Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Miniseminare

Die literêre aktiwiteit in die taal moet so dinamies en divers moontlik wees


Louise Viljoen - 2011-03-07

Afrikaans is ’n klein, maar potente, taal. Om die vitaliteit van Afrikaans te behou, moet die literêre aktiwiteit in die taal so dinamies en divers moontlik wees. Die gesprek rondom boeke (wat resensies insluit) speel ’n baie belangrike rol in die lewendigheid van ’n letterkunde en die volwassenheid van die intellektuele debatte wat in ’n taal gevoer word. Verskillende boekeblaaie onder die leiding van kundige boekeredakteurs in Afrikaanse koerante is nodig om die energie wat daar wel in ons boekebedryf bestaan, ook na die papierlesende publiek deur te dra. Ons hoef nie hierdie medium in te boet omdat daar ander geleenthede in ander media aan die ontwikkel is vir die gesprek oor boeke nie. Naas guerrilla-resensente wat ondergronds gaan om hulle resensies te blog, twitter en twiet, behoort daar steeds ruim plek te wees vir dié wat deur die siftingsproses van koerante se boekeblaaie gegaan het om resensies te publiseer. Hoe meer van alle soorte reaksies op boeke, hoe beter vir die gesonde funksionering van ’n boekkultuur in Afrikaans. Ek skaar my dus sonder verdere omhaal by die talle goeie argumente wat daar reeds gemaak is téén die besluit om die boekeblaaie van die oorblywende Afrikaanse koerante te sentraliseer onder ’n nasionale boekeredakteur wat een nasionale boekeblad vir al die groot Afrikaanse dagblaaie sal produseer.

 

<< Terug na die “Een boekeredakteur”-miniseminaar <<