Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Miniseminare

Diversiteit van resensies is van allergrootste belang


Kerneels Breytenbach - 2011-03-02

As een van Die Burger se oudboekeredakteurs is dit seker noodwendig dat ek nie sal dink dis ’n baie skrander skuif om een persoon verantwoordelik te maak vir ’n boekeblad wat deur Beeld, Volksblad en Die Burger gedeel sal word nie.

Ek kan die gronde vir hierdie diepe oortuiging herlei na een gesprek wat ek in die vroeë jare tagtig gehad het met Danie van Niekerk, destyds besturende direkteur van Tafelberg-Uitgewers. Ons het in die kroegie van die Café Royal gesit en hy het sy ontsteltenis uitgespreek, op sy kenmerkend bedaarde, ferm manier, oor die gebruik wat Die Burger en Beeld se boekeblaaie destyds ontwikkel het om resensies van belangrike boeke te deel. Dit is nie in Nasionale Boekhandel se belang nie, het hy gesê, want dis nie in die skrywers se belang nie. Dit maak nie vir Kaapse aanhangers van Elsa Joubert sin om ’n resensie deur ’n noordelike akademikus van ’n nuwe Joubert-roman te lees nie. Net so min as wat dit vir noordelike lesers van Henriëtte Grové genoeglik is om te lees wat ’n Stellenbosse resensent van háár werk dink.

Boekeblaaie, het hy gesê, gedy in ’n kultureel-akademiese omgewing. Kry jou eie resensente. Laat Arrie Joubert (Beeld se boekeredakteur) sy eie soek.

As uitgewer het ek gou by Koos Human, besturende direkteur van Human & Rousseau, geleer dat ’n veelheid van resensies van uiterste belang vir die uitgewer is. Die ideaal is dat elke koerant in die land boekresensies moet plaas. In samehang met Van Niekerk se argument hier bo leer mens dat boekresensies die intellektuele welsyn van ’n taalgroep reflekteer. Resensies skakel boeke onlosmaaklik by daardie welsyn in. Hoe minder resensies daar van ’n boek is, hoe onbelangriker is dit binne die taalgroep se geskiedenis.

Die diversiteit van resensies is van allergrootste belang vir die skrywer self, uiteraard, maar dis amper van groter belang vir die studente van die toekoms en die navorsers van die verre toekoms.

Dit is maklik om lyste te vind van boeke wat sê maar tussen 1981 en 1982 gepubliseer is. Maar jy kan alleen ’n insig kry in die tyd en die maniere waarop Afrikaanslesendes intellektueel gereageer het op die kreatiewe skeppings van die letterkunde as mens gaan kyk na resensies van daardie lyste en lyste boeke. Die resensies is die bewys van die skrywers se aanklank by die leespubliek – en eersgenoemde se weerkaatsing van die dinge wat laasgenoemde gestig, laat nadink en amuseer het.

Dié sienings het gestrook met een van die Nasionale Pers se doelwitte met die stigting van Beeld – om ’n eie stem in die noorde te hê, maar ook ’n plek te bied waar die noorde hul stem kan laat hoor (vgl Oor grense heen en Boekewêreld, albei onder redaksie van Wiets Beukes).

Een van die dinge wat Tafelberg-Uitgewers en Human & Rousseau destyds van die meeste ander plaaslike en oorsese uitgewers onderskei het, was dat hulle noue bande had met koerante waarin daar op weeklikse grondslag boekresensies verskyn het. Interessant genoeg is Tafelberg en H&R, onder die sambreel van NB-Uitgewers, die enigste twee Afrikaanse uitgewers wat relatief ongeskonde die jare tagtig en negentig oorleef het.

Dáárom glo ek Danie van Niekerk steeds. ’n Oorvloed resensies is verkieslik bo ’n duo daarvan (Rapport en die oggendblaaie). Maak nie saak wat die inhoud van die resensies is nie.

Die probleem is net dat tye verander het. Die politieke en ekonomiese landskap is dramaties anders as in 1974. Enersyds het Media24, waarin die ou Nasionale Pers en huidige Naspers se koerant-, tydskrif en boeke-aktiwiteite tans gehuisves word, dit te make met die verwoede stryd wat bedrukte papier het om te oorleef teen die aanslag van die digitale platforms. Andersyds glo dié groep nog steeds dat Media24 ’n taak te verrig het met die bevordering van die kultuur van Afrikaanssprekendes. Vandaar die bestaan en voortbestaan van boekeblaaie in die koerante, Huisgenoot, bydraes in BY. Moet ook nie vergeet van M-Net se bevordering van die boek via die M-Net literêre pryse nie.

Die besluit om een boekeblad vir die drie oggendkoerante te skep en een boekeredakteur is ’n ingrypende verandering, die eerste teken dat Media24 op een of ander manier moes begin om van die uitgawes aan die boekeblaaie te verreken. In MBA-taal sou daarna verwys word as die vertikale integrasie van horisontale diversiteit.

Ek is bitterlik jammer dat daardie besluit geneem is, maar het begrip daarvoor. Dit gaan die uitgewers baie swaar tref, en Afrikaanse skrywers nog swaarder. Maar soos Breyten sê, dit help nie om aan te hou om daarteen te bly blaf nie. Kom ons kyk liewer na wat mens kan doen om die besluit tot skrywers se voordeel te gebruik.

Ons weet mos nou wat die take gaan wees van die arme siel wat hierdie beker gif gaan moet drink. (En gifbeker sal dit des te meer wees as die persoon nie vertroud is met al die onderstrominge en politiekery tussen skrywers nie.)

Die superredakteur moet die besluite van vorige BY-redakteurs (waarna Gerrit Brand verwys het) ongedaan maak en boeke terugbring in daardie bylaag. Hy/sy gaan moet sorg dat die boekeblad op die oggendkoerante se digitale platforms groei. Hy/sy gaan moet sorg dat die resensies op peil is (vandaar die opdrag rakende gesaghebbendheid). En dan is daar ook die wete dat ’n koerant se digitale platform ’n groter volume resensies kan hanteer as sy papier-uitgawe – groei is die woord wat in die pos se advertensie genoem word.

Ons sou letterlik vir Media24 daaraan kan herinner wanneer die persoon nie op sy “kern-prestasie-areas” presteer nie.

Wat my betref, is dit ’n baie goeie geleentheid om die agteruitgang ten opsigte van die diepte waarin uitgewers se Afrikaanse publikasielyste dmv resensies gepeil word, reg te stel. Meer Afrikaanse boeke moet geresenseer word. Té veel goeie boeke word tans verswyg. Laat Afrikaanse publikasies eerste kom, maar verswyg nie dat die Engelse boeke literêre nuuswaardigheid het nie. ’n Afrikaanse koerant wat anderstalige publikasies met nuuswaarde (veral literêre nuuswaardigheid) ignoreer, is nie meer ’n koerant in die volle sin van die woord nie.

Hopelik sal Die Burger se hantering van sy huidige boekeblad as maatstaf geld. Moenie die nuwe boekeblad wegsteek in ’n weggooi-bylae nie. Plaas dit op ’n hele blad teenoor die hoofartikel-blad. In al drie koerante. Dit is mos Media24 se erns.

Intussen droom ek van ’n ekonomiese herstel en die dag wanneer die vertikale integrasie van horisontale diversiteit ongedaan gemaak kan word, en elke oggendblad sy eie boeke-identiteit sal terugkry. Die nuwe bedeling bly maar die tweede beste uitkoms.

 

<< Terug na die “Een boekeredakteur”-miniseminaar <<