Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > LitNet Akademies > LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)

Wie behoort die gespreksgenote te wees van Ou-Testamentiese Etiek as ’n onderafdeling van die Ou-Testamentiese Wetenskap?


Christo Lombaard - 2011-03-09

 

Opsomming 

Die Ou-Testamentiese Etiek word in hierdie artikel in oënskou geneem vir sover dit die plasing daarvan binne die Ou-Testamentiese Wetenskap en die implisiete gespreksgenote daarvan aangaan. Enkele opmerkings word gemaak rondom die Ou-Testamentiese Etiek se invloed op die ander subdissiplines van die Ou-Testamentiese Wetenskap, die kerk, en die breëre politieke konteks. Vanuit die antieke ontstaansmilieu van die Ou Testament word afgelei dat dit (onder andere) die subversiewe aard van die geloof wat aan die Ou Testament geboorte gegee het, is wat die oorlewing daarvan veroorsaak het, en dat juis daarin ’n kultuurhistoriese reuse-bydrae tot die groeiende menseregtekultuur van die afgelope dekades lê. In nuwe gespreksgenote wat tot so ’n subversiwiteit (onder meer) kan meewerk, lê moontlike ander impulse tot verdere bydraes van die Ou-Testamentiese Etiek.

Trefwoorde: Ou-Testamentiese Etiek, Ou-Testamentiese Wetenskap, teologiese invloed, subversiewe geloof, menseregte

Abstract

Who ought to be the dialogue partners of Old Testament Ethics as a sub-discipline of Old Testament Science?

In this article Old Testament Ethics is taken into review with respect to its place within Old Testament Science and its implicit dialogue partners. Some remarks are made about the influence of Old Testament Ethics on the other sub-disciplines of Old Testament Science, the church, and the broader political context. From the ancient context of the origins of the Old Testament it can de deduced that (among other aspects) it is the subversive nature of the faith that gave birth to the Old Testament which led to its survival, and that it is precisely this aspect that has made an enormous cultural-historical contribution to the rising human rights culture over recent decades. By seeking new dialogue partners that can contribute to such subversiveness (amongst other matters), Old Testament Ethics may find new impulses to further contributions.

Key words: Old Testament Ethics, Old Testament Science, theological influence, subversive faith, human rights

1. Inleiding: Mooipraatjies

Die punt van hierdie artikel is eenvoudig: ’n mens word gevorm deur die mense met wie jy praat. Gespreksgenote slyp identiteit. Duideliker geformuleer: Ou-Testamentiese Etiek, as subdissipline van die Ou-Testamentiese Wetenskap, se invloed kan aansienlik in reikwydte verbreed word indien die grense van wie tans gewoonlik as geldige gespreksgenote geag word, verruim word. ’n Maklike weg sal dit egter nie wees nie. Tog bewys die Ou-Testamentiese Etiek reeds dat dit die intellektuele drakrag het om op verskillende maniere nuwe gespreksgenote aan te durf.

Een van die probleme van die Ou-Testamentiese Etiek is juis die aanvoeling dat die invloed daarvan redelik beperk is: in die gedrang van, naby aan eie bodem, Nuwe-Testamentiese Etiek, effens breër, Teologiese Etiek, en in wyer kring Filosofiese Etiek en selfs, deesdae, Praktiese Etiek (bv. Singer 1993), midde-in die geraas2 van die kommunikasiekaleidoskoop van die samelewing, kan ’n mens nie die waarneming ontglip dat die subdissipline Ou-Testamentiese Etiek min invloed ekstern op die vakgebied uitoefen nie. Vir ’n studieveld soos die Etiek is dit onrusbarend, want dit is ’n vakgebied wat minder as vele ander intellektuele areas op sigself alleen gerig durf wees. Waar byvoorbeeld “kuns ter wille van kuns” ’n geldige gesprekspunt vorm (vgl. Bell-Villada 1996), sou daar iets verontrustends wees aan “etiek ter wille van etiek”. Etiese besinning reik vanuit die wesensaard van die dissipline na buite: dit is proseduraal diskursief (Carroll 2004:708; Rogerson en Carroll 2004:60–7), en wil oor eie grense heen uitreik. Die Ou-Testamentiese Etiek kan nie net mooipraatjies vir eie ore, ’n tipe binnepret-fluisterstem vir eie waardering, wees nie (vgl. Davies 1998:203). Etiek praat vanuit sy wese na buite.

