Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Biebouw-resensies

Chinchilla: aangrypende roman oor trauma


Johan Anker - 2007-12-12

Nanette van Rooyen
Chinchilla
Kaapstad: Human en Rousseau

ISBN: 978-0-7981-4893-8
217 pp
R130.00
Klik hier en koop jou eksemplaar van Kalahari.net nou!

Onno van der Hart en andere het die volgende te sê oor die verwerking van trauma:

Realization is the formulation of a belief about what happened (the trauma), when it happened (in the past), and to whom it happened (the self). The trauma becomes personalized, relegated to the past, and takes on symbolic rather than sensorimotor properties … realization is an experience of one’s history as one’s own. It provides a transition from the non-verbal dissociated realm of traumatic intrusion into secondary mental process in which words can construct meaning and form, thereby facilitating the transformation of traumatic memory into narrative memory.

Nanette van Rooyen slaag in haar debuutroman daarin om ‘n meesleurende intrige en oorspronklike, oortuigende karakters te skep wat die lesers daarvan lank sal bybly en laat nadink. Daar is ook die bonus van verfrissende, idiomatiese Afrikaans en die herskep van ‘n besondere ruimte deur middel van oorvloedige detail.

Chinchilla is bowenal die verhaal van die verwerking en gevangeskap van trauma, nie net by die hoofkarakter Lea nie, maar ook by die manskarakters, Zacharia en Bastos.

Deur middel van terugflitse word die leser geleidelik ingelaat in die binnewêrelde van hierdie drie karakters wat ondersteun word deur die altyd betroubare Krisjan en die een met die binneste oog: Mirjam. Ook die ma wat Lea nooit geken het nie, is ‘n stille teenwoordigheid in die pels wat sy om haar gooi en die storie wat voltooi moet word.

Die wisselende fokalisasie tussen die karakters is funksioneel vir die suksesvolle spanningslyn in die verhaal en onthul ook die onbegrip vir mekaar se binnewêrelde. Dit is nie, soos Mirjam beweer, net die vrouens wat oor hul binnewêreld moet baas wees nie.

Lea - Zacharias se wilde loot (soos Elise Muller se karakter van die vyftigerjare) - keer terug huis toe na haar ontstellende ervaring van aanhoudende seksuele geweld deur Martin en die verlies van haar ongebore kind as gevolg van hierdie aanrandings: “‘n Kind het laasweek deur my lyf geval.” Sy ontvlug na die bekende wêreld waar daar nog vir haar ‘n mate van sekuriteit lê in die dinge wat sy ken en wat sy goed kan doen, soos die hantering van die chinchillas.

By die huis wag die vreemdeling, Bastos, wat haar terrein van die chinchillas bedreigend betree het, haar pa wat nog net so woordeloos is soos altyd, en die vertroueling, Krisjan, wat van kleins af vir haar die bang leer hanteer het. Vir Mirjam, wat reeds vooruit weet wat met haar gebeur het, beeld van die alwyse ou moeder, sien sy eers later kans.

Stap vir stap word die leser geneem deur Lea se verwerking van die trauma wat sy wil agterlaat, maar wat deel bly van haar lyf en denke. Hier wil sy haar “binnekant weer skoonkry”; hier op die plaas is die onlangse verlede ‘n “herinnering aan ‘n ander tyd in ‘n ander wêreld” alhoewel sy die skok van die pyn van die melk in haar borste nie kan ontken nie. Op hierdie plaas, met sy “veilige onveranderlikheid”, word sy egter steeds daagliks liggaamlik, uiterlik en innerlik herinner aan die pynlike verlede en is daar gedurig die angsdrome en terugflitse na traumatiese oomblikke. Die innerlike en uiterlike merke van die trauma veroorsaak onder andere die ongenaakbaarheid teenoor Bastos; sy het vir eers “genoeg gehad van slagters”. Sy is aanvanklik sonder taal en sku vir mense, lyk “kliphard en krom”, en kan tot Zacharias se verligting nog nie oor haar ervarings praat nie. Tussen die drome, terugflitse en daaglikse werk met die chinchillas, wat juis van die terugflitse veroorsaak, besef Lea dat sy die volle verlede sal moet terugroep en verwerk, “anders het sy álles verloor”.

