Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Nuusbrief: Vrye Woord

Die ANC se aanslag op skrif – 22/01/2011: Inligting: Wanneer jy twyfel, moenie klassifiseer nie


2011-03-07

22.01.11

Inligting: Wanneer jy twyfel, moenie klassifiseer nie

FW de Klerk-stigting
(Uittreksel uit NewsAlert, nuusbrief van die FW de Klerk-stigting, 21.01.11)

Volgens berigte is mnr Cecil Burgess, voorsitter van die ad hoc portefeuljekomitee wat die Wet op die Beskerming van Inligting oorweeg, steeds vasbeslote dat die Wet op die Beskerming van Inligting van toepassing moet wees op alle staatsorgane, ongeag hul relevansie vir staatsveiligheid en die koste en administratiewe las daaraan verbonde. Volgens ’n voorlegging deur staatsregsadviseurs aan die ad hoc komitee sal die voorgestelde Wet, in sy huidige vorm, van toepassing wees op alle staatsorgane - wat gedefinieer word as instellings wat ’n openbare diens verrig en hul pligte ingevolge wetgewing uitvoer.

Gevolglik sal die Wet net so toepaslik wees op organisasies wat strek van Port Elizabeth se nie-vir-winsbejag, staatsbeheerde Algoa Busmaatskappy - soos uitgewys deur Mukelani Dimba van die Open Democracy Advice Centre - tot die Nasionale Intelligensieagentskap. Hierdie twee organisasies se geregverdigde behoefte om informasie te klassifiseer - en op soortgelyke wyse ook dié van alle ander staatsorgane - verskil egter geweldig. Dit is sekerlik redelik om af te lei dat die oorgrote meerderheid staatsorgane - soos die Algoa Busmaatskappy - geen geregverdigde rede hoegenaamd het om inligting van die publiek te weerhou nie.

Wetgewing wat staatsorgane in staat stel om sonder ’n duidelike behoefte inligting te klassifiseer druis sekerlik in teen die gees van openheid en deursigtigheid van die Grondwet. Die Grondwet is absoluut duidelik oor hierdie punt: dit vereis ’n regeringstelsel wat aan die vereistes van openheid, ’n responsiewe ingesteldheid en verantwoordingspligtigheid voldoen. In terme van artikel 32 (1)(a): “Elkeen het die reg op toegang tot enige inligting wat deur die staat gehou word.” In terme van artikel 195 (f) moet Openbare administrasie verantwoordingspligtig wees en, volgens artikel 195 (g),  “deursigtigheid moet bevorder word deur die publiek van tydige, toeganklike en korrekte inligting te voorsien.”

Alhoewel die Wet op die Beskerming van Toegang tot Inligting burgers bemagtig om inligting te bekom wat onbehoorlik deur enige staatsinstelling teruggehou word, is dit ’n stadige proses en dit gaan gepaard met ’n omslagtige administratiewe proses. Dit is daarom nie gepas om geredelike toegang te verseker tot inligting wat by honderde diverse staatsorgane geklassifiseer kan wees onder die Wet op die Beskerming van Inligting nie.

Dit is insiggewend om die stelsel wat in die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting voorgestel word te vergelyk met dié van die Verenigde State, wat globale militêre en diplomatieke verbintenisse en veiligheidsoorwegings het wat dié van Suid-Afrika ver oortref. President Barack Obama se Uitvoerende Bevel 13526 oor Geklassifiseerde Nasionale Veiligheidsinligting vereis dat daar aan ’n swaar bewyslas voldoen moet word vir die behoorlike klassifikasie van inligting. In die besonder vereis dit dat die verwagte skade aan nasionale veiligheid identifiseerbaar en omskryfbaar moet wees. Verder verklaar dit dat “indien daar enige beduidende twyfel is oor die noodsaaklikheid om inligting te klassifiseer, sal dit nie geklassifiseer word nie.”

Op soortgelyke wyse vereis die letter en gees van ons Grondwet dat daar ’n absolute geneigdheid tot openheid in openbare administrasie moet wees en dat inligting slegs beperk moet word in die mees duidelik omskrewe en identifiseerbaar nodige omstandighede waar werklike kwessies van nasionale veiligheid ter sprake is. Dít sal sekerlik nie bereik word as elke staatsorgaan die vermoë het om inligting te klassifiseer nie.

