Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Jason Lloyd: Hotnotsgot

Bruin is nie swart nie, of is dit?


Jason Lloyd - 2011-03-01

Met sy stelling dat hy nie swart is nie, het Danny Titus, uitvoerende direkteur: kultuur van die ATKV, lewe gegee aan die soliede raskategorieë wat in Suid-Afrika nog steeds bestaan. Sodoende het hy weer eens groot verwarring gesaai onder bruines oor hul identiteit en herkoms.

Dit was einde Januarie by die Suidoosterfees in Kaapstad tydens die bespreking van die onderwerp “Ons, julle en hulle”. Titus, wat een van die sprekers op die paneel was, het veral ’n hou ingekry na die regering en ook na Naspers oor die sogenaamde afskeep van bruin mense.

Die regering het slae gekry oor die voorgestelde veranderings aan die Wet op Basiese Diensvoorwaardes wat wegdoen met provinsiale kwotas vir regstellende aksie. Dié wetsontwerp – indien dit ’n wet gaan word – sal beteken dat bruines in die Wes- en Noord-Kaap nadelig geraak gaan word omdat die bevolkingsyfers verskil van dié in die ses ander provinsies waar swart mense die meerderheid is. Naspers het deurgeloop omdat bruines, volgens Titus, hulle nie “herken of hoor” in die hoofstroom Afrikaanstalige media nie.

Volgens Titus is dit slegs enkele voorbeelde van hoe die bruines voor en na 1994 aan die agterspeen van die land suig. Op die oog af het Titus se bloed oorgekook en het hy tot die skokkende gevolgtrekking gekom: “Ek is nie swart nie. Ek is ’n trotse bruin man. Ek is gemeng, maar ek is ’n bruin man.”

Titus het gesê gedurende die bevrydingstryd het hy trots daaraan deelgeneem en verklaar dat hy swart is. “Ek het nie geweet ek ontken wie ek is nie.”

Menige bruines sal skreeu: “Titus is ons man. Dit is tyd dat die bruin mense vir hulself iets doen. Bruines moet die Wes- en Noord-Kaap regeer, omdat hulle die meerderheid daar vorm.”

Ek wens regtig die saak van die bruin mense was voor, gedurende en selfs nou na apartheid so simplisties gewees. Dit is egter nie die geval nie.

Die dilemma met die sogenaamde bruin debat is dat dit nog altyd ongestruktureerd voortgevloei het. Dit is ’n losserige debat wat nou en dan kop uitsteek. ’n Doel en uitkoms bly altyd afwesig. Jakes Gerwel het in sy Rapport-rubriek so terloops geskryf dat hy vir Titus gelyk gee oor sy standpunt dat bruines in die Afrikaanse media gemarginaliseer word.

Hoekom is Gerwel nou stil, terwyl Titus en Francois Groepe, uitvoerende hoof van Media24, volgens Titus mekaar nie lekker oor die saak verstaan nie?

Die vraag wat bruines hulle eers moet afvra – wat direk aansluit by Titus se ontkenning dat hy swart is – is: Wie is ons regtig? Verder sit Titus die pot mis as hy dink die bevrydingstryddefinisie van “trots swart” was ’n definisie van ras. Dit het eerder teruggesny na die filosofie van die Swartbewussynsbeweging wat, in die woorde van Steve Biko, alles te doen gehad het met die bevryding van die bewussyn van die onderdrukte. Verder het dit ten doel gehad om die sosiale konstruksies van ras en etnisiteit van daardie tyd teen te werk. Ongelukkig het dit oorgespoel tot binne die nuwe Suid-Afrika.

Dit veroorsaak reeds dat bruines nie weet (of wil weet) wie hulle regtig is nie. In werklikheid is daar nie ’n bruin ras nie, maar wel ’n bruin etniese groep. Bruines as etniese groep is dus deel van die swart ras. Dus is bruines dan swart net soos die Zoeloes, Xhosas, ensovoorts.

Daar is egter ’n groot groep bruin mense – hoofsaaklik die werkersklas – wat nie wil hoor dat hulle swart is nie, hoofsaaklik gegrond op die teorie van George Cuvier, ’n Franse natuurwetenskaplike, wat gesê het: “The Negro race is marked by a black complexion and a flat nose. These races are condemned to a never-ending inferiority.”

Die kunstepraktisyn Peter Voges het gesê: “Ons verwys graag na ons wit Skotse oupa of Ierse oumagrootjie, maar vergeet heeltemal van die donker oupa en ouma onder die matras.”

Hoe gouer bruines hul swartheid as ras en hul bruinheid as etnies aanvaar hoe beter sal dit wees om ’n sinvolle debat te begin oor bruinheid in postapartheid-Suid-Afrika. Dit sal ’n goeie begin wees as Titus sê hy is ook trots swart.