Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > LitNet Akademies > LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)

’n Taalwet vir Suid-Afrika? Die rol van sosiolinguistiese beginsels by die ontleding van taalwetgewing


Theodorus du Plessis - 2010-05-27

 Opsomming 

Cornelus Lourens se onlangse beroep op die Noord-Gautengse Hooggeregshof het die soeklig weer op die noodsaak al dan nie van ’n nasionale taalwet laat val en ook weer vrae oor die geskiktheid van die kontensieuse South African Languages Bill (SALB)1  as uiteindelike taalwet na vore gebring. Kan ’n nasionale taalwet sukses behaal as wetlike intervensie by die implementering van ’n taalbeleid, en onder watter omstandighede word sodanige sukses behaal? In hierdie artikel word aangevoer dat ’n tipologie van sosiolinguistiese beginsels by taalwetgewing gebruik kan word om ’n taalwet inhoudelik te ontleed ten einde te kan vasstel of dit kan slaag al dan nie. So ’n tipologie word dan inderdaad ontwikkel aan die hand van verskillende stelle beginsels van taalwetgewing en word getoets aan die hand van drie verteenwoordigende nasionale taalwette, naamlik dié van Wallis, Kanada en Estland. Dit word gevolg deur ’n volledige oorsig oor die ontstaan van die SALB en ’n kritiese inhoudsontleding van hierdie wetsontwerp wat in 2003 bestem was om as die Suid-Afrikaanse Talewet (SAT) gepromulgeer te word. Die ontleding wys uit dat die SALB wel in bepaalde opsigte voldoen aan die vereistes van ’n nasionale taalwet, maar dat daar ook ernstige leemtes voorkom wat reggestel sou kon word. In die artikel word aangevoer dat ’n saak uit te maak is vir die herindiening van die SALB in gewysigde vorm ten einde die Suid-Afrikaanse regering in staat te stel om sy wetlike mandaat betreffende die regulering en monitering van sy gebruik van die ampstale deur te voer.

Abstract

A language act for South Africa? The role of sociolinguistic principles in the analysis of language legislation

Cornelus Lourens’s recent appeal to the Northern Gauteng High Court has once again focused the spotlight on the necessity or otherwise of a national language act, and has also raised questions regarding the appropriateness of the contentious South African Languages Bill (SALB) as the ultimate language act. Could a national language act prove to be a successful legal intervention in the implementation of a language policy, and if so, under what circumstances would such success be achieved? In this article it will be argued that a typology of sociolinguistic principles could be used in language legislation in order to analyse a language act in terms of its contents, with a view to determining whether it would be likely to be successful or not. Such a typology will then be developed in this article on the basis of various sets of language legislation principles, and will be tested on the basis of three representative national language acts, namely those of Wales, Canada and Estonia.  Thereafter, a comprehensive review of the development of the SALB will be provided, as well as a criticalcontent analysis of thislanguages bill, which was originally meant to be promulgated in 2003 as the South African Languages Act. In the analysis it is pointed out that in certain respects, the SALB does, in fact, fulfil the requirements of a national language act, but that it also contains serious deficiencies which should be rectified. It will also be argued that a case can be made for the resubmission of the SALB in an amended form in order to enable the South African government to fulfil its legal mandate concerning the regulation and monitoring of its use of the official languages.

 

1. Inleiding

’n Sentrale of nasionale taalwet vir Suid-Afrika is tans aktueel as gevolg van die dagvaarding wat ’n prokureur van Brits, ene Cornelus Lourens, op 14 Augustus 2009 beteken het ten einde die promulgering van die South African Languages Bill (SALB)2 (DKK 2003b) te probeer afdwing (Lourens vs. Die President van die Republiek van Suid-Afrika e.a. 2009). Die geïndenteerde South African Languages Act sal Suid-Afrika se weergawe van ’n nasionale taalwet word. Indien Lourens met sy aansoek slaag en die SALB word as sodanig gepromulgeer, sal dit die eerste keer wees dat Suid-Afrika oor ’n nasionale taalwet beskik.3

In baie lande met ongelyke taalbedelings word ’n nasionale taalwet as een van die kern wetgewende meganismes vir die regulering van die gebruik van die amptelike tale beskou. So ’n taalwet is dikwels die wetlike meganisme by uitstek ten einde ’n vorm van amptelike taalgelykheid te bewerkstellig. Kanada se beroemde Bill 101 of Charter of the French Language (Government of Québec 1977) word as ’n soort model van ’n nasionale taalwet beskou (vgl. Grin 1991:193, Schmid, Zepa en Snipe 2004:232) en word inderdaad geag  ’n suksesvolle vorm van intervensie te wees (Larrivée 2003, Foucher 2007:57, Turi 2009:128). Dieselfde beskouing bestaan in ’n wisselende mate oor die rol van nasionale taalwette in ander lande en gebiede, onder meer in Katalonië (Roller 2002:278–83), Skotland (Dunbar 2005), Wallis (Huws 2006:159), Serwië (Korhecz 2008:475) en die voormalige Sowjet- en Oosblokstate (Schlyter 1998, Pavlenko 2008a, Garibova en Asgavora 2009).

Lourens se aksie gaan implisiet uit van die standpunt dat ’n nasionale taalwet ook in Suid-Afrika ’n deurslaggewende rol kan speel om ’n nuwe ampstaalbestel te skep: een wat wegbeweeg van die statutêre tweetaligheid van die verlede, maar ook een wat die groeiende dominansie van Engels aan bande kan lê. By implikasie bestaan daar dus ’n bepaalde verwagting oor die rol van ’n nasionale taalwet by die transformering van die Suid-Afrikaanse taallandskap in die breë.

Dat so ’n verwagting nie noodwendig onrealisties is nie, kan gesien word in die geval van ander lande waar ’n hoë premie geplaas word op die rol van ’n nasionale taalwet as sentrale wetlike meganisme by die omvorming van ’n ongewenste taalbestel. In min gevalle word hierdie rol so goed geïllustreer as by die oorgang van die Baltiese state na post-Sowjet-beheerde samelewings. Hulle nasionale staatstaalwette het grootliks bygedra tot die vervanging van die imperiale taal, Russies, deur hulle onderskeie nasionale tale as die dominante tale van die herstelde onafhanklike state. Die Baltiese geval is spesifiek vanuit ’n Suid-Afrikaanse perspektief interessant aangesien hierdie state ook ’n bepaalde transformasie-agenda nastreef en insgelyks die omvorming van ’n voormalige onderdrukkende taalbestel as ’n nasionale prioriteit beskou. Sien Hogan-Brun, Ozolins, Ramonienė en Rannut (2008, 2009) vir ’n goeie onlangse samevatting, asook Hogan-Brun 2007 en Hogan-Brun 2008 spesifiek vir implikasies in die onderwys.

Pavlenko (2008a:300) bevind dieselfde wat betref die meeste van die post-Sowjet-state, naamlik dat ’n nasionale taalwet een van die belangrike faktore is by die vestiging van ’n nuwe taalregime in hierdie lande. Sy word hierin gesteun deur onder meer Ozolins (1999). Vergelyk ook die verskillende bydraes in die onlangse bundel oor taalhervormings in die betrokke state wat sy geredigeer het (Pavlenko 2008b).

So verbind is van hierdie state tot die opheffing van die onderskeie nasionale tale dat sommige bepalings in hulle taalwette selfs tot die ekstreme neig. Ozolins (2003) behandel byvoorbeeld die Europese organisasies se kritiese reaksie op die taalwette van die Baltiese state wat sulke streng bepalings vir die hervestiging van die nasionale taal bevat dat dit as diskriminerend teen die Russiese minderhede beskou word. Simon en Kontra (2000) wys weer hoe opeenvolgende Slowaakse taalwette toenemend onderdrukkend word. Trouens, Slowakye se onlangse taalwet bevat maatreëls wat neig na die drakoniese ten einde die voorheen benadeelde nasionale taal te bevoordeel. Die land moes hewige kritiek vanuit verskeie oorde verduur oor die betrokke taalwet wat op 1 September 2009 uitgevaardig is. Sy buurland Hongarye is daarvan oortuig dat hierdie nuwe taalwet teen die Hongaarse minderhede van Slowakye diskrimineer (Associated Press 2009).

Kritiek op die post-Sowjet-state se taalwette en ander taalwetgewing wat die nasionale taal ten alle koste bevoordeel (en wat sodoende effektief lei tot die marginalisering van die voormalige bewindhebbers) is dus nie uitgesluit nie. Nogtans is geleerdes oor die algemeen dit eens dat relatiewe sukses behaal word met die promulgering van ’n nasionale taalwet in hierdie lande. Hogan-Brun e.a. (2008:611) som byvoorbeeld in die geval van die Baltiese state hierdie suksesse soos volg op:

In terms of actual language use, facility and attitudes, the Baltic states have:

  • been able to alter radically their streetscapes and townscapes in signage;
  • brought about a steady and continuing increase of proficiency in the national languages among non-titular nationals;
  • witnessed largely positive attitudes to their language policy developing in the non-titular populations;
  • started to effect a transition to a significant proportion of teaching in the national languages in minority secondary schools;
  • brought about a virtually total proficiency in the national language in the service sector;
  • refined national language teaching and language testing for adults to a world standard;
  • significantly entrenched their languages in the structures of the EU.

In hulle beoordeling van hierdie suksesse isoleer die gemelde outeurs vier kritieke faktore:

  1. Taalwette as magsverspreiders: Die taalwette het bygedra tot die mobilisering van groepe waar taalbelange juis geld omdat die taalvraagstuk eintlik ook ’n magstryd omsluit.
  2. Die propagandistiese sowel as implementeringsoogmerke van taalwette: Ofskoon implementering ook uiteindelik belangrik was, het die blote proklamering van die taalwette tegelyk ’n sinjaal en simbool van regime-verandering geword.
  3. Sigbare tekens van ’n nuwe taalbeleid: Konkrete veranderinge is teweeggebring deur veranderings aan openbare tekens, die deurgee van openbare inligting in die nasionale tale, en nuwe taalvereistes betreffende werkverskaffing.
  4. Taalvereistes eerder as etniese kriteria: Nasionale identiteit en oorlewing is bo etniese identiteit gestel. Geen etniese voorkeure is in wetgewing vervat nie. Die stel van nuwe taalvereistes was egter een van die betekenisvolle aanduidings van ’n veranderde taalregime. 4

Hogan-Brun e.a. (2008:611) baseer hul analise grootliks op Maurais (1991, 1997) se sosiolinguistiese beginsels van taalwetgewing. Maurais identifiseer in afsonderlike publikasies twee stelle sodanige beginsels: beginsels wat betrekking het op die konteks van taalwetgewing (Maurais 1991) en beginsels wat betrekking het op die rol van taalwetgewing (Maurais 1997). Sy aanvanklike stel beginsels konsentreer meer op die inhoud van taalwetgewing, terwyl die tweede stel beginsels hierop uitbrei, maar ook kontekstuele aspekte begin insluit. Hogan-Brun e.a. (2008:611) se beoordeling sluit by albei stelle beginsels aan, maar steun uiteindelik meer op die tweede groep. Beide stelle beginsels is egter belangrik wanneer ’n kritiese analise van taalwetgewing beoog word, hetsy inhoudelik of kontekstueel, omdat dit uiteindelik as ’n basis vir ’n vergelykende studie van die taalwetgewing van verskillende gebiede dien.

Met Maurais se sosiolinguistiese beginsels van taalwetgewing as vertrekpunt wil met hierdie artikel ’n inhoudelike analise van die SALB as beoogde nasionale taalwet vir Suid-Afrika gemaak word. So ’n gefundeerde analise kan vrae beantwoord oor die potensiële waarde van die uiteindelike Suid-Afrikaanse Talewet as sentrale wetlike meganisme ter uitvoering van sowel die nasionale regering as provinsiale regerings se grondwetlike opdrag om “deur wetgewende en ander maatreëls hul gebruik van amptelike tale (te) reël en (te) monitor”, soos bepaal deur Artikel 6(4) van die Suid-Afrikaanse Grondwet (RSA 1996a).

 

2. Nasionale taalwette en taalwetgewing

2.1 Omskrywing

’n Nasionale taalwet is ’n baie spesifieke vorm van taalwetgewing. Volgens Turi (1993:5–6, 8) se aanvanklike definisie is taalwetgewing oor die algemeen daarop gemik om die status en gebruik van aangewese tale wetlik te bepaal en te vestig deur middel van regsverpligtinge en regte, oftewel “wetlike reëls oor taal”. Sulke reëls kom in baie gevalle voor as taalbepalings binne wetgewing wat nie noodwendig by uitstek oor die status en gebruik van aangewese tale handel nie, soos byvoorbeeld in ’n land se grondwet, in wetgewing oor onderwys, die regspleging, die media ens. Waar ’n hele wet egter volledig gewy word aan reëls oor die status en gebruik van aangewese tale, kan daardie wet as ’n nasionale taalwet getipeer word.

