Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Poësie | Poetry > Afrikaans > Ongepubliseerde digters

Istanboel (1979)


Heidi Pienaar - 2011-03-03

Istanboel (1979)

Istanboel, hoeveel stede lê in jou stad
en hoeveel seë in jou see
en hoeveel dinastieë in jou dinastie
want die Bosforus se walkastele
en vakansiepaleise sink my boot
in ’n blougroen geskiedenis in
waar ek lees, ’n gebrandskilderde sprokie
o Istanboel ek sien die sultan van die Ottoman
lei al weer sy skilpaaie met kerse op hul rûe
deur die tulpe van die Topkapi se tuine
want teen skemer staan jou moskee
die Hagia Sophia, ’n reuseskilpad
tussen die minarette soos tulpe
wat hulself sluit teen die aand
onder die geroep van die muezzin
en soggens tussen pastelgeboue wat afskilfer
tussen swart rook en blou oggendmis
stroom ’n straat blou inkkolle van bome
en ek skryf met jou surrealistiese bome
in die blou werkersuniform van my balpuntpen
tot elke nat misstraat stroom
’n blou Ming-bord of -vaas agter ’n glasraam

want my stem is jou ferriefluit,
hees van hartseer hier waar ek verdwaal
in stegies waar wasgoed soos ou
uitgewaste vredesvlae hang
want ek sien jou hart was hier
dikwels wreed uitgesny
soos ’n hart hier gekerf uit ’n houtbalkon
en die afgesnyde borste van Bisantynse koepels
bloei weer in die skemerson
tot ’n kind se kliplag vars soutwater spat
in my gesig en ek sterf soos ’n student
in ’n koerantberig
saam met die duif onder koeëls
en die ferrie se klaag

o Istanboel die maan is die naald
van ’n tulband wat dryf
teen blinde mure van die see
hier waar miniatuurskilders van die
ou sultans hulself met die naald
van ’n tulband verblind as boetedoening
omdat hulle geskilder het

o Istanboel die Swart See is ’n swartmark
met swart rook uit die bruin Turkse sigaar
van elke stoomboot
en in elke eksklusiewe restourant
gloei hope rooi en swart kaviaar
soos oorlogsvure uitgebrand
langs ’n oorlogspad,
hier waar Die Goue Horing saans ontplof
’n swart korf met werkers uitgerook
onder goue vlamme van die son.