid-Afrikaansche Taalbond, wat in 1890 gestig is en hom vir die "volkstaal" sou beywer, het sterk gestaan op Stellenbosch. Die voorsitter was ’n stoere patriot en kerkman, prof. P.J.G. de Vos van die NG kweekskool, een van die bolwerke van Hollands. As mondstukke van die Taalbond het gedien Het Zuid-Afrikaansche Tijdschrift, Jong Zuid-Afrika en Ons Tijdschrift. By die stigting van die Taalbond is met 47 stemme teenoor 36 besluit tot Hollands in plaas van Afrikaans (Hofmeyr 1913:467).

Teen 1894 het ’n beweging begin om Hollands te vereenvoudig om dit vir Afrikaners aanneemliker en toegankliker te maak. Klaarblyklik het die stigters aansluiting gesoek by voorstanders van vereenvoudiging in Nederland. Daar het R.A. Kollewijn in 1892 ’n Vereniging tot Vereenvoudiging van onze Schrijftaal opgerig (Van der Wal 1994:334).

In Januarie 1897 is ’n Congres ter vereenvoudiging der Hollandsche taal in Kaapstad gehou. Invloedryke belangstellendes uit die Vrystaat en Transvaal was aanwesig. Die kongres het ’n kommissie benoem wat gesaghebbende taal- en letterkundige organisasies in Nederland moes raadpleeg om te verseker dat ’n moontlike vereenvoudigde Hollands nie in stryd met die taalvorm van Nederland sou wees nie.

Nog ’n invloedryke kampvegter vir Hollands wat in Stellenbosch op die voorgrond getree het, was prof. W.J. Viljoen. Hy is in 1894 benoem tot professor in moderne tale en geskiedenis aan die Victoria College. Sy Ph.D aan die Universiteit van Straatsburg het hy magna cum laude behaal op grond van die proefskrif Beiträge zur Geschichte der Cap-Hollandischen Sprache (1896). Hy was as dosent ’n kragtige persoonlikheid, welsprekend en besiel met ’n vurige liefde vir sy vak. In 1896 het hy Ons Spreekuur op Stellenbosch gestig, die populêrste vereniging op die dorp.

Een van die verdedigers van Hollands was ’n formidabele figuur in die Kaapse kultuurlewe, mev. Marie Koopmans-De Wet. Sy het ’n deeglike opleiding gehad en het, behalwe Afrikaans, Hollands en Engels, ook Duits en Frans beheers. Die lotgevalle van die Voortrekkers en die koms van die Boererepublieke het by haar as jong meisie ’n nasionale gevoel laat ontwaak. Haar woning het as die "Strandstraatse salon" bekend gestaan. Sy het kunsvoorwerpe (meubels uit die Hollandse tyd, skilderye, porselein) versamel om die Kaaps-Hollandse tradisies op statige wyse in ere te hou.

Koopmans-De Wet was ’n vroeë yweraar vir die behoud van die natuurskoon, bome van historiese waarde, monumente, oudhede en historiese dokumente, en het help keer dat die Kasteel in die Kaap gesloop of geskend word. Toe Cecil John Rhodes, Kaapse premier, haar mening laat vra oor ’n beoogde verandering (een van die punte van die Kasteel sou afgebreek word), het sy laat weet: "Sê vir mnr. Rhodes sy neus is ook net ’n klein puntjie van sy gesig. Laat hy dit afsny en dan in die spieël kyk."

Sowel buitelandse as binnelandse reisigers het dit as ’n eer beskou om by haar aan huis te kom. Sy het vreemdelinge, veral Engelse, ontvang om te laat blyk dat grootmoedigheid ’n inherente karaktertrek van haar volk is. In ’n tyd waarin daar neergesien is op Afrikaners, wou sy aan die wêreld wys dat om Afrikaner te wees, niks was om oor skaam te voel nie. Sy is soms beskryf as "the proud Dutch woman of the Cape". Haar grootste belangstelling was die Hollandse taal. Vir die onthulling van die taalmonument op Burgersdorp in 1893 het sy ’n banier met die woorde “Lang leve onze taal” en ’n goue medalje met die woorde “De Hollandsche taal 1806-1893 Ik worstel maar bezwijk niet” daarheen gestuur. Dié monument is opgerig nadat Hollands ’n paar regte herwin het. Een van die inskrywings was: “Erkend is nu de moedertaal in Raad, kantoor, en schoollokaal”.

’n Eerste stap was die erkenning van Hollands as taal wat in die parlement gepraat mag word. Die leiers wat hulle daarvoor beywer het, was Onze Jan Hofmeyr en S.J. du Toit. ’n Eerste poging in 1881 het misluk, maar op 9 Junie 1882 het die Kaapse parlement die gebruik van Hollands naas Engels as parlementêre taal erken. ’n Nuwe onderwyswet het die bepaling van 1865 herroep wat die gebruik van Engels as voertaal in skole verplig het. In die praktyk het Engels egter die voertaal gebly, omdat die staatstaal Engels was en die eksamenliggaam, bekend as die University of the Cape of Good Hope, slegs Engels as eksamentaal toegelaat het.

In die ZAR was Hollands die staats- en onderwystaal. Vroeg in die 1880’s is probeer om Afrikaans as amptelike taal te erken. S.J. du Toit het in 1881 met die sogenaamde Driemanskap (Paul Kruger, M.W. Pretorius en Piet Joubert) gepraat oor Afrikaans as moontlike amptelike taal. Hulle was eenparig daarvoor, maar wou hê dat die volk dit vra. Du Toit het op ’n volksvergadering gepraat en mense aangeraai om petisies te teken. Die vergadering was eenparig vir Afrikaans (Du Toit 1917:112), maar daarby het dit gebly.

’n Paar jaar later is Hollands erken. Wet 10 van 1888 het bepaal: "De Hollandsche taal is de officieele taal des lands. Alle andere talen zijn vreemde talen” (Ameshoff 1893:33).

Pes. Kruger se houding teenoor Hollands blyk uit ’n toespraak op 6 Maart 1884 in Amsterdam, met die besoek van ’n Transvaalse deputasie. Hy het geantwoord op ’n toespraak van prof. J.W. Gunning, wat gesê het daar bestaan ’n "taalgemeenschap" tussen die Hollanders en Transvalers in die enger sin waarin dit ’n ander woord is vir éénheid van nasionaliteit, gelykheid van die diepste trekke, wat die volkskarakter teken. Dit blyk uit Kruger se antwoord dat hy Afrikaans as ’n vorm van Hollands beskou het. Volgens hom is verskillende tale aan die Afrikaner opgedring, "maar ons het Hollands behou, altans die grondslag, al kan u my miskien hier en daar nie verstaan nie. Ons het ons eie taal behou, die taal van die volk van Nederland, wat tagtig jaar geveg het vir die vryheid en die geloof. Ons volk het in die woestyn deur alle storms heen sy taal en sy geloof behou. Ons ganse stryd lê daarin opgesluit” (Van Oordt, 1898:415, 418; vertaal uit Nederlands). Hierdie gedagte vind mens terug in toesprake met sy beëdiging as staatspresident in 1893 en 1898. Hy het in byna identiese dele van sy toesprake gesê dat onverskilligheid teenoor die Hollandse taal ook onverskilligheid teenoor die Bybel, die godsdiens en die voorouers meebring. "Hou vas aan u taal, Bybel en godsdiens" (Van Oordt, 1898:864; Du Plessis, 1952:52–3, 72–3).

Omdat daar nie genoeg opgeleide Afrikaners in Transvaal was nie, het Kruger heelparty amptenare gewerf in Nederland, waar die Eerste Vryheidsoorlog groot geesdrif vir dié republiek gewek het. Sy teenstanders het die mag en invloed van Nederlandse amptenare en onderwysers oordryf. Die staatsekretaris was tydelik ’n Nederlander, naamlik dr. W.J. Leyds, maar die president en op een na al die lede van die uitvoerende raad was Afrikaners. Twee regters van die hooggeregshof was Afrikaners, twee Hollanders en een ’n Skot. Die landdroste was op een na almal Afrikaners. In Mei 1897 het die ZAR 1 958 amptenare gehad, van wie 306 Hollanders was, 682 Transvalers, 478 Kolonialers, 105 Vrystaters, 42 Natallers, 107 Britte en 66 Duitsers (Ploeger 1952:189). Baie van "Krugers Hollanders" het hulle met die Transvalers vereenselwig en in die Tweede Vryheidsoorlog aan Boerekant geveg.