Die taalwette van lande soos Kanada (Canada 1985) en Ierland (Republic of Ireland 2003), asook van streke soos Wallis (Welsh Language Act 1993) en Québec (Q.O.L.A. 1974) en ander is tipiese voorbeelde van sulke nasionale taalwette. ’n Volledige opgaaf van hierdie taalwette en van taalwetgewing oor die algemeen is beskikbaar op ’n databasis van die Mercator-organisasie, ’n instansie wat fokus op taalwetgewing en taalregte (Mercator 2010). Die opvallende omtrent die taalwette hier ter sprake is dat hulle wetlike reëlings maak oor die status en gebruik van die amptelike tale van die betrokke gebiede. In sulke gevalle word die taalwetgewing afgestem op die daarstel van ’n vorm van amptelike taalgelykheid, soos ons onder meer sien in die geval van Kanada en Ierland. In heelwat gevalle word die status en gebruik van nasionale minderheidstale gereguleer, soos vir die Walliese taal in die geval van Wallis, Frans in die geval van Québec, ensovoorts. Die Baltiese geval en dié van ander Oosbloklande kom hiermee ooreen, maar gaan spesifiek oor die opheffing van die voormalig gemarginaliseerde nasionale tale. Die belang van ’n nasionale taalwet by die daarstel van ’n veranderde taalbestel moet dus nie onderskat word nie.

2.2 Belang

Dunbar (in Williams 2008:174) gee vier redes waarom taalwetgewing belangrik is. Hy het hier spesifiek “language laws”, of taalwette, in gedagte. Indien effektief geïmplementeer en bestuur, kan ’n taalwet:

  1. veranderinge teweegbring in die linguistiese gedrag van organisasies waarop dit betrekking het
  2. veranderinge teweegbring in die linguistiese gedrag van die sprekers van die minderheidstaal self
  3. sprekers van die minderheidstaal toelaat om op te tree wanneer tekortkominge met betrekking tot implementering voorkom
  4. ’n normatiewe omgewing skep wat toelaat dat die gedrag van verantwoordelike instansies aan openbare beoordeling blootgestel word.

Shohamy (2006:59-60) skryf die belang van taalwetgewing toe aan die sanksies en penaliserings van sulke wetgewing wat uiteindelik kan verseker dat beleid uitgevoer word. Sy wys egter ook daarop dat die meestal streng voorskriftelike aard van ’n taalwet bepaalde gedrag aan mense opdwing waardeur persoonlike vryhede uiteraard ingeperk word. Ook wys sy daarop dat ’n taalwet nie noodwending impliseer dat mense alle bepalinge slaafs gaan navolg nie. Nietemin sit ons met die konkrete gevalle waar ’n taalwet inderdaad ’n keerpunt in die taalbestel teweeggebring het; soos Williams (2008:262) treffend in die Walliese geval opmerk: “(t)he Welsh Language Act 1993 has inaugurated a new era in language policy and planning.” Studies oor sulke relatiewe suksesverhale wys vir ons dat ’n verskeidenheid faktore tot hierdie sukses bydrae, maar dat die taalwet as sodanig nogtans ’n kardinale rol speel.

2.3 Suksesse

Onder meer word die sukses van die Baltiese taalsituasie toegeskryf aan wat Hogan-Brun et al. (2009:75) die wetgewende apparatuur noem. Wetgewende apparatuur in hierdie geval sluit sowel primêre as sekondêre taalwetgewing in (Du Plessis 2003). Primêre taalwetgewing behels volgens Hogan-Brun et al. (2009:75) ’n taalwet en addisionele taalwetgewing (spesifiek wette oor burgerskap en onderwys met taalbepalings). Sekondêre taalwetgewing, met ander woorde taalwetgewing wat deur die uitvoerende regeringsbeen gemaak word, sluit volgens hulle regulasies, ordinansies en strategiese dokumente in wat die status en gebruik van die aangewese tale in spesifieke domeine en in die samelewing oor die algemeen bereël. Die Baltiese taalwette voorsien die geïntegreerde wetsraamwerk vir die realisering van ’n vorm van samehangende taalintervensie. Garibova en Asgavora (2009:209–10) wys na aanleiding van hulle analise van die Azerbaijan-situasie ook by implikasie op die belang van sodanige samehang, veral met die oog op die implementering van die bepalings van ’n taalwet, ’n aksie wat hulle beskryf as die “follow-up on laws”, wat dus bykomende taalwetgewing sou kon insluit. Dit sou daarom ’n mistasting wees om die sukses van die Baltiese state en ander gebiede enkel en alleen aan ’n nasionale taalwet toe te skryf. Die samehang met voortvloeiende taalwetgewing is kardinaal, maar die nasionale taalwet staan sentraal.

Die waarde van die nasionale taalwet as alleenstaande intervensie moet daarom nie sonder meer onderspeel word nie. Feit bly staan, dit is deur die promulgering van nuwe staatstaalwette na die hervatting van onafhanklikheid dat die taalhiërargie van die Sowjetperiode omgekeer is. Ook is daardeur ’n komplekse proses betreffende die hervestiging van die nasionale tale van hierdie lande begin, soos reeds aangedui is. Kritiek vanuit Europa op die taalwetgewing van hierdie lande word juis grootliks afgestem op hulle nasionale taalwette. Dit bevestig net verder hul sentraliteit binne die taalbestel. Die nasionale taalwet lê dus die basis waarop verdere taalwetgewing kan voortbou.

2.4 Beginsels

Belangstelling in die vergelykende taalwetgewing (Turi 1993:6) neem toe soos wat die verskynsel van wetlike intervensie as taalbeleidsmeganisme (Shohamy 2006:59) wêreldwyd uitkring. Vergelykende studies benader taalwetgewing vanuit verskillende dissiplinêre hoeke, onder meer vanuit ’n sosiolinguistiese (Maurais 1991), ’n wetlike (Turi 1993) en ’n linguistiese perspektief (Kibbee 1998).

Maurais (1991) se sosiolinguistiese benaderingswyse tot vergelykende taalwetgewing behels die identifisering van beginsels wat verskillende taalwette onderlê, wat dus ’n vergelykende studie vergemaklik. Hy wys daarop dat ’n oppervlakkige, kwantitatief-georiënteerde vergelyking van verskillende taalwette misleidend kan wees. Bloot kwantitatief beskou kom Québec se besonder gedetailleerde Charter of the French Language (Q.O.L.A. 1974) byvoorbeeld baie vollediger voor as die taalwette van die Baltiese state. Indien ’n mens egter die vergelyking vanuit Maurais se sosiolinguistiese perspektief benader en die velde van taalgebruik identifiseer wat gereguleer word, blyk dit dat die betrokke taalwette inhoudelik grootliks ooreenstem. Waar so ’n vergelyking wel verskille blootlê, hou dit eerder verband met die mate van volledigheid waarmee die onderskeie taalwette ’n spesifieke taalgebruiksveld probeer reguleer. Sulke verskille is dan besonder betekenisvol en gee ’n aanduiding van die unieke taalbeplanningsprioriteite van die betrokke gebied, maar weerspieël waarskynlik ook bepaalde taal-ideologiese vooropstellings.

Maurais (1991) identifiseer uiteindelik vyf sosiolinguistiese beginsels wat taalwetgewing onderlê. Taalwetgewing behoort volgens Maurais ten minste die volgende kernkwessies aan te roer of bepalings daaromtrent te bevat:

  1. Die proklamering van ’n amptelike taal
  2. Die bindingstaal-vraagstuk
  3. Taal van kommunikasie met klante en burgers
  4. Taal van onderrig
  5. Linguistiese aspekte van immigrasie.

Ons kan sien dat die laaste drie beginsels betrekking het op die regulering van taalgebruik in spesifieke amptelike domeine, waarvan Maurais drie as sentraal uitsonder: regeringskommunikasie, onderwys en burgerskap. Sy eerste twee beginsels kan weer geklassifiseer word as grondliggende of fundamentele beginsels by taalwetgewing. Eersgenoemde groep domeingerigte beginsels lyk daarom meer tegnies van aard, terwyl laasgenoemde grondliggende beginsels eintlik meer ideologies van aard is. Hierdie aanvanklike vyf beginsels het grootliks betrekking op die inhoud of strukturering van taalwetgewing.

In Maurais (1997) brei die outeur uit op sy aanvanklike siening en formuleer hy verdere sosiolinguistiese beginsels wat wetlike intervensies by ’n taalbestel betref. Hy doen dit na aanleiding van sy ontleding van die Québecse taalsituasie. Hierdie nege beginsels verskil konseptueel grootliks van die vorige aangesien dit meer inspeel op die konteks van taalwetgewing:

  1. Noodsaak aan vooraf sosiolinguistiese beskrywing. Ofskoon sosiolinguistiese beskrywings oor die algemeen belangrik is, meen Maurais dat veral amptelike taalopnames en -ondersoeke ’n belangrike rol kan speel by die formulering van oogmerke vir taalbeleid oor die algemeen, maar spesifiek vir taalwetgewing. Hy gee Kanadese voorbeelde van sulke invloedryke opnames. Die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (Pansat) se 2001-taalopname (PanSALB 2001) sou die Suid-Afrikaanse ekwivalent van so ’n sosiolinguistiese beskrywing wees.
  2. Noodsaak aan staatsintervensie. Veral wanneer taalwetgewing ’n grootskaalse verandering teweeg wil bring, moet die staat ’n prominente rol speel deur die maak van reëls en regulasies wat beheer en gekontroleer kan word. Die daarstel van ’n statutêre oorsigliggaam soos die Kanadese Commissioner of Official Languages, die Welsh Language Board in Wallis (Williams 2008:265) en ander soortgelyke instellings speel hierin ’n sentrale rol. Dit is insiggewend dat artikel 3(5) van die Suid-Afrikaanse Grondwet ook voorsiening maak vir ’n soortgelyke liggaam in die vorm van Pansat (RSA 1993).
  3. Noodsaak aan sigbare verandering. Maurais meen omdat taal eintlik ’n abstraksie is, is sigbare manifestasies van verandering aan die taalbestel vir die gewone publiek van groot belang. In die geval van Québec is sodanige veranderinge sigbaar by openbare tekens (Franse teks prominent), terminologie in die werkplek (Engels word vervang met Frans), en skoolinskrywings (toenemend in Frans). Verskeie verdere outeurs is dit eens oor die belang van sigbare veranderinge. Soos reeds hier bo aangedui, speel sigbare veranderinge ’n deurslaggewende rol by veranderinge in die Baltiese state (Hogan-Brun et al. 2008:615). Coulmas (2005:3) praat van die “sigbare hand” van “geadministreerde taal”.
  4. Domeine van nie-intervensie. Volgens Maurais is dit belangrik dat intervensie beperk word tot die domeine waaroor die staat beheer uitoefen.
  5. Spesiale status van tweetaligheid. Maurais meen die onderskeid tussen individuele tweetaligheid en institusionele of statutêre tweetaligheid is van kardinale belang. Eersgenoemde moet volgens hom binne ’n meertalige land bevorder word, maar laasgenoemde moet gekontroleer of bestuur word. Indien dit nie gebeur nie, ontstaan ’n ongelyke situasie van taalkompetisie wat nie die ondergeskikte taal of tale bevoordeel nie.
  6. Noodsaak aan die bou van konsensus. Vir Maurais is dit belangrik dat breë konsensus bereik word oor die oogmerke van ’n nuwe taalbestel. Waar dit gaan oor die elevering van ’n agtergestelde taal, sou dit daarop neerkom dat die bevolking ook hulle bydrae lewer, soos dat immigrante die bevoordeelde taal sal aanleer, hulle kinders na skole in die betrokke taal sal stuur, pogings van die staat om die taal te bevoordeel sal steun, ens.
  7. Die rol van die tydsfaktor by taalbeplanning. Ten slotte meen Maurais dit is belangrik om in ag te neem dat veranderinge nie onmiddellik gebeur nie en veral dat werklike veranderinge ’n tyd neem om deur te syfer. Dit sou volgens hom gevaarlik wees om op korttermyn-veranderinge te konsentreer. Maatreëls soos die vervanging van straat- en plekname val volgens hom in hierdie kategorie. Daar is wat hom betref geen kortpaadjies nie, wat meebring dat veral gekonsentreer sal word op veranderinge wat onsekerheid oor die bevoordeelde taal se toekoms sal verminder en dat monitering ’n integrale onderdeel van die oorhoofse taalbeplanningsprojek sal vorm.

Turi (1993) benader weer vergelykende taalwetgewing vanuit ’n regsperspektief. Hy formuleer enkele regsbeginsels op basis waarvan taalwetgewing vergelyk kan word. Die onderwerp van ’n taalwet is een so ’n beginsel, met ander woorde die feit dat reëls gemaak word vir mense en groepe mense, byvoorbeeld minderheidsgroepe, en nie ter wille van ’n taal nie: Wie, en nie wat nie, word deur die wetgewing beskerm of erken of bevoordeel? ’n Tweede beginsel is die seggingskrag van die taalwetgewing, met ander woorde die aard van sanksies wat dit onderlê en wat sal meebring dat dit juridies as openbare wetgewing al dan nie benader sal word. ’n Derde beginsel hou verband met die afbakening van taalregte, die onderskeid wat getref word tussen amptelike en nie-amptelike regte, die mate van taalvryheid, byvoorbeeld die inperking al dan nie van minderheidstaalgebruik wat toegelaat word, ens.

