Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Biebouw-resensies

Dié jakkals laat jou vinnig lees


Johan Anker - 2008-01-24

Die Jakkalssomer
Dirk Jordaan
ISBN 13: 978-0-624-04573-1
Sagteband
200pp

R130.00
Klik hier om jou eksemplaar te koop.


Die jakkals as figuur is bekend in spanningsverhale soos The Day of the Jackal en die Bourne-trilogie: Carlos die Jakkals. Hiérdie jakkals is egter ‘n inheemse rooijakkals: Canis mesomelas – sku en slu. Wie is hy? Want hy gee die opdrag vir die AK47 se gekletter op die eerste bladsy en kaptein Div Pelser van die Nasionale Vervolgingsgesag sit met vier ongeïdentifiseerde lyke uit ‘n vroeër era in die Oos-Kaap. Dit lei tot ‘n spannende speurtog wat speurder en leser met ‘n hol kol op die maag laat, ‘n spoor van nuwe geweld en misdade, aanslae op die kaptein se lewe, nuwe inligting en nuwe vrae. Dis ‘n mannewêreld: vrouens is óf werkverwant óf familie.

Die roman skep ‘n inherente tempo wat slegs ietwat afneem met ‘n belangrike besoek aan Tanzanië. Kort hoofstukke, onderverdeel in korter eenhede met wisselende fokalisering tussen Div en die Jakkals, versterk die spanning in samehang met brokke inligting wat na vore kom: inligting aan die kaptein én die Jakkals wat van die begin af op ‘n onvermydelike konfrontasie dui. Die speurtog is ‘n soeke na identiteite, die verklaring van name en ‘n wedloop om getuies te bekom of te elimineer.

Die leser betree saam met Div die wêreld van die Nasionale Vervolgingsgesag, die WVK-proses, bewerings van ‘n Derde Mag, die BSB (wat nie staan vir die Britse Sendingbond nie), en ‘n geheimsinnige Ubomvu 3. Die interne konflik tussen Div en sy onmiddellike hoof, superintendent Nkosi, die steeds sluimerende spanning tussen verlede en hede, asook die werklikhede van die Nuwe Suid-Afrika, dra by tot die troebel verhoudings tussen karakters en daaglikse frustrasies van die ondersoek.

Jordaan slaag daarin om ten spyte van die verskeidenheid sake waarna verwys word, die fokus te hou op die sentrale intrige. Hy skryf geloofwaardige dialoog in verskillende situasies, beskryf gevegte in duidelike detail en laat die leser deel in die klein besonderhede van die ondersoek op die misdaadtoneel.

Die jakkals-motief word voorop geplaas met die biologiese besonderhede van die rooijakkals aan die begin van die drie afdelings, die vooruitwysende funksie daarvan, die ontdekking van die identiteit en selfs die moontlike verbreding van die betekenis daarvan tot ander karakters: “Hulle is bekend vir hul waaksaamheid en slinksheid en kan gewoonlik alle strikke, behalwe die mees gesofistikeerde, vermy.”

Kaptein De Villiers Pelser is ‘n tipies eenlopende, eensame speurdersfiguur. Hy word verder vereensaam deur ‘n pas afgelope skeisaak en sy verandering in politieke sienswyse wat deur sy betrokkenheid by die WVK veroorsaak is: “Iets het met hom gebeur gedurende daardie WVK-sittings. Geleidelik het die besef gekom dat dinge baie lank baie verkeerd was.” Sy stelselmatige veranderende siening oor sy medelandsbugers vorm een van die newemotiewe in hierdie roman wat bydra tot sy motivering om die betrokke saak op te los, maar ook om sy konteks en verhoudings terugskouend te verklaar. Soos van die ander karakters in hierdie roman, moet hy nog vrede maak met sy verlede, en die oplossing van dié saak is deel van daardie proses.

Die laaste bloedige konfrontasie op ‘n afgeleë plaas herinner aan die slot van Deon Meyer se pasverskene Onsigbaar. Ook hier word rolle omgeruil, word die jagter die gejaagde, takel jakkals vir jakkals.

Die Jakkalssomer is ‘n welkome toevoeging tot die spanningsverhaal in Afrikaans, vlot geskryf, ‘n stilsit-eenkeer-deurlees-storie. Ek sou graag die volgende Div Pelser-ondersoek wou lees.

 
 
 
Ondersteun deur Grapetown Capital (Pty) Ltd.

Skrywers en digters is welkom om repliek op hierdie resensies te lewer. Oop gesprek tussen resensente, skrywers, digters en lesers word aangemoedig. Stuur jou kommentaar aan sharon@litnet.co.za.
Kommentaar sal op LitNet gepubliseer word.