Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Nuusbrief: Vrye Woord

Die ANC se aanslag op skrif – 14/01/2011: Ontsluit ’n nuwe Afrika


2011-03-07

14.01.2011

Rassisme-seminaar: Ontsluit ’n nuwe Afrika

(Die rubriek het in Beeld van 2011-01-12 verskyn.)

Charl-Pierre Naudé

Verskeie onlangse aantygings van “rassisme” in die media het een ding duidelik gemaak: Dié woord word rojaal gebruik om die ontleding van legitieme kulturele en politieke verskynsels en verskille te systap. En dis veral die ANC-staat wat tans die belhamel daarin is.

Helaas, wit sowel as swart mense is skuldig. Wanneer iets wat nie rassisties is nie as sulks geëtiketteer word, kan ’n mens met reg van omgekeerde rassisme praat.

Die vergryp wys hoe maklik die onus van ontleding geïgnoreer word. Dit wys eweneens hoe broodnodig ons dit het. Alleen die baie-fyn dink is helder, het N.P. Van Wyk Louw geskryf. Ons moet as ’n samelewing ágter verskynsels kyk. Anders is knuppels reën ons voorland.

Lees hier die volledige berig.


Mediatribunaal dalk ‘eerbaar’ opsy geskuif

(Beeld se Pieter du Toit berig soos volg op 2011-01-09)

Polokwane. – Het die ANC ’n manier gevind om die netelige kwessie van ’n mediatribunaal op die lange baan te skuif?

Dít was van die vrae eergister hier nadat pres. Jacob Zuma in die ANC se 8 Januarie-verklaring net kortliks verwys het na die kwessie van mediatransformasie en geen melding van die omstrede tribunaal gemaak het nie.

“Die land het ’n sterk en diverse media nodig wat onafhanklik van kommersiële en politieke invloede is, ’n media wat nasiebou sal steun sowel as pogings om ons demokrasie, maatskaplike eenheid en goeie regering te verdiep, te konsolideer en te versterk.

“Ons sal die drukmedia spesifiek aanhou aanmoedig om sy transformasieproses, in ooreenstemming met die verkryging van vryheid en demokrasie in 1994, te versnel,”

Zuma het bygevoeg die regerende party sal voortgaan om hom, soos nog altyd vir mediavryheid te beywer. Die party gaan egter nie afsien van die beginsel om sy lede in strategiese posisies in die samelewing, insluitend die media, te ontplooi nie.

“ANC-kaders het ’n plig om progressiewe tradisies in die intellektuele gemeenskap, insluitend by ons universiteite en in die media, te bevorder.”

’n Lid van die ANC se kommunikasiekomitee, wat insae in die interne debat oor die tribunaal het, het ná Zuma se toespraak gesê die party is bemoedig deur die hervormings in die kantoor van die persombudsman.

Dit beteken egter nie die party gaan afsien van sy planne om die tribunaal na die parlement te verwys vir ondersoek nie. Die klem gaan glo ook sterker val op eienaarskap in die mediabedryf.

Daar is ook bespiegel dat die verwysing na die parlement ’n eerbare manier vir die party is om die tribunaal-kwessie te laat verdwyn. “Dan kan ons sê ons het die grondwetlike roete gevolg en dit het nie gewerk nie sonder om in die verleentheid gestel te word,” het ’n ANC-ingeligte verduidelik.

Vrye Woord-kommentaar

Dit is nog bloot bespiegelings dat die tribunaal-kwessie eenkant toe geskuif sal word, maar laat ons duim vashou. Nie almal in die ANC is stiksienige ideoloë wat kritiese monde wil toeklap nie. Die internasionale kabaal wat die planne uitgelok het, was waarskynlik ook ’n sterk faktor om te herbesin. ’n Blote verwysing na die parlement beteken in elk geval nog bitter min, aangesien die party met so ’n groot meerderheid met dié wetgewende liggaam maak net wat hy wil. Hy het hom nog nooit aan die onderskeiding tussen staat, regering en party gesteur nie.

Miskien sal ’n formele tribunaal laat vaar word, maar dit is vir seker nie die einde van die slinkse muilbandplanne nie. Zuma het niks oor die wetgewing vir die beperking van inligting gemeld nie. Die SAKP se swaai ten gunste van meer beheer oor die media was bepaald vir hom bemoedigend terwyl al sy lastereise teen die koerante aan die gang is. Mens sou graag die digter Jeremy Cronin se kommentaar juis nou wou gehad het, maar anders as in die verlede reageer hy nie op verskeie versendings van Vrye Woord se ope brief aan hom nie. Dit sal in elk geval verstaanbaar baie moeilik vir hom wees om persoonlik en openhartig te praat!

Sê nou maar Vrye Woord se nuwejaarswense word waar en albei drakoniese wette word gesystap en selfs afgewater – wat dan? Die ANC se aanslag op skrif, maar dikwels ook veral in die parlement op die gesproke woord, duur onverpoosd voort. Vrye Woord en sy sytak WikiLigni onthul binne dae die enorme houvas wat die regering op die skrif, dus verpligte  tekste, in skole verkry het.

Die titel van ons nuusbrief sal waarskynlik nooit verander solank die magsugtige en onsensitiewe ANC alles in die land probeer beheer nie – ook en veral die jong demokrasie. Kommentators laat nie hulle bydrae tot rassisme verbygaan nie, soos uit ons seminaar blyk.





Terug na die nuusbrief-inhoudsopgawe | Back to newsletter index