Die Onderwyswet van 1882 het van Hollands die uitsluitende medium van onderwys gemaak, maar is nie streng toegepas nie. Veral onderwysers uit die Kaapkolonie het Engels as voertaal gebruik. Die Onderwyswet van 1892 het bepaal: "Alle onderwijs moet gegeven worden in de Hollandsche taal." Tog was die ZAR toegeeflik. Die Volksraad het, ook in 1892, besluit dat skole wat nie Hollands as voertaal het nie, staatsubsidie sou ontvang mits dié taal onderrig en die leerlinge se bevoegdheid daarin getoets word. Kragtens Wet 15 van 1896 is staatskole vir Engelse kinders gestig waar hulle teen geringe of geen betaling nie in hul eie taal onderwys kon ontvang en gaandeweg die amptelike taal kon aanleer (Zietsman 1982:286, De Villiers 1936:203-10).

Volgens dr. N. Mansvelt, sedert 1891 superintendent van onderwys, was die beleid geslaag. Hy het in ’n Volksraaddebat melding gemaak van Afrikaanse kinders met ’n Afrikaner-onderwyser, wat vrae in "goed Hollandsch" kon beantwoord (Notulen van den Eersten Volksraad, 1898:572). Heelparty Afrikaners met skoolopleiding het Hollands leer skryf, party goed, ander ’n bietjie krom. In die Tweede Vryheidsoorlog was die taal van die rapporte van Transvaalse Boere-bevelhebbers in die amptelike landstaal Hollands.

Ook van Nederlandse kant is die kennis van Hollands as intellektuele taal gestimuleer. Nederlandse entoesiasme vir Transvaal het in 1885 gelei tot die stigting in Amsterdam van ’n Studiefonds voor Zuid-Afrikaansche Studenten. Die fonds het tussen 1885 en 1935 376 Afrikaners in staat gestel om in Nederland te gaan studeer (Pont 1935:VII).

Die Transvaalse beleid het verengelsing help voorkom, maar ’n negatiewe houding teenoor party immigrante uit Nederland is soms na hul taal oorgedra. Minstens vier Afrikaners wat toe of later ’n belangrike rol in die taalbeweging gespeel het, het in Transvaal anti-Hollander- en anti-Hollandse sentimente opgedoen. Hulle is S.J. du Toit, Eugène Marais, J.H.H. de Waal en C.J. Langenhoven.

Hollandse koerante het die saak van die bedreigde Afrikaners gestel ná die Jameson-inval van 1895–96, wat ’n voorspel tot die Tweede Vryheidsoorlog was.

Die hoofverdediger van die Transvaalse saak was De Volksstem, waarvan dr. Frans Vredenrijk Engelenburg in 1889 die redakteur geword het. So sterk het Hollands gestaan dat De Volksstem van 1895 tot 1900 in Pretoria as middagblad kon verskyn nadat dit van 1873 ’n weekblad en daarna halfweekblad was.

Die belangrikste Vrystaatse redakteur was ’n gebore Duitser, Carl Borckenhagen, wat om gesondheidsredes na Suid-Afrika gekom en in 1877 redakteur en in 1880 die alleen-eienaar van De Express en Oranje Vrijstaatsch Advertentieblad geword het. Hy het die koerant opgebou van ’n sukkelende blad tot die invloedrykste in die Vrystaat. Anders as The Friend van Bloemfontein het hy die regte en onafhanklikheid van die Vrystaat steeds verdedig. Selde het ’n buitelander die gevoelens van die Afrikaner so goed vertolk. Hy het volhardend gestry teen die verdringing van Hollands deur Engels in staatskantore, stadsraads- en ander vergaderings in Bloemfontein, en die twee grootste skole, Greykollege en Eunice.

Hoewel Borckenhagen eers teen Afrikaans as skryftaal was, het hy onder invloed van F.W. Reitz en dr. J. Brill van mening verander. Daar was aanvanklik ook goeie samewerking met Die Afrikaanse Patriot, veral ná ’n besoek van D.F. du Toit (“Oom Lokomotief”) aan Bloemfontein in 1881. Die meerderheid lesers was egter teen Afrikaans as skryftaal, sodat De Express maar by Hollands gebly het. In 1891 het Nico Hofmeyr redaksielid geword. Hy was skrywer van Kijkjes in onze geschiedenis, ’n leesboek vir die skool en gesin (waarvan tot in 1921 100 000 eksemplare verkoop is), en daarna verskeie ander boeke oor die Jameson-inval en die Tweede Vryheidsoorlog. Hy het die volkslied “Afrikaners landgenote”gedig.

Die redakteur van Ons Land in Kaapstad was F.S. (Frans) Malan. Hy was 24 jaar toe Onze Jan Hofmeyr hom in 1895 ná sy studie in Engeland gevra het om redakteur te word. Sy eerste groot toets as redakteur het binne twee maande gekom, met die Jameson-inval. Hy het Rhodes, een van die aanstigters van die inval, skerp aangeval.

Baie Afrikaners het Hollands gelees. Een van die gewildste skrywers was D'Arbez, skuilnaam van J.F. van Oordt, ’n seun van die reeds vermelde dr. J.W.G. van Oordt. J.F. se moeder Susanna was ’n dogter van ’n Suid-Afrikaanse Nederlandse opvoedkundige, dr. A.N.E. Changuion.

J.F. van Oordt is in Suid-Afrika gebore, maar was ’n groot deel van sy jong lewe in Nederland, en het daarna op verskeie plekke in Suid-Afrika verskillende soorte werk gedoen. Hy het die beginsels van die GRA goedgekeur, maar wou hom nooit daarby aansluit nie. Die tyd vir ’n Afrikaanse skryftaal was vir hom nog nie ryp nie. Hy het in 1878 begin skryf, maar “ik het altyd vasgehou aan die eenvoudige Hoog-Hollands en probeer om die taal so te gebruik dat die meeste van ons mense dit kan verstaan, en ik glo dat dit my geluk het.” Daar is min mense wat sy boeke van die Zuid-Afrikaansche Historie-Bibliotheek nie kan verstaan nie, skryf hy in 1914 in ’n artikel. De Waal het hom soms aangeval “oor m’n terughou van die grote saak”, maar hy wou eers die kat uit die boom kyk; dit het gelyk of die beweging “uitgegaan het van ’n klein klompie mense” (Nienaber 1936:19).

Die naam D’Arbez is die omgekeerde van zebra. Dit is ’n naam wat ene prof. Cosyn van Leiden aan hom gegee het. Hy is in 1896 aangestel as skrywer van die firma Jacques Dusseau & Co., later die Hollands-Afrikaanse Uitgewersmaatskappy. Die eerste serie van die Historie-Bibliotheek was dertien mooi gebonde boeke, wat teen 2s. 9d. stuk of £1 10s. per stel verkoop is. Die bekendste was Mooi Annie en Dawid Malan. Van eersgenoemde is 8 000 eksemplare van die Hollandse uitgawe (1896, 1914, 1916 en 1919) verkoop, en ná vertaling in 1926 deur P.C. Schoonees 24 000 in Afrikaans, terwyl van Dawid Malan 6 000 in Hollands verkoop is (in 1896, 1915 en 1917) en ná vertaling in 1927 deur Ester Kritzinger 13 000 in Afrikaans. Ander werke van hom in Hollands en Afrikaans het ná die Tweede Vryheidsoorlog verskyn. Omdat hy soveel in die swart mense belang gestel het, het die Kaapse regering hom in 1905 aangestel om teen ’n salaris van £250 per jaar navorsing te doen na die oorsprong van die “Bantoeras”. Dit het in vyf dik boekdele verskyn.

D'Arbez se romans met ’n nasionale strekking was baie lank die gewildste leesstof van jong Afrikaners. Byna 100 000 eksemplare van sy Hollandse boeke is in die 19de en 20ste eeu verkoop (Nienaber 1936:143). Sy grootste was Paul Kruger en de opkomst van de Zuid-Afrikaansche Republiek (1898), waarvoor hy Kruger self ondervra het. Daarvan is 7 000 eksemplare verkoop.

Sy Hollands was “skerp Afrikaans-getint” soos Schoonees (1925:27) dit stel. Afrikaans is vir die dialoog gebruik. “Sonder dat hy dit self bedoel of geweet het, het sy werk dus die oorgang van Hoog-Hollands na Afrikaans bevorder en vergemaklik.” Sy werk het verskyn in ’n tyd toe die Afrikaner-geskiedenis veral op skool stelselmatig verdraai is. Sy werk “was ’n reaksie op die anti-nasionale onderwyspolitiek van die oorwinnaar, wat ons almal wou angliseer”, bevind Schoonees. “Hy het gehelp om die nasionale selfrespek van die Afrikaner op te bou deur te wys op die roemryke dade van ons voorvaders” (Schoonees 1925:27).