Gedurende die pynlike ervaring van intense herinneringe as gevolg van reuke soos die neutreuk van koffie en die “soet reuk van vrugwater” besluit Lea om haar eie huis te bou – simbolies van die proses van heelwording in Jungiaanse terme, wat Mirjam ietwat anders verwoord: “… hemel en aarde kan saambind, want vir jou het dinge deurmekaar geneuk.” Sy begrawe haar kind simbolies op die koppie en gaan voort met die bou van haar huis, terwyl die angsdrome voortduur totdat Martin haar kom opsoek en die intensiteit van die angs weer toeneem. Dit is eers met die emosionele uitbarsting na die sien van die gemummifiseerde fetus van die chinchilla dat haar binneste werklik begin herstel, daar van Martin “ontslae” geraak kan word en ‘n nuwe huis ‘n nuwe lente bring waarin sy gereed is om tot haar self terug te keer.

Op hierdie wyse moes Lea die storie wat sy van haar ma geërf het, voltooi en lê daar juis in die voltooiing van haar narratief die heling.

Die roman bied heelwat parallelle vir hierdie helingsproses by Lea. Die detail rondom die versorging en slag van die chinchillas bied nie net die sekuriteit van ‘n vertroude omgewing nie, maar ook metafore van weerloosheid, paring, gevangeskap, geboorte en uiteindelike vryheid. Die valke waaraan Zacharias so verknog is, is sy ontvlugting van die jarelange onuitgesproke smart na sy vrou se dood en ook ‘n parallel met die verwysings na slagters en geweld. Bastos se terugflitse na sy verlede bring sy traumatiese verlede na vore en ‘n verdere parallel met Lea in sy ontvlugting na ‘n vertroude wêreld met die hantering van die chinchillas.

Mirjam se aanvoelings oor en bemoeidheid met die binnewêrelde van die karakters, alhoewel sy die mans as oppervlakkige lamsakke uitkryt, vorm deel van subtiele vooruitwysings in die roman. ‘n Ander voorbeeld hiervan is die beloning vir die bloedige jakkalssterte en die latere verskyning van Martin: “Die vos is hier.”

Die uitgebreide detail oor die ruimte van Sutherland in die verwysing na die omgewing, en Mirjam se rate, kos en resepte is meer as die skep van ‘n oortuigende agtergrond vir die roman. Dit is ‘n noodsaaklik realistiese en herkenbare verwysingswêreld vir Lea waarheen sy uiterlik kan ontvlug en waarin sy die sekuriteit kan vind om die trauma liggaamlik en innerlik te verwerk. In die herkenning van die realistiese lê die aanvanklike metafore vir die begrip van die getraumatiseerde ervarings. Dit is dus nie net die verteller se oënskynlik “oordrewe” gebruik daarvan nie, maar juis sielkundig gemotiveer vir die verskillende fokalisators. Lea moet van die begin af “die pad Blomtuin toe inloop sodat die geur van kruibos op haar kan kom lê”.

Verskeie resensente het reeds gewys op die verfrissende herwinning van die idiomatiese streektaal in hierdie roman. Om maar enkele voorbeelde te noem: “Sy sit te haaks met die hede”; Krisjan is “Mirjam se handperd”; “daar is moer in haar manier”; “daar is meer van ons met gebreekte stertvere”; “kan onthou hoe stip sy hom liefgehad het”.

Chinchilla gaan nog ure se leesgenot aan baie lesers verskaf. Nanette van Rooyen hoef nie weer beangs te word as sy die woord roman hoor nie.


Ondersteun deur Grapetown Capital (Pty) Ltd.


Skrywers en digters is welkom om repliek op hierdie resensies te lewer. Oop gesprek tussen resensente, skrywers, digters en lesers word aangemoedig. Stuur jou kommentaar aan sharon@litnet.co.za.
Kommentaar sal op LitNet gepubliseer word.