Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Biebouw-resensies

Hemelhel: Twee resensies


Loftus Marais - 2008-02-05

Hemelhel
deur Martinus de Beer
Uitgewer: Human & Rousseau (Pty) Ltd
ISBN: 9780798148757
Formaat: Sagteband
Prys: R130.00
Koop Hemelhel nou be Kalahari.net!


Resensies is dikwels gebrekkige klein tekste. Die beperkte aantal woorde tot die resensent se beskikking, asook die behoefte wat beide resensie-leser en -skrywer aan ’n finale oordeel het, het gewoonlik ’n dokument tot gevolg wat die komplekse leeservaring hopeloos vereenvoudig. Daarom bied ek as ’n tipe eksperiment hierdie volgende twee uiteenlopende resensies van Martinus de Beer se debuutroman Hemelhel vir die leser aan. Dalk kan so ’n benadering mens se ingewikkelde en soms gewoon teenstrydige reaksies op ’n boek beter vasvang. Hoe dit ook al sy, dit is ook ’n gepaste strategie vir ’n boek met só ’n teenstelling-titel.

Resensie 1: “Hel”

Reeds met die epigraaf van Martinus de Beer se debuutroman Hemelhel begin die leser onraad vermoed – Steve Hofmeyr word aangehaal: “Alles kan tot niet vergaan as ons vergeet,/ want tussen lyne staan geskrywe wat net ons weet.” Dit is nie soseer die geykte en betekenisvae aard van die aanhaling wat pla nie, maar eerder die oorbodigheid van “tot niet” én “vergaan” na mekaar. Dit is ’n voorskaduwing van ’n sekere omslagtigheid en tekort aan digtheid wat die leser in die daaropvolgende bladsye gaan teëkom. Die skrywer se hand is te vinnig en vry.

Die verhaal volg in die eerste persoon ’n 25-jarige man se kort verblyf in ’n Bloemfonteinse depressiekliniek. Hy ontmoet vreemde medepasiënte, woon lesings by, ondergaan toetse, rook en eet obsessief, en het gereeld sessies met sy sielkundige.

Die roman se struktuur is amper meer anekdoties as verhalend. Die enigste intrige is rondom die karakter Frans wat Matthys alewig op sy selfoon bel. Langsamerhand vind ons uit dat Matthys gay is. Weens sy onvermoë om vrede met sy seksualiteit te maak, is sy verhouding met sy lewensmaat Frans, asook dié met sy ouers, groot bydraende faktore tot sy depressiewe toestand.

Mens wonder of die ou (veral Afrikaner-) cliché-opvattings oor "die vernietigend-obsessiewe gayverhouding" en "gay-identiteit as ’n sielkundige stryd" of "die las van homoseksualiteit" nog op enige vlak voortgesit moet word, veral in die jong Afrikaanse literatuur wat nuwe terrein moet ontgin. Party lesers sal voel dat die jong hoofkarakter in De Beer se roman te naby aan ’n stereotipe kom, en dat sulke skrywery polities onverantwoordelik is.

Hoewel mens moontlik die roman se tekort aan intrige en politieke perspektief kan vergewe, is die styl waarin geskryf word, ’n doring in die oog. Dit is plek-plek ouderwets, verfraaiend en melodramaties. Vir die spreker is slaap “droomland”, Saterdae “luilekker” en emosie’n “rivier” wat oor hom “spoel”. Enkele ander voorbeelde: “‘n Sagte bries streel my terwyl ons ontspanne sit en gesels. ’n Paar meter van ons speel dieselfde wind met ’n droë blaar”; “Merke lê op die polse van my sentrummaats, waar die mes die maagdelike vel gekloof het”; “’n Skril lag wat deurdring tot die dieptes van my siel”; “Alles rondom my lyk skielik helderder; daar is meer geure in die lug. Die voëltjies fluit soet liedere.” Is dít die manier om ’n jongmens se ervaring van die werklikheid weer te gee?