’n Letterkundige, Elizabeth Conradie, meen (1949:200) dat die "Hoog-Hollandse Taalparty" in hom sy allergrootste steun gehad het. "As tolk van die verlede het hy ’n Hollands gebesig wat hom so ver as moontlik na die volkstaal gerig het en daardeur het hy sy mede-Afrikaners leer lees soos niemand voor hom nie en weinige na hom."

4. Afrikaners met “Afrikaanse harte”

Hollands was dus in die 1990’s ’n gewilde leestaal van Afrikaners, en in elk geval die taal waarin die saak van die Afrikaners gestel is, nie meer Afrikaans soos voor en tydens die Eerste Vryheidsoorlog nie. Afrikaans het in dié opsig sy funksie verloor vanweë die frontverandering van S.J. du Toit.

Terwyl hy nog in Pretoria was, het S.J. du Toit ’n gesprek met Rhodes gehad oor dié se planne om Rhodesië te koloniseer. Dit was ’n vriendelike en vertroulike gesprek met ’n gedemoraliseerde, eensame Du Toit, wat sonder geld of invloed was, en het vir hom baie beteken. Vanaf die tagtigerjare het hy stap vir stap al meer anti-Transvaals en pro-Brits geword. Op 28 Augustus 1894 skryf hy in die Patriot dat as mens die toestand in Transvaal nagaan, "dan moet jy honderd maal liwer verkiis om onder di Engelse regering te lewe as onder so ’n Republiek".

Verskeie mense het beweer dat Rhodes Du Toit omgekoop het om hom te steun, maar daarvoor is daar geen bewyse nie. Die feit dat Du Toit so arm gebly het, weerlê die bewerings. Wel het Rhodes op 20 Februarie 1894 £339 7s. 2d. aan Du Toit geleen. Daarmee is hy in sekere sin onder ’n verpligting teenoor Rhodes geplaas.

Sy politieke verandering het gelei tot ’n skeuring onder die GRA-stigters. Omstreeks April 1891 het Du Toit en sy broer, D.F., Oom Lokomotief, kwaaivriende geword, en van toe af was S.J. du Toit die enigste redakteur van die Patriot. C.P. Hoogenhout het Oom Lokomotief se kant gekies. “Afrikaans [is] in on-Afrikaanse hande,” sê De Waal (1939:65) prontuit, maar bietjie onregverdig; Du Toit het nooit sy liefde vir Afrikaans afgesweer of sy Afrikanerskap verloën nie. Tog het sy houding negatiewe gevolge vir die taalbeweging gehad. Nog in 1950 het mense uit die Paarl onthou dat party GRA-mense Engelsgesind was in die oorlog; M.E.R. (1976:43) skryf op 31 Augustus 1950 aan haar dogter oor wat ’n Paarlse ingesetene haar vertel: “DF [Malherbe] se pa het in kakie geloop. Baie was Townguards.” (DF se pa, P.J. Malherbe, was ’n GRA-stigterslid.)

Geleidelik is Du Toit van die Afrikanerbond vervreem, veral deur sy standpunte in Het Dagblad, wat waarskynlik deurRhodes gefinansier is (Scholtz 1975:211). D’Assonville (1999:125) se sagte oordeel is dat hy ’n konsiliasiepolitiek tussen Afrikaners en Engelssprekendes probeer volg het, waarvoor die tyd nie ryp was nie. In werklikheid het hy opgetree as pleitbesorger van Rhodes en aanvaller van mense wat anti-Engels was (Scholtz 1975:211). Het Dagblad is opgevolg deur De Kolonist (drie maal per week), waarvoor Du Toit hoofartikels geskryf het.

De Waal het op ’n keer vir Hofmeyr gesê dat die Afrikanerbond miskien te min van Du Toit se bekwaamheid gebruik gemaak het. Hofmeyr se antwoord was dat Du Toit ’n gevaarlike man is om te gebruik – “soos ’n boer dit aan my uitgedruk het, Du Toit is soos ’n bok: alles waaraan hy kou, vrek.” Maar De Waal gee toe dat dié vergelyking nie heeltemal steek gehou het nie (1939:66).

Dis begryplik dat daar ’n kloof tussen Du Toit en die Afrikanerbond sou kom. Op voorstel van dr. Josias Hoffman het die Bond op sy kongres in Maart 1897 besluit om Het Dagblad nie langer as Bondsorgaan te erken nie. In 1898 is Du Toit uitgewerk as lid van die Commissie van Toezicht op Electies van die Afrikanerbond en het hy ’n nuwe party, die Koloniale Unie, gestig wat Engeland se oppergesag in Suid-Afrika erken, maar Engels en Hollands as amptelike tale voorgestaan het. By die stigting was net 13 mense.

Die Patriot het tot in Maart 1899 op sy titelblad vermeld dat hy die “erkende orgaan” van die Afrikanerbond is. Nadat die bond besluit het om Du Toit as lid en die Patriot as mondstuk te skrap, het die blad van 16 Maart 1899 af vermeld dat dit “Di miskende orgaan van di Afrikaner-Bond” is. Daaroor het J.H.H. de Waal ’n spotgedig vir Ons Land geskryf, “Di miskende dominee”, met onder meer die reël: “Net waar ‘k wend, word ek miskend.” Verskeie korrespondente het hom daarna “die miskende dominee” genoem. Miskenning, waarvoor Du Toit deels self verantwoordelik was, was inderdaad die tragiese lot van dié Afrikaner wat een van die skerpsinnigste denkers oor taal was wat die land opgelewer het.

Tog het Afrikaans in die praktyk veel sterker gestaan as wat die gebrek aan erkenning, asook die politieke dissidentskap van Du Toit, ’n mens kan laat vermoed. Die latere taalstryder Gustav Preller, wat in die 1890’s in die departement mynwese was, sê wel dat die Transvalers op "ons landskantore Hollands geskryf en gepraat [het]; dit het nie oral ewe maklik of vlot toegegaan nie, maar ons was ’n lang end op pad daarheen."

Ongelukkig oor die latere koers van die taalbeweging beweer Preller in 1938 selfs dat Hollands in Transvaal nie net kerk-, skool- en amptelike landstaal was nie, maar dat Transvaalse Afrikaners "ook goed op pad was, in 1899, om dit te besig as omgangstaal". Volgens hom het menige jong Transvaler wat in Holland gestudeer het, met Hollands as huistaal teruggekeer. "Ons het daar niks verkeerds in gesien nie; inteendeel, dit was die bestemming wat ons bewustelik nagestreef het." In sommige staatskantore was dit gewoonte "om iemand wat enkel Engels praat eenvoudig nie te verstaan nie". Die gebruik van Hollands was nie die gevolg van enige dwang of ruggraatloosheid nie. "Dié seuns was almal bewuste, goeie Afrikaners, wat geen oomblik geaarsel het om, toe die oorlog uitbreek, met die geweer in die hand krag by te set aan hulle oortuiging" (Preller 1938/39:57–9).

Daar is egter geen getuienis vir die stelling dat baie van die Transvalers Hollands begin praat het nie. Preller was in 1914 trouens self van mening dat daar in Transvaal gunstige voorwaardes was om Hollands as spreektaal te aanvaar, maar "ons het 't nie kon regkrij nie" (De Volkstem, 31 Julie 1914). G.R. von Wielligh, wat sedert 1884 as landmeter-generaal van Transvaal een van die bes georganiseerde departemente in die land opgebou het, bevestig (1922:15) dat daar nie altyd ’n "suiwer Hollands" in die Transvaalse staatskantore geskryf is nie.

Kennis van Hollands was noodsaaklik vir goeie loopbane, maar die taalbeleid is soepel toegepas. Transvaalse Afrikaners sonder perfekte skryfvaardigheid in Hollands kon toegang tot belangrike poste kry. Die faktor wat krag kon gegee het aan ’n moontlike Afrikaanse taalbeweging, het ontbreek. Dit is taaldiskriminasie wat mense sou verhinder het om gesogte loopbane te beklee. Die landszonen, Transvaalse burgers, het voorkeur gekry.

Wat verder ’n taalbeweging in Transvaal verhinder het, was dat daar min rede vir die Afrikaanse publiek was om in opstand te kom teen die taalbeleid. Die begrip Hollands in Transvaal en die Vrystaat het in die praktyk die geskrewe Hollands van Afrikaners en Hollanders, gesproke Hollands van Hollanders én gesproke Afrikaans ingesluit. Uit opmerkings in die Transvaalse Volksraaddebatte, asook uit die getuienis van Von Wielligh (1922:15) en M.E.R. (M.E. Rothmann) kom ’n mens agter dat Afrikaans in Transvaal in groot mate die "werklike medium van onderwys" was waar die onderwysers Afrikaners was (Rothmann 1972:102). De Waal (1939:32–3) se leerlinge het in 1892 op Utrecht gepresteer omdat hy Afrikaans gebruik het, maar die inspekteur, “’n iesegrimmige Hollander”, het hom oor die “ongrammatikale” taal – Afrikaans dus – gekritiseer (De Waal 1939:36).