2. Ou-Testamentiese Etiek as subdissipline van die Ou-Testamentiese Wetenskap

Die Ou-Testamentiese Wetenskap het sigself deur die afgelope twee eeue heen algaande begin verstaan as bestaande uit ’n aantal subdissiplines. Dit sluit in spesialisterreine soos die eksegetiese praktyk en metodologie (vgl. Kraus (1982) en, plaaslik, Le Roux (1993) vir historiese oorsigte); tekskritiek (bv. Deist 1988); “Bybelse argeologie” (vgl. Boshoff 2010); Ou-Testament- en (sedert Childs 1985) respektiewelik Bybelse teologie (bv. Preuβ 1991 en 1992); die relatief onbekende genre Ou-Testamentiese spiritualiteit (vgl. Lombaard 2008:139–53; Lombaard 2006:909–29); Ou-Testamentiese geskiedenis (o.a. Bregman 2003); en Ou-Testamentiese etiek (met byvoorbeeld die uiteenlopende werke van Otto (1994), met sy historiese aanslag, Kaiser Jnr. (1983), met sy ahistoriese aanslag,3 en o.a. Lalleman (2004), met haar te sware steun op sekondêre literatuur). Vir ’n bespreking van enkele onlangse voorstelle vir benaderings tot die Ou-Testamentiese Etiek, soos dié van onder andere Janzen (1994), kyk byvoorbeeld Anderson (2007:39–46).

Interessant genoeg verstaan geen van hierdie subdissiplines hulleself as primêr selfgerig nie. Al hierdie subdissiplines het naamlik gemeen dat hulle, elk op eie wyse, meteens ’n hele reeks gespreksgenote in die oog het (hier eggo Tracy (1981:3–46) se bekende drie gehore van die teologie op die agtergrond). Dit sluit vir elk van hierdie subdissiplines, in telkens wyer kring, die Ou-Testamentiese literatuur en die betrokke subdissipline se omgang daarmee in, die ander subdissiplines (in ’n onsimmetriese matriks, omdat die verskillende subdissiplines mekaar nie eweredig beïnvloed nie), die ander teologiese dissiplines binne wat bekend staan as die teologiese ensiklopedie (vgl. bv. Otto 1994:10–12, opgesom in Barton 2003:163; Sæbø 1998:162–3), die kerklike gemeenskap(pe), ander akademiese dissiplines, en die samelewing in den breë. Hoe breër die kring egter is, hoe vaer skynbaar die eggo’s van die invloed van die betrokke subdissipline – tensy daardie subdissipline self dit eksplisiet ten doel stel om direk met sulke breëre sfere in interaksie te tree (soos wat o.a. die geval is met eksegese en die Bybelvertalingsbedryf). Tot sodanige interaksie het die Ou-Testamentiese Etiek die inherente vermoë om die grootste samelewingsimpak van al die Ou-Testamentiese vakgebiede te hê.

Oor die verlede en hede kan die vraag egter met reg gevra word, ook met betrekking tot die Afrikaanstalige geloofsgemeenskap: Strek die gespreksgenootlike invloed van die Ou-Testamentiese Etiek, in die verlede en tans, enigsins wyer as (i) die tradisionele medesubdissiplines binne die Ou-Testamentiese Wetenskap self; (ii) die kerk, in ’n heel beperkte mate; en (iii) reaksies op ’n politieke vraag na die morele regverdiging van sekere vooropgestelde waarhede (truisms, eerder as truths) in die samelewing?

In ’n groot mate moet die antwoord op hierdie drie moontlikhede wees: nee.

3. ’n Waarneming rondom die gesprek van die Ou-Testamentiese Etiek binne akademiese en kerklike kringe

Om vir die oomblik die besinning by eersgenoemde twee sfere (die medesubdissiplines en die kerk) te hou: in beide hierdie gevalle blyk die invloedsmoontlikhede van die Ou-Testamentiese Etiek redelik beperk te wees. Enersyds: die Ou-Testamentiese teologie en, in ’n mindere mate, die eksegese, is nagenoeg die enigste ander spesialisgebiede binne die Ou-Testamentiese Wetenskap wat erns maak met die Ou-Testamentiese Etiek as voedingsbron vir insigte. Andersyds: binne die Christelike kerktradisies sal dit altyd die Nuwe Testament wees waaraan die leeue-aandeel aan oriënteringskrag vir Christelike (geloofs)lewens ontleen word; pleidooie vir regstellende aksie op die eerste twee derdes van die Bybel (Lombaard 2003:433–50), te meer nog binne ’n Gereformeerde kerktradisie waar aan alle Skrifdele prinsipieel gelyke gesag verleen word, sal altyd op onbegrypende ore val, om verstaanbare redes. Dus, binne die twee invloedsfere van medesubdissiplines enersyds en kerk andersyds, blyk die Ou-Testamentiese Etiek se rol steeds beperk te bly.

Eienaardig genoeg lê hierdie beperkte invloedsmoontlikhede van die Ou- Testamentiese Etiek egter uiteenlopend in sy verhouding tot hierdie twee sfere. Hierin is die tradisionele akademiese onderskeid tussen etos en etiek in en vanuit die antieke leefwêreld waaruit die Ou Testament voortkom, deurslaggewend (vgl. Hempel (1964), wat teruggaan op sy werk van ’n kwarteeu vroeër, asook Hempel (1962:153–61)). Waar etos naamlik van belang is vir die ander subdissiplines van die Ou-Testamentiese Wetenskap, is etiek weer in aanvraag vanuit kerklike oord (en, sal ons hier onder sien, in wyer politieke kring). Etos verwys naamlik binne die Ou-Testamentiese vakgebied na die oënskynlik ondeurdagte,4 dit wil sê onberedeneerde, kultureel-gekondisioneerde refleks-optrede-wyses van mense (vgl. Carroll 2004:9), soos weerspieel in die Ou-Testamentiese literatuur. Etiek, daarenteen, sluit binne die Ou Testament uitsprake of riglyne in oor reg en verkeerd, goed en kwaad (vgl. Frey 2004:147–56) sover dit optrede aangaan.5 Met betrekking tot die Ou-Testamentiese Etiek plaas dit dadelik die verhouding tussen Christelike etiek (as breëre dissipline) en die Ou Testament (Rogerson en Carroll 2004:21–39) op die agenda, naamlik met laasgenoemde as bron naas die Nuwe Testament en die breë Grieks-filosofiese denkkultuur waarbinne ons ons in ons kultuurstroom6 bevind.