Af en toe is daar wel momente van skerp humor, asook ’n slim-wrang waarneming of twee. Dit laat die leser selfs dink dat daar moontlik ’n droë ironisering in die spreker se woorde uit te ken is (was die Steve Hofmeyr-aanhaling moontlik ’n grap?), maar nee, verdere tekens wat op hierdie tipe spel dui, ontbreek geheel en al. Die flapteks noem egter die spreker se perspektief “sardonies”. Maar dit is nie ’n werklik sardoniese stem nie – waar is die donkerte, die galgehumor, die bitterheid, die smadelikheid? Vergelyk byvoorbeeld hierdie depressiewe spreker met die een uit die tweede gedeelte van Willem Anker se onlangse Siegfried: Anker se selfmoordspreker-perspektief is waarlik sardonies en aserbies: snaaks, morbied, ontstellend.

Hemelhel se spreker se grappies val ook dikwels plat. ’n Voorbeeld hiervan is Matthys se beskrywende naamgewing van die pasiënte en personeel van die kliniek. Ons ontmoet Donkerkop, Staar-Na-Die-Grond, Hippie-Tannie, Praat-Nie, Kersvader-Se-Klein-Helper, ens. Hoewel aanvanklik amusant (en vermoedelik tekenend van die depressielyer se onvermoë om name te onthou weens sy slegte korttermyngeheue), raak dit gou herhalend en irriterend. Hierdie karakters word ook nooit in detail ontwikkel of verken nie – hulle bly slegs figure in vinnige hale geskets. Die skrywer doen nie genoeg om simpatie vir hierdie karakters by die leser te wek nie.

Nie net ontbreek die nodige details wat die randkarakters ’n menslikheid sou gee nie, maar hierdie fyner uitbreiding is ook in ’n groot mate in die hoofkarakter afwesig. As ’n opdrag van sy sielkundige skryf Matthys sy “lewensverhaal”. Die leser vind niks hiervan uit nie, die gebeure wat Matthys tot in die kliniek gebring het, bly vaag, en hy bly gevolglik ’n vlakker karakter.

Die dénouement kom ook taamlik gekunsteld voor: ’n sessie oor Thomas Anthony Harris se pop-psych treffer I’m Okay, You’re Okay is vir die spreker ’n diépe openbaring, en hy slaan weer, na ’n lang tyd van onbruik, sy Bybel oop. Die skielikheid van sy psigiese verbetering steek ook dwars in die krop.

Teen die einde van die verhaal blyk die sentrale gedagte waarmee die boek ’n mens wil laat, ’n soort jin-jang-insig te wees: daar is geen goeie sonder die slegte, geen slegte sonder die goeie nie. Hierdie idee is al banaal in die literatuur, en dit is nie 208 bladsye se deurlees werd nie.

Indien jy dus ’n leser is wat oorspronklikheid en ideëspel hoog op prys stel, sal jy maar min in Hemelhel vind wat jou gaan interesseer.

Resensie 2: “Hemel”

Mathinus de Beer se debuut is saam met Oos van Marion Erskine en Vyf ses skerp mes van Brigette Labuschagne as finaliste uitgewys in die "Ek is ’n Skrywer!"-kompetisie van Huisgenoot, You, Drum, Human & Rousseau, SABC Education en RSG. Alle deelnemers aan dié kompetisie moes jonger as 35 wees. Daar is nie ’n wenner aangewys nie, maar al drie finaliste se tekste is as “goed genoeg” vir publikasie beskou.

Vir die leser wat in ’n boekwinkel ronddwaal, het die boek egter meer as net hierdie “pryswenner”-status wat dit vir aankopery aanbeveel: dit is ook werklik pragtig uitgegee. Die omslagontwerp, asook die tipografie, is hiperstylvol, kontemporêr en vars. Hoewel mens dit nie altyd so sterk sou wou erken nie, bly die boekomslag en -uitleg ’n belangrike (en in hierdie geval genotvolle) deel van die leeservaring.

