Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Michael le Cordeur: Die punt is

Ek is (ook) ’n Afrikaan: Is Suid-Afrika ’n tuiste vir almal?


Michael le Cordeur - 2011-03-09

Die onlangse debat oor rassisme na aanleiding van Annelie Botes se gewraakte woorde, “Ek hou nie van swart mense nie”, asook Jimmy Manyi se rassistiese opmerking dat daar ’n oorkonsentrasie van bruin mense in die Wes-Kaap is, het opnuut die aandag gevestig op die rassekwessie in ons land en die vraag laat onstaan: Wie is almal Suid-Afrikaners?

Almal wat Suid-Afrikaanse burgerskap geniet, sou ’n mens kon sê. Maar dis nie so eenvoudig nie. Die uitdrukking “’n tuiste vir almal” het sy ontstaan te danke aan Albert Luthuli (later Nobelpryswenner vir vrede). In ’n tyd toe Nelson Mandela lewenslange tronkstraf in die gesig gestaar het, is hy gevra hoe hy die land se toekoms sien. Sy antwoord was: “’n Tuiste vir almal”.

In sy vyf jaar as staatshoof het Nelson Mandela ’n hoogs versoenende rol gespeel. Betrekkinge tussen die bevolkingsgroepe het ’n hoogtepunt bereik en mense was oor die algemeen hoopvol vir ’n beter toekoms. Maar na 1999 het dinge die kreeftegang gegaan. Daar bestaan reeds sterk sensitiwiteit oor die brandkwessie van bruinwees binne die konteks van nierassigheid, identiteit, diversiteit en nasiebou. ’n Groot debat heers tans in Suid-Afrika oor die noodsaak om te versoen, om mense van verskillende velkleure, etnisiteit en tale te verenig. In die hedendaagse wêreld is die gedagte van ’n tuiste vir almal ’n baie kragtige een, gegewe die komplekse polarisasie en komplekse stryd van mense om mekaar te vind. Want of Mbeki dit bedoel het of nie, tydens sy leierskap, en veral na sy toespraak Ek is ’n Afrikaan, het die klem verskuif  na ’n Afrikanistiese tendens. Stadig maar seker is die nierassige etos binne die ANC aangevul met ’n eksklusiewe beskouing waarvolgens swart Africans beskou word as effens meer Suid-Afrikaans as ander.

Hierdie sentimente het nie ongesiens verby gegaan nie. Bruin intellektuele soos Allan Boesak, Franklin Sonn en Richard van der Ross, asook die voormalige Wes-Kaapse premier, Ebrahim Rasool, het begin om hul stem hieroor te verhef:

Rasool: “Om hierdie kwessies aan te pak - en dit nie te ignoreer soos ’n volstruis wat kop in die sand staan nie – is my idee om werklik ’n tuiste te skep vir almal.”

Boesak: “Ek dink aan die nuwe, gekleurde rassiste onder ons wat die ideaal van nierassigheid onder hulle voete vertrap, terwyl hulle lang politieke toesprake hou en hoogheilig praat oor die sondes van apartheid.”

Sonn: “Dieselfde verfoeilike norme wat op swart mense toegepas is, het hulle (bruines) ook beleef. Hulle het ook in lokasies gewoon sonder toilette en water en moes veral op die platteland aan die lewe bly deur teen hulle sin die wit baasskap te aanvaar. Hoe onderdaniger jy was, hoe beter het die baas jou behandel. Bruin mense het hulle nog altyd geroem op nierassigheid en was gevolglik nie huiwerig om vir ander ook plek te maak nie. Eenheid in diversiteit is hulle hartewens.”

Maar ook ander stemme begin opgaan oor brandende kwessies van identiteit, die belangrikste waarskynlik Elna Boesak oor haar gewaarwordinge tydens die samestelling van ’n radioreeks oor die slawegeskiedenis van Suid-Afrika: “Dit is ’n feit soos ’n koei dat die stammoeders van die bekendste Afrikanerfamilies slavinne was. Luister moet ons, anders het ons geen werklike fondament  waarop ons ’n toekoms in Suid-Afrika vir onsself en ons nageslag kan bou nie. Dis tyd dat die Afrikaner ’n Afrikaan word.”

In sy boek The Theory of knowledge skryf Roderick Chisholm: “Our evidence for some things, it would seem, consists of the fact that we have evidence for other things.” Ons het genoeg bewyse van hoe boos apartheid was, en kan dus geredelik aanvaar dat enige vorm van neo-apartheid met dieselfde booshede gepaard sal gaan. Sonn sê: “Tree ons nie nou op nie, moet ons nie verbaas wees as ’n nuwe apartheid met al sy boosheid van ek-is-beter-as-jy- en nouliks bedekte rassisme en uitbuiting weer ons voorland is nie."

Ons weet dat daar gewetenlose etniese mobiliseerders is wat gereed staan om die gevoelens van isolasie vir eie gewin uit te buit. Maar ons behoort slim genoeg te wees om te besef dat as ons nie nierassigheid op ’n konsekwente, sigbare en volhoubare wyse nastreef nie, dit onvermydelik sal lei tot rassekonflik, onstabiliteit en onveiligheid. Kortom: ’n burgeroorlog is ons voorland.    

Wie is almal Suid-Afrikaners? Almal. Wie is meer Suid-Afrikaner? Niemand. Ek is in die eerste plek ’n Suid-Afrikaner met ’n bruin vel wat Afrikaans as moedertaal het wat in hierdie land wil bly omdat ek en my kinders hier hoort. Ek wil verantwoordelikheid aanvaar vir die lot van my mede-Suid-Afrikaners. En ek wil dit doen uit vrye wil, want ek is ook ’n Afrikaan.

As hierdie etos die rigsnoer bly, is die fondament vir ’n suksesvolle Suid-Afrika gelê.



(Erkenning aan die menings van Ebrahim Rassool, Allan Boesak, Franklin Sonn, Richard van der Ross, Elna Boesak, Ismail Davids en Dawie.)

• Michael le Cordeur is verbonde aan die Fakulteit Opvoedkunde van die Universiteit Stellenbosch.