Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Poësie | Poetry > Afrikaans > Ongepubliseerde digters

Winterbome in Parys


Heidi Pienaar - 2011-03-03

Winterbome in Parys
“Und vor mir plätscherte die Seine von Paris, die mein Seele nicht zur Rühe
kommen liess” – Der Clochard – Ingeborg Goebel


Dis Sondag in Parys
’n mis trek oor die stad
en filligree-toring
steeds bedek
met swart Franse kant
van die nag

in kerke brand
rou-kerse stil verskonend
vir die sondes van die wêreld

dis Sondag in Parys
die hart word
’n rooi meul van weltschmerz
’n kreupel kunstenaar
’n meisie op ’n mandjiefiets
met oranje of pers hare

en by die Champs-Ellyseé
hou die beau-monde
weer ’n rendezvous
met warm oomblikke
wat hulle weer op die tong
soos rooiwyn proe
en luister na die warm
suidelike bry van ’n akkordion
of studente wat dans
in ’n motreën van banjo-blues

dis Sondag in Parys
elke steeg word
’n warm boordlaan
elke aangelapte reëndak
’n ryspaddie van verlange
wat eensaam bewandel word

elke herfsblaar
’n seldsame seël
op die blou koevert
van die lug

elke visnetkous
van skaduwees op die Seine
word ’n krismiskous
uit ’n verlore jeug

en elke meester
word ’n chien(ne)
poedelbeskaaf
en blinkgeskeer
in kettings en leer

en die hart word
’n rooi meul van weltschmerz
’n kreupel kunstenaar
’n klassieke fontein
vol veselglasmonsters
voor die plastiekpiramiede
van ’n museum

o dis Sondag in Parys
in ’n park sluit twee here
’n verdrag van vrede
tussen bome gesny
soos ’n perd of ’n biskop of kasteel
of die stywe pruik van ’n aristokraat

en ’n kunstenaar stal uit
by ’n kafee
die dag word ’n antieke skildery
met pienk en goue barokwolke
gestapel op die marmer
pilare van bome
die hart word ’n wit wolk
met goue hoewe en vlerke
soos die wit perd op die plein
wat steier teen skemer
se sentimentele pasteldoek

dis Sondag in Parys
die hart word uitgenooi
vir ’n aandwandeling
met chien(ne)
oor ’n brug met baroklampies
soos ’n altaar
bokant die Seine
voor iemand sy hoed verloor
in die kanaal en verbaas sien
hoe dit dryf    ’n maan
en die vuiste van bome begin ruk
soos ’n arm knaap
aan ’n swart traliehek
soos ’n uitgebrande koets
en daar begin paar
in die mis van ’n donkerbril
met kaal stammetjies dun gering
onder die silwer pels en fluweel
van maanlig
’n woud van tjankende tjirpende drome

dis Sondag in Parys
die vet duiwe met oliekuiwe
sit in die laaste bietjie
son van ’n saks
en kyk na ’n stukkie absurde teater
want winter ’n blinde man
bedel blare wat munt val in die hoed

sit hulle so en kyk hoe die hol
kroegdeure van mobiele gesigte
hulle ligstrate begin skreeu
en ligte begin dryf
blou onthoofde koppe in die Seine

sit een lakonies en dink
wanneer ’n honger man
’n Franse brood soos ’n swaard sluk

“in armoede word artieste gebore
in die maer dae wat staan en
stuiptrek teen die lug
soos bloukoud winterbome”