Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Kennisgewings | Notices > Afrikaans

’n Fees van verkenning by die Afrikaanse stem- en boekefees


2011-03-08

Untitled Document


DigSange: Afrikaanse stem- en boekefees

Groenkloof-Ouditorium, Pretoria
Sondag, 13 Maart: 14:30
Kaartjies: R120 (R100 vir studente en pensioenarisse)
Besprekings: Computicket

Sondag 13 Maart 2011 om 10:00 begin die boekefees en om 14:30 die stemfees by die Groenkloof-Ouditorium in Pretoria.  Soos in Maart en Oktober 2010, het die fees weer ’n onvergeetlike smeltkroesprogram.  Kunstenaars wat optree en wie se werk voorgestel word, sluit in Mimi Coertse, die Mannekoor van Pretoria, Jak de Priester, Rosa Smit (Sheila Cussons), Gerda Botha (Wilma Stockenström), Petro van der Westhuizen, Ian Raper (Boerneef),  Johan de Beer, Philip Nel en ander wat nog moet bevestig.

DigSange bevorder hierdie Afrikaanse projekte
Opbrengste sal aangewend word vir die uitbreiding van die bestaande hAp Boekerij, om onder meer die Mimi Coertse Museum van Afrikaans en ’n meer volledige Afrikaanse letterkundige biblioteek te huisves. ’n Nuwe projek is die opneem op DVD van digters wat hulle eie werk voorlees. Die eerste twee DigSange-programme is reeds deur Henie Maas opgeneem

’n Groot hAp vir Afrikaans!
hAp bestaan al sedert 2002 en het met poësievoorlesings begin in die voortuin van ’n huis in Malherbestraat, Capital Park, Pretoria. 

Eers was dit net die stoepteater en twee klein vertrekke waar kunsuitstallings gehou is. Later is die hele huis verbou om ’n binnenshuise teater (poësieteater) en veel ruimer kunsgalery te huisves (2004). Die poësieteater word vir poësievoorlesings, boekbekendstellings en funksies gebruik.

Sedert 2004 al kom ’n digtersgroep elke Saterdagmiddag, onder bevryding van Ian Raper, by hAp bymekaar. Verskeie werke is reeds deur groeplede gepubliseer, insluitende die eerste Afrikaanse e-bloemlesing Klikspringer en bundels van Rosa Smit, Lucie Möller, Gerda Fourie, Karlien van der Merwe, en Petro van der Westhuizen en Jaco Erasmus.  Kursusse in die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde is aangebied, met talle digtersfokusse om veral jong belangstellendes voor te stel aan ouer of minder bekende digters in Afrikaans.  Daar was al ’n Van Wyk Louw-gedenklesing  en hulde aan ander wat 100 sou geword het. Hiermee is ’n private department Afrikaans en Nederlands in die vooruitsig gestel as teenvoeter vir die sluiting en verwatering van sulke departemente by bepaalde universiteite.

In Julie 2005 is die Boekerij by hAp deur Mimi Coertse geopen, hoofsaaklik met die oog op die “huisvesting” van boekskenkings en redding van versamelings wat toenemend hulle weg na hAp gevind het. Vandag het die Boekerij ’n afdeling vir Afrikaanse, Nederlandse en Engelse letterkundige boeke, asook ’n afdeling vir boeke wat te koop is. 

In Oktober 2008 is die Mimi Coertse Museum van Afrikaans by hAp geopen. 

Gedurende 2009 is die hAp se Adviesraad op die been gebring om hAp by te staan met die bevordering van die literatuur in Afrikaans.  Lede is Mimi Coertse, dr Ian Raper, prof Marinus Wiechers, Charl Pretorius, regter Eberhardt Bertelsman, Johan de Beer.

Gedurende Maart 2010 het hAp die eerste Digsange Afrikaanse Stemfees aangebied met Afrikaanse digters en sangers, onder wie Mimi Coertse, Nataniël, Steve Hofmeyr, Jannie Moolman, Petru Wessels, Carel Trichardt, Trevor Nasser, Henning Pieterse, Andries (Roof) Bezuidenhout, Die Black Tie Ensemble, Kabous Verwoed, René Bohnen, Gerda Botha, Karlien van der Merwe, Lucie Moller, Elrine-Louise, Rosa Smit, Gerrie Jamneck en Andre Viljoen. Die 2010 Oktoberprogram was ook ongelooflik. Amanda Strydom, Lochner de Kock, Piet van Wyk de Vries en Carina Stander was ’n paar van die mense wat opgetree het.

Bespreek vroegtydig!

DigSange word Sondag, 13 Maart 2011 om 14:30 by die Groenkloof Ouditorium, Groenkloof Kampus van die Universiteit van Pretoria gehou.

Kaartjies: R120 (R100 vir studente en pensioenarisse) by Computicket. Bel Charl Pretorius (076 842 9212) of Analize Neethling (076 2929 250) vir meer inligting of besoek ons webblad by www.hap.co.za.