Op die tweede Afrikaanse Taalkongres in 1897 het ds. Du Toit gesê: "Engels en Hollans is reeds as offisi'ele tale erken Holl. mar het di naam en Afrikaans di daad, want in di Volksrade en Parlemente word ni Hollans mar Afrikaans gepraat. Di skoolmeester gebruik oek Afrikaans" (Taalkongres 1897:7). Op die eerste taalkongres het Du Toit beweer dat “di taal wat van ons kansels gepreek word, dri kwart Afrikaans is.”

Een Transvaalse Afrikaner wat Afrikaans as toekomstige kultuurtaal beskou het, is J.H. (Koos) de la Rey, die latere generaal. Hy het in 1898 in ’n onderwysdebat in die Volksraad teen Nicolaas Mansvelt gepraat. De la Rey het gesê dat pogings om Afrikaans teen te gaan, vergeefs sou wees. Afrikaans is ewe goed as Hollands vir die beskaafde uitdrukking van gedagtes (Notulen van den Eerste Volksraad der Z.A. Republiek, 1898:575).

Die Afrikaanse beweging het in die republieke steun geniet. Die Patriot het dit gewild gemaak in die tyd ná die Britse anneksasie van 1877.

Wat ’n taalbeweging in Transvaal verder teëgehou het, was die stemming ná die Jameson-inval van 1895–96. Die agitasie vir meer Engels in die onderwys het afgeneem. Hollands is aangevoel as deel van ’n bedreigde volksbesit. C.R. de Wet, die latere generaal, het op 13 April 1897 in die Vrystaat gesê dat die verwaarlosing van ’n taal die onafhanklikheid van ’n nasie ondermyn (Malan 1982:264).

Twee taalkongresse van die GRA toon hoe lewenskragtig Afrikaans was, selfs in hierdie organisasie wat feitlik op sterwe na dood was. Die eerste is op 15 en 16 Januarie 1896 gehou. Die besluit om dit te hou, is geneem op die GRA se 20ste “jaarfees” op 14 Augustus 1895. Die datum 15 Januarie is gekies omdat dit die 20ste verjaardag van Die Afrikaanse Patriot was. S.J. du Toit was die groot krag agter dié taalkongres en dié van 1897.

’n Stuk of 130 mense het in 1896 die taalkongres in die stadhuis van die Paarl bygewoon. Daar sou meer gewees het, maar die Jameson-inval het die Transvalers en party Vrystaters verhinder om te kom. Die meeste afgevaardigdes was van die GRA se bakermat: die Paarl, Dal Josafat, Klein Drakenstein en Groot Drakenstein. Die grootste afvaardiging, 19 stuks, het uit Strydenburg gekom, waar Du Toit ’n groot aanhang gehad het. Daar was heelparty uit Griekwaland-Wes, en ook mense uit vier Vrystaatse distrikte, Kroonstad, Boshof, Harrismith en Vrede.

Twee professore van die Gereformeerde Kerk se teologiese skool op Burgersdorp was teenwoordig, naamlik J. Lion Cachet en S. Postma. Nog ’n professor was ’n gebore Nederlander, W.S. Logeman, sedert 1894 professor in moderne tale aan die South African College.

Logeman het steeds vooroordele teen Afrikaans probeer weerlê, en vir sy studente gesê dis ’n voorreg om in aanraking te kom met Afrikaans, “’n taal in wording”. Onder dié studente was M.E.R. “Ek onthou hoe hy daaroor uitgewei het; hoe hy belang gestel het in die uitdrukkings wat ons gebruik het – want ons het vrae en antwoorde, mondelings, in ons eie Afrikaans gedoen. Ek kan nou nog die geamuseerde glimlag sien op die gesig van die student langs my oor die ‘ou’ se uitvra, want dit het nie regtig by ons opgekom dat Afrikaans werklik ’n taal was nie” (Steyn 2004:43).

Op die taalkongres het Logeman gewaarsku teen ’n verskraling van die woordeskat en aanvul daarvan met onvertaalde Engels. Hy is vir die beginsel van “skryf soos jy praat”, maar mense behoort hul woordeskat uit te brei. Daarby het hy die gewoonte veroordeel om Hollands en Engels te meng. Die verslag lui: “Hy kon veul van sjokolaat hou, en veul van ham, mar hy sou ni albei gelyk in syn mond steek nie.”

Op die 1896-kongres is besluit om ’n tydskrif, Ons Klyntji, uit te gee. Die naam is deur Postma aan die hand gedoen. Op ’n gesellige byeenkoms die aand van 16 Januarie het Lion Cachet ’n heildronk op die blad ingestel. “Di Kleintji wat vandag gebore is, is ’n Kleintji wat hy al lang verwag het (gelag); want hy het di noodsakelikheid ingesiin dat ons Afrikaanse volk ook Afrikaanse leesstof moet hê.” Ander wat oor die nuweling gepraat het, was dr. Josias Hoffman van die Paarl, Logeman, en ene dr. Viljoen. Hý het gesê dis maar treurig dat as die jong mense vry, hulle ’n vreemde taal gebruik. As Ons Kleintji voorspoedig wil wees, sal dit grootliks van die dames afhang.

Elke aand was daar ná die verrigtinge ’n geselligheid. Onder die musiekmakers was prof. Rocco de Villiers die vernaamste. Die eerste aand het mnr. Joh. Cilliers, seun van die bekende Voortrekker Sarel Cilliers, vertel van die Groot Trek en die Slag van Vegkop. Melt Brink het ’n lang gedig wat hy self geskryf het geresiteer. Sy teenwoordigheid is vermeldenswaardig, want hy was geen Patriot-man nie. Hy het Afrikaans as goed genoeg vir grappe beskou, maar nie vir die verheffing daarvan tot plaasvervanger vir Hollands nie (De Waal:1939:30). In die inleiding tot sy eerste bundel, Grappige stories en ander versies, skryf hy in 1883: “Ik heb mij, wat de taal betreft, zooveel mij zulks mogelijk was, aan de middenweg tussen goed Hollands en Patriots gehoude. De eerste omdat ik denk dat deze voor velen gemakkelijker zal lezen, en ten tweede omdat ik het Patriots te overdreven acht, wij spreken zo niet onder ons. Ik heb het Kaaps-Hollands zoals wij het gewoonlijk spreken gevolgd” (Kannemeyer 1978:71).

Die tweede aand was daar ’n lekker onthaal. “Di ruime saal was reg genoegelik, huiselik ingerig en o’eral rond staan tafels ryk belaai met allerlei lekkernye en dranke. […] Di drank werd verskaf deur Di Paarl Berg Wyn en Brandewyn Maatskappy, en dat di Maatskappy alle eer het sal onse onderveldse vrinde wel kan getuig.”

Die eerste nommer van Ons Klyntji het in Maart 1896 verskyn. Daarin is verklaar: "Myn doel is: die lus en liifde fer ons moedertaal op te wek en an te kweek. Ek kan ni anders praat ni as ek geleer het, en dit is Afrikaans." Die blad het begin met ’n oplaag van 500, wat volgens ds. Du Toit op die kongres van 1897 tot omtrent 3 000 gestyg het.

Du Toit se vervolgreeks Di koningin fan Skeba was so gewild dat party lesers wou hê die tydskrif moes twee maal per maand verskyn. Di Koningin fan Skeba of Salomo syn oue goudfelde in Sambesia is in 1898 in boekvorm uitgegee en is talle kere herdruk. Dit is die eerste historiese roman in Afrikaans. Sy plasing van die Ou-Testamentiese Paradys in Midde-Afrika het ’n eeu later polities korrek geword. Die boek is in 1998 in faksimilee herdruk.

In dié tyd het Ons Klyntji die laaste twee van J. Lion Cachet se Sewe duiwels, G.R. von Wielligh se Jakob Platji en S.J. du Toit se Magrita Prinsloo of Liifde getrou tot in di dood geplaas. Hierdie drama uit die Voortrekkertyd is op 27 Januarie 1897 aan die begin van die tweede taalkongres in die Paarl opgevoer. Volgens sy seun J.D. du Toit was dit ’n heerlike aand. "Die stadsaal was propvol en g’n een het onbewoge vandaar gegaan nie" (Du Toit 1917:327).

