Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Miniseminare

Verruiming of verskraling?


Gerrit Brand - 2011-03-02

Die volgende brief is ontvang van Eloise Wessels, uitvoerende hoof van NB-uitgewers. Charles Malan en Gerrit Brand se antwoorde volg daarna.

 

Beste Charles

Ons as uitgewers deel uiteraard die skrywers se besorgdheid oor enige verskraling van aandag aan Afrikaanse boeke, en daarom het ek, toe die advertensie vir die nasionale boekeredakteur onder my aandag gekom het, dadelik met Abraham van Zyl (hoof van Media24-koerante) gepraat. Hy het op sy beurt ’n gesprek gereël met my en Tim du Plessis, wat verduidelik het (sien die stuk hierby aangeheg wat ook reeds aan jou gestuur en op LitNet is) wat die plan is en wat die doel met die plan is. Ek verstaan dat Tim jou ook gebel het.

Naspers het ongeveer twee jaar gelede twee nuwe boekebylaes (ten volle gesubsidieer) by Rapport en Huisgenoot begin. Waar daar dus in die verlede

  • Beeld se boekeblad
  • Volksblad se boekeblad
  • Die Burger se boekeblad en
  • Rapport se boekeblad

was, sal daar nou in die toekoms

  • een boekeblad (vir die drie dagblaaie)
  • Rapport se boekeblad
  • Rapport se boekebylaag
  • Huisgenoot se boekebylaag
  • gereelde boekverwante bydraes in By
  • heelwat stukke op die internet en
  • meer in die nuusblaaie van die dagblaaie

wees. 

Die nasionale boekeredakteur sal geen jurisdiksie hê oor Rapport se boekeblad of boekebylaag nie en ook geen beheer hê oor Huisgenoot se boekebylaag nie. Rapport en Huisgenoot is beide publikasies met groter sirkulasie as enige van die drie dagblaaie. Dit is tog ’n verbetering en verruiming, nie ’n verskraling nie. Daar word verder ook heelwat geld spandeer om Afrikaanse boeke te laat verfilm, soos die onlangse verfilming deur kykNET van Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom. Dié projek om Afrikaanse boeke wat voorgeskryf is (of voorskrywingspotensiaal vir skole het) te verfilm, gaan voort. Die nuwe boeke is reeds gekies en die draaiboeke word tans geskryf.

Dit is dus nie ’n doelwit van Naspers of Media24 om aandag aan Afrikaanse boeke skade te doen nie – eerder die teendeel. 

*

Charles Malan antwoord:

Eloise, dankie vir jou breedvoerige verduideliking wat eintlik Tim se skrywe beaam. Dit is verblydend om van jou as hoof te verneem dat die uitgewersgroep by wie soveel van ons publiseer, die belange van boeke en skrywers op die hart dra. Aan die ander kant is dit verontrustend dat uitgewers en media so uit een mond praat, asof daar nie uiteenlopende belange en menings is nie. Hoeveel tel ons as julle skrywers se mening eintlik as ons nie vooraf oor die superredakteur geraadpleeg of in kennis gestel is nie?

Jy en Tim ontvang ook die korrespondensie tussen hierdie groep en dit is nie nodig om te herhaal nie, ook nie die breedvoerige argumente op LitNet nie. Nie een van julle twee se skrywes help om die ergste besware te besweer nie - inteendeel. Hoe kom julle verby die feit dat 'n veelheid van stemme in drie streke nou verskraal word tot 'n enkele blad? Hoe kom julle daarby verby dat die mag nou by een superredakteur as die enigste hekwagter gesentreer word?

Gerrit Brand is as oudredakteur ervare genoeg om die onderskeie probleme met die ou en nuwe bestel te kon uitwys. Pleks van die basiese knelpunt van toegewyde, voltydse boekeredakteurs vir die ander streke soos vir Die Burger, is hier nou 'n maklike kortpad. Ekonomies maak dit vir die media sin, maar kultureel is dit onvermydelike verarming.

Mens wil graag aanneem dat julle as uitgewers wil toesien dat julle boeke wyd bekendgestel word. Hoe gebrekkig die huidige stelsel ook al is, daar word minstens in drie streke na verskillende lesers- en bekendstellingsbelange omgesien. Joan Hambidge wys op die belangrikheid van verskillende streeksbehoeftes en resepsieverslae. Uiters belangrik is Breyten Breytenbach en Willie Burger se grondliggende besware dat die openbare ruimte vir 'n ope, kritiese diskoers nou heeltemal beperk word of selfs kan verdwyn. Alles hang eintlik net van Grootbroer Redakteur af.