Dunbar (2005) se vergelyking tussen die Gaelic Language (Scotland) Act 2005 en die Welsh Language Act 1993 stel ’n verdere regsbeginsel by taalwetgewing aan die orde, naamlik dié. van regsinstrumente. Buiten die feit dat ’n bepaalde stuk wetgewing op sy eie ’n regsinstrument is, vorm die legitimisering van bykomende regsinstrumente betreffende taal ’n kernelement van taalwetgewing. In sy vergelyking van die gemelde twee taalwette wys Dunbar (2005:472–9) op drie sulke regsinstrumente wat in beide voorkom: die daarstel van ’n statutêre taalliggaam – in die geval van Skots, die Bòrd na Gàidhlig en van Wallies, die Bwrdd yr Iaith Gymraeg, die vereiste aan ’n (nasionale) taalplan vir onderskeie tale, en verwant hieraan, die voorbereiding van taalplanne ("language schemes") in die geval van die Walliese taalwet, deur openbare owerhede vir hierdie tale. Die Skotse Taalraad kan byvoorbeeld enige openbare instansie opdrag gee om ’n taalplan voor te berei ten einde die gebruik van Gaelies te bevorder, en selfs ’n sperdatum daaraan koppel. Dieselfde geld vir die Walliese Taalraad. Dit is duidelik dat in die geval van beide Gaelies en Wallies die daarstel van ’n statutêre taalliggaam ’n sentrale regsinstrument is. Dieselfde geld vir die Baltiese state waar taalwetgewing ook voorsiening maak vir die daarstel van statutêre taalinstellings, die Estlandse Taalraad, die Letlandse Staatstaalsentrum en die Litause Staatskommissie vir die Litause taal. Hierdie instansies moet toesien dat die taalwetgewing in hulle onderskeie lande geïmplementeer en onderhou word (vgl. Hogan-Brun et al. 2008:545-9).

Kibbee (1998) bied ’n meer linguistiese perspektief op taalwetgewing, maar formuleer nie soseer linguistiese beginsels nie; hy wys meer tekortkominge in wetgewing uit wat steun op bepaalde juridiese aannames oor die verskynsel taal. Hierdie aannames sluit in dat die onderskeid tussen tale (en dialekte) duidelik afbakenbaar is, byvoorbeeld die onderskeid Standard English / Black English, dat daar ’n direkte korrelasie bestaan tussen die woord en die onderwerp wat gesignifiseer word, byvoorbeeld moedertaal, taalbevoegdheid, ens., dat absoluut akkurate vertalings moontlik is, en dat die woordeskat van ’n taal ’n unieke kulturele perspektief bevat wat uiteindelik ’n samebindende faktor word, byvoorbeeld in die geval van onderwys in minderheidstale, moedertaalonderrig ens. Hy problematiseer hierdie aannames en wys op die noodsaak aan die sinchronisering van regsbeginsels en linguistiese beginsels. Vanuit ’n vergelykende perspektief beskou, sou aandag gegee kon word aan die soort linguistiese terminologie wat in taalwetgewing voorkom en gekyk word na die soort definisies en verklarings wat die betrokke wetgewing vergesel.

Uit die voorgaande kan ons nou ’n tipologie van beginsels by taalwetgewing ontwikkel wat as basis kan dien vir ’n analise van taalwetgewing, hetsy vergelykend of nie (Tabel 1).

Tabel 1: Tipologie van beginsels by taalwetgewing

 

3. Toepassing

Ons kan hierdie tipologie nou toets aan die hand van drie bekende en relatief suksesvolle nasionale taalwette: die Walliese, Kanadese en Baltiese taalwette. Die eerste Walliese taalwet is in 1967 gepubliseer (vgl. Welsh Language Act 1993), die eerste Kanadese taalwet in 1969 (vgl. Canada 1969), die eerste nuwe-generasie Baltiese taalwette in 1989 (Grin 1991:191), en die eerste ware post-Sowjet-taalwette van die drie state in onderskeidelik 1995 in die geval van Estland en Letland, en 1999 in die geval van Litaue (Hogan-Brun et al. 2009:75). Die taalwette van die Baltiese state stem grootliks ooreen. Daarom word dié van Estland as verteenwoordigend geneem.

Vir die doeleindes van die vergelyking sal die jongste taalwette van die drie gebiede as uitgangspunt geneem word. Die drie gekose taalwette is verteenwoordigend van drie tipes taaluitdagings, te wete die opheffing van ’n nasionale minderheidstaal in die geval van Wallis, die hervestiging van ’n nasionale taal in die geval van Estland (en die ander twee Baltiese state), en die daarstel van amptelike tweetaligheid in die geval van Kanada. Die Québecse geval sou ’n verdere kategorie uitmaak, maar word nie hier gehanteer nie.

Wat volg, is ’n saaklike oorsig oor die inhoud van die drie geselekteerde taalwette en daarna ’n beoordeling aan die hand van ons tipologie van beginsels by taalwetgewing. Die vergelyking sal slegs in terme van die strukturele beginsels getref word.

Struktureel verskil die drie taalwette. Die Walliese taalwet (Welsh Language Act 1993) bevat altesaam 37 artikels wat oor drie hoofdele van die wet versprei word. Deel I bevat bepalings van die Walliese Taalraad, Deel II hanteer bepalings oor die sogenaamde Walliese “taalskemas”, en Deel III behandel diverse aangeleenthede, onder meer die gebruik van die Walliese taal in regsverrigtinge, vir statutêre name en taalsigbaarheid in Wallies, byvoorbeeld voorskrifte oor statutêre name, Wallies op vorms ens., en die gebruik van Wallies in die bedryfsektor. Deel I en II vorm die kern van die taalwet. Trouens die aanhef van die wet lui dat dit die oogmerk van die wet is om ’n raad te vestig wat vir die bevordering en gebruik van die Walliese taal verantwoordelik is en wat taalskemas vir hierdie doel sal aanwend. Openbare instellings moet taalskemas by die Raad registreer ten einde aan te toon hoe taalgelykheid vir die gebruik van Wallies verkry sal word. Die Walliese Taalraad, die Bwrdd yr laith Gymraeg, dien dus as sentrale taalwaghond, gerugsteun deur taalskemas.

Die Kanadese taalwet (Canada 1985) is in vergelyking veel vollediger en meer gediversifiseerd. Hierdie wet bevat altesaam 110 artikels wat oor altesaam veertien dele versprei word. Deel I handel met parlementêre verrigtinge, Deel II met wetgewende en ander instrumente, Deel III met die regsadministrasie, Deel IV met kommunikasie met die publiek en dienste aan hulle, Deel V met die tale van die werksplek, Deel VI met deelname van Engels- en Franssprekendes, Deel VII met die bevordering van hierdie twee tale, Deel IX met Kanada se Kommissaris van Amptelike Tale (Commissioner of Official Languages), Deel X met hofremedies, Deel XI met algemene bepalings, Deel XII met verwante amenderinge, Deel XIII met gevolglike amenderinge, en Deel XIV met oorgangsmaatreëls, die herroeping van bepaalde wette en die inwerkingtreding van die wet. Die aanhef van die wet bepaal dat dit opgestel is om konkreet gestalte te gee aan die statutêre tweetaligheid wat in die land se grondwet voorsien word en om omstandighede te help skep waar burgers hierdie regte kan uitoefen. Ook hierdie wet wy ’n aansienlike deel aan Kanada se taalwaghond. Die uitgebreide bepalings oor taalgelykberegtiging in die verskillende ampstaaldomeine is ’n verdere opvallende kenmerk van die Kanadese taalwet.

Die Estlandse taalwet (RT 1995) is die kortste van die drie wette en bevat 30 artikels wat oor ses hoofstukkeversprei word. Hoofstuk 1 behandel algemene bepalings wat betref amptelikheid, die omvang van die wet, die taal van staatsadministrasie, taalregte, reëls met betrekking tot taalvereistes en taaltoetsing en bepalings betreffende Estland se "Taalinspektoraat" en sy "Taalamptenare"; Hoofstuk 2 behandel reëls oor die gebruik van vreemde tale deur staatsagentskappe en plaaslike regering; Hoofstuk 3 behandel die gebruik van die taal van nasionale minderhede, soos die Russiese minderheid, in hulle kultureel outonome liggame; Hoofstuk 4 behandel die gebruik van tale in ander areas, onder meer die reg op inligting in die Estlandse taal; Hoofstuk 5 behandel reëls vir name en inligting, onder meer reëls oor taalsigbaarheid in die nasionale taal en in die oudiovisuele media, en ’n subhoofstuk, 5.1, behandel skendings van taalregte; en Hoofstuk 6 behandel finale bepalings, meestal die herroeping van vorige wette. Opvallend omtrent hierdie taalwet is dat dit, soos in die vorige twee gevalle, ook ’n taalwaghond daarstel. Die grootste gedeelte van Hoofstuk 1 word hieraan gewy, waar die magte van die Taalinspektoraat uitgespel en ook besonderhede oor die magte van sy Taalamptenare behandel word. Anders as by die ander twee wette word in die Engelse teks van die taalwet geen aanhef aangedui nie. Wel dui die eerste bepaling van Hoofstuk 1 aan dat die land slegs een amptelike taal het, naamlik die Estlandse taal. Uit die bepalings kan afgelei word dat die wet in hoofsaak op reëlings hieromtrent afgestem word, maar dat ook voorsiening gemaak word vir die status van nasionale minderheidstale en vreemde tale in die land.

Op die oog af kom die Kanadese taalwet dus vollediger voor, maar indien ons die sosiolinguistiese beginsels by taalwetgewing in gedagte hou, blyk dit dat die drie wette bepaalde ooreenkomste toon.

Inhoudelik bevat al drie wette eksplisiete grondliggende beginsels wat direk verbind kan word met die groter (nasionale) ideale vir die taalbestel van elke land. In die geval van Wallis word die grondliggende beginsels essensieel gerig op die bevordering en gebruik van die Walliese taal as nasionale minderheidstaal binne ’n raamwerk van amptelike tweetaligheid. Eersgenoemde staan egter voorop. By die Kanadese geval gaan dit by uitstek oor taalgelykberegtiging vir die twee ampstale, Frans en Engels, binne die konteks van die grondwetlike bepalinge hieromtrent. In Estland staan die promovering en elevering van die Estlandse taal eksplisiet voorop as nasionale prioriteit. Anders as die twee voorafgaande gevalle bevorder die Estlandse taalwet amptelike eentaligheid as eenheidsfaktor teenoor amptelike tweetaligheid by die ander twee. Dit val op dat elke land se taalwet nasionale taalprioriteite volg.

Wat die beginsels van ampstaalgebruik betref, verskil die drie taalwette net ten opsigte van detail en omvang. Die Kanadese taalwet bevat veel meer gedetailleerde bepalings omtrent ampstaalgebruik, die Estlandse taalwet minder en die Walliese taalwet die heel minste. Nietemin baken al drie wette eksplisiet die domeine van ampstaalgebruik af waar die ampstaalbestel by uitstek gerealiseer moet word. ’n Verdere opvallende ooreenkoms tussen al drie is dat taalgebruik in die privaat domein ook aangesny word, maar die bepalings oor die ampstaaldomeine staan voorop. Laastens is ’n afsonderlike stel reëls wat ampstaalsigbaarheid betref, die gebruik van die amptelike taal in die openbare domein, ook ’n kenmerk wat deurloop. Die Kanadese en Estlandse taalwette bevat laastens ook reëls vir die dienste wat met betrekking tot die ampstale aan die publiek gelewer sal word. Taaltoetsing is een van die aspekte wat prominensie geniet in die Estlandse geval. Dit is opvallend dat al drie wette soveel aandag aan die beginsel van ampstaalgebruik gee, wat ’n aanduiding is van hoe belangrik die eksplisiete regulering van ampstale in die kerndomeine van taalgebruik is.

Een van die uitstaande kenmerke van al drie wette is die sterk klem wat op beginsels van wetlike instrumente geplaas word. ’n Opvallende ooreenkoms wat betref tipes instrumente is dat elkeen van die drie wette voorsiening maak vir ’n statutêre instansie wat verantwoordelik is vir die deurvoer van die bepalings van die taalwet: ’n Walliese Taalraad en Walliese Taalskemas in die eerste geval; ’n Kommissaris van Amptelike Tale in die tweede geval; en ’n Taalinspektoraat met Taalamptenare in die laaste geval. In vergelyking met die instrumente van die ander drie is die Walliese Taalskemas uniek. Regsremedies word ook in al drie gevalle aangewend en opvallend omvangryke reëls daaromtrent uitgespel. Laastens word openbare verslaggewing ook in al drie gevalle as ’n verdere instrument aangewend. ’n Statutêre taalwaghond staan dus uit as een van die belangrike beginsels vir regsinstrumente en bied ook voldoende ondersteunende maatreëls, soos die Taalskemas (Wallis) en Taalamptenare (Estland) aandui. Ook is voldoende regsremedies en openbaarmaking essensiële komponente van ’n suksesvolle nasionale taalwet.

