Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Hygliteratuur | Erotic literature > Straight > Fiksie | Fiction

Ladies’ night


Nuda Veritas - 2011-03-02

Hierdie blad bevat erotiese literatuur. Indien jy jonger as 18 is, verlaat die blad asseblief onmiddellik. | The following page contains erotic literature. If you are under the age of 18, please exit this page immediately.


 My vriendinne nooi my uit na ’n “Ladies’ night”.

Daar is ’n opgewondenheid wat onder ons heers. Ons het almal hierdie stoute glinstering in die oë, hande wat onrustig rondtas en verbeeldings wat in hoë revolusies hardloop.

Ons besluit om ’n taxi te reël – sjampanje gaan vanaand seëvier, en ons almal wil pret hê – o, sommer baie pret!

Ons stop by die klub en die borde vertoon in alle groottes ons vermaak vir die aand – stukke gespierde vlees in minimum kleding.

Ek glimlag en voel die skoenlappertintelings in my maag.

Sonja het die kaartjies gekoop – heel voor, in die middel, waar ons hopelik baie aksie sal sien. Die ligte verdof tot ’n skemer-donker en Indiaanse musiek vul die agtergrond. Die spanning is tasbaar; ons, kriewelrig in afwagting. Die gemurmeling en wolwefluite begin alreeds.

Dan is hy op die verhoog – lank, gespierd, massief op elke regte plek, in proporsie en totaal gemaklik in hierdie chaotiese atmosfeer van belustiging. Sy brons vel blink in gesonde fermheid en daardie lang, swart hare het ’n bose weerkaatsing. “Jy, in jou rooihuid-gewaad, is verruklik!” maal deur my gedagtes.

Sy suggestiewe danspassies het ons in vervoering, warm onder die krae en heeltemal te los vir wat goed is vir ons. Hy beweeg nader na ons tafel, o so nader ... Sonja skree iets vir hom en hy kom dans reg voor ons. Dis duidelik dat hy die bewondering geniet. Die sexy, skewe glimlag op sy mond, die veraf kyk in sy oë is hipnotiserend.

Almal leun vorentoe om ’n noot in daardie ietsie-velling in te druk – almal soekend vir sy aandag. Ek onttrek ’n bietjie en skaterlag vir my vriendinne se manewales.

Die volgende oomblik gryp hy my hand oor die tafel. Ek probeer wegskram, maar die krag in daardie greep is onmiskenbaar.

Ek skrik eers, maar sien die duiweltjies speel in sy oë. Ek ontspan en knipoog vir hom. My vriendinne gaan soos tieners tekere toe hy my op die verhoog trek. Die blos op my wange, my vinnige asemhaling vertel hul eie storie.

Hy geniet die aansporing en fluister in my oor: “Please honour me by playing along – please be my prisoner for a moment or two …?”

Ek kan net my kop instemmend knik, want ek vertrou nie my stem nie. Magtag, maar hy is aantreklik – gevaarlik! – maal dit deur my koorsagtige gedagtes.

Hy laat my net daar op die verhoog staan.

Ek voel behoorlik “ontbloot” wanneer hy om en om my begin sirkeldans, soos ’n karnivoor wat sy prooi bekyk. Daardie gluur met daardie donkerbruin, deurdringende oë verlaat my nie vir een oomblik nie. Ek is skoon uitasem ... of het ek ophou asemhaal?!

Hy kom staan voor my, dig teen my en gryp my hande agter my rug vas. Hy is behoorlik in my liggaamsruimte ingesmelt – ek voel sy warm asem op my gesig, die hitte van sy lyf teen myne, die atmosfeer swaar gelaai ... Ons begin stadig, op die maat van die musiek te dans. Ek kan elke spier van sy lyf teenaan myne voel, elke inspanning. Ek is so opgewerk met hierdie seksobjek voor my, teen my ...

En dan los hy my – ewe skielik, net so!

Hy buig voor my en soen my hand galant.

