Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate > Essays & Referate | Essays & Papers

Adam Tas-vereniging: Roelof Nel se toespraak by die ankerlegging


Roelof Nel - 2007-02-12

Voorsitter van die Adam Tas-vereniging
10/02/07
 
 

Dames en here
 
In die woorde van aartsbiskop Njo­ngo­n­ku­lu Ndungane: Suid-Afrika is soos ‘n rivier. Daar vloei verskillende bergstrome in hierdie rivier in. Afrikaans ook een van daardie strome. As die Afrikaanse stroom "toegedraai" word, sal Suid-Afrika ‘n armer plek word.
 
Vandag is ‘n waterskeiding in die geskiedenis van Stellenbosch. Vandag staan ons as studenteleiers op en sê hard en duidelik: daar is ongelooflik baie studente aan die US wat Afrikaans praat en in Afrikaans wil klas hê. Nou praat ons van swartes, bruines en wittes. Afrikaans bring ons nader aan mekaar. Mense wat voorheen verdeeld was, word deur Afrikaans nader aan mekaar gebring.
 
Die doel van vandag is nie om groot massas studente hier te hê nie. Ons is ‘n groep studenteleiers wat vandag hier is namens duisende ander studente. Onder ons is daar SR-lede, Prims, Fakulteitsvoorsitters en lede van die Akademiese Belangeraad. Ons verteenwoordig die massas studente op kampus wat Afrikaans wil hê. Wat vandag so besonders maak, is die feit dat ons saamgekom het en besluit het om inisiatief te neem. Studente op Stellenbosch staan uiteindelik op vir hulself en laat hul stem hard en duidelik hoor.
 
Daarmee saam begin ons ‘n beweging, altans ‘n vereniging. Hierdie vereniging staan bekend as Adam Tas.
 
(Op hierdie punt moet ek dit net ook baie duidelik stel dat alhoewel ek ondervoorsitter van die Studenteraad is, ek nie nou die mening van die Studenteraad verteenwoordig nie – die Studenteraad het nog nie ‘n amptelike mening uitgespreek nie.)
 
As ons sê "Afrikaans", moet asseblief tog net nie dink ons sluit aan by die mense wat die taal gekaap het om hul eie belange te bevredig nie. Nee, ons is besig om te transformeer in Afrikaans. ‘n Afrikaans wat inklusief is. ‘n Afrikaans wat hier in interaksie met ander tale kan bestaan.
 
En om by die simbool van die anker uit te kom: die US dryf nie op ‘n eiland in die ruimte rond nie. Die US bestaan binne ‘n konteks, en daardie konteks is die Wes-Kaap, en daardie konteks is Suid-Afrika. Mens kan mos nie akademie beoefen sonder ‘n gemeenskap nie. Dan gaan jy niks bereik nie. Ons wil vandag graag die US vas anker sodat hy ‘n rol kan speel waar hy is, nl die Wes-Kaap en Suid-Afrika. Die vlag op die anker simboliseer Suid-Afrika, waar daar so baie Afrikaanse mense is. Ons as Universiteit van Stellenbosch moet geanker bly in ons konteks.
 
Nou sê ek nie vir ‘n oomblik dat ons nie verder mag kyk nie. Natuurlik moet ons ‘n internasionale perspektief hê. Ek sê net dat as ons nie klem gaan plaas op ons plaaslike konteks nie, is ons soos ’n universiteit wat in die ruimte ronddryf. Ons bind hierdie ankertoue vas aan die US en simbolies anker ons hom vandag vas in Suid-Afrika.
 
Afrikaans is geregtig daarop om voort te bestaan as tersiêre-onderrigtaal en navorsingskanaal. Wat sou dit in elk geval help as die US plaaslik irrelevant word?
 
Verder: ons as Afrikaanssprekendes het ‘n bydrae om te lewer. Ons wil nie dat Afrikaanssprekendes doodgesmoor word nie: ons het ‘n plek en ‘n rol in Suid-Afrika. Ons is besig om ‘n blink nuwe toekoms in te gaan – ons groei en transformeer in Afrikaans. Sover dit dan die persepsie aangaan, kan ons maar sê ons transformeer Afrikaans. Afrikaans het ‘n besondere bydrae om te lewer. Gun die nuwe jong Afrikaanssprekendes ons plek in Suid-Afrika – in ons land en onder ons vlag.
 
Ons gaan nie weggaan nie – nee, ons is wel hier om, in die woorde van biskop Ndungane, ons stroom te laat tel by die rivier wat Suid-Afrika heet.
 
Moet ook nie ons optrede vandag beskou as enigiets anders as positief nie. Vandag se simboliese daad volg in die voetspore van reuse soos Gandhi en aartsbiskop Tutu. Ons is hier in ‘n positiewe gees en wil hierdie simbool ook in daardie gees neersit.
 
Ons transformeer in Afrikaans. Dit is ons stem.
 
Dan net bietjie meer inligting oor die Adam Tas-vereniging. Ons as bestuurslede, en almal studenteleiers, word al hoe meer bewus van die ongelooflik sterk gevoel wat daar op kampus is om ons stem te verhef en te sê dat hier ‘n vaste plek vir Afrikaans moet wees. Ons vind die getuienis daarvoor duidelik op ‘n paar plekke.
 
Eerstens uit ons gesprekke met ons medestudente. Tweedens uit die duidelike sentimente onder studente wat gemaak het dat 3 000 studente in 2002 ‘n petisie vir Afrikaans onderteken het, en 3 500 studente en personeel in 2005 binne agt dae ook ‘n versoekskrif aan die US-Raad oor Afrikaans kon ondersteun. Dit is dalk nie die styl van studente wat daagliks moet sukkel om hul vakke deur te kom om ’n klomp briewe te skryf, groot optogte te hou, of uit klasse uit te stap nie. Maar dit maak ons erns oor Afrikaans nie minder ernstig nie. En vandag is ‘n uiting van die behoefte van studente om aan die wêreld daar buite, die universiteitsgemeenskap hier binne en daar buite, en die US-Raad te sê: neem kennis dat ons geensins wil afstand doen van Afrikaans nie.
 
Weer eens, inklusief en in gesprek met ander tale.
 
Die visie van die Adam Tas-vereniging is om Afrikaans te bevorder vir die studente van Stellenbosch.
 
Ons leuse is “Ons transformeer in Afrikaans” en ons missie is:
 
Ons
*        Speel 'n verenigde rol vir Afrikaans
*        Voer 'n kritiese gesprek oor Afrikaans en in Afrikaans
*        Wil 'n mondstuk wees vir Afrikaans vanuit die studentegemeenskap
*        Mobiliseer Afrikaanse studente vir effektiewe rolspeling in Suid-Afrika.
 
Weer eens: ons is inklusief en in gesprek met ander tale. Afrikaans bring mense na mekaar toe wat voorheen verdeeld was.
 
Tog verteenwoordig hierdie vereniging baie meer as net die bestuurslede wat vandag hier staan. Ons verteenwoordig die ongelooflik groot stem wat daar onder die massas Afrikaanse studente bestaan. Meer as dit, ons verteenwoordig die verenigde groep Afrikaanse mense oor die land heen. Verskillende kulture, verskillende rasse, verskillende agtergronde – maar besig om saam vorentoe te beweeg.
 
Ons is ’n jong demokrasie – maar ons is ’n demokrasie.
Ons is ’n jong generasie – maar ons is ’n generasie
Ons is ’n jong land – maar ons is Suid-Afrika en Afrikaans is deel daarvan.