Die vergelyking van die drie lande se taalwette aan die hand van ons tipologie van beginsels by taalwetgewing wys dat die inhoud van ’n nasionale taalwet belangriker is as die omvang daarvan. Deur so ’n inhoudelike studie van suksesvolle taalwette te onderneem kan veel oor die struktuur van ’n geskikte taalwet geleer word. Dit bly belangrik om ook uiteindelik met kontekstuele veranderlikes rekening te hou, aangesien die taalprioriteite van lande uiteraard verskil. Weens die omvang van taalwetgewing elders ter wêreld is dit dus onnodig om weer die wiel betreffende die inhoud van ’n taalwet uit te vind. Ons kan dus aanneem dat die opstellers van die SALB inderdaad kers gaan opsteek het by ander lande waar nasionale taalwette suksesvol geïmplementeer word.

 

4. Die South African Languages Bill

Relatief min is nog in akademiese publikasies oor die SALB geskryf. Sommige outeurs vermeld die wetsontwerp wel in publikasies waar ’n oorsig oor taalbeleidsontwikkeling in Suid-Afrika aan die orde kom, maar geen grondige analise as sodanig is tot dusver daarvan onderneem nie.

Behalwe saaklike vermeldings gee sommige outeurs wel kort oorsigte, asook saaklike kommentaar wat hierop betrekking het. Desai (2001:326–8) gee byvoorbeeld ’n waardevolle oorsig oor die vroeë ontwikkelingstadium van die wetsontwerp onder leiding van die ministeriële adviespaneel. Beukes (2004) se oorsig situeer die ontwikkeling van die wetsontwerp binne die breër konteks van taalbeleidsontwikkeling op nasionale vlak in Suid-Afrika. Desai (2001:327) wys op die voorkeur van die betrokke paneel vir ’n volledige rotasiestelsel vir ampstaalgebruik wat vier taalgroepe insluit, maar toon aan hoe dit weens politieke sensitiwiteit afgewater is na die huidige semirotasiestelsel van ses ampstaalgroepe. Beukes (2004) verwys saaklik ook na die verskuiwing en wys op ’n amptelike kosteberekening wat vir beide rotasiestelsels onderneem is. Desai (2001:327–8) behandel in haar oorsig sommige van die sentimente wat by die Tweede Taalindaba (NTD 2001) deurgeskemer het, onder meer die voorkoms van Zoeloe-nasionalisme en die gevolglike opposisie teen ’n Nguni-groepering binne die rotasiestelsel. Belangrik omtrent haar betrokke oorsig is die klem wat sy plaas op die belang van die beoogde taalwet vir Pansat, en dat dit die Raad se moniteringsopdrag kan vergemaklik omdat die wet ’n duidelike raamwerk vir taalbeleidsontwikkeling daarstel (Desai 2001:328).

Roodt (2006:54) sluit haar by Desai se siening aan. Sy argumenteer insgelyks dat die taalwet noodsaaklik is, omdat dit maatstawwe bevat waarteen Pansat sy monitering binne die staatsdiens kan uitvoer. Alexander (2005:13) druk hom baie sterk uit oor die belang van taalwetgewing en spesifiek die SALB as beleidsraamwerk waarbinne die amptelike tale kan funksioneer: “We have an opportunity through existing legislation. We need the force of law.” Waarskynlik juis daarom wys Roodt (2006:54) op die regsimplikasies wat die gesloer met die promulgering van die wet inhou. Volgens Desai (2001:327) sou die wetsontwerp al in 2001 voor die Parlement gedien het en uit die oorsig hier onder sal blyk dat dit eers in 2003 vir kommentaar gepubliseer is, drie jaar daarna en drie jaar voor Roodt se kritiek. Sy redeneer dat die vertraging met die promulgering daarvan ’n gaping in die wetgewende raamwerk oor die gebruik van die ampstale laat ontstaan. In hierdie spreekwoordelike lugleegte word die taalbepalings van die grondwet volgens Roodt (2006:54) ondertussen op ’n redelik vrysinnige wyse vertolk: “[O]rgans of state and state departments continue to have a margin of appreciation to interpret the language clauses ...” Die uiteindelike gevolg is dat Pansat in werklikheid geneutraliseer word en nie na behore kan funksioneer nie.

Mwaniki (2004:311) spreek hom ook terloops uit oor die vertraging met die promulgering van die wet en vind dit “not excusable”. Hy skryf die gesloer toe aan “levity on the part of politicians”. Alexander (2004:122) skryf na aanleiding hiervan: “[I]t is extremely unlikely that of their own accord, the political leadership in the ruling circles will take decisive steps in the direction of closing the yawning gap between exemplary policy documents and real-life practice.” Hy voorsien, op ietwat siniese trant, dat Suid-Afrika die roete gaan volg van die res van die vasteland waar Afrikatale gepraat word. Kamper (2006:85) skryf weer die vertraging toe aan onentoesiastiese staatsdepartemente, en Beukes (2006:3–4) hou moontlike oorvleuelings met die Pansat-wet aanspreeklik.

Kamper (2006:78) opper ’n kwessie wat geen ander outeur aanroer nie. Hy vind naamlik dat die wetsontwerp aan seggingskrag ontbreek. Die wetgewing bevat volgens homnie genoeg eksplisiete direktiewe oor korrektiewe aksie nie: “[N]o mention is made of any real power to impose corrective actions in the case of language policy transgressions.”

Ofskoon die gemelde outeurs wel aspekte van die wetsontwerp bespreek, word die nie-promulgering van die SALB ’n belangrike fokuspunt eerder as wat ’n indringende analise van die wetsontwerp in die geheel aan die bod kom. Hierdie opgaaf word vervolgens aangepak.

4.1 Agtergrond

Die SALB is die eindresultaat van ’n taalbeleidsproses wat gedurende die beginjare van die postapartheid-staat uit die Language Plan Task Group (LANGTAG) voortgevloei het. Hierdie Taakgroep, aangestel deur die destydse Minister van Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie, is gevorm om ’n taalplan vir Suid-Afrika te ontwikkel wat as vertrekpunt sou kon dien vir die daarstel van norme en standaarde vir taalbeleid. Die Taakgroep se bevindinge is op 8 Augustus 1996 in verslagvorm bekendgestel (DKKWT 1996) na afloop van ’n konsultatiewe konferensie gedurende Junie van dieselfde jaar. LANGTAG se aanbevelings sou volgens die betrokke staatsdepartement vanaf 1999 geïmplementeer word as “(s)trategieë en maatreëls ter bevordering van veeltaligheid” (DKKWT 1998b:25). Dit is intensies wat neerslag vind in belangrike konsepdokumente wat reeds sedert 1998 die rondte doen, maar wat op selektiewe wyse aan taalrolspelers beskikbaar gestel word, te wete A Language Plan for South Africa. Preparing for a multilingual future (DKKWT 1998a), die Draft White Paper on Language (DKKWT 1999a) en die Language Plan for South Africa. The Promotion and Implementation of Multilingualism (DKKWT 1999b). As sodanig verteenwoordig hierdie dokumente vroeëre konkrete pogings om norme en standaarde vir taalbeleid in die postapartheid-Suid-Afrika te ontwikkel, asook om nasionale taalprioriteite daar te stel. Hierdie konsepdokumente sou uiteindelik ’n basis vorm vir die ontwikkeling van die National Language Policy Framework (NLPF) (DKK 2002c), Suid-Afrika se amptelike nasionale taalbeleidsdokument, wat in Februarie 2003 deur die Kabinet goedgekeur is (DKK 2005:8).

Uit die gemelde vroeëre konsepdokumente ontwikkel uiteindelik ’n amptelike besprekingsdokument getiteld Language Policy and Plan for South Africa (LPPSA) (DKK 2000). Xulu (2001:3) verwys in die bekendstelling van hierdie taalplan na ’n vroeëre weergawe − na alle waarskynlikheid DKKWT 1998a, wat skynbaar reeds in Februarie 1998 by ’n konsultatiewe werkswinkel in Pretoria behandel is. Xulu (2001:3) vermeld verder dat die Minister van Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie in 1999 ’n Adviespaneel onder leiding van Neville Alexander saamgestel het om die taalplan as konsepdokument te finaliseer om by die sogenaamde Second Language Indaba wat gedurende Maart 2000 in Durban gehou is (NTD 2001), bespreek te word. Volgens Desai (2001:326) is hierdie paneel, genaamd die Advisory Panel on Language Policy to the Minister of Arts, Culture, Science and Technology, in November 1999 aangestel. Alexander self het namens die adviespaneel ’n bespreking by die betrokke Indaba oor die taalplan ingelei (Alexander 2001, DKK 2000).

Van ’n vroeëre weergawe van die SALB, getiteld Language Policy for South Africa Bill, 2000(DKKWT 2000), verneem ons ook die eerste keer in die openbaar by hierdie Taalindaba (NTD 2001:86–114). Uit die bekendstelling van die betrokke wetsontwerp blyk dat die Ministeriële Adviespaneel hier bo vermeld ook in die finalisering van hierdie dokument ’n hand gehad het (Beukes 2001:86, 113–4). Dit blyk hierbenewens ook dat openbare verhore oor die wetsontwerp in die vooruitsig gestel word. In haar slotwoord by die Indaba voorsien Mkhulisi (2001:159) dat die wetsontwerp teen die einde van Mei 2000 na die Minister sou gaan vir sy oorweging. Desai (2001:327) bevestig dat dit inderdaad gedoen is deur middel van ’n memorandum en dat die Minister geadviseer is om die wetgewende roete te volg. Mkhulisi (2001:159) meld ook dat beplan word om die wetsontwerp nog gedurende 2000 aan die kabinet voor te lê, waarna die relevante parlementêre portefeuljekomitee openbare verhore daaromtrent sou organiseer. Trouens, die bedoeling was, volgens haar, om beide die wetsontwerp en die 2000-taalplan op Erfenisdag (24 September) van daardie jaar bekend te stel.

Dat die LPPSA uiteindelik deur die NLPF vervang is, verneem ons by die amptelike bekendstelling van laasgenoemde op 3 Desember 2002 deur die Minister van Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie tydens ’n ontbytgeleentheid (DKK 2002a, 2002b). Die dokument wat as finale dokument voorgehou word, is gedateer 13 November 2002 (DKK 2002c).

Ons verneem eers weer op 18 Maart 2003 van die SALB in die destydse adjunkpresident Zuma se antwoord in die Nasionale Raad van Provinsies op ’n vraag daarna deur A.E. van Niekerk van die Nuwe Nasionale Party (NNP). Op die vraag of wetgewing oor die nuwe taalbeleid voorsien word, antwoord die Adjunkpresident dat die NLPF in werklikheid in wetgewing vervat sal word “as the SA Languages Act” en dat die betrokke wet voor die einde van die jaar by die parlement ingedien sou word (Die Presidensie 2003b). Ondersteuning vir die Adjunkpresident se antwoord kan gevind word in die NLPF se implementeringsplan, die Implementation Plan: National Language Policy Framework (IP), gedateer 10 April 2003 (DKK 2003a). Onder “Objective” verklaar die Departement sy begeerte om die SA Languages Act deur die parlement goedgekeur te kry. As “Activity” word gelys die plan om die wetsontwerp by die kabinet in te dien en met die betrokke portefeuljekomitee te konsulteer onderweg na tertafellegging in die parlement. Van die “Performance Indicators” hieromtrent is goedkeuring deur die kabinet, goedkeuring deur die portefeuljekomitee, en tertafellegging as sodanig. As verantwoordelike instansie word die betrokke departement vermeld en vir elke stap word teikendatums aangedui. Tertafellegging word voorsien gedurende Augustus 2003. Die IP is ’n interne beleidsdokument wat die DKK bystaan by die implementering van die NLPF (Ministerie 2003).

Die amptelike wetsontwerp, die SA Languages Bill, kom finaal in die openbare oog op 30 Mei 2003 toe dit vir openbare kommentaar in die Staatskoerant gepubliseer word (DKK 2003b), ’n stap wat nie pertinent in die IP aangedui word nie. DKK se webblad dui 23 November 2000 as gefinaliseerde datum van die wetsontwerp aan (DKKWT 2000), terwyl die Staatskoerant 24 April 2003 aangee. Die titel van die wetsontwerp het dus opmerklik verander sedert die Tweede Taalindaba.

