Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate > Essays & Referate | Essays & Papers

Die nuwe Adam Tas: Henry Cloete gesels met Roelof Nel en Jared Abels


Henry Cloete - 2007-02-12


Saterdagaand, en veral in Februarie, is in Stellenbosch nooit iets wat te veel inspanning verg nie. Die Brazen Head se klante bevestig dit – niemand lyk te moeilik vanaand nie. Kaalgeskeerde koppe is om baie van die tafels gesaai (koshuisdoop is immers onlangs verby). Groepe netjiese mense en groepe lang-hare-vuil-baarde mense lawaai op hul eie, weg van mekaar. Sigarette word opgesteek en selfone word gecheck. Van binne kom die klanke van ‘n fluitjie wat geblaas word en klink die krete “Go boytjie!” op vanwaar die Super 14-entoesiaste hulle uitleef. 
 
Roelof Nel en Jared Abels, onderskeidelik die voorsitter en ondervoorsitter van die nuutgestigte vereniging ADAM TAS op Stellenbosch se universiteitskampus, lyk moeg, maar ver van uitgeput. Hulle moes al die televisienuus en omtrent vier verskillende publikasies se joernaliste te woord staan vandag, nadat hulle vanoggend hul simboliese openingseremonie op die Administrasie A-gebou se trappe gehou het.
 
“Ons het dit eintlik redelik onder die radar probeer hou, maar ek is ‘n klomp keer vanoggend wakker gebel deur mense wat gehoor het van die ‘optog’ en wou deelneem!” lag Roelof.
 
‘n Optog was dit nie, maar wel ‘n sterk simboliese optrede deur ‘n stuk of 25 studente. Die Adam Tas-vereniging se bestuurslede, netjies geklee in kakiebroeke en wit knoophemde, het ‘n "anker" voor die trappe gelê, versier in die kleure van die Suid-Afrikaanse vlag.
 
“Baie van ons mense, die jeug, is te bang om op te staan vir dit waarin hulle glo. Ons moenie vergeet watter impak die jeug kan hê nie – het ons dan al klaar van 1976 vergeet? Mense moet kan dink, ons moet dit terugbring dat mense kan opstaan,” sê Jared, entoesiasties, met hande wat swaai en oë wat groot raak. Jared is ‘n Mitchells Plein-boorling, nou as inwoner van Huis Marais ‘n derdejaarstudent in Finansiëlerisikobestuur.
 
“Dis reg,” voeg Roelof, sesdejaar-teologiestudent en ondervoorsitter van die studenteraad, by; “dit gaan oor ‘n fokus op die gemeenskap. Ons vereniging se fokus is op Afrikaans, daarom ook ons leuse: ‘Ons transformeer in Afrikaans’. Dit is nou tyd vir ons om te praat, want mense weet nie regtig wat Afrikaans is, of hoe om dit te sien nie. Jy kry die ou-vlag-klomp, versus die ver linkses. Mense val rond … Ek dink ons wil mense bewus maak daarvan dat daar ‘n rol om te speel is vir Afrikaanses, in Afrikaans, nie net nou nie, maar ook eendag as jy by Stellenbosch uitstap.”
 
Die twee praat asof hul al jare lank saamwerk. Hul lag oor die nuusberig wat skaars twee ure gelede op SABC2 uitgesaai is. Roelof is kamma jaloers omdat Jared meer lugtyd as hy gekry het, waarop Jared eenvoudig antwoord: “Ja, maar jy was bietjie hard met wat jy gesê het.”
 
Roelof proes. “Wat?! Wat van jou wat sommer vir ENB uithaal!”
 
Hoewel Roelof geen groentjie tot kampuspolitiek en die media is nie (hy was primarius van Wilgenhof-koshuis ten tyde van die gewraakte Anton van Niekerk-slurpie-voorval), het hy tot nou toe nie in die taaldebat betrokke geraak nie.
 
“Die draaipunt was vir my aan die einde van laasjaar. Ek het eers maar op die kantlyn gebly, as gevolg van daai persepsie wat Chris Brink geskep het oor almal wat vir Afrikaans opstaan as verstokte Afrikaners, jy weet. Ek het egter besef dat dit ‘n vreeslike wanpersepsie is – mense weet nie regtig hoe die goed werk nie. Miskien moet ons ‘n ‘Taaldebat for dummies’ publiseer, dat mense eintlik kan sien wie die rolspelers is,” lag hy.
 
“Dis nog steeds moeilik met die persepsies; mense sit sommer ‘n ander missie in jou mond as wat jy het,” sê Jared.
 
“Ja, die beeld is baie belangrik. Adam Tas moet nie in daai groep gegooi word nie, die hele ‘De la Rey’-klomp nie. Dis goed en wel om vir die Afrikaner te staan, maar ons staan vir Afrikaans. Ons is toekomsgerig; dit gaan oor die rol wat te speel is. Ons wéét die regte soort energie is hier, onder die studente.”
 
Op hierdie oomblik begin ‘n tafel neffens ons kliphard sing. "De la Rey, De la Rey …"
 
Roelof glimlag. “In elk geval … Ons weet die regte soort energie is hier, en ook buite Stellenbosch. Na die nuusberig vanaand, jislaaik, ek het selfs ‘n klomp SMS’e uit Brandvlei gekry. En een uit Irak!” Hy wys die boodskap van die meisie af. Dit eindig: “… ek leef en werk in Engels in Irak, en dit suck!!”.
 
