Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Miniseminare

Charles Malan skryf in reaksie op Marga Collings


Charles Malan - 2011-03-02

Charles Malan skryf in reaksie op Marga Collings

Marga, jou woorde is musiek in die ore van baie van ons wat by julle publiseer. Jy wys op die gebreke in die belangrikste argumente om sentralisering te regverdig, in die besonder:

  • Hoeveel word nou eintlik “bespaar” as die belange van die Afrikaanse letterkunde en geesteslewe opgeweeg word?
  • Hoe kan die superredakteur seker wees dat die superresensent wat ’n enkele boek gewoonlik ’n enkele keer moet bespreek, die vermoë en toerusting het om ’n werklik gebalanseerde superresensie te skryf? Gaan die volgende Eilande of die eerste Harry Potter-manuskrip ook aanvanklik afgemaak word?
  • Uiters belangrik – eintlik van die opperste belang: die verskraling van die reeds ontoereikende literêre diskoers. Dit gaan letterlik vir die superredakteur onmoontlik wees om alle stemme en streeksbelange wat tans ter sprake is, te akkommodeer, al is hy/sy hoe versiende en ingelig.

Huisgenoot is doodgewoon vir ernstige lesers irrelevant, Afrikaanse sepies en films oor boeke is oulik, en mens sien nie neer op daardie mark nie, maar op watter vlak moet die diskoers nou eintlik beweeg? In Nederland het ek ervaar hoe gewone lesers besield meeleef met selfs die wêreldletterkunde, dikwels in Engels beskikbaar, maar in Nederlands vertaal. Is die Afrikaanse “literêre” diskoers nou uitgelewer aan voorbladberigte oor die jongste skinderboek oor Steve, Joost, Jurie of wie ook al kitsreklame wil hê? Want hulle verkoop vir seker kopieë, selfs van ’n monolitiese, “gesaghebbende” boekebylaag.

’n Ervare redakteur van bylaes (weer, geen naam nie, omdat ek namens niemand praat nie) bel my om juis ’n belangrike aspek in die debat te noem wat tans te min aandag kry: gehalte. Die gehalte van boekeredaksies, dus moontlik ook resensies (meestal deur akademici) en die groter diskoers het volgens hom sigbaar versleg. Wat kan of gaan nou eintlik verbeter as die superredakteur oorneem? Die talle versekerde nadele is reeds gelys.

Marga, jy was selfs voor die begin van die openbare debat al betrokke om ten minste bepaalde uitgewers se besorgdheid oor die nuwe bedeling uit te spreek. Dankie daarvoor, en dat ons voel jy is aan skrywers en lesers se kant. Vrye Woord het geen aksie teen die media of Media24 nie – hulle is in talle opsigte ons bondgenote – maar ons kan nie oor ’n ooglopende onreg stilbly nie. As 'n ingeligte bestuurder soos jy al die gevaarligte kan sien flikker, moet daar darem seker boontoe ook mediabestuurders wees wat moontlik voor 'n aanstelling oor die superredakteur kan herbesin? Watter dapper siel sal vir so 'n brandende stoel kans sien? Vrye Woord onderneem om hom/haar met 'n arendsoog dop te hou oor allerlei keuses en besluite.

Vriendelike groete

Charles

 

<< Terug na die “Een boekeredakteur”-miniseminaar <<