Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Biebouw-resensies

Glas: Twintig lekker stories


Izak de Vries - 2008-02-11

Glas
Outeur: JM Gilfillan
Uitgewer: Lapa
ISBN: 9780799339208
Publikasiedatum: 2007
Bladsye: 176
Formaat: Sagteband

Lekker stories, sonder pretensie; dis hoe Glas van JM Gilfillan sigself aan jou voorhou.

Glas is Gilfillan se vyfde publikasie en dit verskyn ’n hele tien jaar na haar vorige werk, Pouoogmot. Tien jaar is ’n lang stilte vir ’n belowende skrywer, en dis waarom ek met groot afwagting Glas aangekoop het. Ek was nie teleurgesteld nie.

Lesers sal ook bly wees om te hoor dat die bundel nie verval in ’n geneul oor die nuwe Suid-Afrika, die ANC en die vlakke van misdaad nie. Inteendeel, dis ’n bundel oor mense en hulle geliefdes.

Die tien jaar van stilte het ’n stem gegee aan twintig gestroopte verhale wat konsentreer op die prag van die oomblik, die sagtheid van die liefde en die skerp prikke van die dorings waarmee ons verhoudings elke dag saamleef.

’n Prikkelende voorblad

Die voorblad, gewoonlik iets wat mooi is, maar geen literêre waarde het nie, ontsluit in dié geval die bundel baie deeglik. Die kaktus en die blom is duidelik sigbaar, selfs op die klein foto’tjies wat op die internet te siene is. Tog is dit eers as jy die bundel in jou hand hou dat jy die glasagtige tweede beeld kan sien. Jy het lig nodig om die blom in haar volheid te sien.

Ditto met Gilfillan se verhale. Hulle is skynbaar gestroop van enige pretensie, soos ’n kaktus in ’n ou geroeste blik. Maar as daardie kaktus blom ...

Soos die blom op die voorblad van hierdie mooi bundel eers haar prag ontbloot in die lig van die maan, so is Gilfillan se verhale deurspoel van kleur en lig. Op die oog af lees hulle maklik, en ís hulle maklik, maar dis daardie tweede beeld, die een wat nie onmiddellik sigbaar is nie, wat van die mooi verhale iets besonders maak.

“Kaktus”, die eerste verhaal

Die kaktus van die voorblad maak ’n verskyning in die eerste verhaal van die bundel. Ons ontmoet ’n jong vrou wat getroud is met ’n baie ryk sakeman. Sy het alles wat sy ooit kan begeer.

Of het sy?

“Kaktus” begin met ’n sprokie van ’n sultan wat nie genoeg met sy pragtige vroue praat nie. Die sprokie vloei oor na die lesende, gepamperlangde vrou wat begin gloei – ’n mens sou kon sê blom – onder die aandag van ’n eenvoudige verwer wat met haar begin gesels.

Hierdie “verwer wat ’n blos na haar wange gebring het” (12) se geselskap is só effektief dat haar ryk man dit onmiddellik raaksien. En dan volg twee onvergeetlike sinne: “Volgende keer, besluit hy, wanneer sy weer na ’n spa wil gaan, sal hy die verwer weer laat kom om ’n paar verstellings aan die huis te doen. Veel goedkoper en ook baie meer effektief as ’n skoonheidsplaas” (11).

Dit is dié verwer wat vir die vrou, wat alles het, ’n kaktus bring in ’n geroeste blik.

En die verwer se naam? Hy is Ray. Hy bring lig.

Verglippende verhoudings

Soos die voorblad ’n kode is vir die res van die bundel, so is die openingsverhaal ’n sleutel tot dit wat gaan volg. Dis nie toevallig nie dat verhoudings en kommunikasie die eerste goed is wat ons in hierdie bundel raakloop.

In talle verhale sien ons hoe subtiel verhoudings aanmekaar gehou word, of uitmekaar kan dryf. Verhoudings is soos glas, hulle het vele fasette en hulle kan versplinter as hulle nie versigtig hanteer word nie.

In “Groen”, ’n verhaal wat my vrou as “so verskriklik sad” beskryf, breek ’n opwinding los binne ’n jong enkel ma as ’n biker met haar begin gesels. Nota Bene, daar word in dié verhaal net gesels, en tog is die moontlikhede wat met woorde oopgemaak word, onbeperk.

In “Vlerke van papier” word ’n amper bonatuurlike gebeurtenis uit die alledaagse geskep deur sagte, vriendelike woorde.

En so kan ons aangaan. Die gebrek aan praat en úítpraat het negatiewe gevolge, soos ons sien in “Wind”, “Van treine en van hoenders”, “Die klein merrie” en “Die brief”. In “Van treine en van hoenders” en “Die kersieboom” word die onvermoë om te praat ten dele besweer deur die skep van tekste.