Op 12 Junie 2003 bied die Departement Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie ’n nasionale raadplegende konferensie in Benoni aan. By hierdie geleentheid kom die NLPF se operasionaliseringsplan, die IP, ook ter sprake. Dit is ’n dokument wat volgens die amptelike webbronne egter steeds net in konsepvorm beskikbaar is. Volgens die betrokke minister is die implementeringsdokument al by twee vorige geleenthede bespreek (DKK 2002b), maar besonderhede word nie vermeld nie. Die konferensie word in die Adjunkpresident se toespraak by ’n banketfunksie aangekondig as die National Consultative Conference on the National Language Policy Framework (Die Presidensie 2003a). Uit die openingstoespraak van die betrokke minister blyk egter dat konsultasie oor die taalwetsontwerp die hoofoogmerk met die betrokke konferensie was. Trouens, hy beklemtoon die belang van die wetsontwerp meermale tydens sy toespraak. Sy slotoproep vat sy standpunt hieromtrent treffend saam:

Taking the language policy, our plans for implementation and the advantages of multilingualism into account, please assist us in making sure that the SA Languages Bill is a true legal reflection of our intentions so that this piece of legislation indeed becomes the cornerstone for well-managed multilingualism in South Africa. (Ministerie 2003)

Ons verneem weer amptelik van die SALB in die nuwe Departement Kuns en Kultuur (DKK) se Strategiese Plan vir 2004–2007. Hierin word, interessant genoeg, as uitkoms voorsien dat die betrokke wetsontwerp tussen 2004 en 2007 in die parlement gedebatteer moes word (DKK 2004:12). Dit is ’n benadering wat ooreenkom met die vooruitskouings geopper tydens die Tweede Taalindaba wat eerder hier bo vermeld word.

In dieselfde jaar word die SALB by ’n vergadering van die sogenaamde National Language Forum (NLF) op 14 en 15 Oktober 2004 bespreek (NLF 2004). Die NLF is ’n oorlegstruktuur vir taalaangeleenthede wat ingevolge die NLPF saamgestel is en wat ongeveer jaarliks byeenkom. Die wetsontwerp is ’n prominente besprekingspunt by hierdie byeenkoms. Uit die notule van hierdie vergadering blyk dat die wetsontwerp inderdaad deur die kabinet oorweeg, maar afgekeur en terugverwys is. ’n Presiese woordelikse weergawe van die notule van hierdie vergadering lees soos volg (die numerering is ook net so oorgeneem):

2.3.2            The South African Languages Bill

Mr X Mfaxa reported on the Bill's progress.

  1. The Bill had been rejected by the Cabinet Committee and the Social and Economic Cluster Committee, since there were questions about the following:
    1. Readiness to implement the Act;
    2. gaps in the legislation that might leave government open to legal action;
    3. the cost of implementation; and
    4. possible action by the Afrikaans community.
  1. Steps to be taken by DAC
    1. There would have to be more consultation with cluster committees, MINMEC, Ministers, etc. Many of the role-players had changed after the elections, and it was important to have face-to-face discussions with them about the Bill.
    2. The LRDCs and LUs would have to communicate with language communities about the importance of multilingualism.
    3. DAC would submit the amended memorandum to Cabinet early in 2005.
    4. NLF members should focus on developing their language policies, since provincial legislation would have to follow the national Act.

Geen bespreking word genotuleer nie. Uit besprekingspunt 2(5) (sic) moet ons aflei dat voorstelle oor verdere wysigings aan die SALB wel in oorweging gebring is, maar geen dokumentasie hieromtrent is in die openbare domein beskikbaar nie.

Die kwessie van die SALB kom ook verderaan in die betrokke notule voor. Weer word die rekord oor die betrokke besprekingspunt presies aangehaal:

2.4.1            Plans of the National Language Service

The following were listed as priorities by the NLS:

  1. The SA Languages Bill [eie beklemtoning]
  2. A Language Code of Conduct for the Public Service
  3. The SALPC Bill
  4. Capacity building, e.g. bursary schemes
  5. The establishment of LUs and a national HLT facility (in cooperation with the National Research Foundation)
  6. The promotion and development of literature for the official African languages
  7. The implementation of the TISSA project
  8. The development of orthographies, spelling and editing rules for the official African languages
  9. The coordination of terminology work
  10. The planning and coordination of translation and editing
  11. The development of an interpreting policy and the setting up of infrastructure.

Prioriteit 1 bevestig dat opvolgwerk betreffende die SALB wel in die vooruitsig gestel is. Die ander prioriteite word volledigheidshalwe ook hier gelys, maar het nie noodwendig direk op ons bespreking betrekking nie.

Sedert 2004 word die SALB egter nie weer in amptelike dokumente van die DKK vermeld nie. In die Departement se gewysigde strategiese plan vir 2005–2010 kom die wetsontwerp byvoorbeeld glad nie meer as deel van doelwitte en uitkomste voor nie (vgl. DKK 2005). Ook daaropvolgende planne wat hierna beskikbaar gestel word, verswyg verwikkelinge oor die SALB (vgl. DKK 2007, 2008).

Van die opvolgwerk wat by die NLF-vergadering van Oktober 2004 in die vooruitsig gestel is, het egter skynbaar niks tereg gekom nie. Uit dokumentasie wat Cornelus Lourens vir die hofsaak van 8 Maart 2010 ingedien het, verneem ons dat die Kabinet uiteindelik ’n finale besluit geneem het om die SALB heeltemal te onttrek (Lourens vs. Die President van die Republiek van Suid-Afrika e.a. 2010). Hierdie besluit is op 25 Julie 2007 geneem en lui soos volg:

The Minister of Arts and Culture must consult further with the Minister of Justice and Constitutional Development with a view to exploring alternative non-legislative ways of dealing with the matter and to assess the intended and unintended consequences of the various options. The bill should not be forwarded to parliament as a bill and it will have to be removed from the Portfolio Committee of Arts and Culture programme as a bill.

Die besluit bevestig dat ’n verskuiwing in denke plaasgevind het en dat die NLPF nou as “non-legislative” alternatief vir die SALB beskou word. In terme van die benadering tot taalwetgewing wat in hierdie artikel gevolg word, kan die NLPF inderdaad as wetgewende meganisme beskou word, weliswaar as aanvullende wetgewing, met ander woorde wetgewing wat deur die uitvoerende gesag gepubliseer word (Du Plessis 2009). Dit spreek vanself dat die seggingskrag daarvan minder is omdat die NLPF nie deur die parlement as wetgewing gepasseer is nie. Ons kan dit dus nie as ’n tipiese nasionale taalwet in die eng sin van die definisie hier bo beskou nie.

Ofskoon ’n meer grondige ondersoek na die wel en wee van die SALB waarskynlik verdere perspektiewe na bowe kan bring, is dit veilig om in hierdie stadium aan te neem dat die NLPF inderwaarheid die SALB as wetgewende meganisme vervang het. Dit wil dus lyk asof presies die teenoorgestelde gebeur het as wat die Adjunkpresident in 2003 in sy antwoord by die Nasionale Raad van Provinsies bedoel het. Sy volledige antwoord lui: “(2) It is envisaged that the National Language Policy Framework will be embodied in legislation as the SA Languages Act, which will be tabled in Parliament before the end of the year” (Die Presidensie 2003b).

Die betrokke plan is mettertyd laat vaar, omdat die NLPF uiteindelik as voldoende wetgewende meganisme begin sien is. Dit blyk beslis uit ’n toespraak van die eerste ANC-minister van die nuwe DKK, Pallo Jordan, op 21 Junie 2006 oor sy departement se bevordering van die Afrikatale (Ministerie 2006). Hy verwys spesifiek na hulle aksieplanne oor die volgende drie jaar (2006–2009), wat die NLPF insluit. Opvallend is egter dat hy hulle aksieplanne vir die NLPF uitdruk in die tipiese bewoording van die wetgewende opdrag van Artikel 6(4) van die 1996-Grondwet:

The programme of action entails the following pivotal projects:
* The establishment of nine Language Research and Development Centres for African languages. The purpose is to decentralise language development and locate it close to communities that speak those languages.
* The South African Language Practitioners Bill to regulate and professionalise language work.
* The National Language Policy Framework (NLPF) of 2003 to regulate the use of all official languages in government institutions and to promote multilingualism.
* The establishment of the National Language Forum (NLF) across all three tiers of government to bring together language workers within government.
* The Department of Arts and Culture’s national language services which continues to offer translation and editing services to all national government departments.
* The establishment of the Human Language Technologies Unit (HLTU) within the Department to facilitate communications between citizens and information systems in people’s own languages. This will entail the co-ordination, development and production of technical vocabularies (terminologies) by the Department to promote the use of all official languages in all the fields and domains of study including mathematics, science and technology. During 2005 the Department of Arts and Culture (DAC) launched nine of these at a ceremony in Boksburg (Ministerie 2006 – eie beklemtoning).

Hierdie verskuiwing binne regeringskringe het eintlik ongesiens plaasgevind en dit is nie moontlik om in openbare dokumente ’n amptelike standpunt daaromtrent te kry nie. Dit wil dus voorkom asof die laatvaarding van die wetsontwerp saamval met die koms van ’n ANC-minister in die persoon van Pallo Jordan by die DKK in 2004. Dit was ook die jaar waarin hierdie nuwe departement gevorm is (DKK 2006). Tot hiertoe was die betrokke portefeulje nog altyd toegeken aan ’n senior lid van ’n opposisieparty. Verdere ondersoek hieromtrent behoort beslis bykomende perspektiewe op te lewer.

Die verwikkelinge wat die SALB betref, word ter wille van gemaklike oriëntasie vervolgens in tabelvorm opgesom:

Tabel 2: Opsomming van die vernaamste verwikkelinge betreffende die SALB

4.2 Inhoud

Die bespreking wat volg, word gebaseer op die weergawe van die SALB wat op 30 Mei 2003 vir kommentaar in die Staatskoerant gepubliseer is (vgl. DKK 2003b).

Inhoudelik bevat die SALB die items hier onder gelys. Gemaklikheidshalwe word die betrokke Staatskoerant se bladsynommers by die verskillende artikels aangedui. Die konsepwet is nie in Afrikaans of enige van die ander ampstale beskikbaar nie:

Suid-Afrikaanse Talewetsontwerp (Hersiene en finale konsep 24 April 2003)
Aanhef (p. 30)

  1. Definisies (p. 31)
  2. Oogmerke (p. 32)
  3. Riglynbeginsels (p. 33)
  4. Toepassing en vertolking (p. 34)
  5. Taalbeleid (p. 35)
  6. Taaleenhede (p. 36)
  7. Magte en funksies van taaleenhede (p. 37)
  8. Ontwikkeling van inheemse tale en Suid-Afrikaanse Gebaretaal/-tale (p. 38)
  9. Samewerking (p. 38)
  10. Verslae (p. 39)
  11. Remedies (p. 40)
  12. Regulasies (p. 42)
  13. Kort titel en inwerkingtreding (p. 42).

In terme van die beginsels van taalwetgewing hier bo bespreek, ressorteer Artikels 2–4 en 9 onder grondliggende beginsels, Artikels 5 en 8 onder beginsels oor ampstaalgebruik en Artikels 6 en 7 en 10–12 onder beginsels met betrekking tot instrumente. Die bespreking hier onder volg hierdie indeling. Kruisverwysings is na die 1996-Grondwet (RSA 1996a). Alle ander is na die SALB.

4.3 Grondliggende beginsels

Die SALB bevat twee kardinale stelle grondliggende beginsels: oogmerke van die wetgewing, en ’n aantal riglynbeginsels.

Die hoofoogmerk met die wetsontwerp (Artikel 2(d)) is om ’n regulatiewe raamwerk daar te stel vir die fasilitering van die effektiewe implementering van die grondwetlike verpligtinge vir meertaligheid. Twee verdere oogmerke sluit hierby aan: (Artikel 2(a)) om effek te gee aan die “letter en gees” van Artikel 6 van die grondwet en (Artikel 2(b)) om die gelykwaardige gebruik van die ampstale te bevorder. Saam hou hierdie oogmerke grootliks verband met ’n oorhoofse strewe na amptelike meertaligheid, ofskoon die begrip amptelike meertaligheid vaag en ongedefinieerd gelaat word. ’n Derde oogmerk staan ietwat los hiervan, aangesien dit in die oog het om Suid-Afrikaners in staat te stel om die amptelike tale van hulle keuse te kan gebruik, “as a matter of right” (Artikel 2(c)). Die enigste eksplisiete ampstaalkeusereg wat in die Suid-Afrikaanse grondwet voorkom, het betrekking op keuse van onderrigtaal in Artikel 29(2) van die grondwet. Waarskynlik gaan die betrokke oogmerk daarvan uit dat ’n meertalige ampsbestel implisiete taalkeuseregte meebring.

 ’n Aantal riglynbeginsels word ook uitgespel met die duidelike verstandhouding dat hulle hoofsaaklik op staatsinstansies betrekking het. Hierdie riglynbeginsels sluit aan by die breë oogmerk om amptelike meertaligheid te bevorder en bou ook, soos in die vorige geval, nie voort op die grondwetlike opdrag vir die monitering en regulering van die staat se gebruik van die ampstale nie. Nietemin skep die riglyne ’n taalhanteringsraamwerk waarbinne die strewe na amptelike meertaligheid bereik kan word.

Die riglyne bevat taalbevorderingsbeginsels en taalbestuursbeginsels. Onder taalbevorderingsbeginsels kan getel word die bevordering van taaldiversiteit en taaltoleransie (Artikel 3(1)(a)), die gebruik van die inheemse tale (Artikel 3(1)(b)) en die aanleer van Suid-Afrikaanse tale. Onder taalbestuursbeginsels kan gereken word deelnemende meertaligheidsmeganismes (Artikel 3(1)(e)), interregeringsamewerking (Artikel 3(1)(f)) en die bevordering van solidariteitsgeoriënteerde taalregte (Artikel 3(1)(c)).

