Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Miniseminare

Om te boikot of nie? ’n E-posgesprek


Gerrit Brand - 2011-03-08

Charl-Pierre Naudé skryf:

Beste kollegas

Dis situasie raak net verskrikliker. Ek is bevrees ek is nie oortuig deur die positiewe prentjie wat Tim geskets het nie.

Ek vra die koerante, en spesifiek vir Tim du Plessis, wat iemand is wat die hoër funksies van taal op die hart dra: Besin weer!

Die kardinale punt is die skeiding van "magte". Daar moet verskillende boekeredakteurs wees, wat elk verskillende resensente kan aanstel. Een boekeredakteur wat verskeie resensente mag aanstel (as hy sy lus voel, as hy dink dis belangrik?) - dis geen skeiding van "magte" nie. Dit is steeds toevertrouing aan ’n enkele individu.

Belangrike boeke moet ’n absolute minimum van vier resensies, en wenslik sewe kry - in verskillende fora. (Ek sluit nou die elektroniese forums hierby in.) 

Die plan wat Tim verduidelik, is gewoon nie "checks and balances" nie. In kulturele terme vertaal daardie belangrike politieke beginsel (wat Tim tog seker ook ondersteun?) in die volgende: meervoudige punte van inset om die bes moontlike uitkoms te bewerkstellig. ’n Ster kan nie skyn met net een hoek nie. 

Die boekeblaaie verg voltydse aanstellings. En die aanstellings moet kundige mense wees wat weet watter resensente om te nader vir watter boeke. Die wegkalwing van die hoër funksionering in die nasionale en die taalgroep-psige moet gekeer word. Die uitkringende effek daarvan sal nag wees, en nogmaals nag. Die behouing van boekeblaaie is een so ’n front wat beskerm moet word. Vandag, nie môre nie. 

Die oplossing kan wees in fondse wat verkry word uit die private sektor wat die bestaande boekeblaaie nie slegs in stand hou nie, maar in hul oorspronklike vorm laat uitbrei. 

Die reëling moet so getref word dat dit nie die joernalistieke integriteit van die koerante skaad nie. Dit behoort nie te moeilik te wees nie? Punt is: ons het hier te doen met ’n kulturele funksie wat nie slegs aan die joernalistiek behóórt nie, maar daaraan toevertrou is.

’n Pleidooi aan die privaatsektor, onderteken deur skrywers, moet van stapel gestuur word. Ons moet vra vir partye wat bereid is om te help. Ons moet sorg dat die pleidooi by hul "voordeure" afgelewer word. Daardie partye moet dan aanklop by die koerante, namens ons, sodat die koerante nie meer ’n tekort aan fondse kan pleit nie (wat wel waar is).

Kan dit, Breyten? Hoe lyk dit, Louis? Charles? Gerrit? Joan Hambidge? Ek voel dat Gerrit die regte persoon sal wees om die bewoording te doen. En laat die pleidooi dan met al wat Afrikaanse skrywer is, se handtekening op uitgaan. 

Maar die idee moet eers breër goedkeuring geniet (onder julle) voor dit ’n opsie kan wees.

Wat ek werklik hier mis, is die teenwoordigheid van ’n stem wat nie regstreeks met die letterkunde gemoeid is nie, maar wat die onmisbaarheid van boekeblaaie as burgerlike funksie bekragtig, iemand van "buite". Iemand soos Roda Kadalie (om een voorbeeld te noem). Selfs iemand soos Helen Zille. 

Waaronder word die boekeblad deesdae ingedeel? Onder "Ontspanning"! Dis die eerste fout! ’n Onmisbare funksie is nie blote ontspanning nie.

Laat ons nou inspring en werk maak vir al wat ons kan; en dit nie slegs oorlaat aan die koerante nie. Soos ek in my skrywe op LitNet geargumenteer het, hierdie is in die eerste plek ’n funksie van die burgerlike samelewing, nie die joernalistiek nie; dit is een van enige burgerlike samelewing se kroonjuwele. Daarom is dit ons verantwoordelikheid, of die koerante nou rede insien of nie. Ek help graag waar ek kan.