“Thank you, beautiful lady. The experience was almost too real,” fluister hy skor in my oor en met ’n knipoog sweef hy van my weg, na ’n ander gedeelte van die verhoog.

Die leemte wat hy los, is tasbaar. My liggaam is in ’n stremmende snaar gespan en ek oorweeg dit om na die kleedkamers toe te gaan om ’n bietjie verligting te bring. Maar ons raak weer vasgevang in sy vertoning, dan verskyn die volgende een wat ons aandag vra, en die volgende een ...

Die aand is ’n stimuli-oorlading. Sjampanje vloei, gedagtes vloei en feromone vloei. My hele lyf is aan die brand van seksuele energie. Ek smag na verlossing. Ek wens jy was hier. Jy weet presies hoe om my lyf te “ontlaai”, hierdie spanning te verlig. Ek moet net hier uitkom, vars lug in my longe kry, vars lug in my kop kry ... wel, probeer.

Ek stap uit op die terras wat na die weelderige tuin lei. Die sterrenag lyk soos ’n aandrok met die stadsliggies op die soom, uit om te skitter vanaand. Ek glimlag en geniet die koel briesie wat teen my warm wange waai.

En dan ...

Ek word hardhandig in die struike ingetrek en teen die boom vasgedruk. Ek probeer gil, protesteer, maar ’n hand smoor enige geluid prematuur. Dit voel of my hart in my keel klop, my asem in kort sarsies van angs vasgevang.

Wat de hel is aan die gang? Wie is dit? Wat nou? maal deur my kop.

Ek wens ek kan sien wie dit is, maar met elke poging om om te draai word my hande net stywer in die greep vasgetrek.

Die Indiaanman-episode speel soos ’n rolprent voor my af, maar ... hierdie situasie voel anders – die reuk, die asemhaling, die lyf wat my teenaan die stam vasdruk, voel anders ... bekend?

Ek begin stadig ontspan en glimlag wanneer jy fluister: “Jy is nou in my besit! Ek weier om jou vir een oomblik langer met iemand anders te deel. Ek eis jou nou op, eksklusief vir my plesier! Dus, jy gaan nou saamwerk sodat ons hier kan wegkom – reg?”

Ek knik my kopen stap “onwillig” saam. ’n Syband verswelg ewe skielik my visie en ek wonder heimlik wat in jou kop aangaan ... maar wil ook nie weet nie. Die hele onsekerheid hiervan, die uitstel om jou te sien, jou aan te raak, maak die situasie net nog meer opwindend.

Jou sterk arms begelei my stap en ek leun half in jou lyf terug vir ondersteuning, maar ook net om naby jou te wees, jou te ruik. Ek hoor die sleutels, die deur wat oopgaan en jou hand wat my kop saggies afwaarts druk, binne-in die motor in. Jy maak die sitplekgordel vas. My borste is so opgeswel van ingehoude opwerking dat dit eintlik pynlik is wanneer jou liggaam teen myne skuur. Ek trek my asem skerp in en voel jou hand in my bloes in beweeg, my harde tepel knyp – ek kerm – jy lag saggies.

Die hele rit is gevul met ’n broeiende stilte – geen woorde nie, maar jou dade het my in ’n loswordende stuk sensasie!

Jou vingers maak spelende sirkels in my binnebeen. Ek wens ek kan hierdie langbroek afruk, maar die band om my gewrigte is stremmend styf en ongemaklik, net soos my lyf! Ek probeer iets sê, maar jou hand is dadelik op my lippe om my mond te stil. Jou hand beweeg af teen my nek ... Jy knoop my bloes los. Jy trek dit oop en ruk eers die een kant uit, dan die ander kant. Ek kan die verkoeling tussen my borste voel, maar dis asof my lyf brand, my asemhaling vinniger, my polsing kloppend in my nek.