Al is dit van beperkte omvang, is die Ou Testament dus deel van hierdie impulse wat op die kerk inwerk. Op sy swakste kom dié waarde binne die kerk na vore in ’n blote op-die-woord-af aanwending van Ou-Testamentiese teksversies (proof-texting).7 Om vir vandag direk uit die Bybel te onttrek dít waaraan ons behoefte sou hê, is egter histories-hermeneuties gewoon onverantwoordbaar. Die veelbewoë “garstig breite Graben” van Lessing (1777:13) is net te groot (Hüttenberger (2002:12–3) dui ter verheldering hiervan tien etiese grondverskille tussen die antieke en moderne wêreld aan). Hoogstens kan die Bybelse geskrifte deel van die erfenis wees waarop ons in ons etiese oordele staatmaak (vgl. Davies 1998:194–203), maar dan steeds krities-evaluerend. Op sy beste vind ons daarom eerder versigtige pogings om op parallelle of analoë wyse vergelykbare morele situasies vanuit die antieke tekswêreld8 en die moderne leefwêreld in dialogiese verhouding tot mekaar te stel:9 “Often the authority of scripture is as much in its modelling of a process as in its mediating of a content” (Birch 1991:34). Antwoorde of oplossings bied so ’n benadering selde; hulp in die vorm van insigte, meer dikwels.10

4. ’n Waarneming rondom die gesprek van die Ou-Testamentiese Etiek met politieke kringe

Die Afrikaanse kerkgeskiedenis gee aan ons die voor die hand liggende voorbeeld van hoe die Bybel, en die Ou Testament by uitnemendheid, aangewend is (vgl. Lombaard 2001a:69–87) ten dienste van waarskynlik een van die mees kontekstuele teologieë ooit (vgl. Govender 1980:77), naamlik die apartheidsteologie. Nóg die vroeëre anti-apartheidsteologie, nóg die aandrang tans op Afrika-gesentreerde teologie, beide ewe eksplisiete strewes tot kontekstuele teologisering, ontkom egter aan presies dieselfde lokval (Lombaard 2009a:274–87): dat ’n sosio-etiese probleem deur intens-opregte mense as van so ’n dringende aard beskou word dat wat hier bo as die beter weg gekaats is, nie konsekwent die norm bly nie. Swak teologie bied sodoende etiese rugsteuning aan wie ook al die maghebber op ’n gegewe tydstip is. Die resultaat wat daarmee gepaard gaan, is ook heel dikwels dat waar etiek hoog opgegee word, minstens ’n deel van die praktyk moreel onaanvaarbaar is.11 Die aandrang op politieke relevansie (Lombaard 2001b:17–24) kan waarskynlik nie vanuit owerheidsweë gemaak word sonder die implikasie van gedienstigheid, sonder veel kritiese snuffelwerk, nie: met hierdie spel van selektiewe moraliteit moet dus saamgespeel word.

Om verskeie redes (waarop nie hier ingegaan word nie) reageer daar altyd minstens sommige persone en instansies betrokke by die Ou-Testamentiese Wetenskap positief op sodanige aandrang op polities-omskrewe relevansie. Ter aanvang kan hieroor egter die vraag gestel word of enige teologie van ondersteuning ooit goeie eksegese of toepassing kan lewer (Lombaard 2001a:85–7): mag het altyd sy blinde kolle, met skrikwekkende implikasies vir diegene wat hulle binne daardie blinde kolle bevind; dieselfde geld vir die meegaande etiese implikasies vir die teologie wat daardie bestel gelegitimeer het. Daarmee saam gaan die verdere vraag of sélfs die instelling van die politieke owerheid, maar óók die teologie, en – vanuit die oogpunt van die etiek – verál die gemeenskap, inderdaad ten beste bedien word deur pogings om wat vanuit owerheidsweë as goed voorgehou word, teologies te onderskryf. Juis op hierdie punt kan die Ou-Testamentiese Wetenskap ons op ’n redelik onverwagte wyse van insig bedien.

