Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Onderhoude | Interviews > Afrikaans

Amsterdam-tafelronde oor Afrikaans: Rudolf Stehle gesels met Alana Bailey


Alana Bailey - 2010-05-21

Afrikaans is op 28 Mei vanjaar die onderwerp van ’n tafelronde in Amsterdam. Hierdie eendagkonferensie word deur die NZAV (Nederlands-Zuid-Afrikaanse Vereniging) georganiseer en deur die Nederlandse Taalunie gefinansier. Rudolf Stehle het met Alana Bailey gesels oor haar deelname.

Namens wie woon jy die konferensie by?
 
AfriForum.
 
Wat verwag jy om met jou deelname aan die konferensie te bereik?
 
Om kontak met organisasies soortgelyk aan AfriForum op te bou en ook in die toekoms nouer saam met Nederlandse organisasies te werk.
 
Watter praktiese projekte gaan jy op die konferensie bekendstel?
 
AfriForum is betrokke by verskeie aksies om Afrikaans te bevorder, soos byvoorbeeld ons betrokkenheid by Volksblad se jaarlikse “Dink of Sink”-debatskompetisie en ons “Aardklop vir Almal”-projek. AfriForum was in 2009 ‘n borg van "Dink of Sink", maar wil graag meer betrokke raak daarby. “Aardklop vir almal” is ‘n gehoorontwikkelingsprojek waarmee ons al twee jaar lank besig is in samewerking met Aardklop. Verlede jaar het Afriforum as deel van dié projek 220 kaartjies gekoop vir minderbevoorregtes om produksies by Aardklop by te woon. Dit was die tweede jaar wat AfriForum hierdie projek borg en R25 000 is daarvoor bewillig. Ons wil ’n webwerf daarstel waar die projekte meer blootstelling kan kry en waar meer gratis reklame vir Afrikaanse diensverskaffers gemaak kan word.

Waarom is 'n konferensie soos dié een noodsaaklik?

Taal- en kultuurbande tussen Suid-Afrika en Europa het selfs na 1994 nog nie regtig weer so nou en heg geraak as wat ‘n mens sou wou sien nie. Hierdie tipe geleenthede gee ons kans om iets daaraan te doen van beide halfronde af en om ook meer geleenthede te identifiseer waar in die toekoms saamgewerk kan word. Dit is noodsaaklike blootstelling vir Afrikaans en kan die toekoms van Afrikaans ook op internasionale gebied help versterk.