Die kwessie van toepassing en vertolking is ’n derde stel grondliggende beginsels wat in die SALB vervat word. Artikel 4 is eksplisiet dat die beoogde taalwet absoluut bindend is op die staat en ander openbare instellinge en dat enige vertolking daarvan in terme van die grondwet en die SALB se eie oogmerke (Artikel 2) gemaak moet word. Ook verseker die betrokke artikel dat die beoogde taalwet voorkeur kry waar inkonsekwente taalbepalings in ander wetgewing voorkom. Hierdie bepalings verseker dat die beoogde taalwet inderdaad ’n nasionale taalwet word.

’n Laaste grondliggende beginsel hou verband met samewerking. Artikel 9 bevat enkele bepalings hieromtrent. Die reëlings wat hier geformuleer word, word veral gemik op die uitskakeling van duplisering van funksies. Spesifiek word moontlike duplisering van die werksaamhede van Pansat in die oog gehou – Pansat het ingevolge Artikel 8 van sy wet ook ’n moniteringsfunksie vir die erkenning van taalregte en die uitvoer van taalbeleid (vgl. PanSALB 2001).

4.4 Beginsels in verband met ampstaalgebruik

Artikel 5 van die SALB maak eintlik die kern uit van die beoogde taalwet. Hier word in meer besonderhede uitgespel wat met amptelike meertaligheid bedoel word en meer definitiewe bepalings word oor ampstaalgebruik geformuleer.

Twee spesifieke bepalings word geformuleer, een met betrekking tot ampstaaldomeine en die ander met betrekking tot die rotering van ampstale. Wat betref ampstaaldomeine, identifiseer die SALB die wetgewende, uitvoerende en geregtelike domeine, op beide nasionale en provinsiale vlak, as geteikende domeine vir die implementering van die voorgenome en ietwat kontroversiële rotasiestelsel (Artikel 5(5)). Die bedoeling is dat minstens ses amptelike tale in geskrewe dokumentasie binne hierdie domeine gebruik sal word en die betrokke minister verkry die mag om selfs die gepaste dokumentasie te klassifiseer (Artikel 5(6)). Wat betref die rotasiestelsel, voorsien die SALB dat altyd minstens ses amptelike tale vir skriftelike doeleindes binne hierdie domeine gebruik sal word. Vier van die aangewese ses tale moet altyd teenwoordig wees, terwyl die twee ander op ’n roterende stelsel aangewys word vanuit twee taalgroepe, soos in Artikel 5(3) aangedui:

(3)(a) The languages referred to in subsection (2) are –
(i) Tshivenda
(ii) Xitsonga
(iii) Afrikaans
(iv) English
(v) At least one from the Nguni group (isiNdebele, isiXhosa, isiZulu and siSwati)
(vi) At least one from the Sotho group (Sepedi, Sesotho, Setswana).

Die vroeëre weergawe van die wetsontwerp wat by die Tweede Taalindaba in Durban bespreek is, het konsekwent met vier taalgroepe gewerk, te wete ’n Nguni-groep, ’n Sotho-groep, ’n "minderheidstaalgroep", Tshivenda/Xitsonga en ’n "Germaanse groep", Engels/Afrikaans (DKKWT 2000). Eintlik bevat die 2003-weergawe van die wetsontwerp nou ’n afgewaterde en semirotasiestelsel wat streng gesproke op ’n ongelyke hantering van die ampstale neerkom. Dit is belangrik om daarop te let dat die NLPF dieselfde voorskrifte oor rotasie bevat (vgl. DKK 2002c).

Nietemin vereis Artikel 5(2) van die SALB dat hierdie semirotasiestelsel slegs gebruik sal word in gevalle waar dit nie haalbaar is om regeringsdokumente in al elf ampstale te voorsien nie. Beide reëlings word egter verder versag deurdat ’n staatsinstelling in ieder geval hierdie verpligtinge kan ontkom deur ’n gemotiveerde alternatiewe beleid te volg “in the interest of effective governance or communication”.

Die ontwikkeling van die inheemse tale van Suid-Afrika sowel as Suid-Afrikaanse Gebaretaal/-tale is ’n laaste beginsel wat ampstaalgebruik betref. Artikel 8 van die wetsontwerp gee aan die minister opdrag om maatreëls dientengevolge in te stel. Spesifieke opdragte is om prioriteitsareas te bepaal, steun aan bestaande strukture wat by ontwikkeling betrokke is, te verleen, nuwe strukture en programme vir die betrokke tale op die been te bring en ook oorgrens-ontwikkelingsprojekte te ondersteun.

As voetnoot moet egter net in gedagte gehou word dat Suid-Afrikaanse Gebaretaal slegs binne onderwyskonteks "amptelike" status geniet, soos bepaal deur Artikel 6(4) van die Suid-Afrikaanse Skolewet: “6.(4) A recognised Sign Language has the status of an official language for purposes of learning at a public school” (RSA 1996b).

4.5 Beginsels betreffende instrumente

Naas die instel van die semirotasiestelsel van ampstale wat hier bo bespreek is, kom die SALB met ’n belangrike regsinstrument in die vorm van Taaleenhede (“Language Units”) as tweede uitstaande kenmerk. Artikel 6 van die wetsontwerp bepaal dat sulke eenhede binne vyf jaar opgerig sal word en Artikel 7 bevat bepalings oor hulle magte en funksies. Die bedoeling is om die Taaleenhede in al die staatsdepartemente asook in die provinsies (ooreenkomstig hulle eie taalwetgewing) op te rig.

Aansienlike magte word aan die Taaleenhede toegeken. Eerstens kry hulle ’n implementeringfunksie. Dit word gerealiseer deur die fasilitering en monitering van die implementering van regulasies (Artikel 7(a)) en deur die tref van “effektiewe en positiewe” maatreëls vir die implementering van nasionale taalbeleid (Artikel 7(b)), veral met betrekking tot interne en eksterne kommunikasie, skriftelik sowel as mondeling. Tweedens word ’n evalueringsfunksie aan hulle toegeken. Hulle word getaak om taalopnames en -ouditte uit te voer ten einde die gepastheid van bestaande beleid en praktyk te beoordeel met die oog op regstellende aanbevelings. Derdens het hulle ’n dissemineringsfunksie. Van die Taaleenhede word verwag om die publiek in te lig oor die inhoud en implementering van taalbeleid binne die staat. Vierdens word van hulle oor die algemeen verwag om alles verder te doen wat nodig is om hulle mandaat uit te voer.

Naas die Taaleenhede is ’n aantal remedies die tweede belangrike wetgewende instrument wat die SALB daarstel. Artikel 11 van die wetsontwerp bevat ’n sestal bepalings hieromtrent. Enige persoon of instansie mag die hof nader om ’n gepaste remedie te verkry waar die beweerde skending van ’n taalreg of taalbeleid of taalpraktyk (sic) voorkom. Sodanige skending moet verband hou met die nienakoming van verpligtinge vervat in die betrokke wetsontwerp en die NLPF, asook met die nienakoming van Pansat se aanbevelinge, besluite en bevindinge.

Regulasies, die normale en logiese uitvloeisel van enige wetgewing, is die derde instrument wat die SALB spesifiek vermeld. Ofskoon die vermelding van hierdie instrument in die betrokke wetsontwerp as ietwat oorbodig beskou kan word, is die inbring daarvan wel betekenisvol. Artikel 12 van die wetsontwerp bevat bepalinge hieromtrent. Die betrokke minister mag eerstens, soos ook by ander wetgewing, gewoon enige regulasies in terme van die beoogde wetgewing uitvaardig. Die minister mag tweedens ook as heel spesifieke regulasie ’n taalgedragskode vir staatsamptenare uitvaardig. Die minister mag derdens ook enige ander meganismes deur middel van regulasies instel ten einde die effektiewe afdwinging van die wetsontwerp te verseker. Alleen word die minister in die uitvaardiging van regulasies beperk deurdat al die regulasies, en spesifiek dié met finansiële implikasies, in konsultasie met die gepaste rolspelers bedink word.

Verslaggewing is ’n vierde wetgewende instrument wat in die vooruitsig gestel word. Artikel 10 van die wetsontwerp bepaal dat verslag aan onderskeidelik die parlement deur departementele Taaleenhede, die provinsiale wetgewers en Nasionale Raad van Provinsies deur provinsiale Taaleenhede of aan Pansat gedoen moet word. Die kruks van die betrokke bepalings rus by die verpligting wat alle instansies op wie verslae betrekking het, opgelê word om by verdere implementeringsmaatreëls met die inhoud daarvan rekening te hou (Artikel 10(3)).

Buiten die feit dat die verslagreëlings openbaarmaking en deursigtigheid verseker, word die instrument verder versterk deur spesifieke verslagvereistes. Daar moet verslag gedoen word oor die nakoming van die verpligtinge wat deur die betrokke wetgewing opgelê word, oor die aard van taalverwante taalklagtes deur die publiek, en oor probleme en korrektiewe optrede wat met die implementering van die betrokke wetgewing ervaar word. Hierbenewens word aanbevelings, waar nodig, gedoen en enige ander sake betreffende die bevordering van (amptelike) meertaligheid aangeroer.

 

5. Bespreking

Die SALB bevat dus verskeie van die hoofelemente van ’n taalwet soos wat dit neerslag vind in die sosiolinguistiese beginsels van taalwetgewing wat in hierdie artikel aan die orde gestel word.

Weliswaar word van die kern grondliggende beginsels ietwat vaag verwoord en makeer ’n duidelike en gespesifiseerde verbintenis tot amptelike meertaligheid. Nietemin word meertaligheid oor die algemeen as nasionale ideaal voorgehou en word selfs ideale oor die verwerwing van inheemse tale daargestel.

’n Opvallende leemte is egter dat die aard van die ampstaalbestel nie omskryf word nie. Die taalwette van die Baltiese state is in vergelyking hiermee baie eksplisiet. In al drie gevalle word amptelike eentaligheid nagestreef, en eentaligheid word gekoppel aan die opheffing van die nasionale tale. Implisiet vervang die nuwe eentalige ampsbestel aldaar die amptelike tweetalige bestel van die Russiese era. Amptelike eentaligheid het dus in hulle geval die verskansing van die status van die voorheen gemarginaliseerde nasionale taal ten doel (vgl. Hogan-Brun et al. 2009:75). In die Suid-Afrikaanse geval word skynbaar afgestap van die bestel van statutêre tweetaligheid, die oorheersende beginsel onder die vorige bestel (Du Plessis 2009), en oorbeweeg na ’n nuwe ampstaalbestel waar die voorheen gemarginaliseerde ampstale nou effektief die nasionale prioriteitstale geword het. Enige omskrywing van amptelike meertaligheid, ’n konsep wat tans afwesig is, sou, gegewe Du Plessis (2004) se redenasie, dus naas Engels en Afrikaans ’n derde taal uit hierdie kategorie tale moes insluit. "Amptelike drietaligheid" sou ’n konkreter ampstaalbeskrywing kon gewees het.

’n Verdere leemte by die gestelde oogmerke is die afwesigheid van ’n direkte koppeling tussen taalwetgewing en die monitering en regulering van die staat se gebruik van die amptelike tale soos wat in Artikel 6(4) van die grondwet vereis word. In plaas daarvan word die regulering van meertaligheid ten doel gestel, ’n oogmerk wat eintlik nie eksplisiet in die grondwet voorkom nie.

Wat betref die beginsels van ampstaalgebruik, word inderdaad kardinale taalgebruiksdomeine (wetgewend, uitvoerend, geregtelik) afgebaken en ampstaalaanwending binne hierdie domeine wel gespesifiseer. Dit is domeine wat gedeeltelik verband hou met die beginsel van kommunikasie met die burgery. Die formule wat in die semirotasiestelsel voorgestel word, skyn onwerkbaar te wees. Indien dit al moeilik in die vorige bestel was om tweetaligheid te handhaaf, des te meer onbereikbaar is die strewe na sestaligheid. Semirotering lyk grootliks in konflik te wees met die haalbare soort taalbestel wat in die grondwetlike taalbepalings veronderstel word. Enige sobere vertolking van die taalbepalings van die grondwet gaan moeilik daarop uitloop dat absolute elftaligheid, of wat dit betref, sestaligheid, in die vooruitsig gestel word (vgl. Pretorius 1999). Verder blyk domeinbenutting vir die betrokke tale in ieder geval beperk te wees tot geskrewe kommunikasie.

Problematies omtrent die domeinafbakening is die opsigtelike afwesigheid van die kerndomeine wat byvoorbeeld in die Baltiese taalwetgewing sentraal voorkom, te wete kommunikasie met die burgery, taal van onderrig en linguistiese aspekte van immigrasie. Die SALB slaag nie daarin om vir enigeen van hierdie domeine voorskrifte te biednie. Veral opsigtelik afwesig is voorskrifte oor amptelike taalsigbaarheid, een van die kernelemente van die sukses van die Baltiese taalwette, soos ter aanvang aangetoon is. Die belang van die aanleer van die amptelike tale kan ook meer eksplisiet en voorskriftelik gestel word en nie net as iets wat aangemoedig moet word soos tans die geval is nie. Taalvereistes vir burgerskapverkryging is ook afwesig.