Die kongresgangers het die verhouding tussen Afrikaans, Hollands en Engels indringend bespreek. Hul besluit getuig van ’n realistiese kyk op die taaltoestand, maar ook van hoop op welslae van die taalbeweging:

Angesiin Hollans di offisi’ele taal is fan die Frystaat en Transvaal en oek erken is as sodanig same met Engels in di Kaapkoloni, en oek nog geag word di Kerktaal te wees, so erken di Afrikaanse Taalkongres met waardering alle pogings wat aangewen word tot behoud en bruikbaarmaking fan di Hollanse taal in Suid-Afrika;

Angesiin Engels die offisi’ele taal is fan di Kaapkoloni en Natal, en ’n grote deel van ons landsbevolking, feral die handelsbevolking, di Engelse taal gebruik, so erken di Kongres di wenselikhyd dat di Engelse taal oek geleer worde waar di omstandighede dit toelaat;

Mar angesiin Afrikaans di moedertaal is fan di o’ergrote meerderhyd fan ons bevolking, so blyf di Kongres by di beginsel neergeleg by di forige Kongres dat Afrikaans behoor erken en beoefen te worde as skryftaal, en selfs as offisi’ele taal, op staatkundige sowel as maatskappelike gebiid, insonderhyd op di skole.

Minstens een taalkundige in Nederland het gemeen dat al die pogings om Nederlands in Suid-Afrika te bevorder, tot mislukking gedoem was. D.C. Hesseling, ’n gesaghebbende oor die diglossie-situasie in Griekeland, betoog in 1897 in De Gids dat Afrikaans ontwikkel het tot ’n selfstandige taal. Die Nederlandse spreek- en skryftaal het vir die Afrikaner ’n vreemde taal geword, wat hy wel gemakliker kan aanleer as ’n ander taal, “maar die nimmer voor hem de taal zal worden waarin hij zijn eigen zieleleven kan uitdrukken”. Daar is wel Afrikaners wat wetenskaplike geskrifte in suiwer Nederlands opstel, en dis nie ondenkbaar nie dat die getal sterk sal toeneem wat in amptelike stukke, handelsbriewe en dergelike ’n suiwer Hollands sal leer gebruik – net soos Nederlanders in verskeie tale kan korrespondeer. Dit sal Afrikaners maklik val om die taal van die ou moederland te leer skryf.

Maar dit alles het niks met literatuur te make nie, sê Hesseling. Wat hy nie as moontlik beskou nie, en wat na sy mening nog nooit gebeur het of kan gebeur nie, is dat ’n skryftaal wat van buite aangevoer is en deur ’n kloof van twee eeue geskei is van die gesproke taal, ooit die voertuig kan word van ’n nasionale letterkunde, die enigste betroubare bolwerk teen die veldwinnende mag van Engels. Daar is na sy vaste oortuiging maar een middel om so ’n nasionale letterkunde moontlik te maak: die skryf van die volkstaal.

Hy het hom sterk uitgelaat oor die houding van die Nederlandse taalkundige Jan te Winkel, wat die "Patriottenpartij" gevra het om nie ’n taal in te voer wat in niks anders sy krag kon soek nie "dan in de gemakzucht der minst ontwikkelden onder de boeren". Wat Hesseling verontwaardig laat opmerk: "Hoe kan men zoo iets zeggen van de waarachtige taal van een volk!" (Hesseling 1897:157-8).

5. Gevolgtrekkings oor die 1890’s

Uit die voorgaande oorsig van die taalgesindhede van die 1890’s, aangevul met gegewens uit die dekade onmiddellik daarna, kan ’n mens ’n paar gevolgtrekkings maak wat met mekaar saamhang.

Ten eerste sou ’n mens kon aflei dat Afrikaners teen die einde van die 19de eeu hul identiteit eerder belewe het as gevorm deur die geskiedenis en hul vereenselwiging met die volk as deur Afrikaans. Hul gesindheid weerspieël in groot mate die mening van ’n tydgenootlike Franse taalkundige, Antoine Meillet, wat in ’n studie oor die volke en tale van Europa betoog het dat die bewustheid daarvan om tot ’n volk te behoort, nie afhanklik is van die een of ander stoflike steun en selfs nie van die taal nie. Om tot ’n volk te behoort, is ’n saak van “gevoel en wil” (1921:66).

Ten tweede: die vernaamste voertuig van Afrikaner-nasionalisme in die 1890’s was Hollands. Hollandse koerante het vir Afrikaners en die Boererepublieke in die bresse getree, en die belangrikste patriotiese leesstof, die romans van D’Arbez, was in Hollands.

Nogtans moet ’n mens ten derde aflei dat die sukses van die Afrikaanse beweging groter was as wat dit aan die einde van die 19de eeu moes gelyk het. Hoewel die meerderheid Afrikaners oënskynlik Hollands of Engels as hul kultuurtaal verkies het, blyk dit uit ego-dokumente uit die Tweede Vryheidsoorlog dat die Patriot sommige Afrikaners se skryfwyse moes beïnvloed het. Dis verstaanbaar, want volgens ’n oudredakteur, D.F. du Toit, het die Patriot “sij grootste ondersteuning gehad in die Vrijstaat en Transvaal en in ons Grensdistrikte [van die Kaapkolonie]” (Die Brandwag, 25 Oktober 1917). Die versameling (later bloemlesing uit) Afrikaanse gedigte was baie gewild en tot omstreeks 1895 is 8 750 eksemplare gedruk.

Party Boere met ’n geleerdheid het in hul briewe en dagboeke Engels gebruik, maar ander geletterde burgers, soos Jan F.E. Celliers en Gustav Preller, was in staat om hul dagboeke in suiwer Hollands te hou. Een van die beroemdste dagboeke, dié van Gideon Scheepers, was in Hollands. Preller sê dat Scheepers, “soos alle Afrikaners, trouens, geworstel [het] met die Nederlandse grammatika en geslagte”, maar dat sy dagboek en briewe toon dat hy in “aanmerklike mate” daarin geslaag het om dit onder die knie te kry (1940:11).

Die meeste dagboeke en briewe was in ’n taal wat tussen suiwer Afrikaans en suiwer Hollands lê. Fransjohan Pretorius onderskei drie kategorieë. Die eerste was die groep wat Hollands geskryf het met doelbewuste invoegings van suiwer Afrikaans om die spreektaal aan te dui. ’n Tweede groep het onder invloed van die Paarlse taalbeweging probeer skryf soos hulle praat, weliswaar soms taamlik ongesofistikeerd. Die derde groep het Hollands probeer skryf, maar dit was vanweë hul ongeletterdheid “bloot ’n verhaspelde vorm van Hollands” (Pretorius 1991:135–6).

Ten vierde beklemtoon die 19de eeu watter groot invloed die onderwystaal gehad het op mense se latere keuse van ’n skryftaal. Die onderwystaal was die voor die hand liggende uitdrukkingsmiddel.

’n Vyfde gevolgtrekking is dat geleerde Afrikaners met ’n bietjie inspanning en selfdissipline van Engels na Afrikaans kon oorskakel. So het M.E.R. en haar suster Annie in 1900 Afrikaans as skryftaal aanvaar. Annie het ’n Duitser leer Afrikaans praat. Hy het dit met haar hulp neergeskryf. Toe sy ’n brief na haar ma in Swellendam wou deurkry, kon die Duitser dit deur sy konsulaat regkry. Hy moes dit lees om seker te maak dat daar niks in was teen die militêre owerheid nie. Verwonderd vra hy: “Waarom skryf julle nie in julle eie taal nie?” “Nee,” het die Rothmann-susters geantwoord, “dit is nie ’n skryftaal nie.” Hulle het verduidelik dat hul moeder vir hulle in Hollands skryf, maar dat hulle self Engels beter ken. Die Duitser het verwonderd gebly. “En ons, raak getref, het mekaar dieselfde vraag gevra. En Afrikaanse briewe begin skryf.

“En later van tyd alles. Want toe het ons geweet Afrikaans is vir ons die taal van die hart” (Steyn 2004:65).

Hierdie anekdote toon aan dat daar vir dié aanleerproses nóg ’n aansporing was. Die Duitser was klaarblyklik verwonderd dat Afrikaners met so ’n sterk gevoel van Afrikanerskap nie hul taal wou skryf nie. Hy het hom op hulle nasionalisme beroep.

