Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Miniseminare

Die doodsklok vir die Afrikaanse letterkunde


Nicol Stassen - 2011-03-07

Benewens Afrikaanse boeke is die gedrukte en elektroniese nuusmedia die belangrikste manier waarop Afrikaanse intellektuele en lesers kommunikeer. Die Afrikaanse intellektuele wêreld is oor dekades hierdeur in stand gehou en verruim. Agt jaar gelede was die boekeblaaie van Beeld, Die Burger, Die Volksblad, Rapport en Insig (later Boeke-Insig) nog hiervoor beskikbaar. Dit is aangevul deur radioprogramme van Daniel Hugo, televisieprogramme van onder andere Hettie Scholtz, en enkele letterkundige joernale. Die boekeredakteurs van hierdie koerante en tydskrif was invloedryke figure en het ’n beduidende rol in die Afrikaanse intellektuele lewe gespeel. Sedertdien het hierdie aanbod verminder, hoewel enkele elektroniese media, soos LitNet, uitgebrei het en Versindaba bygekom het. Die diversiteit van menings het dus verskraal en dit is verder aan bande gelê deur een of twee redakteurs wat nie veel belangstelling vir hulle werk gehad het nie.

Dit is interessant dat die debat oor die überredakteur of herrenredakteur juis in die elektroniese media gevoer word en grootliks deur die gedrukte media geïgnoreer word. Die rede hiervoor is moontlik juis die groot diversiteit van menings in die elektroniese media en die gebrek daaraan in die gedrukte media.

Die koerante in die Media24-groep het oor die jare ’n trotse en onaantasbare posisie in die Afrikaanse intellektuele wêreld opgebou. Ek kan nie daarvan getuig dat Protea Boekhuis stiefmoederlik deur die gedrukte media, en spesifiek Media24-koerante, behandel is nie. Inteendeel, Protea het oor die jare heen net die grootste ondersteuning en aanmoediging van die verskillende boekeredakteurs gekry – selfs in so ’n mate dat een hoof van ’n uitgewery die adjunkredakteur van Die Burger oor die vingers getik het oor die goeie blootstelling wat Protea (synde opposisie) in dié blad kry. Hierdie blootstelling was broodnodig vir ’n uitgewery wat twaalf jaar gelede nie bestaan het nie, maar wat nou en dan saam met die groot honde kon blaf.

Daar is prakties gesproke maar drie beduidende Afrikaanse uitgewers van letterkundige werke oor: NB-uitgewers, Protea Boekhuis en Lapa. Waar sou ons wees as hierdie drie uitgewers besluit dat Afrikaanse boeke die beste gedien kan word deur hulle kragte saam te snoer in een enkele Afrikaanse uitgewery wat Afrikaanse letterkunde as ’n “spesialisering namens al drie uitgewerye behartig” en met ’n “mandaat om ’n verskeidenheid van stemme en sienings te bevorder”?

So ’n stap sou tog die doodsklok vir die Afrikaanse letterkunde inlui. Daar verskyn gereeld Afrikaanse boeke wat by een uitgewery afgekeur is en deur ’n volgende aanvaar is. ’n Hele paar bekroonde werke (te veel om op te noem) sou andersins nie deur die mat van onafhanklikheid ondervang gewees het nie en sou gevolglik nooit die lig gesien het nie.

Weens die gebrek aan diversiteit is die dood reeds in die pot vir die Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Die enkele geskiedenis is in die verlede keer op keer verpulp of as uitskot verkoop. Word dit nog ooit deur akademici aangehaal en aan watter universiteit word dit ooit voorgeskryf?

Met hierdie besluit hoop ek dat die dood vir Afrikaanse literêre kritiek nie óók in die pot is nie. Een van die onmiddellike gevolge sal wees dat nóg minder digbundels gepubliseer word, omdat die meeste digbundels nie gepubliseer sou kon word sonder die aandag wat dit in die gedrukte media kry nie.

Nicol Stassen
Protea Boekhuis

 

<< Terug na die “Een boekeredakteur”-miniseminaar <<