Charl-Pierre Naudé

 

Gerrit Brand skryf:

Vriende, ek dink nie ons moet ander rolspelers uit die private sektor vra om Media24 te help nie. Daarmee word erkenning gegee aan Media24 se vals aanspraak dat daar nie geld vir verskillende boekeredakteurs is nie. Dit rol van die geld in Media24; die enigste vraag is hoe daardie geld bestee word, en dit is ’n funksie van prioriteite. Media24 kan en moet van hul plan afsien om te toon dat hul prioriteite reg is.

In Nederland was daar ’n tyd toe die regering begin het om die versorgingstaat terug te rol en ’n daar beroep op die kerke en ander nieregeringsorganisasies gedoen is om die armes te help opvang. Die kerke het (tot baie se ontsteltenis) geweier om te help, omdat hulle gereken het dat hulle daardeur legitimiteit aan die regering se immorele beleid sal help gee. Hulle het aangedring dat die staat sy morele verantwoordelikheid nakom om na die armes en noodlydendes om te sien. Daarvoor het hulle meer vir laasgenoemdes gedoen as wat hulle met ’n paar aalmoese sou reggekry het. Dit beteken ook dat die kerke dan meer kan doen in ander lande waar die armoede en lyding nog soveel erger is.

In Suid-Afrika het ons ’n ander, teenproduktiewe, benadering. As die regering sekere belangrike dokumente (byvoorbeeld van die belastingdiens) nie meer in al die amptelike tale beskikbaar stel nie, spring kultuurorganisasies in en sê: “Ons sal dit doen. Gratis.” Dieselfde gebeur wanneer wetgewing net in een of twee tale gepubliseer word. Ek bid jou aan! Daarmee word die regering van sy verantwoordelikheid onthef om alle Suid-Afrikaners gelyk en billik te behandel. Op hierdie manier kan goeie bedoelings en bereidheid tot diens die onbedoelde funksie vervul om ’n onaanvaarbare en onverdedigbare gang van sake ekstra momentum te gee.

Nog iets wat ons verkeerd doen, is dat ons alte gou begrip wil toon vir regeringsorgane of private ondernemings wat besluite neem waarmee ons ongelukkig is. “Ons verstaan julle posisie, maar ...” Dan het jy klaar die stryd verloor. Groot instansies se beleid word deur magsfaktore bepaal. Die aandeelhouers vra net een ding: meer wins, wat minder uitgawes (minder personeel ens) verg. Die werknemers vra beter lone en werksomstandighede en werksekuriteit, en hul vakbonde baklei daarvoor sonder om die geringste “begrip” vir die base te toon. In die samespel van hierdie en ander kragte moet die bestuur van die instelling dan die nodige toegewings maak en met mekaar balanseer. Wat lesers van die boekeblaaie moet doen, is om keihard daarop aan te dring dat die huidige plan nie uitgevoer word nie en meer nog, dat elke koerant ’n voltydse boekeredakteur moet kry. Geen “begrip” nie, geen afgewaterde voorstelle nie, geen hulp aan die onderneming nie. Dis my mening.

Wat kan ons konkreet doen? Breyten het reeds ’n skrywersmondstuk voorgestel. Dis ’n uitstekende idee. Maar herkou ook hieraan: gestel alle huidige resensente, en veral die gewigtiges onder hulle, kondig aan dat hulle sal weier om voortaan boekresensies vir enige van die drie dagblaaie te skryf indien die plan van een superboekeredakteur uitgevoer word. En hulle moet dit bedoel! Dit sal nie net die koerante laat regopsit nie (hulle sal immers geloofwaardigheid verloor), maar ook uitgewers (ingesluit die talle uitgewers buite die Naspers-stal), omdat hulle regstreeks daardeur skade sal ly. Dáár is nou ’n verklaring wat ek bereid sal wees om te onderteken.