Begin mens dan Hemelhel lees, voel jy al vanaf die eerste bladsy ’n unieke eerlikheid in die eerstepersoonsvertelling aan. ’n Jong man vertel van sy ervaringe in ’n kliniek vir depressielyers. Die kliniek is beide ’n toevlugsoord en ’n tronk: die spreker vind hulp en ondersteuning, maar moet ook sy eie demone in die oog kyk.

Die aanvanklik skeptiese spreker het ’n humoristiese blik op medepasiënte, hulle familie en die kliniekpersoneel. Daar is ook ’n paar waarnemings wat van ’n slim sinisme getuig, soos hierdie een oor Afrikanerkinders wat aanhou om hulle rookgewoontes onsuksesvol vir hulle ouers weg te steek: “Die hele wegsteekdansie is eintlik net ’n vorm van respek betoon; ’n wedersydse, ongesproke ooreenkoms om die vrede te bewaar.”

Hy raak ook die volgende skerpheid kwyt: “Een ding weet ek verseker – daar is definitief ’n God. Niemand se lewe kan in so ’n totale gemors ontaard sonder eksterne hulp nie.”

Namate die storie van voorval tot voorval (ontmoetings, lesings, toetse, sielkundige sessies) vorder, raak Matthys minder skepties oor die kliniek en oor die moontlikheid van sy herstel. Tussendeur die episodiese verhaalgebeure word daar ook interessante informasie oor depressie as “siekte” of psigiese toestand aan die leser verstrek. Maar dit is nie die kliniese feite wat mens bybly nie; eerder die gevoel van frustrasie en willoosheid van die kliniekinwoners. De Beer skep ’n atmosfeer van roetine – rookgeleenthede en etes is tydmerkers en bronne van daadwerklike plesier.

Die roman is ook ’n verhaal oor die geneeskrag van kuns. As ’n opdrag van sy sielkundige skryf Matthys sy “lewensverhaal” en hy sluit ook by ’n kunsklas aan. Al twee hierdie kreatiewe aktiwiteite bring hom nader aan die hantering van sy eie depressie.

Maar dit is De Beer se uitbeelding van die kliniekruimte wat iets besonders van die boek maak. Die leser ervaar in detail saam met Mathhys die triestige ruimte van die inrigting, vanaf die houtbankies in die boomtuin tot die metaalbedkassie met skilferende wit verf. Maar, soos die samestelling-titel wys, dit is nie nét ’n hartseer ruimte nie. Vriende word ook gemaak. Die titel dui nie net op die komplekse aard van die kliniekruimte self nie, maar ook op ’n innerlike ruimte: “[Dit is] asof twee mense binne my worstel. Die een wil alles vertel, en die ander wil alles wegsteek. (...) Ek is kwaad vir myself, kwaad vir my twee persoonlikhede.”

Die hoofstuktitels is ook ’n spel met die kleur blou – “Opaalblou”, “Poublou”, “Stormblou”, ens. Daar word dus met die dubbelsinnige assosiasies met die kleur blou gespeel – dit is die kleur van vryheid en vrede, maar ook van depressie (“feeling blue”).

De Beer se debuut is nie sonder haakplekke en tekortkominge nie (die mees opvallende hiervan is die afwesigheid van ’n sentrale, ontwikkelende intrige wat die leser sal laat aanhou bladsye omblaai), maar daar is tog taamlike leesplesier uit die 208 bladsye te put. Ek kan my verder indink dat Matthys se verhaal ook veral aanklank sal vind by lesers wat al deur soortgelyke kliniek-ervaringe of depressieprobleme gegaan het.

Daarby gesê, De Beer is ’n jong skrywer, slegs 27 jaar oud, en mens is dankbaar vir enige ontwikkeling van die jonger prosastemme in die Afrikaanse literatuur (deur middel van kompetisies of andersins), en hou hulle met belangstelling dop.