Daarmee kom ’n mens tot ’n sesde gevolgtrekking, en dit is dat ’n taalgeoriënteerde nasionalisme ’n lewensbelangrike rol kan speel in die ontwikkeling en behoud van ’n kultuurtaal. Die taalsituasie ná die Tweede Vryheidsoorlog bevestig dit. Afrikaanse politici, predikante, joernaliste en onderwysleiers het, soos Zietsman (1992:192) dit stel, die gedagte ingegrif dat dit die Afrikaner se nasionale, morele en selfs godsdienstige plig is om sy taal te bewaar. Taalgetrouheid het die primêre toets vir Afrikanerskap geword, en Afrikaners wat Engels as hul taal aanvaar het, is as volksverraaiers beskou en verag. Op talle herbegrafnisse van oorlogslagoffers en onthullings van oorlogsmonumente het die leiers dit beklemtoon dat die kampslagoffers en burgers ook ter wille van hul geliefde taal gesterf het. Hul getrouheid tot die dood roep Afrikaners op tot dieselfde trou teenoor taal en volk. Die taal en godsdiens was al wat hulle nog oor het, en dít mog hulle nooit prysgee nie. Taalorganisasies, kerke, politieke partye, onderwysers- en vroueverenigings het aan die taalstryd deelgeneem. (Dit was ook hierdie nasionalisme wat M.E.R. se verengelste suster Lettie Tomlinson ná die oorlog van huistaal laat verander het.)

Ten slotte: wanneer Afrikaners Engels as hul skryftaal gehad het, het die pad na Afrikaans soms deur Hollands gegaan. Dit word geïllustreer deur J.D. Kestell, wie se lewe en werk na die oorlog ook toon hoe die reaksie op die oorlog Afrikaner-nasionalisme versterk en die houding van Afrikaners teenoor Engels verander het.

Kestell is saam met generaals Christiaan de Wet, Koos de la Rey en Louis Botha na Europa, waar die generaals geld vir die weduwees en wese help insamel het. Op die skeepsreis na Europa het De Wet sy herinneringe neergeskryf. Kestell moes die geradbraakte Hollands oorskryf in ’n suiwerder Nederlands. Oudregter Ewald Esselen (destyds krygsgevangene op parool) het hom aangeraai om dit in Afrikaans oor te sit, maar Kestell het gevoel sy Afrikaans is nog te onbeholpe (Van Schoor 1992:183). Ook sy eie herinneringe, Met de Boerencommando’s (1902), was in Hollands.

Dit was vir Kestell, wat in die oorlog veldprediker was en sy seun aan die dood moes afstaan, moeilik om na sy ou gemeente in Harrismith terug te gaan. “Ek het op my knieë gebly en die Here gevra om my tog van Harrismith te verlos, want as ek iemand in die straat raakloop wat die wapen neergelê het, of na die vyand oorgeloop het , het ek nie geweet hoe om dit te hanteer nie” (Van Schoor 1992:144). Hy is na Ficksburg beroep en het by sy eerste ontmoeting met die kerkraad gevra om hom nooit in te lig oor die optrede en gesindheid van lidmate in die oorlog nie.

Kestell het hom ten volle met die Afrikaners se ideale vereenselwig en dit het sy pa se goedkeuring weggedra. Sy woorde was: “Your mother’s people need you far more than my people. I fully believe that it is God’s will that you must serve the Afrikaner with your whole body and soul” (Van Schoor 1992:177).

Ná die oorlog is sy tyd baie in beslag geneem deur kerklike werk, want hy het gou moderator geword van die sinode van die Vrystaatse NG Kerk. Sy eerste belangrike skryfwerk was as redakteur van De Fakkel, die Vrystaatse kerk se blad. Daarin betoog hy dat die kerk nie onverskillig oor die taal moet wees nie en spreek hy hom teen die gedagte uit dat Engels die taal van die toekoms is (Van Schoor 1992:180). Tydens die sinodesitting van 1909 begin hy ’n brief aan sy vrou Truida met die woorde: “How do you like an English letter for a change – an exception? I hardly know whether I can write easily in the language I used to express myself with so little difficulty in the days of long ago!” Maar dan vervolg hy: “Neen, ik zal maar in de taal schrijven die toch nu al meer schijnt te worden het eigenlijke voertuig van mijn gedachten” (Van Schoor 1992:179).

Kestell se sentiment het, soos dié van baie ander predikante, nog by Hollands gelê, en dit was ook die taal wat hy moes gebruik in die kerkblaaie waarvan hy die redakteur was, naamlik De Fakkel en later De Kerkbode.

Maar terselfdertyd het hy ook ’n yweraar vir Afrikaans geword. In 1909 het hy voor die Afrikaanse Taalvereniging op Stellenbosch by die jongmense gepleit om Afrikaans te gebruik. “Ek kan my nie die Afrikaanse volk, met al sy foute aan die een kant en sy voortreflikhede aan die ander kant, sonder sy taal indink nie. As jy die Afrikaner sy taal ook ontneem, sou hy ook verdwyn. Dit is vir my onbegryplik dat daar iemand kon wees wat met minagting van sy taal praat, want taal is onafskeidelik verbonde aan die aard en karakter van ons volk” (Van Schoor 1992:183).

“Met hierdie lesing,” het hy later gesê, “het ek finaal my voet op die wal van Afrikaans gesit, en in dié proses was ek besig om die ander voet uit die sloot van Hollands te lig” (Van Schoor 1002:183).

Die hartstogtelikste taalstryder C.J. Langenhoven het egter nie via Hollands tot Afrikaans gekom nie. Hy was sterk gekant teen Hollands as kultuurtaal vir die Afrikaners. In 1910 het hy in ’n pamflet, Padlangers en zonder doekjes, die kern van sy betoog in hoofletters laat druk: “DIE GEVAAR IS DAT DEUR DIE HOOG HOLLANDSCH ONS AFRIKAANSCH ZAL TEN GRONDE GAAN MET HOLLANDSCH EN AL” (aangehaal deur Steyn 1989:220).

Tot daardie gevolgtrekking het ook ’n Afrikaner-student gekom terwyl hy in Londen gestudeer het. Dit was J.J. Smith, wat een van die eerste professore in Afrikaans en ook die eerste redakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal sou word. In 1907 skryf hy aan sy ma oor die “dubbeltaligheid” wat die oorsaak van die ellende aan die Kaap was. “Wij leren Afrikaans van onze moeders, spreken de taal altoos in huis, maar op school leren wij het moeilike Hoog Hollands dat voor ’n Afrikaner verder af staat dan ’t Engels, met het gevolg dat het jongere geslacht liever Engels spreekt.” En “onze lieve ouë mensen” wat nie Afrikaans op papier wil sien nie, skryf op ’n paar uitsonderinge na ’n “mengelmoes – een taal die noch Hoog Hollands noch Afrikaans is.” Afrikaans is die enigste taal wat ’n kans het teen Engels (Kapp 2009:116).

Kapp sê in ’n persoonlike mededeling dat Smith se ouers in Vereenvoudigde Hollands aan hom geskryf het. Smith se kollega-taalstryder D.F. Malherbe het in dié tyd Afrikaans aan sy ouers geskryf, en hulle aan hom in Afrikaans of Vereenvoudigde Hollands. Sy suster Breggie se briewe aan hom was egter in Engels.

Langenhoven het in 1912 die redakteur geword van Het Zuid-Westen, een van die koerante op Oudtshoorn. "En van toe af het die land gedreun – want die nuut-herbore 'Zuid-Westen' was spoedig wyd en syd bekend as ’n blad met ’n lewende persoonlike siel daarin – van toe af het die land weergalm van Afrikaans-propagandakrete soos nooit tevore gehoor was nie," het Langenhoven later geskryf (1956:319). "Met die 'Zuid-Westen' had ek my wapen in die hande gekry, en my hart en siel was in die stryd" (1956:321).

Hy het aan die taalbeweging ’n nuwe wending gegee deur te sorg dat Afrikaans ’n onderwysmedium word. As lid van die Kaaplandse provinsiale raad het hy op 23 April 1914 voorgestel dat Afrikaans medium van onderwys moet wees in openbare skole waar Hollands die voertaal was kragtens die moedertaal-ordonnansie van 1912. Dit het onderwys deur middel van die moedertaal verpligtend gemaak. Die raad het dit dieselfde dag goedgekeur. Die provinsiale rade van die Vrystaat en Transvaal het in Junie 1914 gevolg.

’n Belangrike argument in die debat oor die onderwys was die waarde wat Afrikaans as onderwystaal vir die selfrespek van die Afrikaners sou hê. Ook vir genl. Hertzog – onder wie se voorsitterskap in 1906 ’n tak van die Afrikaanse Taalgenootskap in Bloemfontein gestig is – was die moedertaal die instrument om mense op te hef, want selfrespek en selfvertroue is vir opheffingswerk nodig (Kapp 2009b:4).

6. Slot: toe en tans

Verskeie taalpolitieke kwessies van die 1890’s het aktueel gebly tot vandag. Giliomee (2009:715) verklaar dat sommige Afrikaners met ’n hoë onderwyspeil hulleself nie meer as Afrikaners beskou nie. ’n Mens kan geen presiese ekwivalent daarvan in die 1890’s aanwys nie; selfs ’n politieke dissident soos S.J. du Toit het nooit sy Afrikanerskap prysgegee nie. Miskien kom iemand soos hoofregter lord John Henry de Villiers, wat duidelik anti-Afrikaans was, en van die ander “Anglo-Dutch” die naaste aan dié groep waarop Giliomee wys.