Gerrit

 

Breyten Breytenbach skryf:

Gerrit

Ek weet nie of jy ’n soettand het nie, maar ek is bereid om Ashton toe te ry en vir jou ’n blik van die beste jêm te gaan haal vir hierdie sterk mondvol gesonde verstand.

Jy maak ’n absoluut geldige punt. Te lank was daar ’n soort bloedskandelike inteling tussen Afrikanerbedrywe en skryf- of kultuurmense. So asof taal en denke en bevraagtekening en innoverende intellektuele of filosofiese soeke werklik erns vir hulle sou wees. Ons behoort feite onder die oë te sien. In die ou dae het van ons gesê dit maak nie ’n dêm saak of PW Botha ’n nie-rassis is nie; wat tel is dat hy geforseer moet word om op te tree asof hy dit is - en wie weet? - miskien sou daar mettertyd ’n inhoud kon kom om die vorm aan te vul. Dieselfde geld tans vir die belangrikheid om die swart nasionaliste soos Manyi aanmekaar met stokke - desnoods konstitusioneel - by te kom. 

Dus: boikot! (Ek praat maklik – was nog nooit ’n resensent nie, is nooit gevra nie en sou dit ook nie wil doen nie.)

Die gedagte van ’n skrywersmondstuk is aanvullend - maar wel noodsaaklik, sodat skrywers nie altyd onverhoeds betrap word nie en hulle griewe en belange hopelik met meer impak gekanaliseer kan word.

Groete

Breyten

 

Charl-Pierre Naudé skryf:

Beste Breyten en Gerrit

Wel, oukei, as ons gaan met Gerrit se plan dan moet ons dit ordentlik doen.

Dit is beslis één modus operandi.

Ek stel dan voor: nie slegs moet alle resensente hulself onttrek van resensies nie, maar almal van ons wat skrywers is moet versoek dat ons komende boeke nie geresenseer word onder die superredakteurvaandel nie. En ons moet dit bedoel en saamstaan.

Dus, as Media24 hiermee voortgaan, moet alle Afrikaanse skrywers en resensente soos een man/vrou hulself hieraan onttrek. Dit moet so ’n groots moontlike boikot wees. Boikotte maak die boikotters ook op korttermyn seer, maar daar is min dinge wat al so suksesvol was op medium en lang termyn.

Charl-Pierre Naudé

 

Gerrit Brand skryf:

Langenhoven het mos voor in sy boeke laat druk: "Geen resensie gevra nie", of so iets. (Ontevredenheid oor resensente is nie iets nuuts nie!) Ek dink nie die koerant het hom daaraan gesteur nie. (Dan weer: Langenhoven was die einste koerant se gewildste rubriekskrywer!) ’n Mens kan ’n koerant natuurlik nie verhoed om jou boek te resenseer nie - dis in die openbare domein. Maar miskien sou die blote versoek al ’n sterk boodskap uitstuur, en saam met die weiering om resensies te skryf, kan dit die nodige impak maak. Die koerant sal natuurlik weer ander mense kan kry om te resenseer, maar as elke letterkundige naam van belang onbeskikbaar is, sal dit natuurlik alle geloofwaardigheid wegneem.

Ek moet egter nie te grootbek wees nie. Ek het lanklaas enige boekresensie geskryf en die boek self moet nog gebeur! Soos Breyten oor homself geskryf het, is my woorde in hierdie verband dus goedkoop. Dis iets wat skrywers en ander letterkundiges moet besluit.

Partykeer skrik ek vir die mal gedagtes wat by my opkom ...

Gerrit

 

Charles Malan skryf:

Hallo almal

Tim du Plessis antwoord op my ope brief aan hom dat Beeld more ’n nuusberig sal publiseer waarin hulle standpunt gestel word. Ek sal dit aanstuur.

