Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Biebouw-resensies

Dié heer protesteer te veel oor sy skrywersblok


Marius Crous - 2009-07-22

Titel: Skrywersblok
Skrywer: Jaco Fouché
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 978 1 86919 280 8
Formaat: Slapband
Aantal bladsye: 248

 

In die onderhoud wat hy met homself gevoer het op LitNet (2 Julie 2009), merk Jaco Fouché op dat hy oor “randfigure” skryf en versot is op “die underdog”. Wat betref die titel van die bundel onder bespreking, merk hy in die onderhoud op: "Dit maak my raadop om te lees hoe ander skrywers meen skrywersblok bestaan nie, of dat jy net gaan sit en jouself daardeur werk."

Dit lyk vir my eerder na 'n geval van dié heer protesteer te veel, want sedert sy debuut met Die ryk van die rawe in 1996 (waarvoor hy die Eugène Marais-prys gekry het) het hy konstant, al om die twee jaar, 'n boek gepubliseer. Daar was die kortverhaalbundel Paartie by Jakes (1997) en die romans Die avonture van Pieter Francken (2005) en Twee dae in Mei (2007).

Deurlopend in hierdie tekste is inderdaad randfigure: vaal, op die oog af oninteressante wesens wat die periferie van die samelewing bewoon. Dikwels speel die teks af in Bellville, die stad op die periferie van Kaapstad, en die kroeg Jakes is soms die ruimte waar die verloopte siele en die intellektuele oor 'n glas drank filosofeer. So byvoorbeeld word die karakter Benjamin Kapp, 'n welvarende en gesiene skrywer, ook een aand na Jakes gelok. Hier filosofeer hy met jongmense uit die omgewing oor skryf, teen die agtergrond van die kroeg. Om nie die clientèle te steur nie, word agtergrondmusiek van ene Riekie Williams gespeel – en wat net sowel op die oorgrote gros Afrikaanse sangers van betrekking kan wees: "Gou sing Riekie Williams oor veldblomme en gedenkwaardige vleisbraaie. Die gewilde musiek eis min van die luisteraar wat liriek en melodie betref en heelparty mense sing of neurie saam" (43).

Die lang titelverhaal word voorafgegaan deur te verwys na 'n opmerking wat Raymond Carver glo sou gemaak het dat wanneer iemand skrywersblok ervaar of vasgeskryf voel in sy storie, hy iemand met 'n pistool die vertrek moet laat binnekom – en dis dan wat ook hier gebeur. Die verhaal kom nie daar tot einde nie, want die gebeure word voortgesit in die daaropvolgende verhaal – trouens, die bundel word nie verniet in ses afdelings ingedeel nie, want binne elk van die afdelings sluit die onderskeie verhale by mekaar aan. “Die boek van vaal glas” (99) verwys nie net na die titel van Kapp se roman nie, maar die storie word interessant aangebied as 'n tipe literatuurkroniek in die kleine. Die literatuurhistorikus, ene Joël, het trouens maar net skraps na Kapp verwys in sy oorsig van onlangse literatuur.

Soos die titel van die bundel suggereer, staan die kwessie van skryf, skrywerskap en die skryfproses sentraal in die verhale. Die bundel begin byvoorbeeld met 'n tipe allegoriese verhaal oor 'n man wat vlug vir sy lewe en dan in 'n afgeleë plaashuis begin om te skryf. Bladsy op bladsy vul hy dan totdat hy sterf. Ook in 'n verhaal soos “Die bekentenis” speel die skryfdaad, en spesifiek die optekening van informasie, 'n belangrike rol wanneer die opgetekende gegewe as getuienis gebruik word.

In die slotgedeelte is daar ook verhale oor uiteenlopende karakters wat uitgebeeld word as synde vasgevang in hulle eie situasies. Daar is wel die uitkoms van bekering en die aanvaarding van die kerk se uitreiking na hulle om hul lot te verbeter. In hierdie verhale word ruimtes soos die tronksel, die psigiatriese saal en die motel betrek – almal ruimtes wat met gemarginaliseerde figure geassosieer word. Op subtiele, onderspeelde wyse lewer die verhale kommentaar op die politiek, die ingeperktheid van die mens se bestaan, die ontoegeruste aard van menswees en die middele tot onvlugting soos alkohol, sif ? suf? pornofilms of godsdiens wat mense probeer om van hul lot te ontkom.

'n Vonds in Fouché se werk is sy verkenning van die lewensomstandighede van die randfigure, en verfrissend is sy interessante naamgewing vir sy karakters: Martin Wister, Meneer Leuter, Sonius Luus, Wollie en Vinnie – teenoor sulke koekerige name soos Selene, Nadine van Onselen en Nicolene Greeff; ook sy inkleding van bekende ruimtes soos Bellville, Hermanus, Naval Hill in Bloemfontein. Voeg hierby ook nog sy sardoniese humor en sy vermoë om 'n storie onderhoudend te vertel.

In die titelverhaal noem die een karakter dat “[s]elfs 'n ongewilde boekresensent [..]`n geslagsdrang [het]” (88) – en dit is een aspek van Fouché se werk wat nog uitgebou en verken kan word. Sy karakters kuier in die kroeg en vertel interessante staaltjies, en die interaksie tussen hulle sorg vir goeie leesstof, maar mens voel tog hulle is darem net te seksloos vir woorde. Daar word gesuggereer dat Chris vir Elize wil “streep”, maar verder as dit kom dit nie.