Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Miniseminare

Ope brief aan Tim du Plessis


Charles Malan - 2011-03-01

Tim, dankie dat jy die oorwegings van ’n enkele redakteur met skrywers deel. Ek het nou jou uiteensetting van die nuwe situasie gelees (dit is ook op LitNet), en ek is bevrees dit is nie gerusstellend nie – inteendeel.

Ek aanvaar graag dat jy die heil van die letterkunde op die hart dra en die beste bedoelings het, maar niks wat jy skryf, besweer die beswaarmakers se ergste vrese nie. Ja, ja, vir verskeidenheid en meer blootstelling, maar wat van die kernbesware: minder stemme oor die letterkunde en meer gesentraliseerde mag, in hierdie geval by ’n enkele persoon? Wat van die verskeidenheid aanbiedings deur verskillende koerante wat nou gaan verdwyn?

Tans is daar minstens drie resensies oor ’n “belangrike” werk in julle koerante. Watter waarborg is daar dat die situasie voortgesit gaan word? Al wat jou skrywe van die superredakteur sê, is: “Niks sal hom of haar keer om byvoorbeeld ’n tweede of derde mening by ’n resensie van ’n belangrike werk te plaas nie.” Daar is dus geen verpligting op hom/haar om meer resensies te plaas nie en jy weet baie goed dit sal nie gebeur nie.

Hoe mens ook al daarna kyk, alle besluitnemingsmag gaan na die superredakteur gekanaliseer word. Ander belangrike oorwegings is reeds deur die ervare Gerrit Brand en ander verwoord.

Tim, ek het begin korrespondeer deur vir jou goeie bedoelings voorbrand te maak en daaroor twyfel ek steeds nie, maar ek is bevrees dat al jou goeie bedoelings nie gaan verhoed dat hierdie bedeling van ’n superredakteur en gesentraliseerde beheer van ’n enkele publikasie die hele literêre toneel enorm gaan verarm nie. Moontlik, hopelik, kan julle nog herbesin.

Vriendelike groete

Charles

 

<< Terug na die “Een boekeredakteur”-miniseminaar <<