Ons stem saam dat dit absoluut noodsaaklik is dat staatsorgane belas met nasionale veiligheid die reg moet hê - inderwaarheid, die bona fide plig - om inligting te klassifiseer wat - indien dit aan die lig sou kom - nasionale veiligheid kan bedreig. Hierdie staatsorgane moet egter spesifiek geïdentifiseer en in hul magte na behore beperk en omskrewe wees.

Kommentaar

Maar weer: Grootbroer sal besluit wat jy mag weet

Die uiteensetting hierbo toon weer waarom Vrye Woord vanaf die skrywerspetisie oor spraakvryheid so heftig teen die twee beoogde muilbandwette gekant is. Almal wat oë en ore het, weet nou al lankal dat die doel met die wette is om die ANC teen openbaarmaking van korrupsie en ’n gekonkel in eie geledere te beskerm.

Die moontlike bedreiging van “landsveiligheid” is die oomblik niks minder as lagwekkend nie. Wie bedreig ons? In die lig van Suid-Afrika se hegte vriendskap met lande soos Zimbabwe en Kuba is die groot vyand duidelik die VSA en sy bondgenote wat ons gaan binneval! Die patetiese toestand van ons eie vervalle “weermag” waaroor WikiLignie berig het, maak eintlik nie saak nie omdat geen verdediging nodig is nie. Minstens nie voordat ’n Zuma steeds meer ’n despoot soos Mugabe raak nie.

Daar is reeds meer as genoeg basiese beskerming in diens van landsveiligheid. Vrye Woord is gekant teen enige onderhandeling om die nuwe drakoniese wet aangepas en goedgekeur te kry. Lees hieronder hoe die vryskutjoernalis Herman Toerien verduidelik wat die ANC-regering regkry om ons al verder in die opweeg van persvryheid te laat daal. Hoe lank voordat ons weer die muishond van die wêreld oor spraakvryheid word? Neem die ANC eenvoudig oor waar die NP begin het?

Lees ook verder hoe WikiLigni se model, WikiLeaks, steeds onverskrokke korrupsie aan die kaak stel en regerings laat sidder. Selfs die uiters belangrike opposisieparty in Zimbabwe, die MDC, moes rondskarrel om te verdedig en WikiLeaks as ’n skinderblad af te kraak. Laat ons aanhou onthul en fluitjie blaas, sonder aansien des persoons.

Persvryheidsindeks

Herman Toerien  

Dit is nou reeds ou nuus dat Suid-Afrika op die jongste persvryheidsindeks van Verslaggewers Sonder Grense na die 38ste posisie teruggesak het. In 2003 was Suid-Afrika nog 21ste, en die mees persvrye land in Afrika.

Namibië deel nou die 21ste posisie met Kanada, nadat Kanada teruggesak, en Namibië sy posisie skerp verbeter het. Dit is maar een posisie swakker as die VSA. Ook Mali, Ghana en die Kaap Verde (almal 26ste) vaar beter as Suid-Afrika.

Vroeër verlede jaar het Freedom House Suid-Afrika tot slegs gedeeltelike vry medialand geherklassifiseer. ’n Voormalige Sowjet-republiek, Estland, is 9de en klop onder meer vir Ierland en Denemarke. Litaue klop weer vir België.

Dit is ook kommerwekkend waar Suid-Afrika se vriende hulle op die indeks bevind. Kuba, op 165ste is tweede laaste, en is net swakker as Noord-Korea. Zimbabwe, op 141ste, dui ook nie juis die pad aan nie. Die Palestynse owerheid is 130ste. http://en.rsf.org/spip.php?page=classement&id_rubrique=1034

Leaking without ending

(Reports in The Daily Maverick)

Echoing Obama, WikiLeaks sends message to Swiss bankers: 'You're next'

A former high-ranking Swiss banker handed over two CDs he says contain information of tax dodging by more than 2,000 “high-net worth individuals” and corporations to WikiLeaks’ Julian Assange on Monday. If WikiLeaks publishes the information, it will be signalling a return to its original whistleblowing ethos.

Swiss police re-arrested banker Rudolf Elmer on the expectation that he will be prosecuted for handing over client data to WikiLeaks on Monday. Just hours earlier Elmer was convicted of a similar breach of Swiss secrecy laws, and handed a suspended fine equivalent to just over R50,000.

 

 

 

 

 

Terug na die nuusbrief-inhoudsopgawe | Back to newsletter index