Joan voel dat ’n boikot in beginsel goed is, maar dat dit in die praktyk nie sal werk nie. Skrywers sal hulself in die voet skiet. Individuele skrywers en resensente moet natuurlik self besluit, maar dan moet hulle ook aanvaar dat dit my, Breyten en ander se besluit is om nie met die nuwe superbedeling saam te werk nie. ’n Boikot kom natuurlik eers ter sprake nadat die pad van redelike onderhandelings gefaal het. Volgens alle aanduidings is ons nou wel daar.

Mens is jammer dat die nuwe Superman-redakteur met of sonder ’n wyer boikot die slagoffer gaan wees in ’n onwerkbare bedeling, maar dit is na soveel waarskuwings ook sy/haar eie keuse.

Charles

Hiermee die berig in Beeld en Tim du Plessis se standpunt. Breyten se foto was daarby, ook op die voorblad-aankondiging.

Skrywers wil boikot

Neels Jackson

Die digter Breyten Breytenbach het gister ’n skrywersboikot teen die koerante van Media24 uitgeroep oor ’n plan om ’n gesamentlike boekeblad vir drie van die groep se dagblaaie te skep.

’n Groep Afrikaanse skrywers het vandeesweek in ’n geslote e-pos-briefwisseling tussen skrywers en literêre figure, asook op literêre webwerwe, uitgevaar teen dié besluit deur die redakteurs van Beeld, Die Burger en Volksblad.

Die skrywers sê die besluit kom neer op ’n “verskraling” en ’n “afdomming” deurdat dit die verskeidenheid van stemme oor Afrikaanse letterkunde sal verminder.

Die redakteurs sê een boekeblad met ’n heeltydse redakteur wat boeke-inhoud lewer vir boekeblaaie, vir die koerante se digitale platforms, vir die nuusblaaie en vir die dieptebylae By skep groter verskeidenheid en beter gehalte.

Hokaai, die hoofdoel is om ’n beter diens te kan lewer

Tim du Plessis
Redakteur van Beeld

Die besluit om een boekeblad vir Beeld, Die Burger en Volksblad te skep, is gesamentlik geneem deur die redakteurs van die drie dagblaaie. Die hoofdoel is ’n beter diens aan die kopers en lesers. Hulle is ons primêre belangehouers.

Tans het die drie dagblaaie elk ’n eie boekeblad, maar geeneen van die drie kan ’n heeltydse boekeredakteur met ’n ruim begroting vir resensente en medewerkers bekostig nie.

Ons reken ons kan beter vaar met saamgegooide hulpbronne.

Só kan ons ’n heeltydse boekeredakteur aanstel, wat dit as ’n spesialisterrein namens al drie koerante behartig, met ’n behoorlike begroting om medewerkers van hoë gehalte te werf.

 

Marga Collings skryf:

Hallo almal

Hier onder iets wat ek vroeër vanmiddag op Versindaba gepos het; dit is ook aan LitNet gestuur:

As uitgewer wil ek graag my opinie lug oor die beoogde skrywersboikot van die boekeblaaie. Ek stem saam met Joan Hambidge en Louis Esterhuizen dat dit nie die roete is om te volg nie.

Die protesaksie teen die aanstelling van een nasionale boekeredakteur het die behoud van ’n diversiteit van sienings oor boeke ten doel gehad. Baie van die skrywers in die debat het juis geargumenteer ten gunste van ’n verbetering van die boekeblaaie, dws vir méér, nie minder nie. Dit het daarom gegaan dat iets tot stand gebring, of ten minste behou moet word. Wat ons eintlik wil hê (en dit is waaroor die hele argument éíntlik moes gegaan het) is drie volwáárdige boekeblaaie.