Nietemin staan die ontwikkeling van die inheemse tale, met inbegrip van die Suid-Afrikaanse Gebaretale, voorop as element van die bevordering van meertaligheid binne amptelike taaldomeine. As sodanig kom die betrokke beginsel dus ooreen met soortgelyke beginsels wat by die Baltiese taalwette aangetref word betreffende die hervestiging van hulle nasionale tale. In die Suid-Afrikaanse geval gaan dit egter eerder oor die uitbreiding van die nasionale prioriteitstale en eintlik oor hulle vestiging op nasionale vlak. Artikel 3(2) van die 1993-Grondwet (RSA 1993) het hierdie beginsel raak geformuleer:

3. (2) Rights relating to language and the status of languages existing at the commencement of this Constitution shall not be diminished, and provision shall be made by an Act of Parliament for rights relating to language and the status of languages existing only at regional level, to be extended nationally in accordance with the principles set out in subsection (9). [Eie beklemtoning]

By die 1993-Grondwet was as nasionale oogmerk gestel ’n balans tussen behoud van status vir bestaande ampstale en uitbreiding van status vir nuwe ampstale op nasionale vlak, ’n oogmerk waaroor die SALB bepalings kon bevat het. Die SALB is dus nie eksplisiet genoeg wat betref die strewe na taalverheffing vir die inheemse tale nie. Weer eens sou die nastreef van amptelike drietaligheid as beginsel hierdie dilemma kon ondervang het. Saamgelees met die gebrekkige omskrywing van amptelike meertaligheid openbaar die betrokke wetsontwerp ernstige leemtes as nasionale taalwet wat betref die nakoming van die eerste twee stelle beginsels van taalwetgewing.

Wat beginsels oor instrumente betref, vaar die SALB goed. ’n Implementeringsmeganisme word ingebou in die vorm van Taaleenhede vir staatsdepartemente en provinsies. Hierdie Taaleenhede verkry voldoende magte en verrig in samehang met Pansat sekerlik die ekwivalente funksies van tipiese sentrale staatstaalinstansies soos dié van die Baltiese state (vgl. Hogan-Brun et al. 2009:79–83). Die gespesifiseerde regulasiemagte vir die betrokke minister versterk die seggingskrag van die SALB verder saam met die verpligting oor verslagdoening.

’n Problematiese aspek betreffende die eerste twee elemente wat al tydens die Tweede Taalindaba na vore gekom het, is die kwessie van die moontlike duplisering van Pansat se funksies (vgl. Beukes 2001:91–3). In vergelyking met die taalwette van ander lande, soos die Baltiese state, voldoen Pansat meer direk aan die beskrywing van ’n “taalinstelling” wat toesig hou oor die implementering van taalbeleid en ook monitering daaromtrent doen. So ’n taalwaghondrol deur ’n (verkieslik outonome) statutêre instelling met gepaste magte hou vanselfsprekende voordele in, onder meer ’n onbetrokke blik op sake, die spreekwoordelike "armlengte"-bestuur van taalsake, kundige menings, ens. Die inskakeling van die Taaleenhede onder Pansat se vleuels sou hierdie dilemma kon oplos en die posisie van die betrokke minister eintlik kon beveilig het – sy kabinetskollegas sou hom/haar maklik kon begin verdink het van magsbeheptheid en van ’n oormatige strewe na kontrole van en beheer oor die taalagenda.

Ten spyte van die gemelde gebreke toon die analise hier bo dat die uiteindelike wet wat uit die SALB kan voortvloei beslis as ’n tipiese nasionale taalwet getakseer kan word. ’n Hele aantal van die kernbeginsels van taalwetgewing kom voor in hierdie eerste poging tot ’n Suid-Afrikaanse taalwet. As sodanig is dit ’n belangrike meganisme vir die implementering van ’n nuwe meertalige ampstaalbestel in Suid-Afrika, soos wat minister Ben Ngubane, die dryfveer agter die wetgewing, inderdaad destyds raak opgemerk het: “(T)he SA Languages Bill is a true legal reflection of our intentions so that this piece of legislation indeed becomes the cornerstone for well-managed multilingualism in South Africa” (Ministerie 2003).

 

6. Slotsom

Hierdie artikel het voortgebou op die werk van Maurais (1991, 1997) wat sosiolinguistiese beginsels vir taalwetgewing begin ontwikkel het, deur verdere beginsels van ander outeurs te betrek. Die uitgebreide tipologie wat hier voorgestel word, blyk ’n nuttige basis vir die beskrywing en uiteindelik ook vergelyking van taalwetgewing te wees. Eersgenoemde is geïllustreer aan die hand van ’n analise van die SALB. Die tipologie maak dit moontlik om op beginselbasis sterk en swak punte in taalwetgewing bloot te lê wat nuttig kan wees vir besluitnemers. Ook verbeter die tipologie ons begrip van die verskynsel taalwetgewing en die rol daarvan as intervensiemeganisme by taal. Wat oorbly, is om ’n indringende vergelykende studie te onderneem waar Suid-Afrika se beoogde taalwet met die nasionale taalwette van ander lande bekyk word.

Daar is ook nie in hierdie artikel in besonderhede aandag gegee aan die kontekstuele beginsels van die tipologie van taalwetgewing nie. ’n Verdere ondersoek behoort bykomende perspektiewe hieromtrent na vore te bring, veral in die lig van die saak oor die SALB waarna ter aanvang van hierdie artikel verwys is. Dit blyk byvoorbeeld uit die aanloop tot die SALB dat daar belangrike verskuiwings in die gedagtegang van besluitnemers plaasgevind het oor die noodsaak aan staatsintervensie en gepaardgaande wetgewende maatreëls by die uitwerk van ’n nuwe meertalige bestel vir Suid-Afrika. Verder kom vrae uit die oorsig na vore oor die mate van konsensus wat in regeringskringe bestaan oor die inhoud van en noodsaak aan taalwetgewing vir Suid-Afrika. Ook wil dit lyk asof daar ’n mate van eenstemmigheid bestaan oor die noodsaak aan sigbare verandering in die taalbestel, maar die gegewens hier bo suggereer dat ook hieroor nog nie vaste riglyne bestaan nie.

Aangesien sukses elders ter wêreld met taalwetgewing behaal word, ontstaan die onvermydelike vraag watter rol die afwesigheid van ’n nasionale taalwet vir Suid-Afrika speel by die skynbare oorbeweeg na ’n bestel waar Engels ’n soort supra-ampstaal word, of soos Fessha (2009) suggereer, “the unofficial official language”. Ook ontstaan die vraag of die promulgering van die SALB as taalwet inderdaad nog iets aan hierdie verwikkeling kan verander. Hierdie vraag is uiteraard relevant gesien die feit dat die NLPF baie van die kernelemente van die SALB bevat en effektief die SALB as konsep-taalwetgewing vervang het. Wat skort dan met die implementering van die NLPF wat deur ’n taalwet reggestel sou kon word? Hierdie soort vrae handel oor taalwetgewing as taalbeleidsmeganisme en verg uiteraard verdere ondersoek.

’n Vraag wat ten besluite nog nie na behore aan die orde gekom het nie, is wat geword het van die momentum om ’n nuwe taalbestel te vestig wat na 1994 die taalbeleidsdiskoers in Suid-Afrika oorheers het. Die oorsig hier bo reflekteer tekens daarvan, maar dit wil voorkom asof die entoesiasme daaroor sedert die oorname van die nasionale taalportefeulje deur ’n ANC-minister sigbaar aan die taan is. In ieder geval impliseer dit dat ’n diskoersverandering sedertdien plaasgevind het waarvan waarskynlik nog nie na behore kennis geneem is nie.

Die hantering op nasionale vlak van die standaardisering van geografiese name bied ’n moontlike greep op hierdie veranderde diskoers. Dit wil voorkom asof die verheffing van die nasionale prioriteitstale van Suid-Afrika beslis hier voorop staan, vandaar die strewe na die herbenoeming van skynbaar problematiese geografiese entiteite met “inheemse" name. Soos in die geval van die Baltiese state lei die uitkomste van hierdie vorm van taalverheffing egter effektief tot nuwe vorme van amptelike eentaligheid. Suid-Afrika se nuwe en veranderde geografiese name bly uiteindelik essensieel eentalig – Ellisras word Lephalale, Nylstroom word Modimolle, ensovoorts. Ons sien dus nog nie ’n daadwerklike en georkestreerde poging om ook op hierdie terrein amptelike twee- of drietaligheid deur nie-eentalige geografiese name te vestig nie.

In die SALB-hofgeding maak regter Du Plessis die volgende bevel:

Dit word verklaar dat die nasionale regering in versuim is om ingevolge artikel 6(4) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 deur wetgewende en ander maatreëls die nasionale regering se gebruik van amptelike tale te reël en te monitor (Lourens vs. Die President van die Republiek van Suid-Afrika e.a. Uitspraak 2010).

Voorts beveel hy dat die minister van Kuns en Kultuur binne twee jaar vanaf die datum van sy bevel ’n regstelling hieromtrent moet maak. Aangesien hy nie opdrag gegee het dat die SALB as nasionale taalwet gepromulgeer word nie, laat dit die vraag ontstaan oor watter "wetgewende apparatuur" die betrokke minister kan aktiveer om aan die bevel gehoor te gee. In die lig van die voorgaande sou sy wys wees indien sy kers gaan opsteek by ander lande waar sukses behaal word met die daarstel van nuwe taalregimes. Dit is lande wat die waarde van ’n nasionale taalwet as sentrale wetlike intervensie ingesien het. Naas die simboliese belang van ’n nasionale taalwet is dit wetgewing wat sigbare veranderinge ooreenkomstig die nasionale ideale van die land kan bewerkstellig. Ons analise het getoon dat die SALB as wetsontwerp wel oorwegend voldoen aan die vereistes van ’n nasionale taalwet. Die leemtes wat bestaan, sou in ’n hernieude beraadslagingsronde reggestel kon word. Ook hier kan Suid-Afrika by andere leer.

’n Saak kan uiteindelik dus uitgemaak word vir die heroorweging van die SALB as nasionale taalwet vir Suid-Afrika ten einde uitvoer te gee aan die grondwetlike opdrag dat die regering sy gebruik van amptelike tale sal reël en monitor deur middel van wetgewende en ander maatreëls.

 

Bibliografie

Alexander, N. 2001. Presentation of Language Policy and Plan for South Africa. In NTD 2001.

—. 2004. The politics of language planning in post-apartheid South Africa. Language Problems & Language Planning, 28(2):113–30.

—. 2005. Language, class and power in post-apartheid South Africa. Summary notes. Ongepubliseerde referaat gelewer by die Harold Wolpe Memorial Trust open dialogue event. 27 October. Kaapstad.

Associated Press. 1996. MSNBC World News / Europe. 2009. New language law in Slovakia sparks tensions. Hungarian minority says it fears being singled out. 16 September. http://www.msnbc.msn.com/id/32881272. (8 Maart 2010 geraadpleeg)

Baldauf, R.B. en R.B. Kaplan (reds.). 2008. The Baltic States, Ireland and Italy. Clevedon: Multilingual Matters.

Beukes, A-M. 2004. The first ten years of democracy: Language policy in South Africa. Ongepubliseerde referaat gelewer by die Xth Linguapax Congress on Linguistic Diversity, Sustainability and Peace. 20–23 Mei, Barcelona, Spanje.

—. 2006. Translation in South Africa: the politics of transmission. Southern African Linguistics and Applied Language Studies, 24(1):1–6.

Beukes, V. 2001. Presentation of Language Policy Draft Bill. In NTD 2001.

Canada. 1969, Official Languages Act. Kanada: Departement van Justisie.

—. 1985. Official Languages Act. R.S., 1985, c. 31 (4th Supp.). Kanada: Departement van Justisie.

Chevrier, M. 2003. A language policy for a language in exile. In Larrivée (red.) 2003.

Coulmas, F. 2005. Changing language regimes in globalizing environments. International Journal of the Sociology of Language, 175/176:3-15.

Desai, Z. 2001. Multilingualism in South Africa with particular reference to the role of African languages in education. International Review of Education, 47(3–4):323–39.

DKK (Departement Kuns en Kultuur). 2000. Language Policy and Plan for South Africa. Pretoria: Departement Kuns en Kultuur.

—. 2002a. Address by Dr Ben Ngubane, Minister of Science and Technology and of Arts and Culture, media briefing, 3 December 2002. Pretoria: Departement Kuns en Kultuur.

—. 2002b. Minister of Arts, Culture, Science and Technology Dr Ben Ngubane to address the media on the National Language Policy Framework. Persverklaring. Pretoria: Departement Kuns en Kultuur.

—. 2002c. National Language Policy Framework. Final Draft. 13 November 2002. Pretoria: Departement Kuns en Kultuur.

—. 2003a. Implementation Plan: National Language Policy Framework. Draft. 13 and 14 February 2003. Pretoria: Departement Kuns en Kultuur.