Ek moet nie julle tyd mors met die opstel van lyste nie, maar dit is moeilik om nie te wil aantoon hoe vernuftig die temas deur die verhale vloei nie.

In die verhaal “Padkamp” wéét ’n man sy vrou het ’n seksuele verhouding met ’n ander man en hy gaan uit sy pad om daardie twee se verhouding moontlik te maak, sonder om die swye te verbreek. In “Ant Dolly” word ’n vrou se smagting na seks egter in die doofpot gedruk, wat lei tot ’n woede-uitbarsting deur ’n ander, skynbaar meer bemagtigde vrou. (Nota Bene, ek sê skynbaar.) En dan is daar ... maar ek het belowe om nie die lys langer te maak nie. Stilte, dus, Izak!

Die stilte word pragtig beskryf én gebruik in “Pase”. Lees gerus self. Dis een van die mooiste postdogmatiese rituele wat jy nog ooit gesien het. Paaseiers, en die geheime wat ’n dun dop vashou, sal nooit weer dieselfde wees na dié verhaal nie.

Eierdoppe is, soos glas, eintlik baie sterk. Dit is egter wanneer alle ondersteuning weggeneem word dat die dop, en die glas, maklik kan versplinter. In die titelverhaal word die mens se brose dop, die noodsaak van kommunikasie en die prag van glas alles saamgetrek – en laat val.

En in die heel laaste verhaal, “Of cabbages and kings”, word die gebrek aan eerlike kommunikasie heerlik geparodieer met die voorlees van Lewis Carroll se nonsensverse. Dié verhaal handel oor ’n gedenkdiens van ’n gesiene akademikus, ’n “man onder manne” (172) wat sy sekretaresse warm gevry het. Sy vrou het geweet van die verhouding. Eintlik het almal geweet daarvan, maar almal het ’n stilswye daaroor gehandhaaf. Oor die affair word dus gefrons, maar die weduwee oorweeg dit selfs vir ’n oomblik om die ánder vrou in die familiebank te laat sit wanneer die egbreker se lewe met kos, duur wyn en goeie musiek gevier word. Tog gebeur dit nie; sy behou die skyn. Dit is uiteindelik die ánder vrou, die skelmpie, wat die klug verwoord met ’n voorlesing uit Alice in Wonderland.

Laastens wil ek verwys na die slim manier waarop ras ter sprake kom in “R. Moosa Alg. Handelaar” teen die einde van Glas. In dié verhaal verwens ’n jong, wit meisie ’n Indiërgesin omdat hulle so mooi is en so ’n hegte gesinsband het. Die feit dat hulle van ’n ander ras is, is bloot toevallig, maar dis die enigste manier waarop die meisie haar frustrasie met haar eie gesin kan verwoord. Op ’n manier, wat herinner aan James Thurber se kortverhaal “The Secret Life of Walter Mitty”, bedink die gefrustreerde meisie allerlei vreemde pogings tot wraak.

Vroeër in Glas kom die kleurkwessie ook ter sprake as ’n bruin man hom in ’n klein kusdorpie tuismaak. Hy het alles: rykdom, status en internasionale aansien. Tog vind hy dat hy nie inpas nie. Maar dis nie ras nie, dis klas wat skielik maak dat hy nie kan inpas nie, al probeer hy hoe hard om kleur die kwessie te maak. Die verhaal heet dan ook “Kleur”.

Ek noem die kwessie van ras, want dit toon hoe ver Gilfillan reeds gegroei het vanaf haar baie rasbewuste eerste bundel, en selfs verby die opsetlike vermenging van kulture in haar vorige novelle. In Glas gaan dit oor Suid-Afrikaners, binnelands en buitelands. Dit gaan oor ons lewens. En, word gewys, ons kan in glashuise woon, maar dan moet ons nie verbaas wees as daardie glaskokon nie genoeg is om ons verhoudings met ander te kan beskerm nie.

Die res van haar oeuvre

Gilfillan debuteer in 1989 met Van stiltes en stemme, waarvoor sy die Ou Mutual Letterkundeprys kry, asook ’n toekenning van die FAK. In 1993 verskyn ’n tweede kortverhaalbundel, Die vrank smaak van frambose. In 1995 sien haar eerste novelle, Die verhaal van ’n vrou, ’n leeu en ’n hoenderhen, die lig. Haar tweede novelle, Pouoogmot, verskyn in 1998.

Groei in die oeuvre

Gilfillan se eerste bundel, Van stiltes en stemme, het heelwat politieke tekste bevat, maar dit het nooit verval in sloganism nie. Dat dit in 1988, die donker jare van PW se bewind, verskyn het, was duidelik, maar die klem het telkens op die individu se belewenis van die politiek geval.