5. Die OT (Ondermynende Testament)

Vanuit die breë kultuurhistoriese lewenswêreld van die Ou Testament is daar naamlik ’n goeie voorbeeld van ’n mettertyd eksklusief staatsgeoriënteerde teologie, dié in antieke Egipte, wat tot die einde van die betrokke godsdiens gelei het, juis omdat dit voeling met die res van die menslikebestaanswêreld verloor het. Die Egiptiese religie het naamlik al hoe meer, ook vanuit priestersgeledere, gedraai om die welwese van die heersershuis. Juis hierdie eensydige gedienstigheid veroorsaak dat die godsdiens sy algemene aanhang verloor, en dus mettertyd tot niet gaan. In die geval van die Ou-Testamentiese ontstaansmilieu, daarenteen, is dit juis die subversiewe geloofsingesteldheid van die Israelities-Judese godsdiens teenoor imperiale heersers wat mettertyd die oorlewing daarvan, tot in ons tyd, verseker het (Otto 2004:138; oor die wyse van die uitwerking van hierdie antieke impulse tot op die hede, vgl. Otto (2002a:44–60)).12 Die ironie hieraan verbonde moet ons nie ontgaan nie: die godsdiens wat wou oorleef deur eendimensioneel die owerhede tot diens te wees, verdwyn uit die lewende mensegeskiedenis; die godsdiens wat die skynbaar meer gevaarlike weg kies en die heersers ondermyn, oorleef.

Juis hierdie antiek-subversiewe inslag beïnvloed fundamenteel, en positief, die enkele grootste dryfkrag die afgelope ses dekades tot eties aanvaarbare lewensomstandighede in die wêreld, naamlik die menseregtekultuur. Naas die vryheid van keuse as een inherente sy van hierdie menseregtekultuur is naamlik die ewe belangrike sy van die regte van mense teenoor die owerheid, met laasgenoemde wat sy eerste treë binne ons direkte kultuurerfenis gee in die vorm van hierdie subversiwiteit (vir die besonderhede hiervan, vgl. die vir ons tema uiters belangrike bydraes van Otto (2002b:171–8) en Van der Ven, Dreyer en Pieterse (2004:151–214, 280–303), opgesom in Lombaard (2009b:334–47)).

Dit is dus vanuit die subversiewe instelling teenoor owerheidsgesag – ’n etiese lewenshouding wat sielkundig moeilik te versoene kan wees met tradisionele Calvinisme se gewoonlik onkritiese waardering vir diegene wat bo ons gestel is – dat impulse vanuit die Ou Testament die grootste moontlike positiewe invloed vir die grootste hoeveelheid mense kan uitoefen.

Die onverwagse invloedrykheid van so ’n dimensie vanuit die Ou-Testamentiese leefwêreld en literatuur op die ontwikkelende etiese wêreldkultuur tans hou die moontlikheid in dat dié antieke boekery dalk ander, steeds onontdekte, normatiewe bydraes tot ons samelewing lewer. Dié punt is nou reeds hier bo gemaak, per implikasie met betrekking tot die kerk se etiese besluitneming, onder sekere omstandighede, maar veral en meer direk in verband met die menseregtekultuur van ons tydgleuf. Die vraag is egter: waar sal verdere sulke insigte vandaan kom?

6. Waar kom hul(p) vandaan?

Een van die huidige tendense in die Ou-Testamentiese Etiek as dissipline is dat dit al hoe meer na etiek binne die verskillende literatuursoorte van die Ou Testament vra (vgl. ook Gerhardsson 2006:310–14; Rodd 2001:273–99), naamlik in die Pentateug (bv. Wenham 2000) en daarbinne, die Dekaloog (vgl. die opstelle versamel in Brown (2004)); die Profete (bv. Davies 1981); die Wysheidsgeskrifte (bv. Brown 1996:1–21); die Geskiedsvertellings (bv. Smith 2009); en die narratiewe literatuur (bv. Mills 2001). Verder ook is etiek, binne die antieke milieu, selfs met etiket in verband gebring (Van der Toorn 1985:27–9), en met die kultus (Clements 1999:86–7). Sulke beroeringe toon alreeds ’n hernude soeke na vernuwing van die dissipline.

Hierdie is egter na-binne-gerigte verwikkelinge – nie onwelkom nie, maar ook nie genoeg nie. Om te hou by die subversiewe samelewingsgeoriënteerde klemtoon hier bo sou ek as een moontlikheid aan die hand doen dat doelbewuse aansluiting by ’n sekere soort filosofie gesoek kan word. Die eksistensialisme, soos binne (Suid-) Afrikaanse konteks tuisgebring, bied naamlik bepaalde moontlikhede in hierdie verband.

Om maar twee plaaslike boeke as aansluitingspunte te noem: Schoeman se Generositeit en lewenskuns. Grondtrekke van ’n post-Nietzscheaanse etiek (2004) bied vir die Ou-Testamentiese Etiek grondige insae in die denk- en leeftradisie van die filosoof met die hamer. Hoewel Friedrich Nietzsche se denke een van die standaard-oriëntasiepunte in die filosofie van die afgelope eeu is, en in sy tradisie, ook Hannah Arendt, oor die afgelope halfeeu, vorm hulle nie deel van die gereelde gespreksgenote van die Ou-Testamentiese Etiek nie. Tog, soos uit die Schoeman-werk blyk, sal die omverwerping van die aangekome moraliteit by beide figure, met dramatiese politieke, godsdienstige en sosiale implikasies, goeie aansluiting kan vind by die subversiewe karakter van die Ou Testamentiese tekste, waarvoor die oë in die nuwere navorsing al hoe meer oopgaan.