Maar uiteraard wil mens dan resensies op daardie bladsye hê. Ek kan nie sien dat daar enigsins ’n moontlikheid van ’n positiewe uitkoms is as skrywers weier dat hulle boeke geresenseer word en resensente ophou resenseer nie. Tsv die groei van die internet, en die belangrikheid van webwerwe soos LitNet en Versindaba vir resensies van literêre werke in Afrikaans, bly die Afrikaanse dagblaaie belangrik en is dit vir baie Afrikaanssprekendes die primêre bron waar hulle van nuwe boeke hoor en resensies daarvan lees. Al wat ’n (suksesvolle) boikot tot gevolg sal hê, is dat té veel lesers nie gaan weet van die verskyning van boeke nie. En as goeie resensente nie meer beskikbaar is nie, sal daar rondgeskarrel moet word om ander mense te vind om te resenseer en is daar ’n wesentlike risiko dat die kwaliteit van die boekeblaaie agteruitgaan.

Moet lesers en skrywers dus nou aktief van mekaar vervreem word? En waar laat dit uitgewerye wat nie net boeke wil maak nie, maar hulle ook wil verkoop? En skrywers, vir wie boekverkope nét so belangrik is? Hoe gaan ons skrywers se belange bevorder en buitelandse regte verkoop as daar geen swaargewig-resensies is wat ’n aanduiding kan gee van die positiewe ontvangs van die boek in die plaaslike mark nie? Wil ons nou die vervlakking van boekeblaaie aanhelp?

Die doel van die hele protesaksie was tog sekerlik om iets positiefs te probeer bewerkstellig; nie om sake te vererger en ’n volskaalse oorlog tussen skrywers en koerante aan die gang te sit nie? Ek dink werklik mens moet ’n manier probeer kry om versoening teweeg te bring, eerder as om nog meer in die proses te vernietig.

Groete

Marga

 

Gerrit Brand skryf:

Beste Marga

Dankie vir jou helder betoog. My vraag: Verwar jy dalk nie strategie met uitkoms nie?

Dink aan ’n staking wat deur ’n vakbond onderneem word. Die bedoeling is om mense se werk te behou of hulle beter lone te laat kry. Daarom word gestaak. Gestel nou iemand sou redeneer dat die staking ’n teenstrydigheid is: die vakbonde se hele geveg gaan om beter lone, maar nou verloor hul lede geld deur die staking; hulle wil hê hul lede moet aanhou werk, maar nou weier hulle om te werk. Dit sou tog nie ’n geldige argument wees nie? Die doel met die staking is om die werkgewer verliese te laat ly sodat hulle afsien van beplande afleggings of sodat hulle lone verhoog. Meestal werk dit.

Dis ook hier die logika: as geen gerespekteerde resensent meer wil resenseer nie, verloor die koerant se boekeblad (nie meer boekeblaaie nie ...) alle geloofwaardigheid, en daardeur sal die koerante skade ly. Die doel is om hulle van hul besluit te laat afsien.

’n Vakbond bereik nie sy doel deur met goeie argumente die base te probeer oortuig nie (die base sal sê: “Ons hoor julle”, en dan gewoon aangaan om te doen wat hulle in elk geval beoog het om te doen). As die literêre wêreld dink hulle kan met argumente en pleidooie Media24 oorreed om nie ’n nasionale boekeredakteur aan te stel nie, kan hulle nou maar ophou probeer. Dit sal ’n mors van energie wees. Dis seker ook ’n opsie, maar dan moet dit duidelik wees dis waarop besluit word: Ons teken protes aan, maar ons gaan lê.

Gerrit

 

Marga Collings skryf:

Beste Gerrit

Nee, ek verwar nie strategie met uitkoms nie. Ek dink net nie dat ’n boikot-strategie die uitkoms sal bewerkstellig wat enigiemand wil hê nie.

Wanneer ’n vakbond staak, is die bedoeling om die betrokke maatskappy/organisasie só seer te maak dat verliese gely word deurdat produksie verminder of heeltemal ophou. Die koerante kan voortgaan en sál voortgaan. Al wat sal gebeur, sou resensente staak, is dat mense wat minder kundig is die resensies op die boekeblaaie sal skryf, dat die boekeblaaie minder relevant word en minder lesers trek. Dit sal eindig not with a bang, but with a whimper.

Groete

Marga

 

 

<< Terug na die “Een boekeredakteur”-miniseminaar <<