Maar toe, soos tans, het intellektuele en skrywers Afrikaner-identiteit probeer versterk met geskiedskrywing of anders ’n beroep op die geskiedenis. Die GRA het dit probeer doen met Die geskiedenis van ons land in die taal van ons volk (deur S.J. du Toit en ander), terwyl skrywers soos Kestell en D’Arbez gehoop het om hul tydgenote bewus te maak van hul Afrikanerskap met hul skryfwerk oor die opofferings en heldedade van die voorvaders. Giliomee (2009:715) spreek die hoop uit dat Afrikaners wat beswaard voel oor apartheid, die ander deel van hul identiteit sal herontdek wat gevorm is deur ’n stormagtige en ingewikkelde geskiedenis, die Afrikaanse taal en ’n harde maar mooi land. Die uitdaging vir sulke mense, skryf hy, is om hierdie geskiedenis toe te eien, die liefde vir hul taal te koester en die verantwoordelikheid te aanvaar om hul kultuurerfenis aan ’n volgende geslag oor te dra.

Taalliefde is egter in die 21ste eeu net so min vanselfsprekend as in die 19de eeu toe die Britse politieke en ekonomiese oormag ook op die taal en kultuur van die bevolking sy stempel afgedruk het. In die 19de eeu het die ideologie van vooruitgang Engelssprekendes in die Kaapkolonie bevoordeel in die wedywering om poste in die staatsdiens, die beroepe en die handel (Giliomee 2004:179). Engels was die dominante taal in die howe, die parlement en die skole. Dit was die taal van vooruitgang – dit het almal besef, ook die digter van “Fooruitgang”, wat begin met die bekende “Engels! Engels!, alles Engels!” (die samesteller van Afrikaanse gedigte, waarin die gedig opgeneem is, het nagelaat om die spelling van vooruitgang in die gedig te wysig):

“Dis vooruitgang!“ roep di skreeuwers, “dis beskawing wat nou kom!”
Di wat dit ni wil gelowe, di is ouderwets en dom.

Die siening van Engels as die taal van vooruitgang speel vandag volgens Schlemmer (2010) ’n beduidende rol in taalverskuiwing, veral onder bruin Afrikaanssprekendes. Kennis van Afrikaans is nie meer so belangrik vir vooruitgang nie. Dit het ’n invloed op die houdings van wit, maar nog meer van bruin, Afrikaanssprekendes.

Bowendien kom ’n mens uit Giliomee se sobere verslag (2009:685–6) agter hoe Afrikaner-sakeleiers Afrikaanssprekendes ná 1994 in die steek gelaat het. In 2000 het oudpres. Thabo Mbeki 34 van hulle ontvang. Hul leier was prof. Willie Esterhuyse, wat proteste teen die afskaling van Afrikaans as openbare taal verwerp het as afgesaag en so flou soos bier wat heeldag in die son gestaan het. Hy het selfs gewaarsku teen ondermynende neigings by mense wat pleit vir minderheidsregte! Giliomee sê dit herinner ’n mens aan De Tocqueville se waarneming dat minderhede deel van die meerderheid kan word slegs as hulle belangrike dinge wat konflik tussen hulle en die meerderheid veroorsaak, prysgee.

Ná die ANC se oorwinning in die 2004-verkiesing het 112 Afrikaanssprekende sakelui, beroepsmense en akademici Mbeki gelukgewens. “You have made it possible for all South Africans, including us as Afrikaans speakers, to be at home in our country and welcome in Africa and the world.” Maar hul brief rep niks van die onsekere posisie van Afrikaans by skole en universiteite nie. Die afvaardiging het dit nie as sy taak gesien om die kommer en griewe van Afrikaners by die regering te opper nie, maar het aan die Afrikaanse gemeenskap vertel hoe vriendelik die regering hulle ontvang het.

Korporasies wat hul besigheid op Afrikaner-sentiment gebou het, het gerieflik hul wortels vergeet. Afrikaanse sakemense het soos hul Engelse eweknieë geraak: individualisties en materialisties; hulle het min omgegee vir kulturele en gemeenskapskwessies. Hulle het niks gedoen om die ANC teen te gaan in sy verheerliking van Engels as die bindende element van ’n nasionale kultuur nie (Giliomee 2009:686).

Die onderwystaal was in die 1890’s een van die grootste twispunte in die Suid-Afrikaanse politiek, sowel in die Kaapkolonie as in die republieke. Die onderrigmedium het dwarsdeur die 20ste eeu ’n kwessie gebly en veral ná 1994 weer van kritieke belang geword, onder meer omdat die oordrag van taal en kultuur na volgende generasies daardeur geraak word. In hierdie opsig gedra sommige 19de- en 21ste-eeuse Afrikaners hulle eenders.

Giliomee (2009:713) haal ’n ander historikus, R. Robinson, se uitspraak oor die “Cape Dutch” en die “Anglo-Dutch” aan as die “ideal prefabricated collaborators” van die Britse Ryk. Hy verwys ook na die mening van die digter en kritikus Gerrit Komrij dat die grootste gevaar vir Afrikaans die Afrikaanssprekendes self is. Teen die middel van 2009 was die grootste gevaar vir Afrikaans die dubbelmediumklasse wat aan universiteite soos Stellenbosch en Pretoria ingevoer is. In sulke klasse word Afrikaans baie maklik uitgeskakel; in die debat oor Stellenbosch word dikwels die uitdrukking “op die glybaan na Engels” gebruik.

In afdeling 1 is gewys op die strewe van kerkmanne en ander geleerdes om die onderwys in Transvaal meer Engels te maak vir die beswil van die jongmense. In die 19de-eeuse Vrystaat het ouers Engels as onderrigmedium verlang omdat dit die taal van die handel en sakelewe was (Scholtz 1974:98). Sommige het gesê: “Leer die kinders Engels, Hollands kom vanself.”

Hierdie houding word tans geëggo in die strewe van party Afrikaanse ouers om hul kinders na Engelse skole te stuur om hulle beter voor te berei op die toekoms. Afrikaanse leerlinge aan die Bloemfonteinse Engelse meisieskool Eunice het aan ’n Amerikaanse joernalis gesê ’n mens hoor meestal Afrikaans in die gange van die skool. Op ’n vraag aan die hoof, Paul Cassar, watter soort Afrikaanse ouer sy dogter na Eunice stuur, het hy aanmatigend geantwoord: “’n Denkende ouer”. Die meisies stem egter saam met hom. “My ouers het besluit ek kan enige plek in die wêreld gaan as ek Engels kan praat,” sê een van die leerlinge (Fairbanks 2010:1).

Sulke leerlinge se onvermoë om hulle in Afrikaans uit te druk, is soms vergelykbaar met die onvermoë van 19de-eeuse Afrikaners met Engelse harte om Afrikaans te skryf. Die leerlinge van wie Fairbanks melding maak, was nie in staat om die akademiese kursus Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Vrystaat te volg nie, en het maar liewer Afrikaans vir niemoedertaalsprekers geneem. Hulle was sogenaamd “vervreemd” van die “hoër funksies van hul eie taal”. In reaksie daarop het Hennie van Coller (hoof van die Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans aan dié universiteit) gesê die opskrif van Fairbanks se artikel, “So Engels soos ’n Afrikaner in die Vrystaat”, beskryf die laat 19de-eeuse situasie in Bloemfontein, waar die hoëlui eintlik Engelser wou wees as die Engelse self. Deesdae stuur die Afrikaanse Bloemfonteinse elite weer hul kinders na Engelse skole en rig pleidooie dat die voertaal van die Universiteit van die Vrystaat Engels moet word (Van Coller 2010:2).

Nie al die 19de-eeuse kwessies is relevant nie: Nederlands is geen faktor meer nie, en Afrikaans het in die oorlewingstryd ná die Tweede Vryheidsoorlog sonder twyfel deel geword van Afrikaner-identiteit. Afrikaner-nasionalisme het ná 1994 as politieke en kulturele beweging gekwyn, en die wenslikheid van ’n herlewing daarvan word bevraagteken, ook deur mense wat hulle vir die bevordering van Afrikaans beywer. So meen die redakteur van Beeld en invloedryke kommentator Tim du Plessis (2010): “Afrikaner-nasionalisme het vergaan. Sy hele bestaansrede het verval. Ja, daar is nog individuele Afrikaner-nasionaliste. Maar hulle is uit ’n geslag wat oud word en uitsterf. Vir seker is daar nog baie Afrikaners, oud en jonk. Maar hulle is nie nasionaliste in die geykte betekenis nie. Daar is ook ’n paar randfigure en -organisasies wat al langer as ’n dekade kliphard probeer om ’n nuwe Afrikaner-nasionalisme aan die gang te kry. Maar hulle kom nie veel verder as die buitewyke nie.”

