Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Miniseminare

Boeke-besluit is geen katastrofe


Johan Swarts - 2011-03-03

Gaats.

Al wat ’n Afrikaanse skrywer is, is tans up in arms oor Media24 se besluit om die boekeredakteurs van Die Burger, Volksblad en Beeld se poste af te skaf en ’n oorhoofse redakteur in hulle plek aan te stel. Almal, van Breyten Breytenbach tot Joan Hambidge, reken hierdie skuif kan niks minder as katastrofiese nagevolge vir die Afrikaanse boekebedryf inhou nie.

(As jy nie weet waaroor bogenoemde gaan nie – of glad nie hieroor omgee nie – hou onmiddellik op lees en gaan doen iets produktief met jou lewe. Jou sinne sal jou bedank. Toe, weg is jy.)

Dis ’n doodslag vir diversiteit, reken Breyten Breytenbach. Meervoudige boekeblaaie is integraal vir die goeie funksionering van die letterkunde, kibbel Charle-Pierre Naudé. Die behoud van die huidige stelsel is uiters belangrik vir navorsers en studente wat hierdie inligting benodig vir studies en werkstukke, stry Joan Hambidge. Media24 is besig om diktatoriale beheer oor die land se boeke uit te oefen!, verklaar Charles Malan. En Gerrit Brand meen sommer dis alles deel van ’n doelbewuste strategie van afdomming. (Ga. En ek hou nogal van Gerrit.)

Verskoon tog my Frans, maar fokkit.

Bewys jouself tog die guns en gaan koop ’n Afrikaanse koerant met ’n boekeblad. Blaai na die boekeblad. Lees die boekeblad. Voel die boekeblad. Drink die boekeblad. Rol in die boekeblad. Wéés die boekeblad. Blaai om.

Dis dit.

Drie, vier resensies een maal elke week. ’n Handjievol woorde op ’n enkele bladsy waaraan dikwels verder gesny moet word om dit daarop te laat pas. Dís waaroor hierdie geleerdes baklei. Een armsalige bladsy.

A ha, kap die kodeks-apologete terug, daar is nie net een nie, maar drie dagblaaie! En dit is juis die punt – drie boekeblaaie in drie dagblaaie beteken drie keer soveel diversiteit! En as jy daardie diversiteit uitmoor, vervlak jy die Afrikaanse intellek!

Onsin. Die Burger, Volksblad en Beeld is streekskoerante. Hulle is nie oral in Suid-Afrika beskikbaar om mee te begin nie. Boekliefhebbers in die Vrystaat gaan net so min die boekeblad in Die Burger sien as wat die lesers van Sowetan dit gaan sien. Vir hulle is daai drie bladsye vir alle praktiese doeleindes maar een. En met so min wat reeds op hierdie een “bladsy” kan verskyn, kan ’n mens kwalik van diversiteit praat. Geen argument daarso nie, dus.

Erger nog: diegene wat protes aanteken, blyk onder die wanindruk te wees dat iets wat nie in ’n gedrukte koerant onder die wakende oog van ’n boekeredakteur gepubliseer kan word nie, hoegenaamd ook nie elders kan verskyn nie. Die reg op publikasie, reken hulle skynbaar, kan slegs aan groot maatskappye met baie geld behoort. (Dit natuurlik terwyl hulle heel ironies daaroor op die internet kla.)

Breytenbach se woorde som hierdie waan vir my die beste op:

Nou, juis nou wanneer diversiteit en veelduidigheid en veelvuldigheid bevorder moet word ter wille van die behoud en groei van Afrikaans ... kom Media24 met hulle bykans monopolistiese beheer oor publikasies in Afrikaans en besluit dat die keuse van boeke wat “oopgemaak” gaan word vir ’n leserspubliek, en hóé, voortaan aan één tsaar (of tsarin) toevertrou moet word.

Werklik, Breyten? Die enigste “oopmaak” van tekste berus by die publisering van woorde op dooie bome? In watter dekade van watter vorige eeu leef jy?

Dis tragikomies dat van ons bekendste lewende digters so verknog kan wees aan die einste maatskappy wat hulle tans so duidelik wantrou. Hulle blyk eerlikwaar te glo dat hierdie maatskappy se publikasies die enigste kanale is waardeur die leserspubliek bereik en oortuig kan word om ’n boek te koop.

Dalk moet hulle ’n bietjie by Kalahari.net gaan inloer.

Ondanks die feit dat webtuistes soos LitNet vir jare reeds die Afrikaanse literatuurbedryf verryk met resensies (wat nie in ’n maksimum aantal woorde hoef te pas nie), ondanks universiteite se Afrikaans-departemente (dié wat nog bestaan, in elk geval) wat in elk geval jaar na jaar uitgerekte relase deur letterkundiges in joernale publiseer en ondanks boekeblaaie wat glad nie so divers is as wat die verontwaardigdes wil voorgee nie (nie met vier resensies per blad nie, baie dankie), neem Breytenbach en kie die verstokte standpunt in dat die dood van boekeblaaie die dood van resensies beteken.

Koerante se lesersgetalle sak, hartjies.

Dalk moet die verontwaardigdes eerder ophou kla oor die onvermydelike dood van iets uit ’n vergange era, na die beskikbare kanale om hulle begin kyk en iets nuut op die been bring. Die beplande amalgamering van Afrikaanse boekeblaaie is werklik nou nie iets om oor slaap te verloor nie – behalwe as jy nog dink dis 1960.

(Hoekom het jy so ver gelees? Freak.)

Johan Swarts se brief het eers op Nuus24 verskyn.


<< Terug na die “Een boekeredakteur”-miniseminaar <<