Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Miniseminare

Wat sal ’n boikot tog regkry?


Dawid van Lill - 2011-03-08

Ek verstom my oor die vurigheid waaroor die debat oor een boekeredakteur gevoer word. Dit voel amper asof sommige skrywers dit as een van die Tekens van die Tye beskou. En dit nogal só kort voor 2012? Laat ’n mens dink, of hoe? Ek moet ruiterlik erken dat ek nie die debat van die begin af gevolg het nie, maar die felheid daarvan het my tog opgeval. Alle partye het ’n deeltjie van die waarheid beet, so lyk dit my, maar misleiding van weerskante kan ook nie uitgesluit word nie.

Ek beskou dié saak uit ’n oorwegend siniese oogpunt, met die wete dat eiebelang ’n groot rol by baie besluite én klagtes speel.

Die koerante wil geld bespaar. Fieniesj en klaar. Nou maar sê dan so. Dan verstaan ons dit. Moet dié besluit tog net nie met die nuut-uitgedinkte voordele van so ’n situasie probeer verduidelik nie. (Dis só Julius Malema.) “Ons wil geld bespaar. Ons sal die beste van die saak probeer maak. As jy enigsins nog ’n koerant wil hê, met of sonder ’n boekeblad, verstaan asseblief en ondersteun ons. Koerante se vernaamste doel is nie meer om die taal te bevorder nie. Dit is om geld te maak.” En die kenners van die letterkunde kan sê: “Goed, ons sal help. Ons wil die letterkunde en boeke bevorder. Ons sal dus gratis resensies doen van boeke wat voorheen nie eens geresenseer is nie. Sommer ses, as dit nodig is. En ons sal debatteer oor die resensies en menings wissel en nuwe gespreksrigtings ontdek en die taal en letterkunde bevorder. Omdat ons wil en moet. Nie omdat ons dikbek vir die koerante wag om dit (reg) te doen nie.” Waar? Op die internet, waar dit (relatief) gratis is. Skryf jou eie boekeblog, magtag!

Wat sal ’n boikot tog regkry? Om die koerant te sluit, ja. Asseblief! Sal die koerant wat nie geld het nie, sy sportblaaie (wat klaar saamgevoeg is) en kunsblaaie (wat klaar saamgevoeg is) uit pure paniek sluit oor drie skrywers wat dit boikot en net boekresensies plaas, sodat die Taal nie sterf nie?

Nee, dis nou tyd vir saamstaan en nuwe, kreatiewe planne uitdink om die letterkunde en boeke te bevorder. Alhoewel die meeste uitgewers ook maar dié bedryf vir die geld aan die gang hou. Dis hoekom hulle baie keer eers hoor of Leserskring ’n boek sal koop voordat hulle dit druk.

Afrikaans sal oorleef. Met of sonder koerante en boekeblaaie en resensies. En selfs sonder letterkundiges en skrywers (wat soms ’n soort Afrikaans praat wat ek nie eens aldag verstaan nie).

Koerante soos ons dit ken se dae is in elk geval getel. Die skrif is aan die iPad. Maar die internet (viva, LitNet, viva!) bied almal mos ’n kans om deel te neem aan die gesprekke oor Afrikaans en skrywers en boeke.

O ja, en boeke van papier se dae is ook getel. Ek lees my boeke op my e-leser. Goedkoper, meer bekombaar, makliker vervoerbaar en meer toeganklik. (En ek sal binnekort ook my resensies daar wil lees. Wat ek saam met die boek sal kan aflaai.) En e-boeke en e-resensies sal nog steeds Afrikaans wees. Is dit dan nie waaroor dit uiteindelik gaan nie? Die taal, nie die medium waarop dit verskyn nie?

Ek sê maar net.

Aluta continua ad infinitum.

Dawid van Lill

 

<< Terug na die “Een boekeredakteur”-miniseminaar <<