Belangrik is die frase “nasionaliste in die geykte betekenis”. Nasionalisme is, soos ander bewegings, aanpasbaar by nuwe omstandighede. Die taaldiskriminasie van die politieke en ekonomiese maghebbers maak ’n Afrikaanse beweging wenslik – ’n verdedigende beweging soos dié aan die begin van die 20ste eeu wat Afrikaans teen verdringing deur Engels gered het.

 

Bibliografie

Ameshoff, H.A. 1893. De locale wetten der Zuid-Afr. Republiek, 1888–1889. Pretoria: Staatsdrukkerij van de Z.A. Republiek.

Conradie, Elizabeth. 1949. Hollandse skrywers uit Suid-Afrika, deel II (1875–1905). Kaapstad-Pretoria: HAUM.

D’Assonville, V.E. 1999. SJ du Toit van die Patriot (1847–1911). Weltevredenpark: Marnix. 

De Villiers, André (red). 1976. English-speaking South Africa today. Kaapstad: Oxford University Press.

De Villiers, Anna J.D. 1936. Die Hollandse taalbeweging in Suid-Afrika. Annale van die Universiteit van Stellenbosch XIV, Reeks B(2):1-288.

De Waal, J.H.H. 1939. My herinnerings van ons taalstryd. Versamelde Werke. Deel I. Kaapstad: Nasionale Pers.

Du Plessis, J.S. 1952. President Kruger aan die woord. Bloemfontein: Sacum.

Du Plessis, Tim. 2010. Nog hande vir Afrikaans. Volksblad, 23 April, p. 8.

Du Toit, S.J. 1909. Geskidenis fan di Afrikaanse Taalbeweging. Herdruk. Paarl: Paarl Drukpers Maatskappy, Beperk. (Oorspronklik in Die Afrikaanse Patriot in 1879.)

Du Toit, J.D. 1917. Ds. S.J. du Toit in weg en werk. Paarl: Paarl Drukpers Maatschappij.

Fairbanks, Eve. 2010. So Engels as ’n Afrikaner in die Vrystaat. Rapport Weekliks, 21 Februarie, p. 1.

Giliomee, Hermann. 2004. Die Afrikaners. ’n Biografie. Kaapstad: Tafelberg.

—. 2009. The Afrikaners. Uitgebreide en bygewerkte uitgawe. Kaapstad: Tafelberg.

Hesseling, D.C. 1897. Het Hollandsch in Zuid-Afrika. De Gids, 61 (4:1):132-62.

Hofmeyr, J.H. 1913. Het leven van Jan Hendrik Hofmeyr (Onze Jan). Kaapstad: Van de Sandt de Villiers.

Huigen, Siegfried. 2006. Nederlandstalige Suid-Afrikaanse letterkunde, 1652-1925. In Van Coller (red.) 2006.

Kannemeyer, J.C. 1978. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur I. Pretoria: Academica.

—. 1995. Langenhoven – ’n lewe. Kaapstad: Tafelberg.

Kapp, Pieter. 2009a. Draer van ’n droom. Die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 1909-2009. Hermanus: Hemel & See Boeke.

Kapp, P.H. 2009b. Die Akademie en genl. Hertzog: Die toekoms in die spieël van hulle gedeelde waardes en ervaring. Hertzoggedenklesing XXXVIII, 17 September. Pretoria: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Langenhoven, C.J. 1956. U dienswillige dienaar. Versamelde werke XI. 7de druk. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.

Malan, S.F. 1982. Politieke strominge onder die Afrikaners van die Vrystaatse Republiek. Durban en Pretoria: Butterworth.

M.E.R. 1972. My beskeie deel. Kaapstad: Tafelberg.

—. 1976. Familiegesprek. Briewe aan haar dogter. Kaapstad: Tafelberg.

Meillet, Antoine. 1921. De talen in het Nieuwe Europa. Utrecht: A. Oosthoek.

Muller, C.F.J. 1990. Sonop in die suide. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.

Nienaber, P.J. 1936. D'Arbez as skrywer. Pretoria/Kaapstad: De Bussy/ HAUM.

Ploeger, J. 1952. Onderwys en onderwysbeleid in die Suid-Afrikaanse Republiek onder ds. S.J. du Toit en dr. N. Mansvelt (1881-1900), Argief-Jaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis, 15(I).

Pont, J.W. 1935. Het Studiefonds voor Zuid-Afrikaansche Studenten. Amsterdam: NZAV.

Preller, Gustav S. 1938/39. Die oorrompeling. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns. Jaarboek XIII. Pretoria: Die Suid Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns.

—. 1940. Scheepers se dagboek en die stryd in Kaapland. 2de uitgawe.Kaapstad: Nasionale Pers.

Pretorius, Fransjohan. 1991. Kommandolewe tydens die Anglo-Boereoorlog 1899–1902. Kaapstad: Human & Rousseau.

Schlemmer, Lawrence. 2010. Afrikaanssprekendes: onlangse patrone en wendinge. Ongepubliseerde referaat, 16 Februarie.

Scholtz, David Adelbert. 1975. Ds. S.J. du Toit as kerkman en kultuurleier. Ongepubliseerde D.Th.-proefskrif, Universiteit van Stellenbosch.

Scholtz, G.D. 1970. Die ontwikkeling van die politieke denke van die Afrikaner. Deel II 1806–1854. Johannesburg: Perskor.

—. 1974. Die ontwikkeling van die politieke denke van die Afrikaner. Deel III 1854–1881. Johannesburg: Perskor.

—. 1977. Die ontwikkeling van die politieke denke van die Afrikaner. Deel IV 1881–1899. Johannesburg: Perskor.

Scholtz, J. du P. 1965 Die Afrikaner en sy taal 1806-1875. 2de druk. Kaapstad: Nasou.

Schoonees, P.C. 1925. A’rbez: die skrywer van “Mooi Annie”. Die Huisgenoot, 14 Augustus, pp. 27, 31.

Steyn, J.C. 1989. Die taalstryd rondom Langenhoven, J.H. Malan en Het Zuid-Westen in 1910 en 1911. S.A. Tydskrif vir Kultuur- en Kunsgeskiedenis, 3(3):217–25.

—. 2004. Die honderd jaar van M.E.R. Kaapstad: Tafelberg.

Taalkongres. 1896. Di eerste Afrikaanse Taalkongres, gehou an di Paarl, 15 en 16 Jannewari 1896. Paarl: D.F. du Toit & Co.

Taalkongres. 1897. Verslag van Taalkongres en Samenkomst, gehouden aan de Paarl, op 27 tot 31 Januari, 1897. Paarl: D.F. du Toit & Co.

Van Coller H.P. (red.). 2006. Perspektief en profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 3. Pretoria: Van Schaik.

Van Coller, Hennie. 2010. Spaar selfs dié met slap hakskene en bruin neuse nog ’n Boereoorlog. Rapport Weekliks, 28 Februarie, p. 2.

Van den Heever, C.M. 1944. Generaal J.B.M. Hertzog. Johannesburg: A.B.-Boekhandel.

Van der Wal, Marijke (in samewerking met Cor de Bree). 1994. Geschiedenis van het Nederlands. 2de bygewerkte druk. Utrecht: Het Spectrum.

Van der Sijs, Nicoline. 2004. Taal als mensenwerk. Het ontstaan van het ABN. Den Haag: Sdu Uitgevers.

Van Oordt, J.F. 1898. Paul Kruger en de opkomst der Zuid-Afrikaansche Republiek. Amsterdam en Kaapstad: Jacques Dusseau.

Van Schoor, M.C.E. 1992. John Daniel Kestell 1854-1941. Bloemfontein: Oorlogsmuseum van die Boererepublieke.

—. 2009. Marthinus Theunis Steyn – regsman, staatsman en volksman. Pretoria: Protea.

Von Wielligh, G.R. 1922. Eerste skrywers. Pretoria: Van Schaik.

Worrall, D. 1976. English South Africa and the political system. In De Villiers (red.) 1976.

Zietsman, P.H., 1982. Die taal is gans die volk. Woelinge en dryfvere in die stryd om die Afrikaner se taal. Ongepubliseerde D.Litt. et Phil.-proefskrif, Universiteit van Suid-Afrika.

—. 1992. Die taal is gans die volk. Pretoria: Universiteit van Suid-Afrika.