—. 2003b. South African Languages Bill. Revised final draft 24 April 2003. Staatskoerant, 30 Mei 2003, Kennisgewing 1514 van 2003. Pretoria: Departement Kuns en Kultuur.

—. 2004. Department of Arts and Culture: Strategic Plan 1 April 2004 – 31 March 2007. http://www.info.gov.za/view/DownloadFileAction?id=82709. (23 Februarie 2010 geraadpleeg)

—. 2005. Department of Arts and Culture: Strategic Plan 1 April 2005 – 31 March 2010. http://www.info.gov.za/view/DownloadFileAction?id=82605. (23 Februarie 2010 geraadpleeg)

—. 2006. Former Minister's Profile. Dr Zweledinga Pallo Jordan. http://www.dac.gov.za/minister_Jordan.htm. (9 Maart 2010 geraadpleeg)

—. 2007. Department of Arts and Culture: Strategic Plan 2007–2010. Pretoria: Departement Kuns en Kultuur.

—. 2008. Department of Arts and Culture: Strategic Plan 1 April 2008/09 - 31 March 2010/11. Pretoria: Departement Kuns en Kultuur.

DKKWT (Departement Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie). 1996. Towards a national language plan for South Africa. Final report of the Language Plan Task Group (LANGTAG). Pretoria: Departement Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie.

—. 1998a. A Language Plan for South Africa. Preparing for a multilingual future. June 1998. Pretoria: Departement Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie.

—. 1998b. Annual report. Pretoria: Departement Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie.

—. 1999a. Draft White Paper on Language. Pretoria: Departement Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie.

—. 1999b. Language Plan for South Africa. The Promotion and Implementation of Multilingualism. Pretoria: Departement Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie.

—. 2000. Language Policy for South Africa Bill, 2000. First draft (as in March 2000). Pretoria: Departement Kuns en Kultuur, Wetenskap en Tegnologie.

Die Presidensie. 2003a. Toespraak gelewer deur adjunkpresident Zuma aan die Banquet of the National Consultative Conference on the National Language Policy Framework, Kopanong Conference Centre, Benoni, 12 Junie. Pretoria: Die Presidensie.

—. 2003b. Reply from Deputy President Zuma to questions for oral reply in the national council of provinces, 18 March 2003. http://www.info.gov.za/speeches/2003/03031816461002.htm. (25 Februarie 2010 geraadpleeg)

Dunbar, R. 2005. The Gaelic Language (Scotland) Act. The Edinburgh Law Review, 9:466-79.

Du Plessis, T. 2003. On the way to a Babelised reality? Critical perspectives on language policy development in South Africa. Intreerede gelewer by die Universiteit van die Vrystaat op 13 Augustus 2003. Bloemfontein: Eenheid vir Taalbestuur, Universiteit van die Vrystaat.

—. 2004. Meertaligheid en regering in Suid-Afrika: ’n Ondersoek na die implementering van die Taalklousule in die Staatsdiens. In Kriel (red.) 2004.

—. 2009. Taalwetgewing in Suid-Afrika. LitNet Akademies, 6(3):132-54.

Erasmus, M. (red.). 1999. Liaison interpreting in the community. Pretoria: Van Schaik Uitgewers.

Extra, G. en D. Gorter (reds.). 2008. Multilingual Europe: Facts and policies. Berlyn/New York: Mouton de Gruyter.

Fessha, Y.T. 2009. A tale of two federations: Comparing language rights in South Africa and Ethiopia. African Human Rights Law Journal, 9:501–23.

Foucher, P. 2007. Legal environment of official languages in Canada. International Journal of the Sociology of Language, 185:53–69.

Garibova, J. en M. Asgavora. 2009. Language policy and legislation in post-Soviet Azerbaijan. Language Problems & Language Planning, 3(33):191–217.

Government of Québec. 1977. Bill 101, Charter of the French Language. Québec: Editeur Officiel du Québec.

Grin, F. 1991. The Estonian language law: Presentation with comments. Language Problems & Language Planning, 15(2):191–201.

Hogan-Brun, G. 2007. Language-in-education across the Baltic: policies, practices and challenges. Comparative Education, 43(4):553–70.

—. 2008. Language constellations across the Baltic Republics. In Extra en Gorter (reds.) 2008.

Hogan-Brun, G., U. Ozolins, M. Ramonienė en M. Rannut. 2008. Language politics and practice in the Baltic States. In Baldauf en Kaplan (reds.) 2008.

—. 2009. Language politics and practices in the Baltic states. Tallinn: Tallinn University Press.

Huws, C.F. 2006. The Welsh Language Act 1993: A measure of success? Language Policy, 5(2):141–60.

Kamper, G. 2006. Implications of the position of indigenous languages in South Africa for the use of indigenous knowledge in community development. Africanus, 36(1):75–87.

Kibbee, D.A. 1998. Legal and linguistic perspectives on language legislation. In Kibbee (red.) 1998.

Kibbee, D.A. (red.). 1998. Language legislation and linguistic rights. Amsterdam en Philadelphia: John Benjamins.

Korhecz, T. 2008. Official language and rule of law: Official language legislation and policy in Vojvodina Province, Serbia. International Journal on Minority and Group Rights, 15:457–88.

Kriel, M. (red.). 2004. The language web. Essays in Honour of Victor Webb. Fyn net van die word. Huldigingsbundel vir Victor Webb. UPE Research Series (33). Port Elizabeth: Universiteit van Port Elizabeth.

Larrivée, P. 2003. A final note on culture, Québec native languages and the Québec question. In Larrivée (red.) 2003.

Larrivée, P. (red.). 2003. Linguistic conflict and language laws. Understanding the Québec question. Houndmills: Palgrave MacMillan.

Lourens vs. Die President van die Republiek van Suid-Afrika e.a. Kennisgewing van Mosie. Noord-Gautengse Afdeling van die Hooggeregshof, 14 Augustus 2009.

Lourens vs. Die President van die Republiek van Suid-Afrika e.a. 49807/2009. Noord-Gautengse Hooggeregshof, Pretoria, 8 Maart 2010.

Lourens vs. Die President van die Republiek van Suid-Afrika e.a. Uitspraak. 49807/09. Noord-Gautengse Hooggeregshof, 16 Maart 2010.  

Maurais, J. 1991. A sociolinguistic comparison between Québec's Charter of the French Language and the 1989 language laws of five Soviet republics. Journal of Multilingual and Multicultural Development, 12(1/2):117–26.

—. 1997. Regional majority languages, language planning, and linguistic rights. International Journal of the Sociology of Language, 127:135–60.

Mercator. 2010. Languages and Legislation: Legal Database. Mercator Linguistic Rights and Legislation. http://www.ciemen.cat/mercator/Menu_nou/index.cfm?lg=gb. (16 Maart 2010 geraadpleeg)

Ministerie (Ministerie van Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie). 2003. The future of multilingualism in South Africa: From policy to practice. Keynote Address by Dr BS Ngubane, Minister of Arts, Culture, Science and Technology, at the National Multilingualism Consultative Conference, Kopanong Conference Centre, Benoni, 12 June 2003. Pretoria: Ministerie van Kuns en Kultuur, Wetenskap en Tegnologie.

—. 2006. Address by honourable Dr Z Pallo Jordan, Minister of Arts and Culture, in the promotion of the African languages 30 years after Soweto uprising. South African Government Information. http://www.info.gov.za/speeches/2006/06062310151002.htm. (2 Maart 2010 geraadpleeg)

Mkhulisi, N. 2001. Closing remarks. In NTD 2001.

Mwaniki, M.M. 2004. Language planning in South Africa: Towards a language management approach. Ongepubliseerde Ph.D.-proefskrif, Universiteit van die Vrystaat.

NTD (Nasionale Taaldiens). 2001. 2nd Language Indaba proceedings. Durban, 29-31 March 2000. Pretoria: Nasionale Taaldiens.

NTF (Nasionale Taalforum). 2004. Report on the Meeting of the National Language Forum, 14 to 15 October 2004, Colosseum Hotel, Schoeman Street, Pretoria. Pretoria: Nasionale Taaldiens.

Ozolins, U. 1999. Between Russian and European hegemony: Current language policy in the Baltic states. Current Issues in Language and Society, 6(1):6-47.

—. 2003. The impact of European accession upon language policy in the Baltic states. Language Policy, 2:217–38.

Pansat (Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad). 2001. Language use and language interaction in South Africa. A national sociolinguistic survey. Conducted by MarkData (Pty) Ltd. on behalf of the Pan South African Language Board. Pretoria: Pansat.

Pavlenko, A. 2008a. Multilingualism in Post-Soviet Countries: Language Revival, Language Removal, and Sociolinguistic Theory. International Journal of Bilingual Education and Bilingualism, 11(3/4):275–314.

Pavlenko, A. (red.). 2008b. Multilingualism in Post-Soviet Countries. Bristol: Multilingual Matters.

Pretorius, J.L. 1999. Language equality in the South African constitution. In Erasmus (red.) 1999.

Prinsloo, K., Y. Peeters, J. Turi en C. van Rensburg (reds.). 1993. Proceedings of the Third International Conference of the International Academy of Language Law (IALL) held in South Africa, April 1992. Pretoria: Universiteit van Suid-Afrika.

Q.O.L.A. 1974. Québec Official Language Act. Statutes of Québec. Québec City: Editeur Official du Québec.

Republic of Ireland. 2003. Official Languages Act, No. 32 of 2003. Republiek van Ierland.

Roller, E. 2002. When does language become exclusivist? Linguistic politics in Catalonia. National Identities, 4(3):273–89.

Roodt, C. 2006. A critical look at the legal framework for arts, culture and heritage. Codicillus, 47(1):47–59.

RSA (Republiek van Suid-Afrika). 1993. Constitution of the Republic of South Africa, No. 200 of 1993. Pretoria: Staatskoerant.

—. 1996a. Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Nr. 108 van 1996. Pretoria:  Staatsdrukkers.

—. 1996b. Suid-Afrikaanse Skolewet, Nr. 84 van 1996. Pretoria: Staatsdrukkers.

RT (Riigi Teataja). 1995. Language Act. Passed 21 February 1995. Entered into force 1 April 1995. RT I 1995, 23, 334. Tallinn: Riigi Teataja (State Gazette).

Schlyter, B.N. 1998. New language laws in Uzbekistan. Language Problems and Language Planning, 22(2):143-81.

Schmid, C., B. Zepa en A. Snipe. 2004. Language policy and ethnic tensions in Québec and Latvia. International Journal of Comparative Sociology, 45:231–52.

Shohamy, E. 2006. Language policy: Hidden agendas and new approaches. Londen/New York: Routledge.

Simon, S. en M. Kontra. 2000. Slovak linguistics and Slovak language laws: An analysis of Slovak language policy. Multilingua, 19(1/2):73–94.

Turi, J.G. 1993. The importance of the conference theme: "language and equality". In Prinsloo, Peeters, Turi en Van Rensburg (reds.) 1993.

—. 2009. Language law and language rights: perspectives on legal intervention and language diversity. Acta Academica, 1:130–47.

Welsh Language Act. 1993. The Welsh Language Act 1993. Westminster: HMSO.

Williams, C.H. 2008. Linguistic minorities in democratic context. Hamsphire: Palgrave MacMillan.

Xulu, M. 2001. Official opening. 2nd Language Indaba, Durban, 29-31 March 2000. In NTD 2001.

 

Eindnotas

1 Daar bestaan nie ’n amptelike Afrikaanse titel vir die South African Languages Bill (SALB) nie, omdat geen Afrikaanse weergawe van die wetsontwerp ter tafel gelê nie is; vandaar die gebruik van die Engelse titel en afkorting. Uiteraard bestaan daar dus ook nog nie ’n Suid-Afrikaanse taalwet nie. In hierdie artikel verwys ek egter, ter wille van die bespreking, voorlopig na die "Suid-Afrikaanse Talewet", wat ek as SAT afkort.

2 Daar bestaan nie ’n amptelike Afrikaanse titel vir die South African Languages Bill (SALB) nie, omdat geen Afrikaanse weergawe van die wetsontwerp ter tafel gelê nie is; vandaar die gebruik van die Engelse titel en afkorting. Uiteraard bestaan daar dus ook nog nie ’n Suid-Afrikaanse taalwet nie. In hierdie artikel verwys ek egter, ter wille van die bespreking, voorlopig na die "Suid-Afrikaanse Talewet", wat ek as SAT afkort.

3 Die regter in die geding bevind uiteindelik in sy uitspraak van 16 Maart 2010 dat die aanneem van ’n nasionale taalwet nie ’n grondwetlike verpligting is nie. Nietemin beveel hy die nasionale regering om deur wetgewende en ander maatreëls die gebruik van die amptelike tale te reël en te monitor (Lourens vs. Die President van die Republiek van Suid-Afrika e.a. Uitspraak 2010). Die bevel sluit uiteraard nie die aanvaarding van ’n nasionale taalwet uit nie.

4 Chevrier (2003:146–8) se beoordeling van die Québecse taalwetgewing sluit sterk by die laaste twee faktore aan.