Ek voel koorsig, ja, koorsig van jagsheid! Jy haal my een bors uit die kant van my bra en begin my tepel manipuleer. Ek kerm en voel die natheid in my kern opbou en versamel. Ek lek oor my lippe en smag na jou mond – jou mond op myne, op my bors, binne my diepste wese ...

“Asseblief!” fluister ek smekend, maar jy lag net weer en dan is daar niks. Niks! Geen aanraking, geen lag, net jou swaar asemhaling.

Ons ry vir omtrent tien minute in die absolute niksheid. Dan verminder jy spoed, parkeer die motor. Ek wonder ... Waar is ons? Kan iemand ons sien? Genugtig, ek is half ontbloot, vasgebind, geblinddoek!

Jy begelei my oor twee trappies, ’n vloer (of is dit ’n stoep?), tot by ’n deur, sleutels wat oopsluit, verder stap, weer toesluit. Ek ervaar die beskerming van ’n vertrek en ontspan ’n bietjie. Ek hoor jou beweeg, naby my, ver van my ...

Ek ruik die swael van vuurhoutjies en brandende waks. Ek glimlag. Dan voel ek die koue van ’n glas teen my lippe, ruik die aroma van ’n goeie wyn ...

“Drink,” kom die sagte, skor bevel.

Ek sluk stadig, behaaglik, en voel die gloei van die wyn deur my lyf “bloei”. Ek hoor hoe jy die glas iewers neersit. Dan is jy teenaan my, binne my ruimte, maar nog nie binne-in my nie.

“Ek gaan jou hande net vir ’n oomblik losmaak. Jy beweeg nie!” beveel jy.

Ek knik my kop instemmend en voel die verligting wanneer jy my gewrigte loswikkel. Ek staan roerloos. Jy begin my ontklee – eers my bloes en bra wat na die grond toe val, dan my langbroek, my broekie, my skoene. Jy begelei my na ’n ander vertrek, tel my op en dra my tot by ’n bed – wel, so neem ek aan wanneer ek die sysagte satynlakens onder my lyf voel. Jy bind eers my een gewrig weer vas, dan die ander een. Dan my voete. Ek voel vreeslik kwesbaar, ontbloot, oopgespalk!

Vir ’n lang ruk – wel dit voel so – hoor, sien, ruik, voel ek niks nie – maar jy is nog in die vertrek, ek hoor jou asemhaling. “Maar wat doen jy?” wonder ek heimlik.

Die volgende oomblik voel ek jou bo-op my. Jy dring jouself tussen my bene in, binne-in my – hard, diep, vinnig! Ek skree van ekstase, my hele wese smag na jou, so gereed vir jou! Jou pompbewegings is kragtig en intens, weer en weer en weer. Ons albei kerm en kreun, want ons wil mekaar verslind in ons passie. Jy komm binne my! Ek komm rondom jou! Ons verskuif letterlik die bed.

Jy val uitgeput en natgesweet langs my neer. Ons albei hyg na ons asems.

“Sal jy asseblief nou hierdie bande en blinddoek afhaal?” vra ek saggies.

Stadig en tydsaam haal jy elke band af en soen die rooi skaafplekke met deernis. Jy vou jou arms om my en trek my styf teen jou vas.

Jy fluister digby my oor: “Ek het die res van hierdie naweek om dokter-dokter met jou te speel – somtyds sal dit voel asof jou hart wil gaan staan, somtyds sal ek na die tyd moet liefkoos wat gekneus en rou is, maar ek sal elke keer aandag gee en gesond soen waar nodig – dit belowe ek!”

Ek lag saggies in jou borskas in, begin jou tepel liggies te byt, dan weer hard in te suig. My hande beweeg oor jou borskas, my naels vind die haartjiespaadjie teen jou maag af en my vingers begin jou penis liggies te omsirkel. My mond volg om die rooi-rou om jou skag te soen-lek.

“O Dokter, ek hoop darem ek sal kan assisteer, want ek is nog lank nie klaar met jou nie!” fluister ek voordat my gesig spelend in jou testikels in verdwyn ...

Jy lag ...