Goosen se Die nihilisme. Notas oor ons tyd (2007) is ’n filosofiese kragtoer waarin die verlies aan lewensgemeenskap modern bely en pre- en postmodern bestry word. Die oorvloedigheid van die lewe as ’n sentrale tema, maar dan in die onverbloemde aangesig van die impulse tot vernietiging in ons tyd, loop parallel aan die teologie van die boek Prediker, selfs ook daarin dat die Franse eksistensialisme een voor is: God sterf naamlik nie saam met sin nie (vgl. Otto 1994:172–4). Op dié manier sou, behalwe reekse ander impulse wat die Ou-Testamentiese Etiek uit die Goosen-werk kon trek, die Prediker-boek as een van die stilste boeke binne die besinning oor die etos en etiek van die Ou Testament, juis weens die ondermynende aard daarvan, tot meer volwaardige spreker gebring kan word.

Deur in gesprek met bronne soos hierdie te tree, kan die Ou-Testamentiese Etiek sy reikwydte verruim, beide deur die invloed wat dit in breër kringe kan uitoefen en deur die impulse van buite tradisionele gespreksgenote wat daarop kan inwerk. Die hamerslae van vernietiging van uitgediende politieke, godsdienstige en sosiale waardes wat Schoeman (2004) vanuit Nietzsche en Arendt opnuut vorendag haal, en die na vore bring van eksistensialistiese impulse teenoor verontmenslikende tendense in kultuurstrominge van ons tyd wat Goosen aandui, kan elk ’n sterk vernuwende aanslag binne die Bybelse etiek en ander teologiese dissiplines ontketen. Om sulke gespreksgenote te ignoreer, sou wees om sowel die dissipline van die Ou-Testamentiese Etiek as die breë gemeenskap wat dit bedien, van potensieel waardevolle insette te ontneem.

Hoewel onvoorspelbare ontwikkelinge op die gebied van die Ou-Testamentiese Etiek nog voorlê, soos met alle dissiplines, het hierdie voorstel van my ten doel om ’n openheid na buite as inherente onderdeel van die vakgebied te betoog. Op dié manier sal dit die na-buite-oriëntasie van die Ou-Testamentiese Etiek wees wat, saam met die vakgebied self, groter prominensie verkry in die keuse tussen die konsepte van ’n morale close, as ’n geslote moraliteitsisteem van ’n bepaalde groep, en ’n morale ouverte, as veralgemenende besinning oor grense heen (wat Sæbø (1998:168) vir die Ou-Testamentiese Etiek uit Bergson (1932) herwin het).

 

Bibliografie

Anderson, C.B. 2007. Biblical laws. Challenging the principles of Old Testament ethics. In Carroll en Lapsley (reds.) 2007.

Barton, J. 2003. Understanding Old Testament ethics. Approaches and explorations. Louisville: Westminster John Knox Press.

Bell-Villada, G.H. 1996. Art for art's sake en literary life: How politics and markets helped shape the ideology en culture of aestheticism, 1790–1990. Lincoln: University of Nebraska Press.

Bergson, H. 1932. Les deux sources de la morale et de la religion. Parys: Librairie Felix Alcan.

Birch, B.C. 1991. Let justice roll down. The Old Testament, ethics and Christian life. Louisville: Westminster John Knox Press.

Blommestijn, H., C.M.A. Caspers, R. Hofman, F. Mertens, P. Nissen, H. Welzen en W. Litjens (reds.). 2008. Seeing the seeker. Explorations in the discipline of spirituality (Festschrift vir Kees Waaijman). Supplement 19, Studies in Spirituality. Leuven: Peeters.

Boshoff, W. 2010. Epigraphic sources and Israelite and Judean religion: Did the histories of Israelite religions and the theologies of the Old Testament converge during the last two decades? Ongepubliseerde referaat gelewer by die kongres van die International Organisation for the Study of the Old Testament (IOSOT) in Helsinki, Finland, 1–6 Augustus 2010.

Bregman, A. 2003. A history of Israel. New York: Palgrave Macmillan.

Brown, W.P. (red.). 2004. The ten commandments. The reciprocity of faithfulness. Louisville: Westminster John Knox Press.

—. 1996. Character in crisis. A fresh approach to the wisdom literature of the Old Testament. Grand Rapids: William B. Eerdmans.

Buttrick, G.A. (red.). 1962. Interpreter's Bible Dictionary. Volume 2. Nashville: Abingdon.

Carroll, M.D. en J.E. Lapsley (reds.). 2007. Character ethics and the Old Testament. Louisville: Westminster John Knox Press.

Carroll, M.D. 2004. An introduction to the ethics of John Rogerson. In Rogerson en Carroll (reds.) 2004.

Childs, B.S. 1985. Old Testament theology in a canonical context. Londen: SCM Press.

Clements, R.E. 1999. Worship and ethics: A re-examination of Psalm 15. In Graham, Marrs en McKenzie (reds.) 1999.