Die tweede bundel, Die vrank smaak van frambose, wat in 1993 verskyn het, se fokus was op die interne politiek – die vraag waar die grens tussen waarheid en fiksie lê, en die toets van geslagtelikheid. Die homo-erotiese elemente het algaande sterker geword in dié bundel. ’n Ander tema wat hier telkens verskyn, is dié van ’n kind wat verwaarloos, selfs mishandel, word in ’n gesin waar die ouers nie sterk genoeg is om hulle te laat geld nie. Genoemde tema van kinderverwaarlosing loop oor na Die verhaal van ’n vrou, ’n leeu en ’n hoenderhen, maar hierdie novelle, wat in 1995 verskyn, is ’n viering van vryheid, goeie kos, goeie wyn en mooi musiek. In meer as een opsig het die lelike eendjie in hierdie novelle ’n wit swaan op Afrika se damme geword.

Pouoogmot, wat in 1997 verskyn, is minder uitbundig, maar bevat pragtige, erotiese passasies. Die novelle kontrasteer die klein geskiedenis van ’n arm wit vrou met die lewens, vertellings en geskiedenisse van die (soms) meer gegoede mense in ’n veelrassige saal in ’n privaat hospitaal.

Intertekstuele bindings

Talle gegewens uit Gilfillan se vroeë werk duik weer op Glas.

Die wêreld van “Ant Dolly” in Glas is byvoorbeeld ’n kopie van die ruimte van “Agtermidag van ’n kind” uit Gilfillan se eerste bundel. “Padkamp” in Glas eggo weer “Roomys” se ruimte in haar tweede bundel.

In elkeen van die vyf werke wat uit Gilfillan se hand verskyn het, speel sprokies en die manier waarop hulle hervertel word, ’n oneindig belangrike rol. Soos met Glas, kan Die verhaal van ’n vrou, ’n leeu en ’n hoenderhen nie gelees word sonder die sprokie wat ’n matriks vorm vir die res van die teks nie. Reeds in haar eerste bundel maak Gilfillan se verteller dit duidelik dat sprokies steeds ons moderne mense se terapie kan wees in tye van geweld. Daardie verhaal in Van stilte en stemme heet gepas “Sprokie”. Die leser besef dat die sprokies, die misdaad en die politieke wandade uiteindelik ’n spieël is vir die geweld van ’n verhouding wat een genoot alleen laat, sonder ondersteuning. In talle verhale regdeur Gilfillan se oeuvre word die mense eenkant toe geskuif deur hulle geliefdes.

Die noodsaak om te praat en te vertel, wat in Glas dikwels so uitgelig word, vorm ook die ruggraat van Pouoogmot, maar die verglippende moontlikhede van alternatiewe eindes kom reeds in Die vrank smaak van frambose voor. In laasgenoemde bundel is daar twee verhale, “Die wedstrydverhaal” en “Ariadne spin ’n yarn vir Sheherazade”, wat albei homo-erotiese elemente én metavertellings bevat wat téén die hede in ’n alternatief bied. Ditto met talle verhale uit Pouoogmot.

Die arm, maar slim, meisie in Pouoogmot, asook die hele tema van klere in dié novelle, kom byvoorbeeld weer te voorskyn in “Ter lof van gelerendheid” in Glas. In hierdie pragtige verhaal voel ’n slim werkersklasmeisie haar tuis in haar mooi liggaam met elkeen van haar pragtige boudjies soos ’n “bolletjie vars uit die oond” (20). Dié verhaal, met sy wonderlike, byna opruiende vrolikheid, eggo weer ’n ander, somberder verhaal uit tweede bundel, getitel “That’s life”.

Pouoogmot se hoofkarakter, wat besonder baie weet van insekte, vind ook ’n eggo in Glas, en veral dan die verhaal “Die brief”. In genoemde verhaal val ’n man vir ’n vrou wat soos ’n vlinder ligvoets kan tol, want sy eie vrou, ’n insekkundige, word ’n slagoffer van haar eie gebrek en hy kan inperking nie meer uitstaan nie – al besef hy dat hy waarskynlik willens en wetens verorber gaan word in dié nuwe verhouding.

Sy kán skryf

In haar vierde gepubliseerde werk, Pouoogmot, skep Gilfillan ’n karakter wat skryf. Hierdie skrywende karakter sit voor haar rekenaar en dink: “’n Skrywer durf sy haarself nie noem nie. Nie voor daar ten minste vyf boeke uit haar hand op die rak agter haar staan nie” (Pouoogmot, 7).

Nou ja. Ek weet nie hoe Gilfillan oor nommer vyf voel nie, maar ek wil sê: Draai om. Daar staan vyf boeke uit jou hand en hulle is goed. Jy mag jouself ’n skrywer noem.

Klik hier en koop Glas nou by Kalahari.net!