Ten spyte van al die vroeë ondersteuning is die vereniging duidelik nog in sy net-postnatale fase. Hoekom "Adam Tas"?
 
“Dis ‘n lekker beeld. Die hele konnotasie met Tas, Tassies, ook natuurlik die beeld van die Vryburger wat opgestaan het teen goewerneur Adriaan van der Stel. Die beeld en die gees van die vereniging is vir ons baie belangrik … Ander verenigings hou Kaas-en-Wyn-aande. Ons gaan Tas-en-Toast-aande hou!” lag hulle.
 
Vir Adam Tas gaan dit nou daaroor om die bewustheid te skep van die vereniging, dat hulle hier is, terwyl die meeste van hul aksies nog met die beskrywing "Ons gaan …" gepaard gaan. Hoe gaan dit gebeur?
 
Roelof dink na. “Die raad sit die 17de oor die taalbeleid. Ons het besluit ons moet voor dan ‘n impak maak – dis waaroor vanoggend se seremonie gegaan het. Verder gaan dit vir ons oor kritiese gesprekvoering, om Afrikaanse studente te mobiliseer, nie net op Stellenbosch nie, maar vir die 'real world’ ook. Dit gaan oor die lang termyn. Die vereniging is ‘n mondstuk vir Afrikaans … Ek dink ons gaan die vrugte van Adam Tas eers oor ‘n paar jaar begin sien.”
 
Jared raak opgewonde, sy oë weer kenmerkend groot. “Ons sien nie onsself as ‘n drukgroep nie. Ons is ‘n verteenwoordigende groep. Afrikaans kan mense nader aan mekaar bring – daar is soveel dinge wat ‘n mens definieer in Suid-Afrika. Afrikaans is Suid-Afrika se taal, net soos Xhoza, Zulu en al die ander tale. Mens kan nie op die kantlyn sit en sê wat is 'myne’ nie. Dan begin jy uitsluit! Daar’s soveel dinge hier wat jou definieer; dis wat jy vóél wat saakmaak! Dis soms so onnodig om onsself te probeer afskort en nou te dink, wat is ‘n Afrikaner, en so aan. Dit gaan oor wat jy voel!”
 
‘n Vrou met ‘n mandjie vol wollerige beertjies kom verby. Dis amper onmoontlik om te hoor vir wie sy geld insamel. Sy aanvaar enige donasie.
 
Jared probeer weer sy momentum vind. “Alles wat die US doen op hierdie stadium … dit lyk asof hulle net niks teen die regering wil sê nie; daar word nie in belang van die gemeenskap opgetree nie.”
 
“Dis nog iets waar Adam Tas graag ‘n rol wil speel,” val Roelof in, “in die werwing van studente, met die fokus op die rol wat Afrikaans daarin kan speel. Ons wil eintlik op ‘n klomp verskillende areas fokus, soos Afrikaans in die besigheidsektor, Afrikaans in die media, en so aan … Ons wil geleenthede hê waar sprekers kom en help om studente te mobiliseer vir hierdie soort goed. Met die taaldebat … ons glo dat die antwoord op die taalprobleem by die studente lê. Dis waar ons ‘n rol het om te speel."
 
“Ek dink studente voel sterk hieroor, maar hul het nie noodwendig nou die kennis of leierseienskappe om op te staan nie. Dis waar ons ook inkom, met die hele mobilisering-ding. Daar word nou so baie ge-revise aan alles rondom die taal en so; dit is nou die tyd om op te staan,” stel Jared, nou kalmer.
 
Hoekom is dit juis nou die tyd, hoekom nie vroeër al nie?
 
“Nee, dis nie nou dié tyd nie, dit is nou óns tyd,” sê Roelof. Hy dink na, draai na Jared. “Jis, ek moet daai soort lines in my preke begin gebruik.”
 
Die Amstels voor ons loer amper leeg en ook belangstellend op.
 
“So wie is nou eintlik die lede van hierdie Adam Tas-vereniging?” vra die een voor Roelof vir die een voor Jared.
 
Roelof frons vir die bottel, tel hom op en vat die laaste sluk. “Op die oomblik is dit net die bestuur, omtrent 25 mense wat almal studenteleiers is – ‘n paar SR-lede, primaria, voorsitters van ander verenigings, en so aan. Ons is nog jonk; dit gaan groei. Dis maar onvoorspelbaar – jy weet nie hoe ander mense, ander verenigings en so aan gaan reageer op hierdie ding nie. Jy donner maar net voort, want as jy momentum het, gaan jy êrens kom.”
 
Die ouens lag weer oor die nuusberig op die televisie – dit sink nog in. Hulle was laat in die berig op, maar het die hooftrekke gemaak. Die gevolgtrekking word gemaak dat dit definitief die beste nuus was, en dat die SABC die mense só kry om aan te hou kyk.
 
En dan weer oor Afrikaans en "inklusiewe" Afrikaans. “Inklusief beteken eintlik vir ons 'interaktief'. Intellektuele gesprek onder studente, jy weet. Alles is nou in plek vir hierdie ding om vorentoe te gaan.”
 
Die ouens staan op – dit was ‘n lang dag.
 
“Dit was ‘n goeie dag,” groet hulle mekaar. “Jis, sien jou Maandag. Sterkte met klas.”
 


  • Roelof Nel se toespraak by die ankerlegging
  • Jared Abels se toespraak by die ankerlegging
  •