Clines, D.J.A. en S.D. Moore (reds.). 1998. Auguries. The jubilee volume of the Sheffield Department of Biblical Studies. Supplementreeks 269, Journal for the Study of the Old Testament. Sheffield: Sheffield Academic Press.

Coutinho, E.F. (red.). 2009. Discontinuities and displacements: Studies in comparative literature. Verrigtinge van die XVIIIde kongres van die International Comparative Literature Association (ICLA). Rio de Janeiro: Aeroplano Editora.

Davies, E.W. 1981. Prophecy and ethics. Isaiah and the ethical traditions of Israel. Supplementreeks 16, Journal for the Study of the Old Testament. Sheffield: JSOT Press.

Davies, M. 1998. Is there a future for New Testament ethics? In Clines en Moore (reds.) 1998.

Deist, F.E. 1988. Witnesses to the Old Testament. The literature of the Old Testament, 5. Pretoria: NG Kerkboekhandel.

Frey, C. 2004. Good and evil in ethics. In Graf Reventlow en Hoffman (reds.) 2004.

Gerhardsson, B. 2006. Biblical ethics: Multiplicity and unity. In Son (red.) 2006.

Gericke, J. 2010. Descriptive varieties of philosophical commentary. Old Testament Essays, 23(2):261–82.

Gestrich, C. (red.). 2002. Die Aktualität der Antike. Die ethische Gedächtnis des Abendlandes. (Bylae 2002 tot Berliner Theologischen Zeitschrift). Berlyn: Wichern-Verlag.

Goosen, D. 2007. Die nihilisme. Notas oor ons tyd. Pretoria: Praag.

Göpfert, H.G. (red.). 1979. Werke, 8. Bd.: Theologiekritische Schriften III, Philosophische Schriften. München: Hanser Verlag.

Govender, S. 1980. Church unity in the context of cultural diversity. In Vorster (red.) 1980.

Graf Reventlow, H. en Y. Hoffman (reds.). 2004. The problem of evil and its symbols in Jewish and Christian tradition. Londen: T&T Clark International.

Graham, M.P., R.R. Marrs en S.L. McKenzie (reds.). 1999. Worship and the Hebrew Bible. Essays in honour of John T. Willis. Supplementreeks 284, Journal for the Study of the Old Testament. Sheffield: Sheffield Academic Press.

Hempel, J. 1964. Das Ethos des Alten Testaments. Tweede uitgawe (BZAW 67). Berlyn: Verlag Alfred Töpelmann.

—. 1962. Ethics in the Old Testament. In Buttrick (red.) 1962.

Hofmeyr, J.W., C.J.S. Lombaard en P.J. Maritz (reds.). 2001. 1948 + 50 years. Theology, apartheid and church: Past, present and future. Perspectives on the Church / Perspektiewe op die Kerk, Reeks 5 (1). Pretoria: Institute for Missiological and Ecumenical Research (IMER), Universiteit van Pretoria.

Human, D.J. en C.J.A. Vos (reds.). 2004. Psalms and liturgy. Londen: T&T Clark International.

Hüttenberger, T. 2002. Zur Einführung. Die Aktualität der Antike. In Gestrich (red.) 2002.

Janzen, W. 1994. Old Testament ethics. A paradigmatic approach. Louisville: Westminster John Knox Press.

Kaiser Jnr., W.C. 1983. Toward Old Testament ethics. Grand Rapids: Academie Books.

Kraus, H-J. 1982. Geschichte der historisch-kritischen Erforschung des Alten Testaments. Derde uitgebreide uitgawe. Neukirchen-Vluyn: Neukirchener Verlag.

Lalleman, H. 2004. Celebrating the law? Rethinking Old Testament ethics. Milton Keynes: Paternoster.

Le Roux, J.H. 1993. A story of two ways. Thirty years of Old Testament scholarship in South Africa. Supplement 2, Old Testament Essays. Pretoria: Verba Vitae.

Lessing, G.E. 1777. Über den Beweis des Geistes und der Kraft. In Göpfert (red.) 1979.

Lombaard, C. 2009a. Does contextual exegesis require an affirming Bible? Lessons from “apartheid” and “Africa” as narcissistic hermeneutical keys. Scriptura, 101:274–87.

—. 2009b. Translating human rights between the secular and the spiritual – two recent attempts. In Coutinho (red.) 2009.

—. 2008. What is Biblical spirituality? Perspectives from a minor genre of Old Testament scholarship. In Blommestijn e.a. (reds.) 2008.

—. 2006. Four recent books on spirituality and the Psalms: Some contextualising, analytical and evaluative remarks. Verbum et Ecclesia, 27(3):909–29.

—. 2003. The Old Testament in Christian spirituality: Perspectives on the undervaluation of the Old Testament in Christian spirituality. HTS Teologiese Studies, 59(2):433–50.

—. 2001a. The Bible in the apartheid debate. In Hofmeyr, Lombaard en Maritz (reds.) 2001. 

—. 2001b. The left governing hand and the right governing hand: Begging for a church without public hands? Journal of Theology for Southern Africa, 109:17–24.

