Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Biebouw-resensies

Die blou van ons hemel: Al die elemente van 'n spanningsroman, maar ...


Johan Anker - 2007-12-03

Quintus van der Merwe
Die blou van ons hemel
Kaapstad: Tafelberg
ISBN-13: 978-0-624-04549-6
Sagteband
272 pp
Koop hierdie boek nou by Kalahari.net.

Die roman is die skrywer se debuutroman en is geskryf as deel van ‘n Magistergraad in Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van Kaapstad. Dit is duidelik dat die skrywer die elemente van die spanningsroman goed nagevors het en dit probeer integreer in hierdie roman. In watter mate hy daarin geslaag het, sal elke leser self moet bepaal.

Alhoewel ons in Afrikaans ‘n tekort het aan spanningsromans, moet elke spanningsverhaalskrywer in Afrikaans tans meeding met Deon Meyer, en die meeste spanningsverhaallesers (afhangende van hul ouderdom!) lees sulke verhale ook teen die agtergrond van tekste van Ludlum, Bagley, Maclean, Higgens ea, en rolprente wat daarop gegrond is. Dit is dus nie genoeg om net met die elemente van ‘n spanningsverhaal te werk en ‘n intrige daarby aan te pas, of omgekeerd, nie.

Van der Merwe doen sy bes met ‘n spannende gegewe: Suid-Afrikaanse diplomate wat onder hotelarres is in Togo; onwettige diamanthandel (bloeddiamante - so in die kraal van Leonardo DiCaprio) en wapenverskaffing aan rebellegroepe; gebeure wat gedurig wissel van Suid-Afrika na Togo na België na Washington; wisselende fokalisators; kort hoofstukke; liefde; seks (met of sonder die liefde); die gebruik van verskillende tale (Engels, Afrikaans, Nederlands en Frans); verraad en selfverwyt; geweld; vloekwoorde; en persoonlike konflik.

Die skrywer is iemand wat duidelik ook die werkinge van die Departement van Buitelandse Sake goed ken en daardie milieu met selfvertroue skep. Daar is ook die tipiese stereotipes binne die spanningsverhaal: die held met sy swakhede (en literêre en kulturele agtergrond!); die verraaier met sy goeie hoedanighede; die mooi joernalis en lugwaardinne; die hardgebakte chauvinis en feminis; die arrogante Fransman en ou Britse heer. Uiteindelik is dit dalk die sogenaamde verraaier wat die mees veelkantige karakter word.

Die roman beskryf die potensiële konflik tussen kompeterende lande, diplomate, onderdane en gesaghebbers; getrouheid en ontrouheid; swakhede en edele motiewe; strydende faksies; rebellegroepe; ‘n staatsgreep … Tog neem dit 80 bladsye voor ‘n Land Rover deur ‘n garagedeur jaag.

Die vlotheid van wat ‘n spannende intrige kon gewees het, word dalk te lank onderbreek deur liefdesverklarings en -intriges; die beskrywing van landskappe asof die karakters bloot belangstellende toeriste is; of onbenullighede soos die “briljante” plan om ‘n skootrekenaar in ‘n hotel op te spoor.

Dat daar aan Ruben se innerlike stryd oor sy ontrouheid te min verteltyd bestee word, is in ‘n spanningsverhaal dalk nie so belangrik nie, maar die kern van die intrige – die aksie rondom die bloeddiamante en wapenhandel – word afgeskeep en onderbeklemtoon alhoewel die leser vroeg reeds daarvan bewus is. Die handeling is te veel op kantoorvlak en kamervlak in plaas van op straat- en grondvlak.

Ten spyte van die toegewings wat aan ‘n spanningsroman gemaak moet word , is daar uiteindelik net te veel blondines en brunette met borste, te veel aandag aan politieke korrektheid en diplomatieke standaardtaal. Daarteenoor is daar dalk te min aksie, te min Land Rovers wat deur garagedeure jaag, te min avonture in die bosse van Togo, en ja, te min tergende vrae …

Waar baie lesers die titel sal assosieer met: “Ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir jou Suid-Afrika”, skep die inhoud van die teks net nie dieselfde intensiteit nie.

Die slotgedeelte van die roman is beter geskryf, daar is meer gang in die verhaal, die tempo versnel en die aksie word meer geloofwaardig binne dié genre. Die skrywer behoort voort te bou daarop.



Ondersteun deur Grapetown Capital (Pty) Ltd.

Skrywers en digters is welkom om repliek op hierdie resensies te lewer. Oop gesprek tussen resensente, skrywers, digters en lesers word aangemoedig. Stuur jou kommentaar aan sharon@litnet.co.za.
Kommentaar sal op LitNet gepubliseer word.