Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Miniseminare

Resensies in die dagblaaie is ’n voedingsaar tot die diskoers


Marga Collings - 2011-03-02

Gerugte oor die vermindering van die drie boekeblaaie in die Afrikaanse dagblaaie – Beeld, Die Burger en Volksblad – tot een nasionale boekeblad is reeds lankal in omloop, en binne die groep is daar ernstige gesprekke oor die saak gevoer. Ek het dus gehoop dat daar van die plan afgesien is – totdat die pos vir die nasionale boekeredakteur geadverteer is.

Media24 en Naspers het oor die jare heen groot geld uitgee aan borgskappe tot die voordeel van Afrikaans: die kunstefeeste, literêre pryse, befondsing van belangrike publikasies wat nie sonder publikasiesteun die lig sou kon sien nie, noem maar op. Ek was nog altyd trots daarop om te werk vir ’n groep wat wonderlike en belangrike dinge doen, baie daarvan sonder dat Naspers/Media24 noodwendig erkenning daarvoor eis of kry, en dat dit gedoen word tot voordeel van Afrikaans en boeke.

Maar juis in hierdie konteks maak dit dan nie sin dat die boekeblaaie verminder word nie. Mens neem aan dat dit gaan om kostebesparing – die koste van twee salarisse, resensiefooie – maar in die konteks van miljoene rande wat gespandeer word tot voordeel van Afrikaans pas só ’n stap om ’n relatief klein besparing te maak, nie in nie.

Ek dink die persepsie is dat mense net een koerant lees, net een resensie sien, dus hoekom bodder met meer resensies. Maar die effek van net een swak resensie (en daarmee bedoel ek nie negatief nie, maar ’n swak gekose resensent vir ’n spesifieke boek, of ’n verkeerde lees van ’n boek, of die volstaan by een lees/interpretasie terwyl ’n ander een net so geldig kan wees) is vernietigend vir ’n skrywer/boek. Ek dink byvoorbeeld aan die eerste, negatiewe resensie van Eilande destyds, wat gekorrigeer is deur ’n verskeidenheid ander resensies. En daar is soveel ander voorbeelde!

Nog ’n effek daarvan: die verskraling van die reeds ontoereikende diskoers oor die letterkunde, en dan veral die Afrikaanse letterkunde. Die feit dat uitgewers minder resensies het wat hulle kan gebruik om die internasionale regte van ’n boek mee te verkoop. Die feit dat die keuse van titels wat geresenseer word, moontlik beïnvloed mag word deur hulle vermoë om tot die hele land se bevolking te spreek. Sal boeke oor wandelpaaie in Mpumalanga voortaan geresenseer word? En sal die boekeredakteur dink dat ’n roman deur ’n bruin Kaapse skrywer miskien nie by die hele land se Afrikaanse koerantlesers byval sal vind nie? Wie weet?

Natuurlik gee Huisgenoot nou ruimte vir boeke, wat nie voorheen die geval was nie. En daar is Rapport se boekebylaag, wat ook relatief nuut is. Maar die resensies in die dagblaaie is nódig, en is geskryf vir ’n ander leser as dié van Huisgenoot. Al die verskillende registers waarin oor boeke geskryf word, is belangrik, maar die resensies in die dagblaaie was nog altyd ’n belangrike voedingsaar tot die ernstiger diskoers oor die letterkunde en veral die Afrikaanse letterkunde, en ons sal veel armer wees as daardie gesprek nou verder verskraal word.

 

<< Terug na die “Een boekeredakteur”-miniseminaar <<