Meeks, W.A. 1986. The moral world of the first Christians. Philadelphia: Westminster Press.

Mills, M.E. 2001. Biblical morality. Moral perspectives on Old Testament narratives. Aldershot: Ashgate.

Otto, E. 2004. The Judean legitimation of royal rulers in its Ancient Near Eastern contexts. In Human en Vos (reds.) 2004.

—. 2002a. Gerechtigkeit in der orientalischen und okzidentalen Antike. Aspekte für den ethischen Diskurs in deer Moderne im Spannungsfeld zwischen Max Weber und Ernst Troeltsch. In Gestrich (red.) 2002.

—. 2002b. Gottes recht als Menschenrecht. Rechts- und literaturhistorische Studien zum Deuteronomium. (Beihefte zur Zeitschrift für altorientalische und biblische Rechtsgeschichte, Band 2). Wiesbaden: Harrassowitz Verlag.

—. 1994. Theologische Ethik des Alten Testaments. Stuttgart: Verlag W. Kohlhammer.

Preuβ, H-D. 1991. Theologie des Alten Testaments, Band 1: JHWHs erwählendes und verpflichtendes Handeln. Stuttgart: Kohlhammer.

—. 1992. Theologie des Alten Testaments, Band 2: Israels Weg mit JHWH. Stuttgart: Kohlhammer.

Rodd, C.S. 2001. Glimpses of a strange land. Studies in Old Testament ethics. Edinburg: T&T Clark.

Rodd, C.S. 1995. The use of the Old Testament in Christian ethics. In Rodd (red.) 1995.

Rodd, C.S. (red.). 1995. New occasions teach new duties? Christian ethics for today. Edinburg: T&T Clark.

Rogerson, J. en M.D.R. Carroll (reds.). 2004. Theory and practice in Old Testament ethics. Londen: T&T Clark International.

Sæbø, M. 1998. Reflections on Old Testament ethics: Its dual character and its modern application. In Sæbø (red.) 1998.

Sæbø, M. (red.). 1998. On the way to canon. Creative tradition history in the Old Testament. Supplementreeks 191, Journal for the Study of the Old Testament. Sheffield: Sheffield Academic Press.

Scheffler, E. 2011. Pleading poverty (or identifying with the poor for selfish reasons): On the ideology of Psalm 109. Old Testament essays. Ter perse.

Schoeman, M. 2004. Generositeit en lewenskuns: Grondtrekke van ’n post-Nietzscheaanse etiek. Pretoria: Fragmente.

Singer, P. 1993. Practical ethics. New York: Cambridge University Press.

Smith, R.G. 2009. The fate of justice and righteousness during David’s reign. Narrative ethics and rereading the court history according to 2 Samuel 8:15–20:26. Library of Hebrew Bible / Old Testament Studies, 508. New York: T&T Clark.

Son, S-W. (red.). 2006. History and exegesis. New Testament Essays in honour of Dr E. Earle Ellis for his 80th birthday. New York: T&T Clark.

Thiselton, A.C. 1992. New horizons in hermeneutics. Grand Rapids: Zondervan Publishing House.

Tracy, D. 1981. The analogical imagination: Christian theology and the culture of pluralism. New York: Crossroad.

Tubbs, S.L. en S. Moss. 1991. Human communication. New York: McGraw-Hill.

Van der Toorn, K. 1985. Sin and sanction in Israel and Mesopotamia. A comparative study. Studia Semitica Neerlandica, 22. Assen: Van Gorcum.

Van der Ven, J.A., J.S. Dreyer en H.J.C. Pieterse. 2004. Is there a God of human rights? The complex relationship between human rights and religion. A South African case. International Studies in Religion and Society, 2. Leiden: Brill.

Van Peursen, C.A. 1992. Cultuur in stroomversnelling. Agtste druk. Leiden: Martinus Nijhoff.

Vorster, W.S. (red.). 1980. Church unity and diversity in the Southern African context. Pretoria: Unisa.

Wenham, G.J. 2000. Story as Torah. Reading the Old Testament ethically. Edinburgh: T&T Clark.

Wright, C.J.H. 2004. Old Testament ethics for the people of God. Downers Grove: Inter-Varsity Press.

—. 1995. Walking in the ways of the Lord. The ethical authority of the Old Testament. Leicester: Apollos.

—. 1983. Living as people of God. The relevance of Old Testament ethics. Leicester: Inter-Varsity Press.

Zenger, E. (red.). 2006. Einleitung in das Alte Testament. Sesde hersiene uitgawe. Stuttgart: Verlag W. Kohlhammer.

 

Eindnotas

1 Artikel gebaseer op ’n referaat gelewer by die Ou Testament en Etiek-kongres van die Ou-Testamentiese Werksgemeenskap van Suid-Afrika (OTWSA), 15–17 September 2010, Noordwes-Universiteit se Vaaldriehoekkampus in Vanderbijlpark. Kyk www.otwsa-otssa.co.za.

2 Geraas is in die kommunikasiewetenskap ’n (effens ongemaklike) vertaling van noise, waarmee in kommunikasiekunde-modelle bedoel word aspekte wat die effektiewe kommunikasie tussen sender en ontvanger belemmer – vgl. bv. Tubbs en Moss (1991:11–2).