Jy en Tim wys op die onafhanklike "alternatiewe" boekeblaaie van Huisgenoot en Rapport. Hoge letterkunde in Huisgenoot - ekskuus? Hoeveel ontvangers hiervan lees die gemorsblad? Ek wil nie daarmee gesien word nie en sou baie jare lank al nie droom om dit te koop nie. Rapport se boekeblad is uiters skraal en die bylaag gee relatief min aandag aan "belangrike" werke. Daar is ook geen "diskoers" nie. Ons hoop kan glad nie op hierdie alternatiewe gevestig word nie.

Hoe rooskleurig jy en Tim ook al die toekomstige prentjie voorsien, die bedeling onder die nuwe superredakteur voorsien, die uiteinde is voorspelbaar en onafwendbaar. Hierdie almagtige persoon sal presies weet wie watter boek mag/kan resenseer, hoe die diskoers moet lyk en gehanteer word, wat vir die verskillende streke en lesersgroepe soos leeskringe relevant is en hoe om te verseker dat 'n verskeidenheid resensies oor dieselfde boek verskyn. Inderdaad 'n almagtige siener!

Eloise, waar daar wel verruiming gaan wees, sal ons dit natuurlik toejuig. Op die oomblik sien ons met grondige argumente net verarming. Niemand bevraagteken die toewyding van Afrikaanse redakteurs en uitgewers nie, maar daar is aantoonbaar 'n gebrek aan 'n groter visie en veral befondsing waar verruiming letterlik by drie koerante met voltydse boekeredakteurs en talle stemme ingestel sou kon word. Nietemin, dankie vir jou tyd en aandag aan die saak.

*

Gerrit Brand antwoord:

Eloise (nogtans iemand wat ek respekteer, en dié opmerkings is dus nie persoonlik gemik nie) se argument klop om verskeie redes, wat reeds genoem is, nie.

Een wanvoorstelling moet ek egter pertinent uitwys: die idee dat Rapport se boekebylaag ’n toevoeging is, is misleidend, aangesien dié bylaag in die plek gekom het van die tydskrif Boeke-Insig, wat deur die maatskappy gesluit is ten spyte van die feit dat dié tydskrif alle gestelde teikens gehaal en selfs oortref het. Destyds is belowe dat die nuwe bylaag tot verbetering sou lei. Dit het nie gebeur nie. Inteendeel.

Dink nou verder terug: Boeke-Insig het in die plek gekom van Insig, wat toegemaak is. In die tyd voor daardie ingrypende besluit is Insig, oorspronklik ’n gerespekteerde intellektuele blad, doelbewus vervlak en verskraal, wat juis tot sy ondergang gelei het. In die laaste fase voor sy ondergang het dit nie veel anders as Huisgenoot gelyk nie (en onthou dat Huisgenoot op sy dag ’n publikasie was waarin Eugène Marais sy meesterwerke gepubliseer het – hoe drasties kan afdomming nie wees nie!).

Die tendens is duidelik.

En dan By – ek het dit al geskryf, maar herinner graag weer daaraan: Toe ek Francois Smit as boekeredakteur by Die Burger opgevolg het, was daar ’n weeklikse boekeblad in By wat soms twee, of selfs drie, bladsye beslaan het. Dit het beteken dat daar, naas die weeklikse boekeblad in die hoofkoerant, ’n addisionele ruimte vir boekresensies was – meer geresenseerde boeke, dus. Halfpad deur my boekeredakteurskap het die By-redaksie, met stilswyende goedkeuring van die hoofredaksie, besluit om daardie boekeblad af te skaf. As daar nou beoog word om dit terug te bring is dit verblydend, maar om voor te gee dat dit ’n groot nuwe stap vooruit is, is misleidend. Daar was nooit ’n ekstra of groter of magtiger boekeredakteur nodig om daardie blad te hanteer nie. Die enigste rede hoekom dit tans nie bestaan nie, is dat dit teen die boekeredakteur se sin afgeskaf is.

Die vermeende vordering bly dus steeds agteruitgang. Ek stem ook saam met Charles dat “sinergie” (al klaar ’n sinistere term) ’n alte ekstreme vorm begin aanneem as uitgewers begin om koerante se besluite oor boekeblaaie, ná oorleg met die einste koerante, openbaar te verdedig.

 

<< Terug na die “Een boekeredakteur”-miniseminaar <<