Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate > Essays & Referate | Essays & Papers

Adam Tas-vereniging: Jared Abels se toespraak by die ankerlegging


Jared Abels - 2007-02-12

Ondervoorsitter van die Adam Tas-vereniging
10/02/07
 
 

Dames en here
 
Ek het oor hierdie dag gedroom. Ek het gedroom oor hoe die studente van Stellenbosch op gaan staan en sê: "Ons is hier, ons het ’n stem.”
 
Te lank was daar besluite gemaak oor die studente se lewens waarin die studente self geen sê gehad het nie. Te lank was ons glad nie eers betrek by besluitneming wat volgens die universiteit in ons beste belang is nie. Ek het gedroom oor die dag waar studente van die Stellenbosch Universiteit sal opstaan en sê: "Ons is deel van Suid-Afrika en ons is trots daarop.” Wat sê: "Aanvaar ons ongeag watter taal of kulturele agtergrond ons het.”
 
Hoe kan enige mede-Suid-Afrikaner op grond van hierdie verskille ons onderdruk, wanneer aanvaarding van ander kultuurgroepe en ander taalgroepe in ons konstitusie gewaarborg word?
 
Ons hoor alewig van diversiteit/transformasie en hoe almal dit net aan ras of taal wil koppel. Is ons dan so dom om te dink dat diversiteit en transformasie nie binne Afrikaans kan plaasvind nie? Is ons so dom dat ons nie besef dat diversiteit en transformasie oor veel ander dinge ook gaan nie, byvoorbeeld die aanvaarding van ander kulture, mense met verskillende seksuele oriëntasie of mense van ander gelowe nie?
 
Het Suid-Afrika vergeet watter sterk stem jeugdiges ook kan hê? Vergeet ons so gou die geskiedenis van ons land? Is die Soweto-opstand van 1976 slegs ’n vakansiedag deesdae?
 
Ons, as die Adam Tas-vereniging, sê ons wil Afrikaans op Stellenbosch hê. Luister, neem in en dink oor wat ons te sê het, want ons is die toekoms van Suid-Afrika.
 
Moet nie veralgemenings maak soos dat dit net die wittes is wat Afrikaans by hierdie universiteit wil hê nie, want veralgemenings soos dié is die grootste fout wat mense kan maak in dié diverse land van ons.
 
Die Universiteit moet ophou witvoetjie soek by die regering, wat duidelik dubbele standaarde stel. ’n Regering wat klem lê op moedertaalonderrig, maar dan die universiteit, ’n plek waar skoolleerders veronderstel is om hulle studies voort te sit, op ’n subtiele manier dwing om te verengels.
 
Ons moet ophou om ons lewens op ’n verontskuldigende manier te lewe. Ons moet ophou bang wees om op te staan vir iets waarin ons glo. Dit is tyd dat Suid-Afrika moet sien dat studente op Stellenbosch nie Eerste Nasionale Bank is nie, want ons het darem ‘n ruggraat.
 
Te lank het mense ’n wanpersepsie gehad van studente op Stellenbosch. Persepsies dat studente op hierdie universiteit nog nie vorentoe beweeg het nie. Die Adam Tas-vereniging is hier om hierdie persepsies reg te stel, want ons as studente sien ’n plek vir ons in Suid-Afrika en ons wil ook aanvaar word in Suid-Afrika. Gun ons die geleentheid om in ons voorvaders se taal hier te bly.
 
Ons moet regtig begin lewe soos Nelson Mandela se reënboognasie. ’n Nasie waar almal, ongeag herkoms, as broers en susters, saam kan staan onder een vlag. ’n Nasie waar almal saam "Nkosi Sikileli i’Afrika" kan sing en in vrede kan saam leef.