3 ’n Plat, d.w.s. ahistoriese omgang met die Ou-Testamentiese tekste ter wille daarvan om ’n Ou-Testamentiese Etiek op te stel, het egter geen toekoms nie, aldus Barton (2003:173).

4 Oënskynlik, want soos Gericke (2010:266–80 en elders) betoog, lê daar ’n filosofiese onderbou aan die grond van hierdie optrede – ’n onderbou wat wel vir ons relatief versteek bly, omdat daar in die tekste van die Ou Testament self nie direk filosofies op ingegaan word nie, maar tog kan hierdie filosofiese veronderstellings tentatief afgelei word deur versigtige historiese analise van die morele wêreld van die Bybelse teks (Barton 2003:174, onder invloed van Meeks (1986)). Wright (2004:23–47, en vgl. Wright 1983) se aanslag in hierdie verband lyk met die eerste oogopslag belowend, maar wat dan uiteindelik aangebied word, is eerder evangelikale teologiese temas as filosofiese onderbou. Vir dié benadering sou byvoorbeeld Gerhardsson (2006:322–3) simpatie hê, maar konfessionele verbintenis maak nie van tradisionele konserwatiewe teologie op sigself etiek nie.

5 Dit impliseer natuurlik ook krities-evaluerende filosofiese, dit wil sê meta-etiese, nadenke oor die gronde waarop sulke oorwegings berus, wat egter nie in die Ou Testament direk aangetref word nie – vgl. die vorige nota.

6 Ek neem dié woord in effens veranderde betekenissin in leenbruik van die kultuurfilosoof Van Peursen (1992).

7 ’n Kenmerk van die aanwending van die Ou Testament in modern-etiese debat is juis dat dit dikwels arbitrêr-selektief geskied (Sæbø 1998:164; Rogerson en Carroll 2004:13–20; Rodd 1995:6–8).

8 Vir die kerk is die normatiewe, preskriptiewe sy van die Ou-Testamentiese Etiek dus belangrik (vgl. Sæbø 1998:162; Birch 1991:34), wat onmiddellik die metodologiese probleem meebring van, onder meer, wat histories in antieke Israel gebeur het versus wat die Ou-Testamentiese tekste ons daaroor vertel (Wright 2004:442–60; vgl. Carroll 2004:2–3), met daarby ingemeng nog die intens-komplekse menslike-verstaansproblematiek (vgl. Thiselton 1992).

9 ’n Belangrike eienskap van die Ou-Testamentiese Etiek soos in kerklike kringe bedryf is dat dit op die twee bene van openbaring en die menslike ervaring en rede trek (vgl. Sæbø 1998:169–81). Om egter op openbaring as gesagskategorie staat te maak (soos bv. Wright 1995:47–66 maak), hou in openbare debat min water. ’n Sosiologiese argument, naamlik dat die getalle gelowiges in ’n samelewing dit regverdig dat die etiese impulse uit hulle Heilige Boek(e) mee erns gemaak moet word, het al meer potensiaal, maar sal in die geval van die Ou Testament / Hebreeuse Bybel nie veel legitimiteit dra nie, omdat hierdie “Eerste Testament” (in die terminologie van Zenger (2006)) ’n swak tweede plek inneem teenoor die invloed van die Nuwe Testament (vgl. Birch 1991:29). ’n Historiese argument sou veel beter drakrag hê: vgl. die opmerkings hier onder oor Otto se bydraes in dié verband.

10 Natuurlik het die gebruik van die Ou Testament vir moderne etiese debat sy kontekstuele grense – sien Sæbø (1998:180). Benewens die redelik groot verskille tussen die antieke en moderne kontekste, was/is beide die antiek-kontekstuele en die modern-kontekstuele situasies nie stagnant nie, maar histories-dinamies (Carroll 2004:4–5), wat telkens heroorweging in die lig van veranderde omstandighede en ander insigte vereis. Ons kan dus slegs, in die taal van Rodd (2001:1–4; 271–300), “glimpses” op die etiese leefwêreld waaruit die Ou Testament stam, sien. Daarom moet die beperkte rol van die Ou Testament as stoorkamer vir etiese insigte erken word (Gerhardsson 2006:314–6): ons gaan nie daar op alle vrae wysheid vind nie.

11 Sou die volgende as stelreël kon geld? Hoe hoër moreel opgegee word, hoe laer die praktyk.  

12 Natuurlik het die Ou Testament nie ’n eensydig subversiewe instelling jeens magsetels in die samelewing nie. Teologiese impulse soos die Sionsteologie het in die na-ballingskapse periode byvoorbeeld ’n sterk selfgeldende doelstelling gehad. Soms kom sodanige selfregverdigende impulse op onverwagte maniere na vore: in die Psalms wat byvooorbeeld positief oor die randfigure in die samelewing praat, word hierdie sentiment van tyd tot tyd tot eie voordeel gebruik deur persone wat nie self onder die ontmagtigdes in die samelewing tel nie (Scheffler 2011).